
Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.
Steward van Wyk was een van die beoordelaars van die Fiksie-kategorie.
|
|
|
Steward van Wyk |
|
|
|
Koop Etienne Leroux se Silberstein-trilogie by Kalahari.com. |
Wat beteken die instelling van die kykNET-Rapport Boekprys vir die Afrikaanse boekbedryf?
Dit is ’n enorme aansporing vir skrywers, en uiteindelik ’n welverdiende beloning vir die pryswenner. Dit is ’n prestigeprys wat die aansien van die skrywer onmiddellik verhoog en dit kan net ’n positiewe uitwerking op die gehalte van die boeke hê en sodoende dien as inspuiting vir die boekbedryf in die algemeen.
Jy het so pas deur die Afrikaanse boeke wat uitgewers as hul beste van die jaar beskou, gelees. Is ons boekbedryf in 'n goeie fase of is daar kommer?
As ek kyk na die inskrywings is daar by my geen twyfel nie dat dit goed gaan met die boekbedryf. Die groot aanbod van misdaad- en speurromans, liefdesverhale, gesinsintriges en jeugromans wys dat daar ’n lesende publiek is wat honger is vir stories. As daar ’n boeiende storie te vertel is, sal daar altyd ’n leser daarvoor wees.
Is daar gemeenskaplike temas wat opval in die boeke wat vir die prys(e) ingeskryf is?
Sedert 1994 is ’n deurlopende tema in die Afrikaanse roman ’n herbesoek aan die verlede. Dit is in die meerderheid romans van vanjaar weer die geval. Dit word dan ook verweef met subtemas soos die verwerking van skuld en trauma, generasiekonflik en besinning oor feit en verbeelding.
Kan jy kortliks verduidelik wat die boeke op die kortlys prysenswaardig maak?
Om die bogenoemde redes, maar ook omdat dit veelvlakkig is, nie maklike en simplistiese antwoorde gee nie en in terme van literêre vormgewing vernuwend daaraan beslag gee.
Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees?
Ek kry nie veel tyd om meer as die onlangse Afrikaanse publikasies te lees nie. Uit die aard van my werk lees ek daarby ook ’n bietjie Nederlandse tekste en literêre teorie en vir afwisseling ook dagblaaie en opiniestukke.
Is daar (’n) boek(e), fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?
Wanneer ek tekste vir studente voorskryf, gee dit my ook die geleentheid om daardie tekste te herlees. Oor die jare het ek byvoorbeeld Jan Rabie se Bolandia-reeks, Etienne Leroux se Silberstein-trilogie en Magersfontein, asook Brink se betrokke romans kon herlees. Voeg daarby ook Elsa Joubert, John Miles en Ingrid Winterbach.
Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse



