Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.
Irna van Zyl was een van die beoordelaars van die Niefiksie-kategorie.
Irna van Zyl |
Wat beteken die instelling van die kykNET-Rapport Boekprys vir die Afrikaanse boekbedryf?
Soos altyd met pryse, is dit beloning, aanmoediging en dan veral verbetering van gehalte.
Jy het so pas deur die Afrikaanse boeke wat uitgewers as hul beste van die jaar beskou, gelees. Is ons boekbedryf tans in 'n goeie fase of is daar kommer?
Ek het slegs in die kategorie vir niefiksie beoordeel, maar het toevallig al drie die fiksiekortlys se boeke ook gelees en is baie mal oor al drie. Wat betref die niefiksie, is dit nie tyd vir kommer nie, maar daar is ruimte vir groei (hoewel ek moet byvoeg dat daar genoeg hoogstaande inskrywings was). Ek sou graag in Afrikaans meer van die sogenaamde langvorm-joernalistiek wou sien, iets wat in die afgelope paar jaar in Engelse niefiksie baie gegroei het.
Is daar gemeenskaplike temas wat opval in die boeke wat vir die prys(e) ingeskryf is?
Ja, drie temas val op: historiese boeke met diepgaande navorsing, joernalistieke essays en langvorm-joernalistiek oor aktuele temas.
Kan jy kortliks verduidelik wat die boeke op die kortlys prysenswaardig maak?
'n Kombinasie van uitstekende navorsing en stilistiese vermoëns, gekoppel met relevansie.
Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees?
Die afgelope jaar het ek veral AM Homes se May we be forgiven geniet, John Green se Looking for Alaska en Fiona Leonard se The chicken thief. Ek's ook mal oor alles van Michael Robotham en altyd Deon Meyer, Karin Brynard en Marita van der Vyver.
Is daar (’n) boek(e), fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?
Ek herlees nie meer so dikwels nie, maar het voorheen herhaaldelik Griet skryf 'n sprokie van Marita van der Vyver, Magersfontein, o Magersfontein! van Etienne Leroux en 'n Oomblik in die wind van André P Brink herlees.
Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse