kykNET-hoogtepunte: Augustus 2012

  • 0

Bruilof
NUUT
Begin Dinsdag 7 Augustus om 21:30

Episode 1
7 Augustus
In die loodsepisode van hierdie opwindende nuwe reeks gaan kyk die Bruilofspan na trourokke, ?ringe, ?koeke en ?fotografie, en maak hulle 'n draai by een van die wynlandstreek se asemrowendste trouvenues.

Episode 2
14 Augustus
Hierdie week bekyk aanbieders Louise en Jacinda 'n paar dekortendense, danslesse, skryfbehoeftes en stilering van nader terwyl hulle uitspan by MolenVliet in Stellenbosch.

Episode 3
21 Augustus
Blom-idees, lekker kos, hare en grimering, vermaak en strandtroues is hierdie week onder die Bruilofspan se vergrootglas.

Episode 4
28 Augustus
Jacinda en Louise is steeds op soek na trou-advies. Hierdie week kyk hulle na videografie, skoene en bybehore, dekor en troubeplanning.

Kyk‘nBiekie
NUUT
Begin Dinsdag 7 Augustus om 22:00

Episode 1
7 Augustus
“Al wat jy gaan kry”
Wie is Hulle? Ons ontmoet Johan Oberholzer en Wilmaré Rautenbach: twee musikante, oorspronkilk van Walvisbaai in Namibië, wat hulle eerste album saam gaan skryf en opneem. Hulle nooi ‘n paar vriende en kuier lekker by Johan se huis oor ‘n paar glasies wyn en ‘n gebraaide boud. Die partytjie gaan voort onder in Johan se ateljee, waar almal gevra word om hard te kuier oor ‘n mikrofoon, wat deel sal vorm van hulle liedjie “Al wat jy gaan kry”.

Episode 2
14 Augustus
“Seermaak is nie liefde”
St Helenabaai. Ons gaan loer in agter die skerms waar Hulle hul eerste musiekvideo skiet. Wilmaré sit vir Johan ore aan agter die braai, Hulle skryf ‘n nuwe liedjie met ‘n hartseer tema, en Johan se buurvrou kom loer in met haar viool.

Episode 3
21 Augustus
“Storm voort” 
Hulle weet min van Rugby, maar is vasberade om ‘n liedjie te skryf vir die WP-/Stormers-rugbyspan, al beteken dit Johan moet sy ma bel om seker te maak van die WP se kleure. Hulle doen ook hul eerste fotosessie.

Episode 4
28 Augustus
“In my gatsak”
Hulle kry stry oor ‘n nuwe liedjie en op die ou end moet Johan die meeste van die werk oordoen.  Hulle kry ook vir die eerste keer hul musiekvideo vir “Laaste asem” onder oë en oor ‘n paar skemerkelkies en sushi teken Wilmaré haar kontrak as liedjieskrywer met ‘n publiseerder.

Saktyd

Saktyd is kykNET se nuwe realiteitsreeks in samewerking met Huisgenoot wat elke Dinsdagaand om halfagt uitgesaai sal word. In dié reeks ding 13 voornemende joernaliste mee om ‘n loopbaan by Huisgenoot. Kykers sal sien hoe die drie beoordelaars (Haidee Muller, Wicus Pretorius en Izelle Venter) deur die kandidate sif om uiteindelik by hul wenner uit te kom. Kykers sal ‘n geheelbeeld vorm van die werking en samestelling van die tydskrif, asook die inspanning en drama agter die skerms wat op die wenner van die reeks wag. 13 kandidate. Een pos. Wie gaan die finale sperdatum haal?

Episode 4                                           
7 Augustus 2012
Elf deelnemers 
Hierdie week is dit tyd vir die twee spanne om mekaar die stryd aan te sê in ‘n uitdaging wat sal toets hoe sterk hulle in hul produk glo wanneer hulle reeds douvoordag kennis maak met ‘n pak splinternuwe Huisgenote. Die wedywery tussen die twee spanne laat elkeen besef dat hulle nie te gemaklik moet raak in die kompetisie nie. Dit is een ding om vir ‘n tydskrif te skryf, maar ‘n ander ding om die tydskrif by Jan Publiek te bemark.
Uitdaging: Die spanne ontmoet vieruur in die oggend by Paarl Media, waar hulle die geleentheid kry om te sien hoe Huisgenoot gedruk word. Elke span ontvang daarna 300 kopieë van Huisgenoot/Die Burger-kombinasiepakke, wat hulle by ’n besige kruising in Durbanville moet gaan verkoop.  Nes hulle dink dis verby, lig die beoordelaars hulle in dat elke span uit drie opsies een winkelsentrum moet kies waar hulle nog tydskrifte moet gaan verkoop. Die span wat aan die einde van die dag die meeste van hul voorraad verkoop, is die wenspan. Wie na afloop van hierdie episode sy/haar tas moet pak, kom as ‘n skok.

Episode 5
14 Augustus 2012                                           
Tien deelnemers                            
Nes almal gemaklik raak met hulle spanne, word dinge ‘n bietjie rondgeskommel. Nuwe spanne word gekies, en die irritasievlakke loop hoog. Die uitdagings en persoonlikheidsverskille laat die deelnemers effe getap en baie emosioneel. Die Kommas raak geïrriteerd met die selfaangestelde leier nadat die vorige leier uit sy posisie bedank het, en een deelnemer se strategie raak baie duidelik. 
Uitdaging: Elke span moet met behulp van Huisgenoot se uitlegkunstenaars ’n info-grafika saamstel. Die een span gaan na ’n “groen” huis en die ander na ’n huis wat nie so “groen” is nie. Onder leiding van ’n kenner (die bekende Dave Pepler van “Groen” en argitek Carl Morkel) word elke span dan deur die huis geneem, en daar word aan hulle verduidelik hoe als werk. Hul info-grafika moet weerspieël wat ’n huis omgewingsvriendelik maak, of hoe ’n huis meer omgewingsvriendelik kan wees.

Episode 6
21 Augustus
Nege deelnemers                           
Die week word twee Huisgenoot-lesers by die spanne se uitdaging betrek. Daar heers baie opwinding oor die uitdaging, maar agter die skerms kom die kloue uit en die druk laat van die deelnemers teen mekaar draai. Dinge raak persoonlik en ‘n mens wonder wie nou eintlik die makeover nodig het.
Uitdaging: Elke span kry ’n Huisgenoot-leser wat ingeskryf het vir ’n makeover. Hulle moet ’n eksterne oormaaksessie (nuwe haarstyl, grimering en uitrusting) en ’n leefstyl-oormaaksessie (iets wat die persoon se lewe sal verryk) vir die leser saamstel. Hulle moet self uitrustings uitsoek, saamgaan na die haarkapper en help besluit oor ’n nuwe haarstyl, en die volgende dag na die Bay Hotel gaan, waar die lesers se stilering gedoen word en die after-foto’s geneem word. Hier moet hulle weereens die grimeerkunstenaar en fotograaf lei. Hulle moet ook met die leser gesels om te bepaal watter leefstylveranderinge hy/sy wil hê en self borge soek om hierdie veranderinge teweeg te bring.  Wanneer hulle als bymekaar het, moet die inligting in ’n “voor”-en-“na”-mooimaaksessiestyl-artikel uitgelê word.

Episode 7
28 Augustus
Agt deelnemers
Hierdie week is dit vir die eerste keer in die kompetisie ‘n geval van “elkeen vir homself”.  Mense, emosies en ervarings is die fokus van hulle skryftaak by die Jan Kriel-skool. Een deelnemer verras haarself met haar vermoë as skrywer wanneer sy haar eie uitdagings oorbrug, en die res kry ook ‘n onverwagse verrassing.
Uitdaging: Die deelnemers word twee-twee ingedeel om in te sit in ’n klas by die Jan Kriel-skool vir kinders met spesiale behoeftes. Daarna kry hulle kans om persoonlike onderhoude met die onderwysers te voer en dan iets te skryf oor onderwys, die spesifieke onderwyser en enige onderwyser wat uitgestaan het in hul eie lewens. Dit is ’n individuele uitdaging, en die skrywers van die vier swakste stukke moet die volgende dag vier leerders na Butterfly World vergesel. Daar moet die deelnemers onderhoude voer met die leerders en ‘n nuwe stuk oor hulle skryf.

Groen

Episode 303
5 Augustus
Van ruigte tot rotspoel                      
Duisende jare voor die Portugese in 1488 die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse kus by Vleesbaai voet aan wal gesit het, het hier reeds mense gewoon. Dave ondersoek die ruigtes en rotspoele van dié besondere deel van ons kus.

Episode 304
12 Augustus
Uitreikaksie
Die doel van 2012 se Toyota Enviro Outreach is om te kyk na een van ons grootste ekologiese uitdagings: indringerspesies. Dave bring tyd deur saam met die spanne in Grootvadersbosch Natuurreservaat en Kogelbaai, waar hulle DNA-monsters versamel.

Episode 305
19 Augustus
Bly groen                   
Bewaring en ’n groen lewenswyse begin by die huis. Indien jy gelukkig genoeg is, kan jy ‘n huis groen bou, van sy fondamente af, maar daar is ook heelwat wat aan ‘n bestaande huis gedoen kan word om dit meer omgewingsvriendelik te maak.

Getroud met rugby IV

Episode 43
7 Augustus
Daar is iets fout met Fafa en hy beland in die hospitaal. Iva staan hom by. Die Raad is ongelukkig met Letitia se gekonkel.  Adam vind ? nuwe borg vir die Stryders en begin by Mieke vlerksleep. Raka en die nuwe Pom-pom-meisie, Jet, se verhouding is nie met rose besaai nie, want Raka het ? paar donker geraamtes in die kas.

Episode 44
14 Augustus
Iva wil bedank, maar Schalk oortuig haar om te bly.  Die Stryders se nuwe borg, DKN, hou ? groot, glansryke bekendstelling.  Laetitia besef sy en Schalk kan dalk meer as kollegas wees. Festus, Koekie, Botha en Cornia maak groot planne om Bella terug te kry.  Splinterboud ontmoet nuwe meisies, maar dis duidelik dat Mieke die meisie van sy hart bly.

Episode 45
21 Augustus
Brendan se broer, Cedric, beskuldig hom van moord.  Raka wil keer dat Jet verder in sy lewe inmeng.  Kiki en Reghardt word “beter vriende” en Fafa en Iva is baie verlief.  Bella kom bly by Kiki en haar ouers. Hulle probeer Bella se erfgeld bykom. Adam kom agter Laetitia is oneerlik.

Episode 46
28 Augustus
Laetitia vang Schalk in haar web voor Adam haar kan ontmasker. Festus en Koekie smokkel met Cornia en Botha se koppe en wil al die geld vir hulself hou. Raka se ma word aangeval op hul plaas en sy suster, Jacomien, vra hom om hulp. Brendan begin skuldig voel en gee hom aan die polisie oor. Iva en Fafa trou!

Wat mense sê

Episode
7 Augustus
25 jaar ná die Helderberg-vliegramp is die saak nog steeds in ‘n wolk van sameswerings en misterie gehul. Die SAL-Boeing 747 het naby Mauritius in die see gestort en al 159 mense aan boord is dood. Kort na die ongeluk was daar gerugte dat die Regering onwettig plofbare materiaal op die vliegtuig vervoer het en dat dit die oorsaak van ‘n brand in die vragruim was.
Een van die oorledenes se seuns het dit sy lewenstaak gemaak om die waarheid uit te vind.
 
Episode 5
14 Augustus
Duisende meisies droom daarvan om op die loopplanke van Parys, New York en Milaan te pronk, om hulle gesigte op die voorblad van glanstydskrifte te sien, en hulle name op die gastelys van elke gesogte partytjie. Maar het jy al ooit gewonder wat regtig agter die skerms van hierdie glanswêreld gebeur? Dis ’n multimiljoendollar-besigheid. Janie gesels met internasionale modelle oor skoonheid en die hoogte- en laagtepunte van modelwees.

Jou show

Episode 108
4 Augustus
Emo en Wicus word geëer met die teenwoordigheid van twee van Suid-Afrika se bekendste en suksesvolste sangeresse: Carike Keuzenkamp en Rina Hugo. Hulle lag en kuier en herinner ons net weer hoekom hulle al die jare so suksesvol is en sal bly. Die “mentalist” Alexander May smokkel ook met almal se koppe.

Episode 109
11 Augustus
Daar is net een plek om te wees dié Saterdagaand en dit is op jou bank voor die kassie. Kurt Darren en Heinz Winckler kuier by Emo en Wicus en wys dat hulle ook bokke vir sports is. Experilab kom maak wetenskap lag-lag lekker met interessante eksperimente wat jy sommer by die huis kan doen!

Episode 110
18 Augustus
Hierdie week kuier die groep ADAM by Emo en Wicus. Hulle vertel ons presies wie en wat ADAM is. Een van die Zip Zap-sirkus se talentvolle akrobate wys ons hoe die wiel draai en twee van die drie manne van ADAM pak mekaar in vetgatstoei.

Episode 111
25 Augustus
Vanaand op Jou show kuier die koningin van Afrikaanse rock, Karen Zoid, by ons! Die Villa Rosa-aktrise Therese Benade maak ook ‘n draai en die graffiti-kunstenaar Mak1One wys ons dat graffiti nie net ‘n gekrap op die muur is nie.

Fiesta

Episode 473
13 Augustus
Greyton Genadendal Classics for All
Die pragtige dorpie Greyton en sy buurdorp Genadendal word allerweë as die juweel van die Overberg beskou en mens hoef net een keer hier ‘n draai te kom maak om te weet hoekom. Hierdie twee dorpe speel ook jaarliks gasheer vir hulle fees van ligte klassieke musiek in hulle kerke en restaurante. Feeshoogtepunte sluit onder andere ‘n galakonsert met Minette du Toit-Pearce en die kore van Greyton en Genadendal in, sowel as ‘n optrede deur Zanne Stapelberg en ‘n konsert deur die SA Jeugkoor. André van der Merwe, die internasionaal bekroonde dirigent van hierdie roemryke koor, was vandeesweek ons gasaanbieder.

SleepTV

Episode 6
6 Augustus
Die Sleep-span kuier lekker by ATKV-Natalia aan die Suidkus en ondersoek al die doendinge wat by dié oord aangebied word. John-Henry en Rianette ontmoet ook ‘n dolfyn by Ushaka Sea World! Rianette maak ‘n heerlike platbrood oor die kole. Daar word in meer detail gekyk na die woonwa waarmee die span kampeer, asook die oord se ablusiegeriewe. Medekampeerders gee hulle menings oor allerhande kampvrae, daar word na prettige kampkiekies gekyk en die span woon selfs ‘n buitelugfliek by ...

Episode 7
13 Augustus
John-Henry en Rianette vat die pad na die rustige ATKV-Eiland-spa in die Limpopo-provinsie. Hulle sleep deur die Magoebaskloofpasse na Haenertsburg, waar hulle die uitsig by die begraafplaas waardeer en die Kanon-monument besoek, en hulle loer ook by ‘n paar winkeltjies op die dorp in. In hierdie episode staan die span ook langs die hoogste geplante boom ter wêreld en wys hulle waar mens nog vars water uit ‘n bergstroompie kan drink. Hulle bespreek hul voertuig vir die week in meer detail en wanneer hulle by die oord aankom, kry hulle medekampeerders se wenke oor tafels wat ongelyk staan en alternatiewe vuuraanstekers.

Episode 8
20 Augustus
By ATKV-Eiland-spa beleef John-Henry en Rianette weerens al die lekker doendinge wat by dié oord aangebied word. Hulle verken die Hans Merensky-natuurreservaat en eet selfs ‘n paar gedroogde rysmiere by die Tsonga-kraal-opelugmuseum. John-Henry beoefen “kampfotografie” en Rianette is net te bly om die spa te vind. Wanneer hulle ‘n visvangstorie op kamera begin vaslê, probeer Rianette ‘n poets bak, maar alles verloop nie volgens plan nie …  Die span stel ook sleepkonsultante aan om hulle opset te evalueer en gesels in meer besonderhede oor die karavaan van die week. Daar word ‘n hoeder-met-rooiwyn-potjie gemaak en die Sleep-span sluit die aand af met ‘n paar draaie op die dansbaan tydens ‘n Duitse aand wat deur die oord aangebied word. En dan sing John-Henry ‘n liedjie vir die “kampkoningin” ... Sal hy haar boswa vir sy tent kan ruil?

Ouverture

5 Augustus
Andrea Chénier (opera)
‘n Skouspelagtige produksie van Giordano se opera Andrea Chénier op die drywende verhoog by Bregenz.   Die Weense Filharmoniese Orkes en die Bregenz-feeskoor word gedirigeer deur Ulf Schirmer, en die soliste is Hector Sandoval, Scott Hendricks, Norma Fantini en andere.

12 Augustus
Lang Lang – The Third Dimension
Die legendariese pianis Lang Lang  in ‘n uitvoering van Beethoven, Chopin, Prokofiev en Albéniz se musiek.  “Oorspronklik” en “buitengewoon” is die twee woorde wat hierdie hoogs begaafde Chinese pianis die beste beskryf.

19 Augustus
Bolsjoi by die Bolsjoi:  Spartacus (ballet)
‘n Ballet in drie bedrywe op die musiek van Aram Khachaturian.  Die choreograaf is Yuri Grigorovitsj en die soliste van die Bolsjoi-balletgeselskap is Irek Mukhamedov, Aleksandr Vetrov, Lyudmilla Semenyaka en Maria Bilova.

26 Augustus
Die Berlynse Filharmoniese Orkes in Singapoer
Die Berlynse Filharmoniese Orkes word gedirigeer deur Sir Simon Rattle in ‘n uitvoering van Gustav Mahler se Simfonie Nr 1 in D majeur en Sergei Rachmaninov se Simfoniese Danse. Dit was die orkes se eerste besoek aan die land.

Flieke

Hans en die Rooinek
3 Augustus
Die taalstryd word komies uitgebeeld in hierdie fliek waarin twee buspassasiers, een Afrikaans en een Engels, mekaar invlieg oor hul tale. Hulle word van die bus afgegooi en moet al die pad terugstap Johannesburg toe. Met Jamie Uys, Bob Courtney, Wynona Cheyney en Emsie Botha.

Lord oom Piet
10 Augustus
Komedie
Twee kandidate spook dit uit voor die verkiesing en die feit dat die een Afrikaans en die ander Engels is, vergemaklik nie juis sake nie. Dan, tot sy groot skok en skande, vind oom Piet uit dat hy aanspraak kan maak op die titel “Lord”. Deur Jamie Uys. Met Jamie Uys, Bob Courtney, Arthur Swemmer, Madeleine Usher en Morné Coetzer.

Rip van Wyk
17 Augustus
Komedie
‘n Vrystaatse boer slaap vir ‘n honderd jaar, en toe hy wakker word, het ‘n groot dorp sy plaas ingesluk. Sy pogings om die ontwikkelinge te begryp en daarby aan te pas, is, om die minste te sê, skreeusnaaks. Jamie Uys op sy koddige beste. Met Jamie Uys, Gert van den Bergh, Wyona Cheyney, Douglas Fuchs en Johan Malherbe. 1960.

Liewe hemel, Genis
24 Augustus
Komedie
Die drie ou vriende is terug op die koöperasie se stoep vanwaar hulle die lewe om hulle betrag en oor alles en almal filosofeer. ‘n Vollengtefilm wat jou sal laat lag én ’n traan sal laat wegpik. Gegrond op die televisiereeks Koöperasiestories. Met Jacques Loots, Marie Pentz, Emgee Pretorius, Alex Heyns en Willie Esterhuizen.

Tawwe tienies
31 Augustus
Komedie
Toe Mietie en Genis besluit om hul eie tuiswag te stig met behulp van ‘n klompie gevaarlike karakters, moet die terroriste net koes. Maak jou reg vir lekker lag. Met Marie Pentz, Jacques Loots, Dulcie van den Bergh, Hennie Smit, Chris van Niekerk, Pierre de Charmoy en Bles Bridges.

Villa Rosa

Episode 1518 – Woensdag, 1 Augustus 2012
Petrus moet by Marius verbykom voor hy sy prys en Fran se geskenk kan benut. Intussen tender Lerato om by die huis gelos te word: Kan Vicky haar uit Astrid se greep losmaak? En wil sy gehelp word? Marius maak kennis met Zirk se prokureur en loop ’n bloutjie ... Loop hy ook Vicky se paadjie? Fritz is tussen twee vure – sonder ’n brandblusser!

Episode 1519 –  Donderdag, 2 Augustus 2012
Astrid wil hê Vicky moet so gou moontlik onder haar eie etiket begin werk en kies ’n perseel vir die fabriek wat Vicky glad nie aanstaan nie. Sam se rubriek ruk handuit, en Vicky se lojaliteit is in twee geskeur tussen Marius en Astrid. Onvoorsiene omstandighede ry Lerato se planne in die wiele, en Vicky rig ’n vreemde versoek aan Marius.

Episode 1520 – Maandag, 6 Augustus 2012
Lerato wroeg omdat sy nie saam Mauritius toe kan gaan nie, maar laat tog vir Petrus met ’n oop hart gaan. Sam se nuwe rol as skrywer en lektor maak haar gespanne en Fritz probeer sy bes om haar te akkommodeer. Vicky se eerste werksdag by Astrid laat haar ontnugter, Marius het goeie sakevooruitsigte en Lerato kry ’n taak wat stamboom-navorsing behels. Sam bespreek ’n sensitiewe kwessie met Fritz, maar sy loop haar vas teen sy koppigheid.

Episode 1521 – Dinsdag, 7 Augustus 2012
Charl se bustoer na die Wes-Kaap en mevrou Dominee knou aan Stef se senuwees, maar Lindie is min gepla: Dis tyd dat hy verantwoordelikheid vat vir sy dade, asook Simon se doop … Intussen het Sam se rubriek haar senuwees op hol en die arme Fritz moet bontstaan om balans te hou. Astrid se houvas op Vicky dryf Marius tot raserny en veroorsaak verhoudingsprobleme.

Episode 1522 – Woensdag, 8 Augustus 2012
Astrid is gretig om nuwe kliënte te werf, maar Vicky voel sy wil te vinnig te veel doen. Charl verklaar stilweg oorlog teen Sam, wat nie meer vir hom terugstaan nie, terwyl Marius toenadering probeer soek by Vicky. Lerato steur haar min aan almal se waarskuwings en hou aan snuffel in haar oupa se verlede. Isabel vra Vicky om haar te kom sien en Sam besluit sy behoort die hele dag net aan Fritz. Maar dan kry sy ’n oproep …

Episode 1523 – Donderdag, 9 Augustus 2012

Vicky gaan fabriek toe en Astrid sorg dat daar ’n lelike verrassing op haar wag. Zirk probeer Anthony oorreed om in te koop in hul besigheid. Lerato hoor die waarheid oor haar oupa by Anthony, en Fran raak al hoe meer benoud. Lindie is oortuig daarvan dat Astrid iets in die mou voer. Zirk voer Fritz met inligting wat hom baie bekommerd maak oor die Villa se toekoms.

Episode 1524 – Maandag, 13 Augustus 2012
Is kommer oor Vicky die werklike rede vir Lindie se gesnuffel in Astrid se sake? Zirk is ’n man met ’n plan en Fritz nader hom om moontlikhede in en om die Villa te bekyk en te bespreek. Die eens gelukkige Jackson-gesin is nou vasgevang in ’n warboel van leuens en geheime – gaan hulle dit oorleef? Fritz konfronteer Sam wanneer die groenoogmonster van jaloesie in sy oor fluister. ’n Belangrike aandeelhouersvergadering word belê.

Episode 1525 –  Dinsdag, 14 Augustus 2012
Marius en Astrid se vete vererger en plaas Vicky in ’n moeilike situasie. Zirk se voorspellings ontstel Sam, en Lindie het haar mes in vir Astrid. Lerato is bekommerd oor Petrus, en Vicky is stomgeslaan oor die vooruitsigte wat 'n reis na Argentinië inhou. Marius en Lindie se vriendskap raak toenemend ongemaklik, en Charl en Sam se verhouding loop dieselfde pad. Lerato krap waar dit nie jeuk nie, terwyl Fran se weë duister is.

Episode 1526 – Woensdag, 15 Augustus 2012
Vicky se vertrek Argentinië toe is om die draai en dit blyk dat Astrid se onderduimse planne suksesvol gaan verloop. Lerato se agterdog oor Petrus neem toe, Marius is ongelukkig omdat hy nie saam met Vicky kan gaan nie, en Stef word niks wyser nadat hy Charl konfronteer oor Katrina nie. Die web van waarheid trek stywer om die Jackson-familie en Anthony moet besluit of hy meer wil weet oor sy herkoms of nie …

Episode 1527 – Donderdag, 16 Augustus 2012
Lerato het haar hande vol om Petrus in die hande te probeer kry. Wat op Mauritius aan die gang is, weet sy nie, en hoe meer sy probeer uitvind, hoe meer ontglip hy haar. Vicky en Marius probeer hulle bes om beskaafd te wees teenoor mekaar voor sy op haar sakereis vertrek, en Astrid is die toonbeeld van ondersteuning ... Maar alles is nie wat dit blyk te wees nie, want iewers in die donker hou Zirk dinge dop. En dan is daar Anthony en sy verlede wat vinnig besig is om hom in te haal ...

Episode 1528 – Maandag, 20 Augustus 2012
Astrid is in ’n toestand nadat Vicky se tas met haar diamante in op die lughawe verdwyn het, en Marius is heimlik verlig dat Vicky nie oorsee is nie. Lerato maak nie ‘n geheim van haar gevoelens jeens Fran nie. Sam en Charl sit weer vas, en wanneer Fritz hulle aanspreek, swaai Charl die situasie in sy guns. Fran vertel vir Stef iets wat sy dalk eerder nie moes nie …

Episode 1529 – Dinsdag, 21 Augustus 2012
Lerato is bekommerd oor Petrus niks van hom laat hoor nie en Marius dreig om hom af te dank. Dan kontak Petrus haar, maar sy is beslis nie voorbereid op sy nuus nie. Fran kry positiewe terugvoer oor haar boek van Stef en smeek hom om vir niemand iets te sê nie. Isabel is duidelik bekommerd oor iets, maar gaan sy haar vrese konfronteer? Lindie is verbaas dat Vicky skielik weer so positief is oor haar werk.

Episode 1530 – Woensdag, 22 Augustus 2012

Vicky is weer op pad Argentinië toe. Gaan sy hierdie keer slaag? Intussen stry Marius sy eie stryd en Lerato word verplig om die waarheid in die gesig te staar. ’n Donker geheim word aan Stef toevertrou. Wat gaan hy met sy nuutgevonde kennis doen? Anthony kry slegte nuus en Fritz neem ’n besluit oor sy kleinkind se toekoms.

Episode 1531 – Donderdag, 23 Augustus 2012
Petrus het steeds nie sy opwagting gemaak nie, en Stef en Fran se vriendskap word daagliks sterker. Anthony is bekommerd oor Isabel, terwyl Fran onraad vermoed. Zirk, Marius en Anthony vier hulle vennootskap, en Fritz maak stilletjies naweekplanne vir hom en Sam. Sam en Charl se onenigheid bly onopgelos, en Astrid raak histeries oor Vicky se lot in Suid-Amerika.

Episode 1532 – Maandag, 27 Augustus 2012
Stef por Fran aan om haar hartstorie te publiseer, maar Fran skop vas. Wouter arriveer en dit neem nie lank voor Lerato haar naels in hom inslaan nie. Sam besef sy het nie die verlede afgesluit nie. Isabel vra Anthony en Sam dat haar biopsie stilgehou word en Astrid kry ’n dreigoproep. Fritz rig ’n versoek aan Lindie, maar word wreed ontnugter.

Episode 1533 – Dinsdag, 28 Augustus 2012
Die ratte van die lewe draai en dit blyk nie in Astrid se guns te wees nie: Zirk het die hef in die hand en Valdez maak sy verskyning met verreikende gevolge. Marius waarsku Wouter om nie sy hart op Lindie te sit nie. Is Marius jaloers of net beskermend? Tussendeur trek Sam swaar, want haar oorlede seun se ewebeeld bring hunkeringe terug wat haar hart skeur.

Episode 1534 – Woensdag, 29 Augustus 2012
Sam kry dit uiteindelik reg om ’n gesprek met Wouter te hê. Astrid besef haar lewe is in gevaar en sy moet versigtig trap tussen Zirk en Valdez. Isabel en Fran bring Lindie tot ander insigte oor die doop, maar Charl blameer Sam vir die feit dat sake nie na sy sin verloop nie. Fritz gaan haal Simon in Kroonstad en Sam bly alleen in die Villa agter. Intussen is Valdez warm op Astrid se spoor en hy ruik bloed …

Episode 1535 – Donderdag, 30 Augustus 2012
Die Villa se mense herstel stadig van die skok ná die aanval op Sam. Zirk is verlig as hy hoor dat Sam bygekom het, maar pak steeds sy goed en verlaat Bloemfontein. Charl voel verskriklik omdat hy die doop gaan mis, maar hy is nie voorbereid op Sussie se skokkende nuus nie. Babs stel Charl en Lindie gerus omdat hulle nie ’n paartjie is nie en probeer Fran se skanse afbreek.

Binneland

Woensdag, 1 Augustus (Episode 348/1502)
Franz en Jennifer kom te hore van Delia se nuwe pos, en Irene vra Charnay se hulp. Gys is omgekrap omdat Gideon met Alexa gepraat het, en Annetjie maak ‘n belofte aan Gustav. At vra Sonja uit oor Vicky en Gys, en Alexa maak haar planne aan Gys bekend.

Franz and Jennifer hear about Delia’s new job, and Irene asks Charnay for help. Gys is angry at Gideon for speaking to Alexa, and Annetjie makes a promise to Gustav. At asks Sonja about Vicky and Gys, and Alexa reveals her plans to Gys. 

Donderdag, 2 Augustus (Episode 349/1503)
Charnay en Elise kom in die hospitaal op Mari af, en At verklaar oorlog teen Franz. Alexa begin Vicky omseil, en Annetjie is vies vir Gideon. Sonja vra Bea se hulp met Gys en At, en Busi bel Daleen oor Gustav. Jennifer is nie beïndruk met ‘n besluit wat Charnay geneem het nie.

Charnay and Elise find Mari in the hospital, and At declares war on Franz. Alexa starts to rope Vicky into her plans, and Annetjie is livid towards Gideon. Sonja asks Bea’s help with Gys and At, and Busi phones Daleen about Gustav. Jennifer is not impressed with a decision that Charnay made.

Vrydag, 3 Augustus (Episode 350/1504)
Elise en Pippa bespreek Gustav, en Irene is bekommerd oor die toekoms. Alexa probeer Gys ompraat om die groep te help, terwyl Sonja vir Vicky waarsku oor Gys. Delia gee vir Pippa en Malan hul uitnodigings na die fondsinsameling, en Gys probeer sy bekommernisse wegsteek.

Elise and Pippa talk about Gustav, and Irene is worried about the future. Alexa tries to manipulate Gys into helping the group, while Sonja warns Vicky about Gys. Delia gives Pippa and Malan their invites to the fundraiser, and Gys tries to conceal his concerns.

Maandag, 6 Augustus (Episode 351/1505)
Charnay en Jennifer ontdek Mari is weg, en Pippa en Elise is steeds in skok oor Gustav se bolyf. Gys is bekommerd wanneer Vicky besluit om saam met Alexa weg te gaan.

Charnay and Jennifer realises that Mari is missing, and Pippa and Elise struggle to get used to Gustav’s upper body. Gys is worried about Alexa’s involvement in Vicky’s life.

Dinsdag, 7 Augustus (Episode 352/1506)
Irene is bang dat sy Mari kan verloor, en Gustav dink dat Pippa ontevrede is met hom terwyl sy eintlik vies is vir Malan. Alexa kry Gys om haar vuilwerk vir haar te doen deur ‘n belofte aan hom te maak. 

Irene is petrified that she will lose Mari, and Gustav misinterprets Pippa’s unhappiness with Malan as a sign of dissatisfaction with him. Alexa gets Gys to do her bidding by making him a promise.

Woensdag, 8 Augustus (Episode 353/1507)
Ongevalle is in rep en roer wanneer Duncan daar beland, terwyl Gys en Wynand met mekaar baklei oor leierskap. Busi kan dit nie oor haar hart kry om Gustav te vertel wat aan die gang is nie, en Jennifer bespreek ‘n sensitiewe saak met Irene. Gideon is bekommerd oor Gys se betrokkenheid by Duncan.

Duncan lands in the emergency room, while Gys and Wynand fight for leadership of the group. Busi doesn’t want to tell Gustav what is really going on, and Jennifer discusses a sensitive topic with Irene. Gideon is worried about Gys’s involvement with Duncan.

Donderdag, 9 Augustus (Episode 354/1508)
Gideon se houding teenoor Gys werk – maar nie soos hy gehoop het dit sou nie. Sonja en At besluit om vrede te maak met Gys en Vicky, terwyl Gustav baie selfbewus voel voor Pippa en Elise. Alexa en Gys kruis swaarde, en Charnay en Gustav maak vrede oor Mari.

Gideon tries to freak out Gys, and Sonja and At decide to make peace with Vicky and Gys. Gustav feels self-conscious in front of Pippa and Elise, while Alexa and Gys are at loggerheads. Charnay and Gustav sort out their differences about Mari. 

Vrydag, 10 Augustus (Episode 355/1509)
Vicky spoel haar mond uit teenoor Sonja, en Gideon maak sy bekommernisse aan Alexa bekend. Pippa wroeg daaroor of sy na die Koster-huis moet gaan of nie, en Sonja en Bea is bekommerd oor Vicky en Gys. Gustav nooi Charnay vir ‘n drankie, en Gideon beskuldig Gys daarvan dat hy vir die polisie gejok het.

Vicky spouts off towards Sonja, and Gideon tells Alexa about his concerns. Pippa struggles to make a decision about going to the Koster Mansion or not, and Sonja and Bea are worried about Vicky and Gys. Gustav invites Charnay for a drink, and Gideon confronts Gys about lying to the police.

Maandag, 13 Augustus (Episode 356/1510)
At bied aan om met Vicky te praat, terwyl Gideon en Franz wonder of dit nie ‘n goeie idee sou wees om Gys na sy ma toe te stuur nie. Delia is in haar skik met die fondsinsameling, en At waarsku Gys om weg te bly van Vicky – maar Vicky stel ‘n ultimatum aan Gys.

At offers to talk to Vicky, while Gideon and Franz wonders if it isn’t time to send Gys to his mother. Delia is chuffed with the fundraiser, and At warns Gys to stay away from Vicky – but Vicky gives Gys an ultimatum.
  
Dinsdag, 14 Augustus (Episode 357/1511)
Malan probeer Sonja gerusstel oor Gys en Vicky. Charnay stem in tot ‘n toe-oog-afspraak, en Gys en Vicky se planne het rampspoedige gevolge. 

Malan persuades Sonja to give Gys and Vicky some space. Charnay reluctantly agrees to go on a blind date, and Gys and Vicky’s plans have terrible consequences.

Woensdag, 15 Augustus (Episode 358/1512)
Die hospitaal word tot in sy fondamente geruk! ’n Getraumatiseerde Vicky kan net hoop dat Gys oorleef het, en intussen moet Gustav tot Charnay se redding kom wanneer haar date nie opdaag nie.

The whole hospital is shaken to its core. A traumatized Vicky can only hope Gys survives, while Gustav has to come to Charnay’s rescue when her date doesn’t pitch up.

Donderdag, 16 Augustus (Episode 359/1513)
Alexa dring daarop aan dat Vicky by die groep moet aansluit – en moet verdwyn. Charnay en Gustav word gedwing om weer soos ‘n paartjie op te tree voor ‘n pasiënt, en Elise beplan om Pippa met haar studies te ondersteun. Wynand bied aan om Alexa te help met Vicky, en Saskia is op soek na Gustav.

Alexa is adamant that Vicky should join the group – and disappear. Charnay and Gustav are forced to play the lovely couple again in front of a busybody patient, and Elise is determined to help Pippa through her studies. Wynand offers to help Alexa with Vicky, and Saskia is looking for Gustav.

Vrydag, 17 Augustus (Episode 360/1514)
Daar word ‘n wakende oog oor Gys gehou, en Gustav is verlig wanneer Charnay tot sy redding kom. Alexa vra Wynand om seker te maak dat Gys sy mond hou, en Busi laat Saskia twyfel oor Charnay en Gustav. Delia gee Elise ‘n bedekte dreigement.

An eye is being kept on Gys, and Gustav is relieved when Charnay comes to his rescue. Alexa asks Wynand to make sure that Gys keeps quiet, and Busi makes Saskia doubt Charnay and Gustav. Delia makes an underhanded threat towards Elise.

Maandag, 20 Augustus (Episode 361/1515)
Sonja is bereid om haar vriendskap met Bea in gevaar te stel as dit beteken dat sy iets uit Gys kan kry. Wynand se planne werp nie vrugte af nie, en Charnay wil by Gustav weet hoe lank hulle die speletjie gaan speel – terwyl Jennifer snuf in die neus kry oor Charnay se ware gevoelens.

Sonja is prepared to endanger her friendship with Bea if it means getting information from Gys. Wynand’s plans don’t seem to work out, and Charnay wants to know from Gustav for how long they will be playing this game – while Jennifer wonders about Charnay’s true feelings for Gustav.   

Dinsdag, 21 Augustus (Episode 362/1516)
Alexa gebruik Marli om ‘n boodskap by Gys uit te kry, en Charnay voel seergemaak deur Gustav se houding. Wynand en Alexa maak planne om Gys van kant te maak, en Gustav besef dat Saskia in Pretoria gaan aanbly. Malan vat Delia vas oor haar houding teenoor Elise, en Gideon is warm op Alexa se spoor.

Alexa uses Marli to get a message to Gys, and Charnay feels hurt by Gustav’s reaction. Wynand and Alexa talk about killing Gys, and Gustav realises that Saskia will be staying on in Pretoria. Malan berates Delia for her attitude towards Elise, and Gideon is hot on Alexa’s heels. 

Woensdag, 22 Augustus (Episode 363/1517)
Gys en Franz maak vrede, maar dit maak Gys nie minder bekommerd oor Vicky nie. Jennifer besef Charnay kuier lekker by Gustav, en Sonja se probleme is nie heeltemal op ‘n einde nie. Gys verklaar sy liefde, en Elise is afgehaal omdat Pippa aan Peet se lippe hang.

Gys and Franz make peace, but this doesn’t lessen Gys’s worries. Jennifer realises that Charnay is having a ball of a time at Gustav’s, and Sonja’s problems are not at an end. Gys declares his love, and Elise is horrified to see Pippa hanging on Peet’s lips. 

Donderdag, 23 Augustus (Episode 364/1518)
Gustav flankeer nog met Charnay, alhoewel die rede vir sy flankeerdery nie meer bestaan nie. Elise maak moles wanneer sy besluit Peet is agter Pippa aan. Gys maak Vicky seer om haar te help.

Gustav keeps on flirting with Charnay, although the reason for the initial flirtation no longer exists. Elise causes ruptions when she decides Peet is chasing Pippa. Gys hurts Vicky badly in order to help her.

Vrydag, 24 Augustus (Episode 365/1519)
Elise voel die lewe is nutteloos, en Vicky pleit by Sonja om haar nie weg te stuur nie. Tineke is omgekrap omdat Sonja nie Theuns se opdrag uitvoer nie, terwyl Pippa skuldig voel oor wat sy aan Elise doen. Delia rig haar visier op Gustav, en Charnay is geskok oor Gustav se optrede.

Elise feels that life is worthless, and Vicky pleads with Sonja not to send her away. Tineke is unhappy about Sonja not following Theuns’s orders, while Pippa feels guilty about what she is doing to Elise. Delia has Gustav in her crosshairs, and Charnay is shocked at Gustav’s behaviour.  

Maandag, 27 Augustus (Episode 366/1520)
Pippa vertel Peet dat Elise jaloers is op hul vriendskap, en Gys kan uiteindelik huis toe gaan. Franz konfronteer Gideon oor sy gedrag, en die verpleegsters se kommentaar oor Delia en Gustav irriteer Charnay.

Pippa tells Peet that Elise is jealous of their friendship, and Gys goes home. Franz confronts Gideon about his behaviour, and Charnay is irritated by the nurses talking about Delia and Gustav.  

Dinsdag, 28 Augustus (Episode 367/1521)
Charnay probeer Gustav vermy, en Sonja besoek Gys om hom te bedank. Elise kry ‘n blink plan om almal weer bymekaar te trek, en Ilse en Bea bespreek Gys se geestestoestand. Daleen is weer terug in Pretoria, en Liebenberg moet die slegte nuus oordra.

Charnay tries to avoid Gustav, and Sonja visits Gys to thank him. Elise has a plan to try and get everyone back on track, and Ilse and Bea discuss Gys’s mental health. Daleen is back in Pretoria, and Liebenberg has to convey the bad news.

Woensdag, 29 Augustus (Episode 368/1522)
Gys is bang dat hy Bea se kinders in gevaar stel, en Busi word nie vir Elise se vasvra-span gekeur nie. Sy besluit om wraak te neem. ‘n Geheimsinnige Daleen kontak ‘n privaat speurder.

Gys is afraid that his presence in the Basson house constitutes a risk to their safety, and Busi decides to take revenge when she isn’t chosen for Elise’s team. A secretive Daleen calls a private investigator.

Donderdag, 30 Augustus (Episode 369/1523)
Elise en Peet sit nie langs dieselfde vuur nie, en Gideon vra Gys of hy nog glo die eindtyd is op hande. Busi is bekommerd oor Daleen, en Quinton en Gustav het nog steeds nie ooghare vir mekaar nie. Gys hoor slegte nuus.

Elise and Peet are trying to psyche each other out, and Gideon asks Gys if he still believes that the end of time is coming. Busi is worried about Daleen, and Quinton and Gustav still don’t like each other. Gys hears very bad news.

Vrydag, 31 Augustus (Episode 370/1524)
At is verras om Quinton in die Koster-huis te kry, en Elise is oortuig dat haar span gaan wen. Pippa is geraak deur Quinton se besorgdheid oor Daleen, en Liebenberg besef Gys is ‘n waardevolle bate in die plan om Alexa te vang.

At is surprised to find Quinton in his house, and Elise is certain that her team will win the competition. Pippa is touched by Quinton’s concern for Daleen, and Liebenberg realises that Gys is a valuable asset in the plan to catch Alexa.

Akteurs
Dr Jennifer Adams Sandi Schultz
Dr Charnay Adams Renate Stuurman
Dr Franz Basson Dawid Minnaar
Dr Gideon Basson Neels van Jaarsveld
Bea Delport Elma Postma
Suster Daleen Jonker Desiré Gardner
Gustav Kemp Stefan Ludik
Dr At Koster Hans Strydom
Malan Koster Paul du Toit
Suster Elise Kruger Lindie Stander
Sonja Mostert Hanli Rolfes
Delia Richter Odelle de Wet
Suster Pippa Venter Nadia Valvekens

Gasspelers
Alexa Marisa Drummond
Annetjie Lorraine Burger
Busi Philicity Reeken 
Duncan Duane Behrens
Gys Eloff Viljé Maritz
Ilze Delport Hannelie Warren
Irene Sharleen Swart
Jan Gericke Neels Clasen
Kaptein Liebenberg Dirk Stoltz
Lizette Danél Maree
Louisa Gericke Helena van Urk
Mari Sheri Brynard
Marli Annica Steenkamp
Morné Gericke Ruan Wessels
Peet Johan Baird
Saskia Christina Storm
Tineke Mostert Anelle Bester
Vicky Mostert Nandi Horak
Wynand Francois Jacobs
Quinton Meyer Ramey Short  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top