kykNET-hoogtepunte
September 2012
Die Nataniël Tafel
Begin 20 September om 19:30
Glanspersoonlikhede hou nogal daarvan om kos te maak. Weinig onder hulle kan egter kosmaak by hulle glansredes insluit. Nataniël is die uitsondering. Dramaturg, skrywer, satiris, komponis, sanger, skoonheidskundige, digter en kok wat "KOOK"!
Nataniël, in samewerking met Checkers, stel in September sy deftige aan-tafel-tuisete-reeks Die Nataniël Tafel bekend. Nataniël sal kykers vermaak met sy ingebore vonkel en sprankel. Die Nataniël Tafel-tuiskosmaakreeks beloof om kykNET-kykers met watertanddisse, knoesige interieur en skerpsinnige humor te bekoor. En die alomvattende spyskaart, ontwerp en opgevoer deur Nataniël, is enig in sy soort in die wêreld.
Nataniël gaan sy besonderse gaste en vriende in ’n omvangryke kos-en-keur-reis betrek. As medepelgrims gaan hulle begelei, vermaak en bedien word met elegante en heerlike geregte.
Die Nataniël Tafel-episodes gaan kort maar kragtige spore sny na ’n beloofde land van hoogstaande geregte, nommerpaswyne, voortreflike dekor en die ongeëwenaarde Nataniël-teenwoordigheid!
Kwêla Amateurvideo-kompetisie 2012
Begin Woensdag 5 September om 20:30
Ons jaarlikse Amateurvideo-kompetisie is so eie aan Kwêla soos aarbeie en room aan Wimbledon. Wat meer is, dit is die grootste kompetisie van sy soort in die land!
Vir die elfde agtereenvolgende jaar kry Jan Alleman die kans om sy video-vaardighede ten toon te stel en terselfdertyd groot pryse los te slaan! Video’s het sedert Meimaand van oraloor ingestroom en op 5 September skop die TV-rondte van die kompetisie af.
Sedert 2011 staan die kompetisie los van Kwêla en word dit in die halfuur direk daarna uitgesaai. Hierdie jaar staan sake weer so en vir dertien weke lank sal jy dus eers soos gewoonlik saam kan Kwêla, en daarna lekker kan lag vir die Funnies of jou kan vergaap aan die inskrywings in die Feite & Geite-afdeling.
Daar is vanjaar weer groot pryse op die spel. Ons groot vennoot is, soos altyd, Echo 4x4 en hulle pryse beloop nagenoeg R1,3 miljoen in totaal. Daar is ook groot vakansiepryse op die spel, geborg deur die World Luxury Hotel Awards. Dit is ook nie net die amateurvideograwe wat ’n kans sal hê om met hierdie groot pryse weg te stap nie, maar ook ‘n ieder en ‘n elk wat vir hierdie video’s stem deur die naam van hulle gunstelingvideo na 33157 te SMS.
Pieter Koen is die ankeraanbieder van hierdie reeks, wat op 5 September afskop. Die eerste deel van die kompetisie bestaan uit vyf weke se Funnies(die humorafdeling), waarna ‘n finale rondte sal volg. Die wenners van dié afdeling word op 17 Oktober aangekondig.
Daarna, op 24 Oktober, kom die Feite & Geite-afdeling aan die beurt. Die wenners van dié afdeling sal op 28 November aangekondig word.
As jy van jou sorge wil vergeet, is die Funnies nét die medisyne vir jou. So sluit gerus van 5 September by Pieter Koen aan vir ‘n halfuur van lekker lag. Oulike kinders, koddige grootmense en ons gunsteling- viervoetige vriende is alles weer op die spyskaart.
Ons Soek die Sanger
Episode 9
4 September
Terwyl die manne wag om te hoor wie verlede week geëlimineer is, besluit die Stem in die Stoel dat al agt manne vir nog ’n week bly. Hierdie week pak die top agt elkeen ‘n lekker sokkie-liedjie aan en die ateljee weerklink met die dansritmes van gesogte voetstamptreffers.
Episode 10
11 September
Drie sangers het ons verlede week verlaat en ons bly oor met die top vyf. Hulle taak hierdie week is om ‘n sterk ballade met soveel passie te sing dat dit al die tannies in die land in trane sal hê ... Die manne moet elkeen ook ‘n oorspronklike liedjie aanpak. Die ouens sal nou moet uithaal en wys ...
Episode 11
18 September
Die oorblywende vier sangers word aangesê om elkeen ‘n musiekvideo van hulle eie, oorspronklike liedjie te maak en ook om ‘n duet voor te berei saam met van ons land se voorste vroulike Afrikaanse sangeresse. Elizma Theron, Charlize Berg, Monique en Sarah Theron sing vanaand saam met ons manne in die ateljee …
Episode 12
25 September
Na tien weke van harde werk en kompetisie moet ons top drie sangers vanaand hulle hart uit sing om ‘n plek in die top twee te kry. Dis te sê as die Stem in die Stoel nie van plan verander nie …
Ontbytsake
Episode 576
1 September 2012
Dis Lentedag en tyd om jou vel en lyf reg te kry vir die somer. Hierdie week fokus ons op skoonheid en gesondheid en ons ateljeegas is niemand anders nie as die Glam Guru, Hannon Bothma.
SleepTV
Episode 10
3 September
Die weer by ‘n koue en nat ATKV Goudini Spa het nie die sleepspan of hulle medekampeerders afgeskrik nie! Hierdie week wys ons jou wat als by dié oord en in die omgewing gedoen kan word, selfs as dit reën. John-Henry en Rianette kuier by die bure en word selfs vir tuisgemaakte brijani oorgenooi. Hulle besoek ook die bekoorlike Opstal Wynlandgoed in die Slanghoekvallei, en bederf ons met nog ‘n kampkosresep. Kom sleep saam en kyk hoe ‘n mens lekker in die reën kamp!
Episode 11
10 September
Hierdie week gaan SleepTV die draak in die berg soek. Op pad na die pragoord ATKV Drakensville, praat John-Henry en Rianette oor hulle sleepmotor se sleepvermoë en die voordele van ‘n boswa. Hulle bespreek ook kwessies soos stof en die beskerming vir jou boswa wanneer jy die grondpad aandurf. By die oord aangekom, knoop hulle ‘n geselsie met die ontvangspersoneel aan om te hoor wat alles agter die skerms aangaan. Hulle slaan kamp op en bespreek die interessante tegnologie wat vir slepers beskikbaar is.
Episode 12
17 September
By ATKV Drakensville toets John-Henry en Rianette al die doendinge by die oord en ook in die omgewing – van boogskiet, perdry, bring-en-braai en bergpasse uitklim tot “hoog-in-die-takkie”-Zipline. John-Henry bewonder ook die natuurskoon vanuit ‘n helikopter en die span bekyk hulle boswa van naderby. Ons deel ook ’n WegSleep-wenresep en ‘n asemrowende sonsondergang in die Drakensberge.
Episode 13
24 September
Vir hulle laaste Sleeptog reis John-Henry en Rianette met ‘n alles-in-een- mobiele woning. Op pad na ATKV Buffelspoort kuier SleepTV by die Hartbeespoort Slang- en Dierepark, waar hulle ‘n oulike vierjarige sjimpansee ontmoet, Rianette op ‘n skilpad se rug ry en John-Henry vriende maak met ‘n leeu. Hulle loer ook in by die alombekende Tant Malie en bekyk Hartbeespoortdam met nuwe oë. By die oord word die twee vinnig by ’n geesvang- en geesjaag-jeugberaaddans ingetrek, daar word musiek-met-minigolf gespeel en vele meer. Rianette bederf die oordbestuurder met ‘n heerlike sjokoladepoeding, John-Henry sing sy Sleepliedjie vir ons en ons groet met ‘n terugblik oor hulle opwindende Sleepavontuur.
Ouverture
2 September
De Falla: La Vida Breve
Manuel de Falla se kort opera is waarskynlik die grootste opera in die hele Spaanse repertoire. Die koor en orkes van die Valencia-operageselskap word gelei deur Lorin Maazel. Die soliste is die Chileense sopraan Cristina Gallardo-Domas, Jorge de Leon, Maria Luisa Gorbacho, en andere.
9 September
‘n Aand saam met Gabrielle Montera
Die Venezolaanse pianis Gabriella Montera hou van improvisasie. Sy het die kuns bemeester soos geen ander pianis van haar tyd nie. Dis hierdie gawe wat haar gehore fassineer. Sy het haar eerste openbare optrede op die ouderdom van vyf jaar gehad en het op agt haar konsertdebuut gemaak saam met die Simon Bolivar-jeugorkes.
16 September
Puccini: La Boheme
Uit die Tianquiao-teater in Peking ‘n opvoering van Puccini se La Boheme met Luciano Pavarotti in die rolverdeling. Die koor en orkes van die Operageselskap van Genoa word gedirigeer deur Leone Magiera. Ook met Fiamma Izzo D’Amico (Mimi) en Madelyn Renee.
23 September
The Little Mermaid
Die San Francisco-balletgeselskap met soliste Yuan Yuan Tan, Lloyd Riggins, Tiit Helimets en Sarah van Patten in ‘n hoogaangeskrewe produksie wat voor vol sale gespeel het. Musiek deur Lera Auerbach en choreografie deur Johan Neumaier.
30 September
World Orchestra for Peace by die Abu Dhabi-fees
Die konsert, onder leiding van Valery Gergiev, sluit musiek in van Prokofiev en Tchaikovsky. Gergiev is die hoof van St Petersburg se Mariinsky-teater en hoofdirigent van die Londense Simfonie-orkes. Die Vredesorkes, wat in 1995 deur Sir Georg Solti begin is, sluit die beste musici uit die beste orkeste in die wêreld in, en het ten doel om aan die wêreld te wys dat musiek unieke krag het as ambassadeur van vrede.
Saktyd
Episode 8
4 September
Agt deelnemers
Die deelnemers maak van baie nader kennis met twee bekende akteurs. Een deelnemer is totaal ongefokus en verkeer onder die indruk dat sy ‘n groot storie beet het – maar sukkel dan om die storie geskryf te kry. Almal is senuagtig, aangesien hulle besef dat twee deelnemers iewers in die kompetisie gelyktydig uitgestem sal moet word.
Uitdaging:
Hierdie week is dit weer ‘n individuele uitdaging vir die deelnemers. Die deelnemers word in twee groepe van vier verdeel en elke groep word na ’n akteur se huis geneem saam met ’n Huisgenoot-fotograaf om ’n “Tuis saam met”-stuk te doen. Erika Wessels en Albert Maritz (wat albei te sien was in kykNET se drama Vloeksteen) word vir hierdie uitdaging gebruik.
Episode 9
11 September
Sewe deelnemers
Valiant Swart en Bok van Blerk sorg vir groot pret in hierdie week se uitdaging. Die deelnemers raak al hoe angstiger, en dit is tyd om die kaf van die koring te skei – in ‘n onverwagse skuif is dit nie net die beoordelaars wat dié week moet besluit wie huis toe gaan nie.
Uitdaging:
Die deelnemers moet ’n “Agter die skerms”-styl-artikel vir Tempo doen oor ‘n musiekvideo wat vir Huisgenoot se Liedjieskryfkompetisie geskiet word. Die deelnemers moet ook ’n resensie doen oor ’n CD.
Episode 10
18 September
Vyf deelnemers
Die deelnemers se harte van staal word getoets wanneer hulle uitdaging iets te doen het met “erfenis” en ‘n lid van hul familie – en die meeste van die deelnemers raak in die proses emosioneel.
Uitdaging:
Die deelnemers moet ’n “Huisgenoot-wenresep”-artikel doen met ’n resep wat hulle by ’n familielid kry wat iets oor hulle erfenis sê en binne 90 minute voorberei kan word. Hulle moet die resep kry en deur Huisgenoot se kosredakteur, Carmen Niehaus, laat goedkeur. Ná die goedkeuring van die resep moet die nodige bestanddele aangeskaf word, die tafelgerei moet gehuur word (vir die stilering van die kosfoto’s) en die kos moet voorberei word. Die finale produk moet ook afgeneem word vir die artikel. In die artikel moet daar ook ’n stuk geskryf word oor die persoon by wie hulle die resep gekry het en hoe dit verband hou met Erfenisdag.
Episode 11
25 September
Vier deelnemers
Dis ‘n episode van grotes! Helde, sterre, ervarings en teleurstellings. Wat vat dit om een van die land se grootste sepies, Binneland, aan die gang te hou? En hoe besluit jy waarop om te fokus as jy self moet kies en dan nog by publisiteitsbeamptes en van ons land se mees ervare akteurs – soos Dawid Minnaar en Hans Strydom – verby moet kom? Een van die deelnemers lyk verward en verlore met die uitdaging, terwyl ‘n ander deelnemer een van haar helde ontmoet.
Uitdaging:
Die deelnemers moet die dag op die stel van Binneland, by Stark Studios in Johannesburg, deurbring en terugkom met ‘n storie wat uniek, vars en anders is. Daar word van die deelnemers verwag om self die uitleg en inhoud van hul artikels te bepaal en die nodige foto’s te kry. Hulle moet ook saam met die publisiteitsbestuurder van Binneland, Ernst Swart, werk, en hulle moet self kies met watter akteurs hulle moet praat na gelang van waaroor hulle besluit het om te skryf. Terug in Kaapstad kry hulle die geleentheid om weer saam met Huisgenoot se uitlegkunstenaars te werk en hul finale stuk aanmekaar te sit.
Getroud met Rugby
Episode 8/47
4 September
Botha vind Kiki se ou plakboek. Kiki wil meer uitvind oor Brendan en Cedric, maar Reghardt keer haar. Fafa begaan ? groot fout op hul wittebrood. Splinterboud kry ? oulike nuwe meisie. Schalk vra Laetitia om by hom in te trek.
Episode 9/48
11 September
Kiki gaan Kaap toe en loop haar in gevaarlike mense vas. Brendan se pa wil niks weet van Kiki nie, maar voel skuldig oor sy seun. Iva en Fafa baklei baie. Fafa doen sy bes, ter wille van sy huwelik. Splinterboud kry ? borg en sy eie advertensieveldtog.
Episode 10/49
18 September
Kiki word vasgevang in ? gyselaarsdrama. Vanesmari vind uit van Festus en Koekie se planne met Bella. Splinterboud is skaam vir Marietjie. Schalk dink Laetitia se idees is goed. Blackie se gedrag lei tot sy afdanking. Cedric wend hom tot Iva vir raad.
Episode 11/50
25 September
Splinterboud moet dalk vir Marietjie los, maar weier. Cornia loop haar vas in die gereg en moet moeilike keuses maak. Blackie probeer Schalk waarsku teen Leatitia. Reghardt en Kiki probeer Brendan help en trek saam in. Iva onthul aan Raka die waarheid oor sy pa en gee hom ? keuse.
Jou Show
Episode 112
1 September
Die kleurvolle en talentvolle Zanne Stapelberg slaan Emo en Wicus se asems weg met haar stem én persoonlikheid terwyl Esther von Waltsleben almal maagspiere laat oefen met haar improvisasietalent. Akrobate van Tanzanië laat ook almal op die punt van hulle stoele sit met hulle waaghalsige toertjies.
Episode 113
8 September
Emo se broer, Loukmaan Adams, kuier vanaand by Jou Show en hulle wys ons presies hoekom hulle ‘n Kanna by dié jaar se KKNK gewen het. Jakkie Louw is ook in die ateljee en sing een van sy liedjies op sy splinternuwe CD.
Episode 114
15 September
Twee karakters uit die nuwe Afrikaanse fliek 100 m Leeuloop kuier op die stel en Robbie en Hamilton Wessels knyp ook tyd af om by Emo en Wicus te kom inloer. Almal kry ‘n kans om mekaar beter te leer ken met die nuwe bordspeletjie Yunomi – en die skepper daarvan, Renee van Huyssteen, verduidelik waar die idee vandaan gekom het.
Episode 115
22 September
Valiant Swart maak vanaand ‘n draai by Emo en Wicus en die nuwe sangtalent Larry Joe deel sy inspirerende storie met ons. Die spotprentkunstenaar Martinus van Tee plaas Emo en Wicus “in perspektief”.
Episode 116
29 September
Sekerlik die bekenste televisiebroer-en-suster, naamlik Vaatjie en Blapsie, kuier vanaand op Jou Show. Hulle deel met ons hoe dinge vir hulle begin het en wat hulle vir die toekoms beplan. ‘n Paar sterk manne bult ook hulle spiere vir Emo en Wicus.
Episode 117
6 Oktober
In vanjaar se laaste episode van Jou Show met Emo en Wicus praat ons met Rian van Heerden, en hy deel van sy hoogte- en laagtepunte met ons. Een van Suid-Afrika se bekendste skrywers, Deon Meyer, kuier ook in die ateljee en gesels oor presies hoe lank dit vat om ‘n boek te skryf. En net voor dinge te ernstig raak, vat Roxy le Roux die mikrofoon.
Parys Parys
Episode 8
3 September 2012
Fransie doen haar deel om die Vaalrivier skoon te hou en steur haar min aan die rugbykoors wat hoog loop in die Kleynhans-huis. JJ kom op internetveilings van rugby-gedenkwaardighede af en sien groot geld. Jan en sy broer, Andries, het toeka se tyd rugby gespeel en die reünie is om die draai. Andries, wat nou in Nieu-Seeland woon, kom al die pad vir die geleentheid en irriteer Jan tot in die afgrond met sy lofsange oor Kiwi-land. Dis nou tot Andries ‘n paar doppe in het en die verlange na Suid-Afrika sterk begin deurskemer …
(Met Dirk Stoltz)
Episode 9
10 September 2012
Jan is verheug – nie net het hy time-share by ‘n karavaanpark verniet gekry nie; hy het ook ‘n 6-sterkaravaan geleen gekry. Net een probleem: Elsa weier om te gaan as haar sieklike pa, Grootkoos, nie saamgaan nie – dis immers Kersfees! Dit lei tot erge huwelikstwis, tot Fransie se ontsteltenis – dit is immers Kerstyd! JJ se ondernemingsgees bereik ‘n hoogtepunt wanneer hy verskeie besighede gelyk probeer bedryf.
(Met Willem van Wyk)
Episode 10
17 September 2012
Tjoppie kruip doodbenoud by die Kleynhanse weg en kry tot nagmerries, want hy het antie Bettie se trourok wat sy al die jare gebêre het, laat wegraak. Fransie stap onophoudelik en tel elke tree wat sy gee, want dis hoe die borgskap werk as sy ‘n bedreigde duisendpootspesie wil help red. Raad-op Jan doen die winkel se belasting, maar die wins lyk beroerd. Elsa besluit ‘n brosjure vir die oorsese mark is net die antwoord, en sy reël ‘n fotosessie met oom Tjoppie – hy moet poseer in verskillende lande se tipiese kleredrag. JJ het Tjoppie se bakkie geleen en ry die wêreld rond, tot by Kimberley se gat.
Episode 11
24 September 2012
Die resessie druk en die Kleynhanse moet spaar waar hulle kan. Jan reken Elsa sal haar winkel moet toemaak – dit kos hulle net geld. Sy gee egter nie so maklik moed op nie en reël ‘n Franse aand, tot Jan en Tjoppie se ontsteltenis op presies dieselfde aand as wat die Springbokke speel. JJ, wat nou die kuns van mimiek bestudeer, sal sommer vir die vermaak sorg. ‘n Wynkenner uit die Kaap sal ‘n wynproe hou, en vir watse verrassing sorg hy nie! Maar niemand daag op vir Elsa se funksie nie. Tjoppie kom tot die redding deur die dorp se kroegvlieë na die wynproe te lok.
(Met David Rees)
Kyk ‘n Biekie
Episode 5
4 September
“Almal is Mens”
Johan se verjaarsdag is om die draai en Wilmaré verras hom met ‘n klein wegbreeknaweek in die Kaapse Wynlande. Hulle besoek die Afrikaanse Taalmonument en kry ‘n bietjie agtergrond oor die argitektuur en betekenis daarvan. Hulle stop ook vir koffie by Giuseppe, ‘n Italiaanse sjef, en bespreek sy eksentrieke huisie en versameling heksies en vetplante.
Episode 6
11 September
“Falsetto”
Ons hou piekniek saam met Hulle op ’n kaas-en-wynplaas in die Paarl. Johan probeer Wilmaré oortuig dat Afrikaanse mense wel weet wat die woord “falsetto” beteken. En Hulle neem die liedjie op in Wilmaré se kamer by die gastehuis.
Episode 7
18 September
“Sonder jou”
Johan en Wilmaré gaan vir ‘n dansles en probeer hul bes om hulle voete te vind met die tango. Hulle gesels met ‘n ou vriend wat baie van die kitaarwerk op die album gedoen het en neem ‘n nuwe liedjie vir die album op.
Episode 8
25 September
“As jy by haar gaan slaap vanaand”
Vir Erfenisdag en Nasionale Braaidag nooi Wilmaré ‘n paar vriende oor vir ‘n braai by haar huis. Daar is ‘n groot geklets oor die kole en in die kombuis en dan word nog ‘n nuwe liedjie vir die album opgeneem.
Fiesta
Episode 477
10 September
Knysna Oesterfees
Die Knysna Oesterfees is een van die oudste feeste in die land en is jare lank al ‘n instelling en fees wat mens ten minste een keer móét besoek. Benewens oesters eet is hierdie ‘n ware gesinsfees wat iets vir almal bied: van vermaak vir die kleinspan tot allerhande sportaktiwiteite soos die veldwedloop en leefstyl-items by die nagmark en wynfees. Frankie Opperman is vandeesweek ons gasaanbieder.
Episode 478
17 September
Oos-Kaap Biltongfees
Somerset-Oos is een van daardie juwele in die Oos-Kaap wat oor en oor ‘n besoek werd is. Jaarliks speel hierdie dorp ook gasheer vir die Oos-Kaap Biltongfees, waar van die room van ons land se sangers kom optree. Vanjaar het die fees gepaardgegaan met nat en yskoue weer en het almal bontgestaan om die fees steeds met groot sukses glad te laat verloop. Fiesta het ook in die omgewing gekuier en onder andere die Walter Battiss Museum en die Somerset-Oos Museum besoek. Elvis Blue was vandeesweek ons gasaanbieder.
Villa Rosa
Episode 1536
Maandag 3 September 2012
Die Villa Rosers gis steeds oor wie Sam aangeval het, terwyl hulle op hete kole wag vir haar om uit die hospitaal ontslaan te word. Astrid sweet bloed oor wat Sam dalk kan onthou en Fritz doen alles in sy vermoë om sy vrou gemaklik en gelukkig te kry. Lindie geniet elke oomblik saam met Simon, maar die afskeid is weer om die draai. Wouter se goeie bedoelens veroorsaak dat hy in groot moeilikheid beland.
Episode 1537
Dinsdag 4 September 2012
Sam tref reëlings sonder Fritz se medewete, Wouter vertrek, en Lindie en Charl geniet hulle laaste oomblikke saam met Simon. Anthony onthul sy voornemens aan Fran en Lerato. Isabel kry goeie nuus, en Astrid teister Sam met vrae oor die aanval. Vicky maak ’n ontstellende ontdekking, terwyl Astrid saadjies van twyfel by Stef plant.
Episode 1538
Woensdag 5 September 2012
Fritz verlang na Sam, maar hy hou ’n sterk front voor. Vicky waarsku Lindie om weg te bly van Marius af, en Isabel en Vicky smee opnuut hul sake- en vriendskapsbande. Astrid bied aan om Fritz se reisdokumente in orde te kry, maar Fritz wys dit van die hand. Fran begewe haar in die rol van kok, met komiese gevolge. ’n Foongesprek met Sam laat Fritz besef hoe ver sy nou van hom is.
Episode 1539
Donderdag 6 September 2012
Marius is rasend van onsekerheid wanneer Astrid ’n bose saad oor Vicky in sy kop plant. Fran neem beheer van die Villa en kry ’n vreemde bespreking vir die naweek wat die hele Villa uiteindelik op hol het. Astrid kom tot Fritz se redding sonder dat hy dit weet, maar dit laat Stef onrustig.
Episode 1540
Maandag 10 September 2012
Marius en Anthony is opgewonde dat Manies Organies so goed op dreef kom. Intussen is Zirk en Astrid nog lank nie klaar met mekaar nie. Marius en Lindie kom al beter oor die weg, terwyl Isabel Vicky weer waarsku om so gou moontlik by Astrid te bedank. Fritz kry swaar sonder Sam, maar bly moedig dat hy eersdaags ’n Kanadese visum sal kry. Lerato is jaloers en agterdogtig omdat Fran en Stef gedurig saam is en begin snuffel …
Episode 1541
Dinsdag 11 September 2012
Fran is volstoom aan die werk aan haar skelm boek, terwyl Lerato tevergeefs probeer snuffel. Fritz kry wonderlike nuus en kan nie wag om in Kanada by Sam aan te sluit nie. Vicky verdink Astrid al hoe meer en is gefrustreerd wanneer Marius hom nie aan haar bevindings steur nie. Petrus kan steeds nie die moed bymekaarskraap om aan die Villa se deur te gaan klop nie.
Episode 1542
Woensdag 12 September 2012
Die Villa Rosers kry ’n verrassing, maar nie almal sien dit as aangenaam nie. Fritz is angstig om by Sam aan te sluit, maar deel sy sy entoesiasme? Lindie maak ’n gevaarlike ontdekking en ’n ongure gas maak weer sy opwagting in Bloemfontein. Anthony kry verwarrende nuus van die registrateur wat hom van voor af deurmekaar maak: wie is hy en waar kom hy vandaan? Fran maak ’n skokkende onthulling.
Episode 1543
Donderdag 13 September 2012
Vicky is in lewensgevaar. Sal Isabel betyds tot haar redding kom? Petrus is dankbaar omdat almal so goed is vir hom en wonder hoekom hy nie lankal huis toe gekom het nie. Lerato is verbaas oor Anthony en Fran se vreemde optrede – totdat die waarheid op die lappe kom. Fritz en Stef het ’n onderonsie en die situasie tussen Fran en Anthony bereik breekpunt.
Episode 1544
Maandag 17 September 2012
Fran se onthulling het haar en Anthony baie naby aan mekaar gebring, maar Lerato voel alleen en ongelukkig. Marius en Lindie begrawe finaal die spoke van die verlede. Marius sien ’n ander sy van Zirk, Fritz maak gereed om Kanada toe te vertrek en Stef moedig Anthony aan om Fran se manuskrip te lees. Net toe Vicky genoeg sekerheid het om polisie toe te gaan, krap Astrid haar planne deurmekaar. Zirk maak ’n aanbod wat Fritz ontsenu.
Episode 1545
Dinsdag 18 September 2012
Zirk se swaard en Astrid se slinksheid hang oor Marius en Vicky se koppe, maar bied allerhande geleenthede vir Lindie. Charl voel sleg oor hy Simon se verjaarsdag verkeerd het en Lindie laat hom nie daarvan vergeet nie. Astrid herinner Stef aan ’n ooreenkoms wat die wind uit sy seile neem. Lerato broei oor Fran en Petrus ondersteun haar – maar dit is tot Lerato hom oor sy eilandavontuur begin uitvra ...
Episode 1546
Woensdag 19 September 2012
Marius wil hê Vicky moet Valdez by die polisie gaan aangee, maar sy weier. Lindie vertel Isabel dat Stef steeds op haar spoor is, en Isabel besluit om proaktief te wees. Anthony probeer weer vrede maak tussen Lerato en Fran, maar dit lyk na ’n onmoontlike taak. Astrid herinner Stef aan hulle soen en sy belofte aan haar, maar hy hou vol hy stel nie in haar belang nie. Of sê hy net so? En wie is die meisie wat Charl by die Villa insmokkel?
Episode 1547
Donderdag 20 September 2012
Marius en Vicky verdrink in die geluk en besluit om hul vriende te nooi vir ’n baie belangrike aankondiging. Sussie is tot in haar skoene geskok wanneer sy besef Charl het ’n meisie in sy kamer onthaal, maar nog lank nie so ontsteld soos Petrus wanneer hy uitvind wie die meisie is nie. Astrid konfronteer Stef oor sy gevoelens vir haar – gaan hy weer die hasepad kies?
Episode 1548
Maandag 24 September 2012
Wie is Julie, wat het sy aan Petrus gedoen en waarom het sy Bloemfontein toe gekom? Daar word ‘n demper op Vicky en Marius se geluk geplaas. Gaan hulle dit tot by die kansel maak? Fran ontvang ’n oproep van haar uitgewer wat haar onrustig maak. Wat kan dit wees? Stef en Astrid dans om mekaar. Is dit liefde of lus? Sussie beleef ’n nare dag by die Villa.
Episode 1549
Dinsdag 25 September 2012
Marius wil van Zirk ontslae raak. Julie wurm haar al dieper in Charl se lewe in, en Vicky en Lindie se verhouding verbeter effens, al bly Vicky wantrouig. Lindie is ’n ware staatmaker by Bakgat, en Marius begin al meer op haar steun. Sussie en Vicky is weer beste vriendinne, en Fran kry opwindende nuus, maar is onseker oor haar gesin se reaksie. Vicky is bedrywig met troureëlings, en daar wag ’n aangename verrassing op die Villa se inwoners.
Episode 1550
Woensdag 26 September 2012
Anthony en Marius het groot planne vir Manies Organies, maar besef ook hulle moet Zirk eers uit die besigheid kry. Julie wurm haar al dieper in almal se harte in. Lerato vat Petrus kort oor sy “obsessie” met Julie, Vicky is ondersteunend teenoor Marius en Stef konfronteer Astrid oor ’n onverwagte werksaanbod. Gaan Zirk aan Anthony en Marius se versoek om te onttrek, gehoor gee? Of gaan die poppe dans?
Episode 1551
Donderdag 27 September 2012
Tussen Astrid en Stef se nuutgevonde hartstog deur word hulle al meer bewus van hóé wyd Zirk se invloed strek. Julie manipuleer Charl en kry ’n sterk houvas op hom. Lerato reël ’n opbeur-aktiwiteit vir Petrus met ’n ongelukkige nadraai. Fritz kry ’n oproep van Samantha wat hom ontstel.
Binneland
Maandag 3 September (Episode 371/1525)
Charnay probeer Daleen beter leer ken, terwyl Daleen sukkel om weer aan te pas by die werk. Gys is desperaat om Alexa se bedrywighede tot ‘n einde te bring, en Gideon het ‘n idee hoe om dit reg te kry. Malan en Delia stamp koppe oor die opening van die kliniek, en nuus oor die vasvrae-aand kring uit.
Charnay tries to get to know Daleen a little better, while Daleen struggles to get back into the swing of things at Binneland Clinic. Gys is desperate to stop Alexa, and Gideon has an idea of how to do that. Malan and Delia are at loggerheads about the opening of the clinic, and news about the quiz-night starts to spread like wildfire.
Dinsdag 4 September (Episode 372/1526)
Die gebeure van die vorige aand haal die koerante, en Liebenberg kry ‘n oproep van ‘n kollega wat ‘n klopjag wil uitvoer. Jennifer besluit om van die kompetisie te onttrek, en Daleen kry nuus wat die hoop weer opnuut laat opvlam.
The previous night’s happening is in the papers, and Liebenberg gets a phone call from a colleague who wants to organise a raid. Jennifer decides to pull out of the competition, and Daleen receives information that gives her hope again.
Woensdag 5 September (Episode 373/1527)
Wynand wil nie na Gideon luister nie, en Quinton kom op Daleen se dokumente af. Franz en Liebenberg vind uit van Gideon, terwyl Gustav en Charnay nie veel gepla is oor die vasvrae nie. Delia stel nie belang in Malan se verskonings nie, en Alexa gee Tracy ‘n opdrag om uit te voer.
Wynand doesn’t want to listen to Gideon, and Quinton discovers Daleen’s documents. Franz and Liebenberg find out where Gideon went, while Gustav and Charnay don’t look all that interested in the quiz-night. Delia isn’t interested in Malan’s excuses. Alexa gives Tracy a task to perform.
Donderdag 6 September (Episode 374/1528)
Liebenberg probeer ‘n bloedbad voorkom deur met Alexa te onderhandel, en Quinton vertel Pippa dat hy sy werk bedank het. Peet is gefrustreerd met sy spanmaats se gebrek aan entoesiasme, en Gideon probeer Tracy oorreed om haar vuurwapen vir hom te gee.
Liebenberg tries to negotiate with Alexa, and Quinton tells Pippa that he resigned. Peet is frustrated by his team’s lack of enthusiasm. Gideon tries to persuade Tracy to hand over her gun.
Vrydag 7 September (Episode 375/1529)
Gustav het slegte nuus vir Annetjie se span, en Daleen en Malan besef wat die ware rede agter Quinton se bedanking is. Gustav let op dat Charnay beïndruk is met ‘n sekere dokter, en Delia se optrede teenoor ‘n sekere dokter jaag ‘n ander een die harnas in. Daleen vra Quinton om by haar te bly.
Gustav has bad news for Annetjie’s team, and Daleen and Malan realise why Quinton quit his job. Gustav observes Charnay while another doctor is present, while Delia’s attitude towards a certain doctor leaves another one fuming. Daleen asks Quinton to stay with her.
Maandag 10 September (Episode 376/1530)
Sonja vermoed daar brand steeds ‘n vlam tussen Delia en Malan. Bea is ontstig oor sy haar kinders vir drie weke moet verlaat om op ’n kursus te gaan. Quinton ontplof wanneer hy uitvind Daleen het ’n privaat speurder gehuur om Tertius te soek.
Sonja suspects Malan still carries a torch for Delia. Bea is frantic when she hears she has to leave her kids for three weeks to go on a course. Quinton flips when he finds out that Daleen has hired a PI to look for Tertius.
Dinsdag 11 September (Episode 377/1531)
Dit is die dag van die opening van die nuwe kliniek, en Malan en Delia deel ‘n oomblik. Quinton is bekommerd oor Daleen, en Jan belowe om sy vaderlike pligte na te kom in Bea se afwesigheid. At is nog onseker oor Delia, en Jennifer neem nie tannie Breggie se uitsprake ernstig op nie.
The big day of the opening of the new clinic has arrived, and Malan and Delia share a moment. Quinton is worried about Daleen, while Jan promises to fulfill his parental duties in Bea’s absence. At is still unsure about Delia, while Jennifer doesn’t take tannie Breggie seriously.
Woensdag 12 September (Episode 378/1532)
Quinton maak ‘n belofte aan Daleen en bedank At vir die nuwe werk. Daleen se vriende probeer haar tot ander insigte bring, terwyl tannie Breggie se gawes ingespan word om nuwe antwoorde te kry. Delia probeer Malan ondersteun na sy onderonsie met At.
Quinton makes Daleen a promise, while Quinton thanks At for his new job later on. Daleen’s friends try to reason with her, while tannie Breggie’s gift is sought to provide new answers. Delia tries to support Malan after his heated discussion with At.
Donderdag 13 September (Episode 379/1533)
Franz en Jan probeer tot ‘n vergelyk kom oor die kinders, en Quinton braak gal oor At. Sonja raak al hoe meer oortuig van haar vermoedens, en Daleen beweeg al hoe nader aan tannie Breggie. Pippa is bekommerd oor Nina, en Bea vertrek.
Franz and Jan try to come to an agreement about the care of the kids, and Quinton has it in for At. Sonja is more convinced than ever about her suspicions, and Daleen becomes closer to tannie Breggie. Pippa is worried about Nina, and Bea is on her way.
Vrydag 14 September (Episode 380/1534)
Pippa verstaan Daleen se dilemma, en ‘n krisis ontstaan wanneer Ilse Potchefstroom toe moet gaan. Quinton is woedend wanneer hy Steven by Daleen se huis kry, en Delia gebruik haar slinkse taktieke om Malan te help.
Pippa understands Daleen’s dilemma, and Ilse needs to go to Potchefstroom – which unsettles the household. Quinton is beside himself when he finds Steven at Daleen’s house, and Delia uses her cunning tactics to help Malan.
Maandag 17 September (Episode 381/1535)
Jan en Franz besef hulle het nie ordentlike reëlings getref vir die dag nie, en Daleen se werk ruk haar terug na realiteit. Delia probeer meer uitvind oor Malan, en Pippa probeer iemand weghou van Daleen. Hannah Rossouw daag op by Binneland Kliniek.
Jan and Franz realise that they didn’t organize their day so well, and Daleen’s work forces her back to reality. Delia tries to find out more about Malan, and Pippa tries to keep someone away from Daleen. Hannah Rossouw pays a visit to Binneland Clinic.
Dinsdag 18 September (Episode 382/1536)
At is woedend wanneer Malan sy verhouding met Delia bekend maak. Tussen Franz en Jan word die kinders alleen by die hospitaal gelos. Pippa kry Hannah om Daleen te oortuig dat daar geen hoop is dat Tertius nog leef nie.
Malan gets fed up with At and starts to flaunt his relationship with Delia. Jan and Franz manage to forget the children at school. Pippa gets Hannah Rossouw to convince Daleen that there is no hope of finding Tertius alive.
Woensdag 19 September (Episode 383/1537)
Morné buit Franz se skuldgevoel uit, en Daleen se vriende het nog niks van haar gehoor ná die vorige aand nie. Jennifer begin dink dat Delia opreg is in haar optrede, terwyl At dit moeilik vind om dit te glo. Malan konfronteer Delia, en Morné vervies hom vir Louisa.
Morné takes advantage of Franz’s guilt, and Daleen’s friends haven’t heard from her since the previous night. Jennifer thinks that Delia has no hidden agenda, while At finds this difficult to believe. Malan confronts Delia, and Morné is upset with Louisa.
Donderdag 20 September (Episode 384/1538)
Bea is nie beïndruk met die mans nie, en Daleen probeer haar bes om oor die weg te kom met Celeste. Louisa maak ‘n aankondiging, en Jennifer besef wie Andries is. Sonja wil ter wille van Malan beter oor die weg probeer kom met Delia, terwyl At die eerste tekens herken van ‘n verhouding wat skipbreuk gaan ly.
Bea is not impressed with the guys, and Daleen tries to get along better with Celeste. Louisa has a big announcement, and Jennifer realises who Andries is. Sonja wants to make a fresh start with Delia for Malan’s sake, while At recognises the first signs of a relationship that will run aground.
Vrydag 21 September (Episode 385/1539)
Busi stort ineen tydens haar skof, en ‘n benoude Franz word gedwing om met Louisa te praat oor die feite van die lewe. Malan kry nie die inligting wat hy wil hê van Delia nie, en Franz se opdragte ontsenu die ander verpleegsters.
Busi collapses while working, and a nervous Franz is forced to give Louisa “the talk”. Malan isn’t getting the answers that he wants from Delia, and Franz’s orders make the other nurses nervous.
Maandag 24 September (Episode 386/1540)
Louisa se partytjie het nagevolge wat Franz moet hanteer, en Charnay en Gideon smee ‘n hegte band. Busi probeer haar bes om te kalmeer, en Andries berispe Delia. Bea word geskakel oor die kinders se huiswerk, en Gideon vertel Busi die ware toedrag van sake.
Louisa’s party has consequences that Franz has to handle, and Charnay and Gideon bond in their “boredom”. Busi tries to calm her fears, and Andries talks to Delia sternly. Bea is called about the kids’s homework, and Gideon tells Busi exactly what is going on.
Dinsdag 25 September (Episode 387/1541)
Pippa is bekommerd oor Malan en kan nie glo dat sy hom verhoudingraad moet gee nie. Delia besef die hele wêreld weet van haar geheim, en At verduidelik aan Gideon waarom hy die besluit geneem het. Franz wil nie alleen saam met Jan by die konsert opdaag nie, en Andries is omgekrap omdat hy geskuif word.
Pippa is worried about Malan and can’t believe that she is giving him relationship advice. Delia realises that the whole world knows her secret, and At explains to Gideon why he made the decision. Franz doesn’t want to pitch up at the concert with Jan, and Andries is beside himself because of the move.
Woensdag 26 September (Episode 388/1542)
Malan wil Delia se pa ontmoet, en die Raad sal moet besluit oor Gideon se operasie. Busi wil nie haar familie naby haar hê nie, en Delia weier om oor At te praat. Dit is die aand van Louisa se konsert, en Jennifer het raad vir Malan oor Delia en haar pa.
Malan wants to meet Delia’s father, and the Board has to make a decision on Gideon’s planned operation. Busi doesn’t want her family near her, and Delia doesn’t want to talk about At. It is the night of Louisa’s concert, and Jennifer has advice for Malan about Delia and her father.
Donderdag 27 September (Episode 389/1543)
Bea keer terug uit Argentinië, en die Raad vergader om ‘n besluit te neem oor Gideon se voorgestelde behandeling van Busi. Malan se wens word vervul, en Sonja bied aan om Delia te help.
Bea returns from Argentina, and the Board meets to decide about Gideon’s planned treatment of Busi. Malan’s wish is fulfilled, and Sonja offers Delia a helping hand.
Vrydag 28 September (Episode 390/1544)
Quinton is bekommerd oor Nina en Daleen, en Sonja nooi Delia oor vir aandete. At het slegte nuus vir Gideon, en Andries hoor hy kan een van die dae ontslaan word. Quinton begin Celeste onbewus afskeep, en Charnay maak ‘n voorstel oor die operasie.
Quinton is worried about Nina and Daleen, and Sonja invites Delia over for dinner. At has bad news for Gideon, and Andries hears that he will be discharged soon. Quinton isn’t paying enough attention to Celeste, and Charnay has an idea about the operation.
September-flieks:
7 September
Debbie
Drama deur Elmo de Witt
Debbie is ‘n plattelandse meisie wat swanger raak en dan eerstehandse kennis opdoen van die vooroordele van mense en die probleme wat haar as ongehude moeder in die oë staar. Haar eie ouers wil niks met haar te doen hê nie en haar kêrel se ouers stel ‘n aborsie voor. Tussen hierdie verwerping aan die een kant en dwang aan die ander kant moet sy haar keuse maak. ‘n Aangrypende verhaal wat die waardeverskille tussen konserwatiewe en liberale mense belig en fokus op die stryd van die enkeling wat in albei wêrelde vasgevang is. Gegrond op die boek van Tryna du Toit: Groen Koring. Susanne van Oudtshoorn, Leon le Roux, Gert van den Bergh, Hettie Uys, Siegfried Mynhardt, Cobus Rossouw, Dawid van der Walt, Sann de Lange en Johan du Plooy. 1965.
14 September
Plekkie in die Son
Drama deur Flip Bezuidenhout
’n Gevreesde siekte verwoes Karen Viljoen se lewe as gelukkig getroude rykmansvrou. Die ontdekking dat sy melaats is, is maar die begin van haar swaarkry. Terwyl Karen in die Westford-hospitaal met haar siekte worstel, vind Otto, haar man, vertroosting by sy sekretaresse. Vir die siek Karen word die stryd te veel toe haar seuntjie ook van haar weggeneem word. Die nuus bring haar tot by die randjie van ’n senu-instorting. Haar geneesheer, dr Tertius Louw, keer net betyds, maar sy liefde en toewyding bring net ellende. Maande later word Karen ontslaan, genees van melaatsheid, maar nie van die stigma nie. Nie net verwerp die gemeenskap haar nie, maar ook Otto. Karen besluit om na Westford terug to keer – na Tertuis en haar plekkie in die son. Jana Cilliers, Regardt van den Berg, Tobie Cronje, Rina Nienaber, Eckard Rabe en Annelize Weiland. 1979.
21 September
Die Sersant en die Tiger Moth
Komedie deur Koos Roets
‘n Verliefde jong man (George Ballot) en sy meisie (Katinka Heyns) herbou ‘n ou Tiger Moth met raap-en-skraap-onderdele. Haar pa hou niks hiervan nie; hy het min ooghare vir hierdie kêrel wat beweer hy is ’n vlieënier, maar nie eens ‘n behoorlike vlieglisensie het nie. Toe sy dogter ook nog haar geliefde wit perd verkoop om geld vir die heropbou in die hande te kry, is hy briesend. Maar die tweetjies kry die vliegtuigie aan die gang en in die lug. Haar pa kry ‘n hartaanval en die vinnigste manier om hom by die hospitaal te kry, is deur die lug, per Tiger Moth. Hulle red sy lewe, en skielik is die kêrel nie meer persona non grata nie. Katinka Heyns, Don Leonard, George Ballot, Wena Naudé, Cecile Buurman, Jaques Loots, Nigel Vermaas, Tobie Cronje, Mariette Ferreira, Neels du Toit en Deon Viljoen. 1973.
28 September
Piet my Niggie
Komedie
Losweg gegrond op die verhoogstuk Charlie’s Aunt. Die borg van die Tallerman Trust Volkskool is geskok om te sien dat ‘n seunskind ballet neem by sy skool en hy eis dat ‘n mansonderwyser aangestel word om die kinders behoorlik in sport te onderrig. Die balletonderwyseres, wat ook huishoudkunde gee, word oorreed om die rol van die onderwyser op te neem. Wat sy dan ook teensinnig doen, tot dramatiese en lagwekkende gevolge. Geldverduistering word blootgelê, en toe die skuldiges aan die kaak gestel word, neem die balletonderwyseres weer “haar” ou rol terug. Toe daag daar ‘n man op wat net so goed haar tweelingbroer kon gewees het … of haar niggie of haar neef of … wat ook al! Fredrik Burgers, Susan Cloete, Dawid van der Walt, Anna Richter-Visser, Dirk de Villiers, Elsa Fouche en ‘n jong Regardt van den Bergh. 1952.

