KykNET-hoogtepunte – November 2012

  • 0

KykNET Hoogtepunte
November 2012

Dagbreek

Vanaf 5 November 2012 om 06:00 in die oggend het kykNET-kykers nog meer rede om vroeg uit die vere te wees. Dagbreek is die Afrikaanse betaalkanaal se varsgebakte ontbytprogram wat weeksdae tussen 06:00 en 08:00 opgedis sal word om kykers krag vir die dag te gee.

Eersdaags is daar ’n nuwe haan wat die aankoms van nog ’n dag op die kalender gaan vier – DAGBREEK, kykNET se nuutste toevoeging tot die stal van hoogstaande gehalte programmering op dié Afrikaanse betaalkanaal.

Die program stel homself ten doel om kykers reeds vroegoggend koning te laat kraai met sy insiggewende vars nuusgebeure en alomvattende besprekings van aktualiteitsake. Met die hulp van ses professionele en alreeds bekende gesigte vanuit die kykNET-stal gaan kykers nie meer in die donker gehou word oor gebeure wat hul dag mag beïnvloed nie.

“kykNET wil graag met ons aanbod van programme in al ons kykers se behoeftes voorsien,” verduidelik Karen Meiring, kanaalhoof van kykNET oor die besluit om ’n ontbytprogram te loods. “’n Daaglikse Afrikaanse ontbytprogram bring nuwe en vars kykgenot in die oggend om die opstaan en aan die gang kom tyd ’n plesier te maak. Dagbreek sal by die oggendroetine inval en kykers met die nodige inligting en vermaak vir die dag voorsien.”

Verbreed jou horison

Soos wat daar van enige stewige ontbyt verwag word, sal Dagbreek op ’n gestruktureerde manier verpak word, met genoeg ruimte vir ateljee-onderhoude, interessante stories, verantwoordelike verslaggewing, leefstylwenke en kunsbesprekings.

Die brekende nuus van die dag lê bo-aan die oggendspyskaart, en gereelde weerberigte sal verseker dat daar net onverwagte storms in kykers se koppies koffie oorbly. Gereelde gaste, wat kenners in hul eie gebiede is, sal, naas die nuus, vars inligting saam met elk van die ses aanbieders kafdraf, veral as dit kom by die duwweltjies op die drafstappad van die dag – ekonomie, politiek, en ander sake-geleenthede.  

Ontwikkeling, hetsy persoonlik van aard of gemeenskaplik, is net so belangrik vir dié oggendprogram soos die samestelling van ’n ordentlike ontbyt, en daarom sal daar ekennings ontvang, waarvan een aan Harald toegeken was as regisseur. “My Man Kan”, ook deur Harald vervaardig, het onlangs ook op kykNET die lig gesien en hy hoop dat dit net so ’n suksesverhaal vir die kanaal sal wees.

Rozanne McKenzie het in 2003 haar Honneursgraad in Drama aan die Universiteit van Kaapstad voltooi, waarna sy haar hand aan ’n verskeidenheid van werke probeer het – sy was selfs op ’n kol ’n onderwyseres, en later ook ’n korporatiewe opleier. Haar liefde vir die uitvoerende kunste en aktualiteitskwessies kom al van kleins af en toe sy in 2008 die geleentheid gegee is om veldaanbieding op Kwêla te doen, het sy onmiddelik die kans gegryp. In haar vrye tyd doen sy CrossFit, sy gaan fliek, eet graag uit en is mal oor reis. Rozanne is baie opgewonde oor die nuwe avonture wat Dagbreek haar gaan bied.

Pierre Breytenbach het sy BA Drama in 1998 aan Tukkies verwerf, en is toe kop eerste by die diepkant in. Hy het dadelik op die verhoog begin werk in musiekblyspele en komedies. Sedertdien het hy al saam met groot name die verhoog gedeel en programme soos "Die Casper Rasper Show", "Spekskieters", en elke denkbare sepie in die land, het hom lekker besig gehou in die afgelope dekade. Onlangs was hy te sien in kykNET se improvisasiekomedie "Proesstraat". Pierre is nie net ’n briljante grapjas nie, maar het ook al ernstige vertonings gelewer vir TV en die silwerdoek. Pierre was ook in die afgelope vier jaar ’n veldaanbieder vir die bewaringsaktualiteitsprogram ‘50/50’ , omdat hy ’n groot waardering vir die natuur en buitelewe het – en die kwessies wat deur die onderwerpe aangeraak word belangrik is.

Bettie Kemp werk as radio- en TV-aanbieder, aktrise in alle mediums en as regisseur van drama en dokumentêre programme vir radio. Sy is ook ’n nuusleser en kontinuiteitsaankondiger.
Bettie is ’n ervare stemkunstenaar van handelsprodukte, en is die afgelope paar jare ook die Afrikaanse stem vir Standard Bank se telefoniese inbeldienste. Sy het in heelparty verhoogproduksies by kunstefeeste opgetree en verskeie toekennings en benoemings ontvang. Onlangs, in 2010/2011, is sy vereer as beste aktrise in ’n ondersteunende rol vir die verhoogstuk Dood van ’n Verkoopsman/Death of a Salesman. Sy het twee VITA-benoemings gekry vir haar solo-verhoogproduksies ‘Kom Nader’. By die afgelope 2012 Aardklop fees is sy benoem as beste aktrise vir haar rol in TaMiem van Swellendam. Bettie het ook al rolle gehad in die sepies Villa Rosa en Binneland. 

Dalen Lance is al van 2001 af besig om die Suid-Afrikaanse TV-landskap te verken met verskynings op talle uitsaaiers se programme. Sy ondervinding as aanbieder sluit onder andere in twee seisoene van die etv-reeks Step up or step out, die M-Net realiteitsreeks High School Musical, en die etv-reeks 20Something. As akteur het Dalen al verskyn op programme soos Fishy Fashions, ThisLife, SOS en Cave Girl (’n BBC-produksie). Dalen se rolprentondervinding sluit Dollars and White Pipes asook  Zenon 3 in. Hy was ook al te sien in verskeie verhoogproduksies, onder meer was die titelkarakter in Joseph and The Amazing Technicolour Dreamcoat, Curl Up & Dye, Orphans of Qumbu en Ugly Duckling.
Dalen in 2011 die gesig van die ABSA Kweeka-veldtog en is tans besig met sy MBA studies deur UNISA.

DAGBREEK word elke weeksdag tussen 06:00 en 08:00 uitgesaai op kanaal 144.
kykNET – dit is waar jy wil wees.

Boer soek ’n Vrou V

1 November
Episode 60
Die vrouens gaan plaas toe!
In hierdie week se episode kom die meisies op die boer se plaas te lande, en sien dan vir die eerste keer waar hy woon en werk. Angelique gaan loer in om te sien wat die boere gedoen het om gereed te maak vir die koms van die vrouens. Nie net is die meisies baie emosioneel uitdagend vir die boere nie, maar dit is ook ’n stormloop van energie op elke plaas! Deur die loop van die dag word daar ondermeer in mieliepit-hope gespring, op vierwielmotorfietse gejaag, en ons boere onthaal dat die biesies bewe met spesiale verrassings soos pieknieks tydens die sonsondergang en spa-behandelings!
Die boere sien ’n bietjie vuisvoos daaruit aan die einde van die dag, en die meisies besef dat hulle hul beste voetjie sal moet voorsit om te sorg dat die boer hul raaksien in die groep.

8 November
Episode 61
Die eerste meisie word huistoe gestuur
Vroegoggend is daar ’n geskarrel om reg te maak vir die dag. Almal het laat gaan slaap die vorige aand, en vanoggend is dit koud en daar is skaars genoeg warm water om ordentlik wakker te word! Dis ’n roesemoes van haardroeërs en lipstiek op elke plaas, en dan natuurlik is daar ook die dinge wat gisteraand gebeur het wat elke meisiese se houding (en verhouding!) met hul boer en mekaar beïnvloed. Sommige boere gaan “boer” ’n bietjie om vir die meisies ’n idee te gee van hoe hul wêreld lyk, terwyl ander die meisies wegvat van die plaas om te gaan kuier. En dan daag Angelique op met die nuus dat daar nou, vandag reeds, een meisie huis toe gestuur moet word. Die groep sit almal bymekaar en Angelique vra aan almal hoe hulle voel oor die plaaslewe, die kompetisie onder mekaar en oor die boer ... Elke boer stuur daarna ’n meisie huis toe.

15 November
Episode 62
Noudat een meisie reeds huis toe is ...
Hierdie week tel ons op waar verlede week se episode geëindig het. Daar is op elke plaas sopas een meisie huis toe gestuur. Die opwinding en die lekker saamkuier is skielik iets van die verlede – noudat almal opnuut besef dat hierdie ervaring baie skielik tot ’n einde kan kom. Doodmoeg en emosioneel uitgeput, raak almal baie rustig op die plase. Almal dink oor die feit dat hulle nou minder is, maar steeds nie min genoeg om te kan sien wat die boer voel nie. Die boere self is ook steeds onseker oor wat in hulle hart aangaan. Die volgende oggend is weer ’n vroegoggend deurmekaarspul tussen badkamers en grimering, maar dis duidelik dat die klem verskuif het van pret hê as ’n groep, na mekaar beter leer ken. Onderlinge verskille tussen die meisies kom ook meer na vore, en die boere begin ’n beter prentjie van elkeen se persoonlikheid te vorm.

Kriminele Meesterbrein
Begin Dinsdag 6 November om 21:00

Kriminele Meesterbrein is ’n treffende, emosionele en uitdagende dokkie-drama misdaadreeks, gebaseer op ware Suid-Afrikaanse misdade wat nie net die harte en verbeelding van Suid-Afrikaners aangegryp het nie, maar waar die misdadigers ook suksesvol aangekeer en vervolg is.

Die program neem die kyker op ’n lewensgetroue reis deur hierdie skrikwekkende misdade en stel ons bekend aan die slagoffers en hul families wat hul traumatiese ervarings met ons deel.

Deur onderhoude, dramatiserings en argiefmateriaal, ontbloot ons die raaisels en ontdek wat regtig gebeur het. Ons neem ’n kykie na die binne-werkinge van die polisie en die regstelsel en word blootgestel aan die uitstekende werk wat verrig word deur die polisie-, forensiese- en regsafdelings in Suid-Afrika.

Die aangrypende onderhoude draai om die families en vriende, sowel as die amptenare van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, advokate, prokureurs, wetenskaplikes en deskundiges uit verskeie velde. Elke storie word lewe gegee in ’n boeiende en akkurate formaat om uiteindelik hulde te bring ter nagedagtenis aan diesulkes wat ons moes afstaan weens misdaad in ons land.

Episode 1
6 November
Wanneer Twee Wêrelde Bots: Die Brett Goldin and Richard Bloom Storie
In die vroeë oggendure van Saterdag, 15 April 2006, klap vier skote deur die lug en bring so ’n einde aan die lewens van Brett Goldin en Richard Bloom. Hul naakte liggame word gevind onder ’n paar bome langs die Klipfontein-afrit op die M5-snelweg in Mowbray, Kaapstad. Ons volg die storie van hierdie sinnelose dubbelmoord; die botsing tussen hierdie twee uiteenlopende wêrelde, die wanhoop van  familie en vriende en die ratse afhandeling van hierdie saak as gevolg van die onwrikbare deursettingsvermoë van die SAPD.

Episode 2
13 November
 ’n Familie se Nagmerrie Begin: Die Leigh Matthews Storie DEEL 1
Op die 9de Julie, 2004, word Leigh Matthews vanaf die kampus van die Bond Universiteit in Sandton ontvoer en vir ’n losprys aangehou. In ’n desperate poging om Leigh terug te kry, het die Matthews-familie die losprys betaal … wat dan ook hul laaste kontak was met die ontvoerder. Elf dae na haar verdwyning, word haar naakte, lewelose liggaam gevind in ’n veld, suid van Johannesburg.

Episode 3
20 November
 ’n Web van Leuens: Die Leigh Matthews Storie DEEL 2
In die tweede aflewering van die Leigh Matthews episode, volg ons die storie hoe die SAPD die gewetenlose en gierige moordenaar opgespoor het. Ons herleef die hartverskeurende ondervinding saam met die Matthews-familie soos die saak ontplooi en geregtigheid seëvier.

Episode 4
27 November
Die Hoogste Verraad: Die Taliep Petersen Storie
Die gerespekteerde teaterkunstenaar en musikant, Taliep Petersen, was tydens ’n gewapende roof by sy Athlone woning in die Wes-Kaap, noodlottig gewond. Ons ondersoek die sogenaamde “gewapende roof” en ontbloot die waarheid agter hierdie koelbloedige moord.

Bring en Braai

2 November
Episode 5/31
Vir hierdie week se braaiers was die uitdaging dubbel so groot. Nie net moes hulle wendisse op die kole voorberei nie, hulle moes dit boonop voor duisende mense doen. Vandeesweek se braai is by die Moot Makiti in Pretoria. Bok van Blerk was ons spesiale gas wat die twee braaiers kom aanspoor het,  Daniel Xhumalo het die skares aan die praat gehad met sy vlymskerp braai-advies, en Sjef Jeff Schueremans het almal laat lippe aflek met een van sy smaaklike braaigeregte oor die kole. 

9 November
Episode 6/32
Ons kuier in Kimberley waar twee van die distrik se beste braaiers mekaar oor die kole aanvat. Jaco Labuschagne van Idols-faam is ons spesiale gas en saam met Thys vermaak hy die braaiers met ’n keurspel van lekker liedjies. Sjef Martin Kobald wys ook hoe ’n Eland fillet gebraai moet word oor die kole.

16 November
Episode 7/33  
Ons steek vuur aan by Misty Hills in Muldersdrift vir twee vroulike braaiers. Ons spesiale gas is ook ’n bekende dame, niemand anders as Shaleen Surtie Richards. Wat ’n fees, die braaiers het amper meer gelag as wat hulle gebraai het en natuurlik het Chef Jeff Schueremans weer gewys hoe maklik dit is om ’n goeie dis oor die kole op te tower. Gaan ons vanjaar ’n dame in die finaal sien?

23 November
Episode 8/34
Hierdie keer vat ons die pad Limpopo toe om op die pragtige plaas Shelanti te gaan braai. Ons spesiale gas, Karen Ferreira, bring vonkel na die bosveldbraai en sing haar treffer "Tokolos" so tussen die doringbome terwyl sjef Jeff vir die manne wys hoe om ’n vlakvarkboud te braai tot sag en geurig.

My Man Kan

3 November
Episode 4
Een vrou kry die kans om haar man te pynig terwyl ’n ander ’n soet happie geniet! Richard is ’n fiksheidsinstrukteur terwyl Neville meer tuis agter die kospotte is. Drikus hou niks van verloor nie en Kobus se hande staan vir niks terug nie, maar watter vrou ken haar man goed genoeg om met die R45 000 se pryse weg te loop?

Ouverture

4 November
Waldbuhne:  Nag van die Liefde
Die somerkonserte van die Berlynse Filharmoniese orkes word elke jaar in die ontspanne atmosfeer van die Waldbuhne amfiteater buite Berlyn gehou. Waldbuhne beteken letterlik verhoog in die woud. In hierdie opname is die solis die beroemde sopraan, Renee Flemming. Sy sing musiek van Mussorgsky, Dvorak, Semtana ens. Die orkes word gelei deur Ion Marin.

11 November
Il Travatore – Verdi (opera)
Giuseppe Verdi se gewilde opera word opgevoer deur die La Scala Operahuis in Milaan. Dis ’n opera in vier bedrywe en die rolverdeling sluit in Leo Nucci (die Graaf van Luna),  Barbara Frittoli (Leonora), Violeta Urmana (Azucena) en Salvatore Licitra (Manrico), e.a. Die Orkes en Koor van La Scala word gedirigeer deur Riccardo Muti.

18 November
Pergolesi:  Stabat Mater 
Hierdie vertolking deur Anna Netrebko van een van die mooiste gewyde werke van die 18de eeu – Giovanni BatistaPergolesi se Stabat Mater – is deur baie as die hoogtepunt van die Pergolesi feesjaar beskou. Saam met haar hoor ons die kontralto, Marianna Pizzolato. Die dirigent van die orkes van die Saksiese Staatskapelle is Bertrand de Billy.

25 November
Onse Mimi
’n Huldigingskonsert vir Mimi Coertse op haar 80ste verjaardag, waarin verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars deelneem om hulde te bring aan die gevierde sangeres wat op haar dag die hele wêreld aan haar voete gehad het. Soliste sluit in die Black Tie Ensemble, Sibongele Khumalo, Jannie Moolman, Minette du Toit-Pearce, Zanne Stapelberg, Loveline Maduma en The Voice of the Nation Opera Studio. Die onderhoude is gevoer deur Coenie de Villiers, die musiekregie is gedoen deur Janine Neethling en die regisseur is Janice Honeyman.

Oupa en Ouma

5 November
Episode 19
Sarie en haar nuwe kêrel, Johan, wat ’n dokter is, gaan kom kuier. Anna lig vir Stanley en Debora in dat Seuna-hulle gaan wegtrek om nader aan Sandra se ma-hulle te wees. Seuna verduidelik vir Debora wat hy en Stanley gewoonlik doen wanneer hulle op die stoep sit en tot almal se teleurstelling vind hulle uit dat Johan nie die dokter is wat hulle gedink het hy is nie …

12 November
Episode 20
Debora gaan oorboord met inkopies en Stanley sê vir Seuna dat sy pensioen nie vir altyd gaan hou nie. Seuna stel voor Stanley begin rondkyk vir ’n ander inkomste. Debora het ’n geheim wat sy met Anna deel en Seuna vind iets wat Stanley by die ouetehuis kan doen vir ekstra geld …

19 November
Episode 21
Seuna kom vra vir Stanley raad; daar is ’n ander vrou wat in hom belangstel. Anna noem vir Stanley en Debora dat die skildery wat hulle geërf het baie geld werd is. Maar nie lank nie of sy moet drastiese maatreëls tref om te verhoed dat die skildery nie Stanley en Debora se lewens oorneem nie.

26 November
Episode 22
Dominee kom soek simpatie by Stanley oor mevrou dominee se ondankbaarheid. Stanley roep ’n vergadering vir sy mede manne om hulle manwees terug te kry. Hendrik gee vir Anna ’n selfverdedigingsles wat sy asem wegslaan.

Rugby Motors

2 November
Episode 5
“Diefstal”
Wanneer Whitey se kar skielik verdwyn uit die werkswinkel word Rugby Motors in chaos gedompel. Granny en Quanita is oortuig daarvan dat Killer agter die diefstal is. Maar alles is nie altyd soos dit voorkom nie, en op die ou end ontvang Rugby Motors hulp vanuit ’n onverwagse oord.

9 November
Episode 6
“Die liefde maak seer”
Pastoor Ray-Ray Daniels van die “Nuwe Sewe Getuies van die Liefde Sending Kerk” bring sy motor in en die vonke spat tussen hom en Aunty Granny. David is nie ingenome oor die idee dat sy ma ’n romanse aanknoop nie en hy vertrou ook glad nie die sogenaamde pastoor se motiewe nie.

16 November
Episode 7
“Die mense van die TV”
’n Bekende TV aanbieder vra vir David om haar motor se flikkerlig te vervang en David is in sy noppies met sy handewerk, maar kort voor lank daag sy weer op – dié keer om David te beskuldig daarvan dat hy haar motor se waarborg met ’n grys part in die wiele gery het. Nou’s dit sy woord teen hare en die nuus blyk te versprei soos ’n veldbrand!

23 November
Episode 8
“Die Kiwi Kwessie”
Quanita is op haar senuwees vir haar niggie, Marcy se besoek uit die buiteland. Marcy en haar man het jare terug ge-emigreer na Nieu-Seeland en hulle is heeltemal neus in die lig daaroor. Intussen kry buurvrou Lesley nuwe huurders wat nie veel ooghare vir David het nie.

30 November
Episode 9
“Versoeking”
’n Statige ou dame bring haar motor in vir ’n opknapping. Sy lyk skadeloos, maar dan vind die Rugby Motors span uit dat sy die matriarg van die berugte Booysens Bende is. Wanneer Loki ’n sak vol geld in die kattebak vind, is die versoeking vir almal amper te sterk om te weerstaan.

Villa Rosa

Episode 1571 – Donderdag, 1 November 2012
Stef besef te laat dat Charl reeds vir Fritz van sy en Astrid se verhouding vertel het. Wanneer Fritz ineenstort verkwalik Stef homself, maar sal hy die verhouding prysgee as Fritz hom voor ’n ultimatum stel? Lerato raak al meer jaloers oor die nuwe vriendskap tussen Wouter en Petrus. Vicky put almal uit met haar troureëlings en skeep haar werk af.

Episode 1572 – Maandag, 5 November 2012
Lerato vermoed onraad, of is haar verbeelding maar net op hol? Petrus blyk die enigste een wees wat goeie nuus kry. Marius en Anthony wonder oor Manic Organic se toekoms. Is hulle belegging veilig? Dit blyk dat Vicky se droomtroue besig is om in ’n nagmerrie vir die mense om haar te ontaard. Fritz maak ’n belangrike aankondiging, maar Stef en Astrid se skokkende onthulling verander hul lewe vir altyd.

Episode 1573 – Dinsdag, 6 November 2012
Astrid en Stef het groot nuus om te deel, maar dit word nie goed ontvang nie. Nie eers Charl se emosionele afpersing laat Fritz van plan verander om te emigreer nie. Petrus konfronteer Sussie oor haar en Wouter se “romanse”, en Stef en Charl raak amper handgemeen. Fritz stel Stef voor ’n keuse wat Stef verpletter laat.

Episode 1574 – Woensdag, 7 November 2012
Stef en Astrid se huwelik veroorsaak ’n opskudding in die Villa, en Fritz sukkel om die situasie te aanvaar. Isabel en Anthony kom tot sy redding, maar Marius en Vicky stamp nog steeds koppe oor die troureëlings. Sussie en Wouter het hulle messe in vir Lerato en Petrus, en Charl verlustig hom in die onmin tussen Fritz en Stef.

Episode 1575 – Donderdag, 8 November 2012
Wouter en Sussie se speletjie om Petrus en Lerato om die bos te lei werk soos ’n bom. Vicky vind Marius se betrokkenheid by die troue meer en meer versmorend. Fritz maak, tot almal se skok en verligting, vrede met Stef en Astrid se kitstroue. Hy is positief en sien uit om by Samantha aan te sluit, maar daar wag ’n vreemde verrassing op hom ...

Episode 1576 – Maandag, 12 November 2012
Fritz wil nie aanvaar sy huwelik is verby nie, maar Sam hou voet by stuk. Astrid is gefrustreerd met haar privaatspeurder wat niks teen Zirk kan opdiep nie, min wetend dat daar vir hulle albei ’n onaangename verrassing wag. Petrus wil hulp inroep om Sussie van haarself te red. Terwyl almal in die Villa vir Fritz ondersteun, ontferm Isabel haar oor Sam en vind uit hoekom sy tot so ’n drastiese stap oorgegaan het …

Episode 1577 – Dinsdag, 13 November 2012
Fritz se hartseer ken geen perke nie en die Villa se inwoners kloek almal om hom. Dan daag Gerhard op en die atmosfeer verbeter effe. Vicky is weereens in die moeilikheid by Isabel en dinge tussen haar en Marius bly krapperig. ’n Mooi meisie krap Petrus se kop lelik deurmekaar en Lerato kry “bevestiging” dat Sussie en Wouter gaan afhaak.

Episode 1578 – Woensdag, 14 November 2012
Vicky se vreugde oor haar ring kom tot ’n einde wanneer Zirk haar voor Marius konfronteer. Gerhard en Fritz bekla hulle lot teenoor mekaar, Marius en Anthony se pogings om ’n belegger te kry misluk. Japie steel Petrus se hart en Isabel loop ’n vriendin van lank gelede raak. Is Astrid besig om Charl en Fritz se harte te steel, of gaan sy ’n ewige stryd hê? Marius besef dis nie so maklik om van Zirk se ring ontslae te raak nie.

Episode 1579 – Donderdag, 15 November 2012
Isabel hou nie van die manier waarop Vicky met Zirk en Marius te werk gaan nie, en daar verskyn onsmaaklike voorwerpe in die Villa se gange. Sussie en Wouter se planne verloop glad, maar Astrid kry ’n groot teleurstelling, terwyl Gerhard vir Marius en Anthony verras. Lerato en Petrus beleef ’n ongemaklike aand, en Zirk kom tot Petrus se redding. Fritz bly alleen by die Villa, en dit gaan nie goed met hom nie ...

Episode 1580 – Maandag, 19 November 2012
Sussie is vol moed oor haar nuwe studente-beurs projek. Fritz begin vrede maak met sy lewe as ’n enkeling maar dan kry hy ’n verrassing wat alles verander. Marius en Vicky se verhouding spat al hoe verder uitmekaar en die toekoms lyk donker ...

Episode 1581 – Dinsdag, 20 November 2012
Astrid stel voor sy en Stef moet bydra tot die Retiefs se geluk deur ook ’n kind te hê. Sussie besef sy moet nog baie geld insamel voor sy ’n beurs in die lewe kan roep, maar is vasberade om dit te laat slag. Stef voel steeds verwyderd van sy familie, terwyl almal agterkom Gerhard en Babs maak ogies vir mekaar. Intussen is Astrid besig om ’n bose plan teen Charl te smee …

Episode 1582 – Woensdag, 21 November 2012
Kort na Babs ’n ontstellende telefoonoproep kry maak die polisie hul opwagting en stel Charl in kennis dat hy ’n moordverdagte is. Fritz is in ’n toestand en Astrid speel die besorgde skoondogter. Babs dring daarop aan om Simon terug te neem Kroonstand toe. Lerato, Petrus en Wouter vier haar eksamens en kom slinger-slinger tuis waar ’n ontstoke Sussie hulle inwag.

Episode 1583 – Donderdag, 22 November 2012
Astrid snel tot Fritz se redding. Babs daag sonder Simon en met slegte nuus by die Villa op. Vicky kry ’n onaangename verrassing en Lerato bied aan om Wouter te help soek na sy familie. Wanneer die polisie by die Villa aankom lyk Astrid se sluwe planne nie meer so belowend nie.

Episode 1584 – Maandag, 26 November 2012
Wouter se soektog na sy familie is in volle swang. Fritz is dankbaar dat Charl se borgtog toegestaan is, en hy en Charl bring elke moontlike oomblik by Simon in die hospitaal deur. Anthony is bekommerd dat Fritz homself gaan ooreis. Marius juig omdat Manic Organic uiteindelik ontslae is van Zirk en Astrid begin besef hoe ernstig die gevolge van haar dade is.

Episode 1585 – Dinsdag, 27 November 2012
Anthony verduidelik aan die Retief-familie wat Simon makeer. Stef bekommer hom oor Charl se moordsaak wat soos ’n wolk oor alles hang en Astrid besef sy het te ver gegaan ... Sal sy die skade ongedaan kan maak, of is dit reeds te laat …

Episode 1586 – Woensdag, 28 November 2012
Astrid is desperaat om haar spore dood te vee. Vicky kry ’n kans om haar troue sonder Liz se hulp te reël, maar moet sy dit benut of moet sy eerder ’n oog oor hierdie innemende vreemdeling hou? Sussie is druk besig met voorbereidings vir haar funksie en Lerato is oorstelp van vreugde wanneer sy uitvind watter gewilde popgroep in die Villa kom oorbly. Stef het nuwe hoop vir Charl se saak, terwyl daar ’n nare verrassing op Astrid wag…

Episode 1587 – Donderdag, 29 November 2012
Stef is hoopvol dat Morné hom gaan help met die ondersoek, maar die gort is gaar wanneer Astrid daarvan uitvind. Almal is verlig wanneer Simon se toestand verbeter en dit lyk asof Wouter se soektog na sy familie uiteindelik iets kan oplewer. Die veiling is ’n reuse-sukses, maar Vicky vertrou steeds nie die vrede met Liz in die omtrek nie.  

Binneland

Donderdag, 1 November (Episode 414/1568)
Gustav en Pippa word amper uitgevang, en Sonja vra Andries om verskoning oor die werkskedule by Nagskof. Delia neem haar pa na Dr. Channing, en Ilse maak die verkeerde afleiding – terwyl Bea nie gelukkig is met haar ma se planne met Gideon nie.

Vrydag, 2 November (Episode 415/1569)
Pippa vertel Daleen presies wat aan die gang is, en Andries is verheug oor Sonja se toestand. Delia word gekonfronteer, en Gideon wil nie weer vir Ilse in die teater hê nie. Morné moet vir Jan vertel waarmee hy besig is, en Delia stel voor Rian probeer Beckman bykom.

Maandag, 5 November (Episode 416/1570)
Louisa kry lekker wanneer Ilse nie gelukkig is met Morné nie, en At kom af op ’n bewustelose Sonja. Ilse kry ’n rekening van die uitgewer, en Pippa neem ’n besluit oor Gustav. Faye bespreek Pippa met Quinton en Charnay, en Beckman neem die aas.

Dinsdag, 6 November (Episode 417/1571)
At is baie bekommerd oor Sonja, en Delia voel in twee geskeur oor haar planne met At. Jennifer raai Ilse aan om met Franz en Bea te praat, terwyl Delia begin wonder oor Jan se rol. Gustav gee sy mening oor Pippa, en At vra Malan om uit te vind wat aan die gang is tussen Delia en Rian.

Woensdag, 7 November (Episode 418/1572)
Gustav besluit om tot openbare aksie oor te gaan, en Quinton raak paniekbevange as Gideon die prokureursfirma wat hy en Jan gefabriseer het ondersoek. Delia stel ’n lokval vir Jan en maak of sy weet van al sy gekonkel met die vorige toetse. Die spanning raak ondraaglik as niemand Sonja kan diagnoseer nie.

Donderdag, 8 November (Episode 419/1573)
Daar word besluit om druk uit te oefen op Jan, en At dink hy weet wat aangaan met Sonja. Pippa kry slegte nuus, en Bea dreig Jan met die kinders. Gideon en Quinton begrawe die strydbyl, en Rian hoor die waarheid.

Vrydag, 9 November (Episode 420/1574)
Tineke maak onverwags haar verskyning, en daar heers groot frustrasie in die hospitaal met die nuwe verpleegsters. Gustav voel sleg omdat Pippa nie met hom praat oor haar sorge nie, en Rian en Delia kry wat hulp. Malan probeer meer oor Delia se daaglikse bewegings uitvind, terwyl At ’n nuwe bondgenoot maak.

Maandag, 12 November (Episode 421/1575)
Andries het ’n nuwe bose plan wat hy wil uitvoer, en At verras Jan wanneer die twee uiteindelik met mekaar praat. Faye en Pippa stamp weer koppe, en Malan het nuus vir At oor Delia.

Dinsdag, 13 November (Episode 422/1576)
Delia gebruik die rookskerm wat sy en Rian uitgewerk het om Malan se vrae te antwoord, en Ronel wil weet wat tussen Quinton en Daleen aan die gang is. Tineke is bekommerd oor Andries se beheptheid met Sonja, en Charnay word gevra om by Pippa in te trek.

Woensdag, 14 November (Episode 423/1577)
Malan neem ’n besluit oor Delia, en Gustav hoor vir die eerste keer dat Charnay by Pippa wil intrek. Delia gee vir Andries die slaappille, en Rian en Pippa gesels openlik met mekaar. Malan konfronteer At oor die mediese navorsing, en Sonja se lewe is in gevaar.

Donderdag, 15 November (Episode 424/1578)
Bea kom te hore van Sonja, en Ronel beland in die middel van Quinton en Gustav se konfrontasie. Busi en Daleen hou nie van die joga nie, en Andries verloor beheer. Dr. Channing dink haar pasiënt het iets meer onder lede as dit wat gediagnoseer is, en At ontbied die polisie.

Vrydag, 16 November (Episode 425/1579)
Malan beland in kookwater wanneer hy sy eie baadjie identifiseer, en Daleen het ’n plan met Quinton om uit die joga-klas te bly. Andries is ongelukkig met Delia se nuus, terwyl Busi hoor die verpleegsters dink Quinton is ‘onbeskikbaar’. Delia probeer Malan ondersteun.

Maandag, 19 November (Episode 426/1580)
’n Inhegtenisname vind plaas, en Daleen dwing Quinton om Malan om verskoning te vra. Tineke glo sy moet haar ma teen die Kosters beskerm, en At ontbied Coen om te help – maar Coen het ’n bekentenis van sy eie om te maak. Tineke se gedrag skok At, en Quinton kry goeie nuus.

Dinsdag, 20 November (Episode 427/1581)
Delia besluit om self ondersoek in te stel na die vergiftiging, en Charnay besef waarom Quinton ongelukkig is. Daleen probeer Quinton moed in praat, en Andries haak uit wanneer hy gekonfronteer word.

Woensdag, 21 November (Episode 428/1582)
Quinton voel daar is geen goeie rede om te bly nie, en Sonja trek terug na die Koster-woning. Andries lok Tineke uit, en At vra Coen om ondersoek in te stel na Delia en Andries. Daleen besluit op ’n groot afskeidspartytjie, terwyl Ronel seker maak Quinton weet sy gaan hom mis.

Donderdag, 22 November (Episode 429/1583)
At en Malan besef Sonja en Tineke het verdwyn, en Quinton sien nie hoop vir hom en Daleen nie. Naomi is beïndruk met Ronel se waagmoed, en At besef uiteindelik wie Delia is. Jennifer troos Daleen wanneer sy sukkel om haar gevoelens te verstaan.

Vrydag, 23 November (Episode 430/1584)
At probeer uitvind waar Sonja is, en Charnay is bekommerd oor Quinton wanneer hy bieg dat hy nog nie die Kanadese geantwoord het nie. Delia probeer dinge regmaak met Malan, en Ronel word ’n fokuspunt.

Maandag, 26 November (Episode 431/1585)
Sonja is bekommerd oor Delia, en At hou vol dat hy niks verkeerd gedoen het nie. Daleen weet nie wat om van Quinton te maak nie – hy was die hele naweek nie by die huis nie. Franz se goeie nuus vang Gideon onkant, en Ronel vertel vir Naomi ’n geheim. Iemand word die groot vraag gevra …

Dinsdag, 27 November (Episode 432/1586)
Delia is omgekrap met Dr. Channing, en Jennifer het raad vir Charnay oor Gideon – terwyl Charnay Gideon se gevoelens vir Julia bevraagteken. Malan het nie ooghare vir Delia nie, en Naomi skrik groot wanneer Mike onverwags, en dreigend, opdaag.

Woensdag, 28 November (Episode 433/1587)
Sonja neem ’n besluit, en Naomi is bekommerd wanneer Mike weer opdaag. Gustav is geïrriteerd met ’n dokter, en Liebenberg ondervra Delia. Tineke verlaat Pretoria, en Bea is bekommerd oor Sonja. Quinton se verdwyning word gou opgelos, en Liebenberg handel ’n saak af.

Donderdag, 29 November (Episode 434/1588)
Gustav ruik ’n rot as dit by Quinton se ongeluk kom, en At en Sonja sit nog nie langs dieselfde vuur as dit by Delia kom nie. Franz en Bea sit vas oor ’n sekere partytjie wat gereël moet word, en Gideon probeer vrede maak met Charnay.

Vrydag, 30 November (Episode 435/1589)
Charnay word nie maklik beindruk nie, terwyl die Koster-mans elkeen iets te sê het oor Sonja se danigheid met Delia. Malan maak sy hart oop teenoor Pippa, en Jennifer maak nie die wêreld vir At makliker nie. Charnay ontdek iets wat haar ongemaklik laat voel, en Gideon probeer sy gevoelens wegsteek.

Akteurs
Dr. Jennifer Adams Sandi Schultz
Dr. Charnay Adams Renate Stuurman
Dr. Franz Basson Dawid Minnaar
Dr. Gideon Basson Neels van Jaarsveld
Bea Delport Elma Postma
Suster Daleen Jonker Desiré Gardner
Gustav Kemp Stefan Ludik
Dr. At Koster Hans Strydom
Malan Koster Paul du Toit
Dr. Quinton Meyer Ramey Short
Sonja Mostert Hanli Rolfes
Delia Richter Odelle de Wet
Suster Pippa Venter Nadia Valvekens

Gasspelers
Andries André Odendaal
Annetjie Lorraine Burger
Matrone Faye Becker Esmeralda Bihl
Busi Philicity Reeken 
Coen Drikus Volschenk
Dr Sandra Channing Rosalind Jacobs
Ilze Delport Hannelie Warren
Jan Gericke Neels Clasen
Louisa Gericke Helena van Urk
Morné Gericke Ruan Wessels
Celeste Liebenberg Arnica Russaw
Kaptein Liebenberg Dirk Stoltz
Rian Malherbe Erik Holm
Martin Craig Hawks
Tineke Mostert Anel Bester
Naomi Je-ani Swiegelaar
Ronel Merveline Ferris

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top