kykNET-Rapportpryse 2018: Commendatio's en foto's

  • 0

Die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse is op Saterdag 22 September 2018 in Kaapstad bekend gemaak. Die Jan Rabie-Rapportprys vir die beste debuut- of tweede prosawerk in Afrikaans, asook die kykNET-Rapportpryse vir Afrikaanse resensies, is by dieselfde geleentheid toegeken.

Die seremoniemeesters vir die aand was Karen Meiring van kykNET en Waldimar Pelser van Rapport.

Die kykNET-Rapport-boekprys vir Fiksie is toegeken aan SJ Naudé vir Die derde spoel.

Louise Viljoen en SJ Naudé

Commendatio: kykNET-Rapport-boekprys vir Fiksie

SJ Naudé se roman Die derde spoel is ’n teks wat aanvanklik lyk asof dit die bekende pad van ’n jongman se verset teen die Afrikanernasionalistiese patriargie gaan inslaan, maar dan met so ’n verrassende, energieke en gelade invulling van daardie gegewe vorendag kom dat dit die leser heeltemal oorrompel.

Die hoofkarakter Etienne Nieuwenhuys verlaat Suid-Afrika in 1986 om te ontvlug van diensplig en maak homself op radikale wyse los van sy familie en van Suid-Afrika. Die roman se drie afdelings vertel hoedat hy vir hom ’n nuwe bestaan uitkerf in verskillende omgewings, telkens as lid van een van die marginale groepe of subkulture wat in opstand kom teen die heersende waardes van die tyd, veral dié van ’n oorwoekerende kapitalisme.  Die roman speel agtereenvolgens af in Londen tydens die Thatcher-bewind, Berlyn onder die Sowjetregime met daarnaas Wes-Berlyn; en ook Suid-Afrika, Berlyn en Buenos Aires in 1990. Elkeen van hierdie omgewings word in boeiende detail geteken, met ’n fokus op die artistieke uitdrukkings van elke ruimte en ’n eie klankbaan wat verband hou met die feit dat Etienne ’n musikant is. Die spanningslyn in die roman en die samehang tussen die drie dele word bewerkstellig deur ’n speurtog na die verlore film Berliner Chronik, gebaseer op die werk van Walter Benjamin, wat in die vroeë 1930’s in Nazi-Duitsland gemaak is en nou verknoop is met die geskiedenis van Etienne se enigmatiese en ontwykende minnaar Axel.

Die verwysing na Walter Benjamin word op vindingryke wyse uitgewerk in die roman se besinning oor die brutaliteit, geweld en verwoesting vervat in die menslike bestaan. Die roman verskaf egter ook die teëwig hiervoor in die derde afdeling, getitel “Laboratorium”, deur die liefdesverhouding tussen Etienne en Axel te teken as een waarin teerheid die vermoë het om ’n ligpunt in die omringende donker te wees. 

Die uitsonderlike ryk tekstuur van die roman, die sorgvuldige aandag aan detail, die wye historiese greep, die goed deurdagte denkstruktuur wat dit onderlê en die presisie van die taalgebruik maak die lees van hierdie roman ’n uitdaging en ’n avontuur.  Dit is ’n roman wat in alle opsigte verdien om bekroon te word met vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie.

– Louise Viljoen


 

Die kykNET-Rapport-boekprys vir Niefiksie is toegeken aan Elsa Joubert vir Spertyd.

Die prys is in ontvangs geneem deur Elsa Joubert se kleindogter. Andries Bezuidenhout het die commendatio gelewer.

Commendatio:  kykNET-Rapport-boekprys vir Niefiksie

Hoe onthou ons? In Spertyd skryf Elsa Joubert oor ’n insident uit haar kinderjare, toe haar ma onseker was oor ’n padkoshoender wat buite die yskas gestaan het. Haar pa weet die hoender is waarskynlik heeltemal eetbaar, maar besluit om dit af te staan, ter wille van sy vrou se gemoed. Elsa, as kind, moet dit aan mense op ’n donkiekarretjie langs die pad oorhandig. Hierdie insident, ’n giftige daad van welsyn, word in die vertelling onderspeel, maar vertel daarom juis soveel meer.

Spertyd is deels tragikomiese beskrywing van die lewe in ’n gegoede Kaapse aftreeoord, met ’n aantal van Kaapstad se kulturele en intellektuele elite – skrywers, uitgewers, kunstenaars – as hoof- en bykarakters. Dis ’n merkwaardige meditasie op oudword in die stem van ’n beleë skrywer; dit lees gemaklik, onderhoudend. Joubert beskryf die kil afdraand van die dag in helder, soms humoristiese, deurgaans deernisvolle taal: die onbetroubare liggaam, die wegval van vriende, die klein dramas wat hul afspeel in ’n bejaarde gemeenskap. Die vertelling is egter nóg anekdote nóg klaaglied – Joubert gebruik haar fyn, self-relativerende waarneming van die alledaagse as ’n vertrekpunt vir die bepeinsing van meer universele bemoeienisse: wat dit is om sinvol te lewe en berustend te sterwe; hoe ’n mens verhoudinge aangaan en in stand hou; hoe ’n mens jouself tot verantwoording roep oor jou eie staanplek in die geskiedenis van ’n land en dié van ’n kontinent. Dis die oproep van hierdie temas wat Spertyd laat resoneer met Joubert se hele oeuvre.

In die voorlaaste hoofstuk skryf sy: “Dis eintlik ’n boek oor die menslike bestaan hierdie. Waartoe word alles gebring?” Hierop volg ’n besinning oor stilte, dat om stil te word en met jou kern kennis te maak ook deels ’n liggaamlike ervaring is, dat die dood uiteindelik die voltrekking van daardie stilte is. Ook van boeke word daar afskeid geneem, as lees en skryf in stilte oorgaan. Hierdie herbesoek aan die verlede aan die hand van herinneringe wat vervaag, is ’n herbevestiging van die skrywersetiek, wat merkbaar is vanaf Joubert se vroegste treë as skrywer tot hier, teen spertyd – ’n waardige en betekenisvolle boek om met die KykNet-Rapportprys vir niefiksie bekroon te word.

– Andries Bezuidenhout


 

Die kykNET-Rapport-boekprys vir Film is toegeken aan Gerda Taljard vir Die laksman se dogter.

Gerda Taljard

Herman Binge

Commendatio: kykNET-Rapport-boekprys vir Film

Dit is maklik om opgewonde te raak oor die wenroman van vanjaar se filmprys omdat die sterk literêre meriete en fees van visuele moontlikhede in die verhaal ’n filmmaker se droom is. Daarby het die gegewe van disfunksionele families ’n volwaardige kategorie van films geword as gevolg van die gewildheid daarvan by gehore oor die wêreld heen. Die laksman se dogter – wat ’n titel! – pas perfek in die kategorie van “huishoudelike noir”: ’n boeiende sielkundige riller wat in ’n eksentrieke familie afspeel en die kyker by komplekse interpersoonlike verhoudings betrek.

Films in dié kategorie ontgin heelwat temas wat ook in ons wenroman voorkom. In Sidney Lumet se Long Day's Journey into Night gebaseer op die toneelstuk van Eugene O’Neill, speel die musiek van André Previn byvoorbeeld ’n belangrike rol en word dit, soos in Gerda Taljaard se verhaal, deel van die narratief. In Aronofsky se Black Swan met Natalie Portman, is die hoofkarakter ’n danser. In Die laksman se dogter is sy ’n rocksanger. Stel u voor ’n klankbaan met moderne kontemporêre Afrikaanse musiek deur Die Antwoord en Karen Zoid met ’n hele paar ander Afrikaanse rockers ingegooi. Magic!

’n Verdere bewys van die kommersiële sukses van hierdie kategorie by die loket is  American Beauty van Sam Mendes met Annette Benning en die gediskrediteerde Kevin Spacey, wat met ’n klein begroting gemaak is en R356,3 miljoen dollar by die loket verdien het. So ook het Little Miss Sunshine met Steve Carell en Toni Collette wat in slegs 30 dae vir ’n skamele agt miljoen dollar gemaak is, meer as R100 miljoen dollar by die loket verdien. I put it to you: Die pas afgelope Silwerskermfees wys onse mense het die talent om ook groot dinge met klein begrotings te vermag.

Wat Taljaard se roman verder uitlig, is die geloofwaardige en gekonsentreerde dialoog  – belangrik vir die filmmedium  –  en hoe die fisiese omgewing, die huis in Pretoria,  waar ’n mens juis geborge moet voel, die slagveld word waarop manipulasie, bedreiging en vervreemding afspeel. Voeg daarby die interessante, veelvlakkige karakters en jy het ’n volbloed film, ’n onvoorspelbare reis deur ’n vrou se verlede waarin verskeie donker temas soos skuld, vergifnis, verslawing en die dood van ’n dogter voorkom.

Dit mag swaartillend klink, maar soos met die voorbeelde van ander buitelandse films, laat die hoofkarakter, ene Rosaria, mens nooit toe om jou sin vir humor te verloor nie. Die humor is wel donker, maar dit word met ’n verrassend sobere en ligte hand hanteer, en die verhaal is nie sonder hoop op ’n beter toekoms nie.

Die laksman se dogter is ’n boek wat jou in die ribbes skop en jou bybly lank nadat jy dit toegemaak het. Ek vermoed die film gaan dieselfde regkry. 

– Herman Binge


 

Die Jan Rabie-Rapportprys is toegeken aan Nicole Jaekel Strauss vir As in die mond.

Nicole Jaekel Strauss

Commendatio: Jan Rabie-Rapportprys

Die prysbepalings van die Jan Rabie-Rapport-debuutprys is vanjaar verruim om ook tweede prosawerke in te sluit en toevallig is al drie tekste op die kortlys dan ook tweede prosapublikasies. Al drie die kandidate – Die derde spoel van SJ Naudé, die kortverhaalbundel As in die mond van Nicole Jaekel Strauss asook Schalk Schoombie se roman Rooi haring – het verder al met hulle vorige werke prysbekronings of -benoemings verwerf. SJ Naudé het selfs die Jan Rabie-Rapportprys in 2012 gewen met Alfabet van die voëls.

Voorwaar ’n uiteenlopende aanbod! Uiteindelik het die beoordelaars besluit om ’n teks te bekroon wat die sterkste aansluiting vind by die gees van die spesifieke prys – naamlik die bekroning van ’n sterk teks en ’n outeur wat die potensiaal toon om ’n belangrike stem in die Afrikaanse letterkunde te word. Om hierdie rede word die Jan Rabie-Rapportprys vir Afrikaanse debuutfiksie vanjaar aan Nicole Jaekel Strauss toegeken vir die kortverhaalbundel As in die mond.

As in die mond is ’n eenheidsbundel wat vernaamlik die storie vertel van ’n tragiese brand wat ’n familie vernietig. Die ma en dogter, Marika en Suzanne, is die enigste lede van die gesin wat die brand oorleef en ook die sentrale karakters in die bundel. Flenters van hulle stories word deur die leser saamgevoeg om uiteindelik die volledige prentjie te vorm van wat daardie nag gebeur het, asook in die dekades daarná. In hierdie proses kom nog karakters se stories na vore, met die inleidende verhaal wat wel inhoudelik los staan van die res, maar as ’n tematiese sleutel dien met betrekking tot die ontsluiting van die res van die bundel.

Jaekel Strauss se bundel gee ’n blik op verlies en posttraumatiese stres wat die leser bybly lank ná die lees van die verhale. Familieverhoudinge (tussen ouer en kind maar ook grootouer en kleinkind) word verken. Soos in haar debuutkortverhaalbundel Maal is daar ook ’n fokus op buitestanderfigure. Die leser kry telkens die gevoel dat hierdie karakters toeskouers is van lewens wat intens dog emosioneel-verwyderd beleef en geleef word. Jaekel Strauss gee, om Thys Human in ’n resensie van die verhale in Maal aan te haal, ’n byna pointillistiese beskrywing van karakters en ruimtes. Haar sterkpunt blyk haar vermoë te wees om groot gebeure en emosies op ’n onderbeklemtoonde maar steeds presiese en roerende wyse te skets. Die outeur raak dus ’n voyeur, nes haar karakters, wat die skynbaar onbenullige detail weergee as tekens van die vure wat onderliggend smeul.

As in die mond is ’n waardige wenner van vanjaar se Jan Rabie-Rapportprys en hopelik die voorganger van vele uit Jaekel Strauss se pen.

– Marni Bonthuys


 

Jean Meiring is aangewys as kykNET-Rapport boekresensent van die jaar: Niefiksie vir sy resensie “Skitterende kleinood van ’n vol lewe geleef” oor Elsa Joubert se Spertyd, Media 24-dagblaaie, 27 November 2017

Bibi Slippers en Jean Meiring

Commendatio kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar 2018  Niefiksie

Jean Meiring het die afgelope jare in ’n boekresensent ontpop na wie se resensies lesers uitsien, en een waarop boekeredakteurs duidelik kan staatmaak. Byna al die resensies wat hy vanjaar ingeskryf het, in beide die fiksie- en niefiksiekategorie, was onder die uitblinkers, maar één hiervan het hy met soveel sorg blinkgevryf dat die keurders dit eenvoudig nie kon ignoreer nie.

Sy resensie getiteld “Skitterende kleinood van ’n vol lewe geleef”, wat op 27 November 2017 in die Afrikaanse dagblaaie verskyn, is ’n bespreking van Elsa Joubert se boek Spertyd.

Die resensie begin op ’n poëtiese noot, met Meiring wat die leser voorberei op die toon van die boek, terwyl hy ook ’n gepaste atmosfeer skep. Daarna plaas hy die boek in konteks en bied ’n relevante verwysingsraamwerk deur ’n bondige vergelyking met ’n soortgelyke werk van Karel Schoeman, wat ook duidelik uitwys hoe die twee werke in aanslag van mekaar verskil.

Hy plaas verder ook die boek in konteks van Joubert se eie voorafgaande publikasies, en takseer dié een as “stiller” as haar ander outobiografiese tekste. Dit blyk dat Meiring hierdie “stiller” kwaliteit van die boek ook soms in sy resensie probeer eggo. Dié wat fyn luister (en lees) sal in die resensie uitstekende skryfwerk herken wat nie om aandag skreeu nie, maar eerder mymer en kabbel en kriek.

Die aanhalings uit die boek word effektief aangewend en soomloos met die resensie verweef, en die oorvertelling van die inhoud word uitgebou tot insig en interpretasie, en steek nie vas by blote opsomming nie.

Meiring span sy humorsin in wanneer hy sê dat Joubert die genre van kosskoolverhale op sy kop keer, en na Spertyd verwys as Ouspan op Maasdorp. Dis dié soort oorspronklike insig wat ’n resensie ’n kompeterende voorsprong gee, en as die resensent dan boonop sy mening in klankryke taal verpak wat so mooi by sy onderwerp aansluit, dring hy basies so stilweg daarop aan om as wenner bekroon te word.

In sy slotsin sê Meiring Joubert se boek wys ons dat daar tog nog flitsies son op die afdraand van die dag is. Hierdie resensie is van begin tot einde ’n verfrissende sonflits en ’n waardige wenner van vanjaar se prys vir niefiksie.

– Bibi Slippers


 

Charl-Pierre Naudé  is aangewys as kykNET-Rapport boekresensent van die jaar: Fiksie vir sy resensie “Jong digter verskalk haar leser behoorlik” oor Radbraak deur Jolyn Phillips, Media24-dagblaaie, 24 Julie 2017

Commendatio: kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar 2018 – Fiksie

Charl-Pierre Naudé se resensie getitled “Jong digter ‘verskalk’ haar leser behoorlik”, wat op 24 Julie 2017 in die Afrikaanse dagblaaie verskyn het, staan veral op twee vlakke uit bo ander resensies in die fiksiekategorie.

Eerstens is daar die ingeligte en gemotiveerde oordeel en opbouende kritiek, waarvan soveel ander resensente wegskram. In sy bespreking van die jong digter Jolyn Phillips se debuut radbraak wys Naudé sonder snedigheid tekortkominge uit, noem ook spesifieke gedigte wat volgens hom bo ander uittroon, en verwys na meer algemene sterk punte. Dit is beide verhelderend vir die leser en ’n nuttige verwysingspunt vir ’n skrywer van wie daar verdere werk verwag word, en wat die kritiek en lof moontlik sal kan gebruik om redaksionele besluite oor volgende tekste te help maak. Die oordeel en kritiek is verpak binne ’n insiggewende bespreking van die boek se tematiek en aanslag, en verskaf ook konteks rakende die tradisie waarbinne die digter werk, en aanhalings en voorbeelde wat Naudé se opmerkings en oordele belig.

Tweedens is dit ’n resensie wat eenvoudig verskriklik goed geskryf is: Die reikwydte en diepte van die woordeskat doen die bundel gestand sonder om die leser van die resensie te vervreem of af te skrik, en die bespreking toon diepgang en erns, sonder om ooit saai of té hoogdrawend te raak. Voorbeelde van die vars en opvallende taalgebruik wat Naudé aanwend is frases soos: “Die taal as ryklik herskape slagoffer van haar eie grille”, “’n Belittekende belofte” en “’n Onaf ster”.

Die inhoud van die bundel word op ’n bondige wyse opgesom, waarna Naudé ’n duidelike argument oor die taalverbrokkeling in die bundel opbou, wat tot aan die einde deurgevoer word en op oortuigende wyse afgesluit word.

Sy bespreking kring verder op interessante maniere uit van die teks: daar is uitsprake oor die aard van Afrikaans as taal, insigte oor taal- en identiteitspolitiek, asook ’n vergelyking met ’n relevante gedig uit die wêreldletterkunde en ’n uitdaging vir die leser om sy of haar eie woordeskat uit te brei. Al hierdie dinge help om die boek in die breër konteks van kultuur te posisioneer, en wakker debat en nuuskierigheid aan.

As voorbeeld van waarom hierdie ’n wenresensie is, die volgende sin: “Phillips puur haar vormgewing uit distorsie; ’n mens kan byna hoor hoe die taal se takkies in haar sinne gebreek word.” Sulke skryfwerk praat vanself.

– Bibi Slippers


 

Ronel Foster  is aangewys as kykNET-Rapport boekresensent van die jaar: Langer resensie vir haar resensie “Die gedig as karapaks” oor Krap uit die see deur Fourie Botha, LitNet, 11 Desember 2017

Commendatio: kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar 2018 – Langer resensie

Ronel Foster se resensie van Fourie Botha se bundel Krap uit die see is elke skrywer se droom. Dit getuig van deeglikheid, diepte en deurdagtheid. Die resensie verskyn op 11 Desember 2017 op LitNet, en ontgin die aanlyn platform se potensiaal vir langer boekbesprekings, wat veral ruimte skep vir interessante en stimulerende kontekstualisering – iets wat dikwels nie in korter resensies moontlik is nie.

Terwyl korter resensies geskryf moet word soos die kraai vlieg – kortste pad tot by die einde – kan Foster te danke aan die langer formaat bekostig om haar resensie te begin “soos die krap stap” – ’n skuins weg na die boek via ’n bespreking van die invloed van Henry Miller op Botha se werk. Dis verfrissend om hierdie soort kreatiewe vormgewing in ’n resensie te sien, veral omdat dit die inhoud van die resensie dien. Die aanhaling uit Miller se boek The Tropic of Capricorn en die verbande wat daar met Botha se bundel getrek word, bied aan die leser ’n sleutel wat nuwe betekenislae kan help ontsluit.

Verder gebruik Foster ook aanhalings uit onderhoude met Botha as toeligting tot die krapsimboliek wat sy so verhelderend vir die leser uitpak. Foster se menings bestaan nie in afsondering nie, maar word deur middel van hierdie aanhalings binne die literêre landskap geposisioneer, en daardeur verryk. Die gedigte wat sy in geheel aanhaal, is goeie keuses om die leser ’n verteenwoordigende voorsmaak van die gedigte in die bundel te gee, maar bied ook ryke stof vir interpretasie en bespreking.

Die relevante en insiggewende verwysings na plaaslike en internasionale skrywers soos Wilma Stockenström en Margaret Atwood se eie krapgedigte verleen gesag aan Foster se bepreking: dis duidelik ’n resensent met baie kennis en ’n breë verwysingsraamwerk. Die kennis word nie vertonerig uitgestal nie, maar eerder suksesvol aangewend om die leser se eie leeservaring te verdiep en sy of haar aan te moedig om wyer te lees.

Foster onderskat nie die leser nie: Haar resensie verskaf heelwat wegspringpunte wat die leser kan benut om self die bundel te benader, en genoeg inligting en insig om die leser bemagtig te laat voel. Daar is volop agtergrondinligting oor die skrywer se vorige publikasies wat moeiteloos by die bespreking betrek word, en wat tot insigte oor die boek onder bespreking lei en nie net terloopshede bly nie. Foster se resensie is meer as ’n bolangse boekbespreking: dis ook ’n besinning oor die aard van die digkuns wat vir die leser wys hoe ’n boek jou kan help om die wyer wêreld te bekyk en te begryp.

– Bibi Slippers

 

Die wenners

Die geleentheid is vanjaar in die Kokkedoor-ateljee aangebied.

Foto's: Naomi Bruwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top