kykNET-Rapport Boekpryse: Onderhoud met Hettie Scholtz

  • 0

 

Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.

Hettie Scholtz is die organiseerder van die hierdie boekpryse.

Hettie Scholtz

Koop The Secret Life of Bees by Kalahari.com.

Koop The sense of ending by Kalahari.com.

Koop Ons is nie almal so nie by Kalahari.com.

Wat beteken die instelling van die kykNET-Rapport Boekprys vir die Afrikaanse boekbedryf?

Boekpryse oor die algemeen dui vir my op die hoë premie wat geplaas word op letterkunde, ’n afdeling van die kunste wat ’n land se kultuur onmeetbaar verryk. Dis beduidend hoedat boeke van gehalte deesdae tegelyk in Afrikaans en Engels verskyn, en Afrikaanse skrywers se verhale toenemend die pad oorsee vind. Hierdie prys is in die lewe geroep in ’n tyd waarin die boek allerweë onder beleg is en spreek van absolute vertroue in Afrikaanse skrywers om leeslus en belangstelling in ons stories plaaslik sowel as internasionaal te prikkel. 

Jy het so pas deur die Afrikaanse boeke wat uitgewers as hul beste van die jaar beskou, gelees. Is ons boekbedryf tans in 'n goeie fase of is daar kommer?

Ek maak nou soos die skrywers: ek kyk terug om die hede te verstaan. Ek het way beyond the big smoke uitgewer geword. Dit was in die goue dae toe boeke nog groot besigheid was met Exclusive Books se literêre ontbyte in Pretoria en die Chapters Literary Luncheons in Johannesburg. Ons het nog met daardie groot ou galeie gewerk, e-pos het nie bestaan nie en my boeke by Queillerie het ek per faks bemark. In die na-Gutenberg wêreld lyk dinge ingrypend anders: inligting word op wolkies gestoor en ek voel toenemend soos die karakter in Berta Smit se roman, Juffrou Sophia vlug vorentoe: al my bronne is verouderd. Ek troos my daaraan dat niks in die pad van ’n werklik goeie storie staan nie – allermins tegnologie. Maar ons stories moenie net vertel word nie, hulle moet van geweet wees, of hulle sterf, en soos Sue Monk Kidd dit so raak stel in The Secret Life of Bees, wanneer hulle sterf, kan ons nie onthou wie ons is of waarom ons hier is nie. Dit kwel my dus dat daar so min ruimte aan resensies en besprekings van boeke afgestaan word in die media. LitNet is wel ’n uitsonderlike boekvriend. 

Daar is ander dinge wat nog meer kommer wek: die regering se volstrekte weiering om BTW op boeke af te skaf of te verminder; ook hulle plan om landwyd ’n stelsel van slegs een boek per leerling per vak in te voer. Behalwe hoe dit die ontwikkeling van die inheemse tale ernstig sal knou, hou dit ’n besliste bedreiging in vir die uitgewersbedryf en is dit ons elkeen se plig om in hierdie geval regtig ons stem duidelik te laat hoor in elke petisie en op elke moontlike podium.

Is daar gemeenskaplike temas wat opval in die boeke wat vir die prys(e) ingeskryf is?

Vanjaar se oes inskrywings getuig daarvan dat plaaslike skrywers nog lank nie klaargespeel het met die verlede nie. Wat verblydend is, is hoe verbeeldingryk en sonder seur dit hanteer word in beide feit en fiksie. 

Kan jy kortliks verduidelik wat die boeke op die kortlys prysenswaardig maak?

In ’n onlangse uitgawe van Brain Pickings op die internet was daar ’n artikel, “What Books Do for the Human Soul: The Four Psychological Functions of Great Literature”. Daarvolgens open skrywers hulle hart en verstand en gee ons padkaarte na onsself, help ons om ons varkies op hok te hou en te lewe en sterwe met ’n bietjie meer wysheid – en goedheid. Dit kan van die titels op die kortlyste gesê word. Hulle spreek een en elk van “the messy business of being human”. En dit is ’n bekvol.

Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees?

Naas ons Afrikaanse skrywers lees ek graag Julian Barnes, Joyce Carol Oates, Margaret Atwood, WG Sebald, Bernhard Schlink, Marquez, Patrick Süskind, Jeffrey Eugenides, Anne Michaels, Jonathan Franzen, Ian McEwan, Sebastian Faulks, Michael Chabon en my ou gunsteling, John Irving.

Is daar (’n) boek(e), fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?

Ek herlees al JM Coetzee, Marlene van Niekerk en Karel Schoeman se boeke, en ook die versamelde kortverhale van Eudora Welty, Katherine Mansfield en Alice Munro. Ek sal binnekort ook weer die meer onlangse kortverhale, Everything ravaged everything burned, van Wells Tower lees, sowel as La Bâtarde van Violet Leduc, miskien dié boek wat my belangstelling in skrywers en skrywerskap geprikkel het. Ek het ook al meer as een keer sedert 1990 Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie herlees en elke keer ervaar ek dieselfde gevoel van meelewing en opwinding as toe ek die manuskrip waarop die ink nog nat was, in die middel van die nag hardop voorgelees het in ’n klein kamertjie tydens ’n Afrikaanse Skrywersgildeberaad by Broederstroom, met ’n glasie wyn byderhand, Jeanne wat lag en puff aan haar sigaret en Marietjie Coetzee wat beurtelings die manuskrip uit my hande gryp en verder voorlees. Aan die slot van die boek, met klein Gertie aan die woord, was die drie van ons in trane, en nee, dit was nie van dronkverdriet nie: “Hier naby die einde van die diens het ek altyd na my ma gekyk langs my. Sy het al mooier en mooier geword met haar blou oë wat heeltemal deurskynend word. Haar gesig het begin skyn en dan het ek geweet dis die Heilige Gees wat in haar ingekom het. Sy maak dan haar mond oop en begin die mooi woorde sê wat ek nou al uit my kop ken. Die hele gemeente bly stil en luister na die ronde, helder klanke uit die mond van my ma: ‘Halo Christu Ku Marrti Sen Bielef Tar Ty Salem Jawé Christu!! Rama Koerr Ja, O, Christu! Christu!!’”

Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top