kykNET is besonder opgewonde oor ’n nuwe kookkompetisie genaamd Kokkedoor wat op die oomblik vervaardig word. Suzaan Keyter, woordvoerder van kykNET, en Paul Venter, medevervaardiger van Kokkedoor, beantwoord enkele vrae oor die reeks.
Wat het aanleiding gegee tot die idee om dié nuwe reeks te vervaardig?
Dit is geen geheim dat realiteitsreekse en kompetisies gewilde en lekker televisievermaak is nie. Kombineer die twee met die gewildheid van kos en lekker eet, plus voeg die trend van nostalgie daarby en jy het Kokkedoor!

In ’n mediavrystelling word klem gelê op die "onthoukos"-element van die kompetisie. Wat presies is "onthoukos" en hoe het kykNET daarmee te werk gegaan om dit te definieer vir die doeleindes van die reeks? In watter mate sal kykers van verskeie ouderdomme hierby aanklank vind?
Onthoukos het baie name: huiskos, kookkos, trooskos, hunkerkos, mymer- en verlangkos, ons kos, Ma-kos, plaaskos, sielskos, Karookos, in-my-liefde-verlore-kos, pad-na-’n-mens-se-hart-kos.
Vra jy uit oor die kos wat jou hart net soveel as jou smaakkliere raak, kan jy maar weet ons boerespyse lewer ’n trefferlys soos min op. Om enkeles te noem: kaiings en gebakte eier of suurdeegbrood met nastergal konfyt is die ware koningskos; so ook skaapboud en soetwortels (die wortels gekook saam met ’n jong vyeblaar); bonesop met blokkies varkvet wat bo-op dryf. Gemmer-stoompoeding en mieliepap laat geharde stadsjapies plaas toe verlang, sodat jy skape blêrend in die skemeraand kraal toe hoor stap.
Om oor onthoukos te praat is ’n intieme storie, ’n verhoudingsaak. Wanneer mans oor hierdie kos praat, word hulle so week soos babahondjies. Daar word verlang na oumas en nonnas en tant Alies en ant Toeks. Vroue weet onthoukos val nie uit die lug uit nie: iemand moet dit maak. Hulle weet onthoukos vra geduld, soos groenboontjiebredie met aartappeltjies; soms ’n stukkie skaapvleis, en altyd met witpeper – dis kos wat tyd vra om deur te kook tot ’n lieflike moeserigheid. Jy maak dit nie gou-gou tussen die sepie en die sewe-uur-nuus nie!
Dis kos met name en emosies: die Hartseer Tert, Jan Tuisbly se Poeding of Japie se Gunsteling. Tant Rika se Vetkoek en Tokkie se Pampoenkoekies. In goeie boeretradisie is dit kos met baie name, soos ek alreeds hier bo gesê het.
Onthoukos herinner sommiges aan Baardskeerdersbos se boontjiebredie gemaak met vet skaapribbetjies en baie gemaalde peper; of aan blusaartappels by oondgebraaide hoender; vet galjoen oor die kole; gebraaide harders met tamatie en uie - die kuite gebak in ’n pan op die stoof. Die lekker van hierdie kos is dat jy altyd twee borde eet. Die tweede bord is agter die lekker aan, want as jou honger gestil is, skep jy net van die kos in wat daai dag vir jou die beste proe.
Mense kan vol dinge wees oor hul onthoukos: die een hunker na melkkos met kaneel; die ander vra melkkos sonder die snysels. Maar niemand stry oor die soetheid van gestoomde doekpoeding op ’n koue aand of koue turksvye op ’n warm dag nie. Wie wys gestoofde perskes, karamelpatats, stomende Hubbard-pampoen, gemmerbier of soetkoekies van die hand?
Mikrogolfoonde en ontwerperskombuise rym nie lekker in ’n sin saam met onthoukos en ouma-kos nie. Kultuurgegeurde huiskos vra ’n Dover-stoof vir die strooppatats. Jy praat ook reg oor hierdie kos: dis tamatiekos wat daar prut, nie tamatiebredie nie; kerriekos, nie net kerrie nie.
As jy gelukkig is, trek jy vanaand soos vroeër jare die lou-oond oop waar ’n bord kos wag met ’n ander bord bo-op. Almal weet dat dit net kookkos – ons onthoukos – is wat onder daai deksel wag. Daar’s dalk frikkadelle; en as jou neus jou nie bedrieg nie, blomkool met neutmuskaat soos jou ma en jou ma se ma dit gemaak het – en net dalk is daar ’n taai stroperige pampoenkoekie.
En dít is die emosies en onthou wat nie net met oud of jonk, kort of lank, groot of klein sal praat nie, maar ook herinneringe en gesprekke aan die gang sal kry wat lank na Kokkedoor nog sal aanhou.
Hoeveel hoopvolle deelnemers het aan die oudisies deelgeneem en hoe is te werk gegaan om die 20 finaliste te kies?
Daar was letterlik honderde inskrywings van alle uithoeke met die jongste aspirant 19 en die oudste 82 (van Namibië)! Dit is toe op inskryfvorm vlak afgewerk na 330 kandidate wat toe landswyd bymekaargekom het in sentra om ’n koue oudisie te doen (dis wanneer ’n paneel hulle koue dis wat hulle saamgebring het, proe). As jy daardie ronde geslaag het, is jy deur na ’n warm oudisie, waar die kandidate in aksie voor ’n stoof geplaas is; en as jy dáárdie ronde geslaag het, is jy deur na ’n televisie-oudisie. Van daar is ’n kortlys saamgestel en afgewerk na die Top 20 (tien Onthoukokke - wat tradisionele onthoukos kook dat die biesies bewe – en tien Kinkelkokke - wat oor die vermoë en ondervinding beskik om ’n lekker moderne kinkel op die ou bekende resepte te sit).
Hetta van Deventer-Terblanche en Nic van Wyk is gekies as die twee beoordelaars vir die reeks. Hoe is daar op hulle besluit, veral met die onthoukos-element in ag genome?

Nic van Wyk, Hetta van Deventer-Terblanche en die aanbieder Mariëtta Kruger (agter)
Dit vat die fyn oog en geoefende oordeel van ’n koskenner om ’n “kokkedoor” uit te ken. En ons het dubbeldore! Kokkedoor se twee hoofbeoordelaars is gesoute kosmense met ’n passie vir onthoukos. Die deelnemers se lot is in die hande van kospersoonlikhede wat net soveel inspirasie bied as wat hulle gesag afdwing. Hulle het kooktegnieke – van die basiese tot die gevorderde – bemeester. Daarby meng hulle tradisie met hope kreatiwiteit om dit vir die toekoms te herskep.
Hetta van Deventer Terblanche: die koshistorikus en tradisiekenner:
“Kosgeskiedkundige” is ’n gewigtige term vir hierdie petit koskenner wat oorloop van entoesiasme oor die kos uit ons verlede. Hetta, wat by Silwood opgelei is, se kinderjare in Swellendam was ’n vroeë aanloop tot haar loopbaan as gerekende sjef, spysenier en kenner van ons land se boeiende kos-erfenis. “Net soos ons fynbos, is ons koskultuur geseën met ongelooflike diepte en verskeidenheid,” vertel sy. Sy is tans kulinêre konsultant vir top restaurante.
Nic van Wyk: die sjef en tegniekmeester:
Sjef Nic van Wyk is tans konsultant-sjef by Diemersdal se eetplek in ’n pragtige ou stal op die plaas. Hy het op ’n jong ouderdom sy kulinêre merk gemaak toe hy destyds die restaurant Terroir begin het en dit as Eat Out se Restaurant van die Jaar aangewys is. Nic, wat by die befaamde Institute of Culinary Arts (ICA) in Stellenbosch klassieke kookkuns studeer het, het sy meesterskap van die kombuis verder verfyn by La Colombe (gereken onder die beste restaurante ter wêreld) saam met sy kosheld Franck Dangereux. Hy is ook deur die gesogte SA Brandewyngilde vereer vir sy bydrae.
Nic ken die fyner kunsies van kosmaak, en is ’n kranige jagter en bobaas blokman wat ’n karkas lag-lag oor sy skouer dra. Hy glo dat eenvoudige, respekvolle hantering van bestanddele die beste – maar ook die mees uitdagende – manier is om kos te maak. “Met eenvoudige kos is daar geen wegkruipplek vir foute nie.” Kontreikos, of dit Provensaals is, of uit Patagonië of die Toskane kom, lê hom na aan die hart, maar dis die kos van sy ma, sy ouma en sy eie land wat hom week in die knieë maak. Broodbak, die proses van knie, rys en oond toe bly vir Nic, die meesterbakker, ’n wonderwerk.
Wat hoop kykNET sal kykers uit die reeks put?
Groot pret, hope vermaak en ’n warm gevoel van onthou en genoegdoening soos hulle saam met elkeen van die deelnemers elke week die uitdagings aanpak en die saak uitkook op die pragtige Karoovlaktes by Prins Albert!
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

