Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.
Die oorlog kom huis toe, saamgestel deur Albert Grundlingh en Bill Nasson, is genomineer in die kategorie: Niefiksie. Albert Grundlingh beantwoord 'n paar vrae.
|
Albert Grundlingh |
|
|
Wat beteken dit vir jou om vir die eerste kykNET-Rapport Boekprys genomineer te word?
Vir historici beteken dit nogal iets as die woord “eerste” daaraan gekoppel word. Gevolglik het ek as historikus nogal rede om in my noppies te voel.
Kry Afrikaanse skryfwerk, en veral Afrikaanse niefiksie, die nodige erkenning?
In die gloriedae van Afrikanernasionalisme het geskiedenisboeke nogal aftrek gekry. Vandag is daar ’n nuwe, meer versigtige manier van omgang met die verlede en word daar nie dieselfde emosionele appèl gerig nie. Tog verkoop genuanseerde geskiedenisboeke in redelike getalle, maar die reikwydte is nie dieselfde as vantevore nie.
Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke boek te skryf?
Eintlik is dit die kulminasie van jare se navorsing en besinning oor sekere aspekte van die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog). En Tafelberg het met die regte proposisie na my en Bill Nasson gekom.
As jy kyk na die boek in sy geheel, van die eerste gedagte tot die finale produk, wat is vir jou die lekkerste aspek van die skryfproses en wat frustreer jou die meeste?
Die eerste sin of sinne is altyd die moeilikste. Maar namate jy vorder en die gestaltes in jou kop vorm aanneem en jy oortuig is dat jy dit kan staaf, verskaf dit ’n sekere genoegdoening. Op ’n sekere vlak is dit soos ’n groot legkaart wat jy moet voltooi, maar sonder dat die buitelyne en besonderhede voor die hand liggend is.
Waar en watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?
Merendeels snags. My dag is andersins te vol, maar die kwessies waaroor mens skryf, wyk nie noodwendig gedurende die dag nie.
Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees?
Ek het onlangs Anthony Beever se werk oor Berlyn gedurende die Tweede Wêreldoorlog gelees, nogal tydens ’n besoek aan Berlyn. Hy beheer ’n enorme klomp besonderhede met die grootste gemak. Ten opsigte van Suid-Afrikaanse boeke is die werke van Hermann Giliomee altyd op ’n verskeidenheid vlakke stimulerend; hy dwing jou feitlik om te herbesin en met hom in debat te tree! Hierbenewens is die werke van Charles van Onselen gewoonlik grensverskuiwend en voeg dit soveel nuwe dimensies tot die Suid-Afrikaanse historiografie toe.
Is daar een of meer boeke, fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?
Spike Milligan se humoristiese werke oor die Tweede Wêreldoorlog val in dié kategorie. Ek het ’n hele versameling daarvan.
As jy nou aan jouself dink as ’n nog ongepubliseerde skrywer, watter raad sou jy aan jouself gee?
Maak seker dat jy oor ’n onderwerp skryf wat nog nie aan die orde gekom het nie en wees dikvellig genoeg om dit teen elke prys na te speur om dit uiteindelik in ’n aanvaarbare vorm te verpak.
Werk jy aan ’n nuwe boek?
Ek het laas jaar ook ’n boek met die titel Potent pastimes: Sport and leisure practices in modern Afrikaner history voltooi wat onder meer die Afrikaner se obsessie met rugby onder die loep neem. Derhalwe het ek vanjaar so effe afgeneem om oor nuwe projekte te besin en sal waarskynlik binnekort met ’n geskiedenis van die Universiteit Stellenbosch begin met die oog op die eeufeesherdenking van die universiteit in 2018.
Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse