Kwikintoksikasie: transendensie van gevolge1
1. Inleiding
Die moontlike implikasies (fisiologies en sielkundig) van amalgaamrestourasie vir tandheelkundige pasiënte vorm die basis van die problematiek wat in hierdie artikel ondersoek word.
Kwik is algemeen bekend as ’n uiters toksiese swaarmetaal en speel (volgens huidige kennis) geen betekenisvolle rol in die menslike fisiologie nie (Genchi, Sinicropi ea 2017). Kwik word reeds vir nagenoeg 150 jaar in amalgaamvulsels as ’n belangrike herstelmetode in tandheelkunde en -tegnologie gebruik. ’n Hewige en omstrede debat oor die moontlike nadelige effek van kwik en amalgaam op tandheelkundige pasiënte duur reeds dekades lank.
Gedurende die laat sewentigerjare het Hal Huggins (’n Amerikaanse tandarts in privaatpraktyk) die derde fase van die debat ingelui deur sterk standpunt teen die gebruik van amalgaamvulsels in te neem. Hy toon aan dat amalgaamrestourasie die oorsaak is van ’n breë spektrum ernstige siektetoestande by pasiënte deur die biologiese, termiese, meganiese, chemiese en elektriese vrystelling van kwik aan die liggaam. Wat laasgenoemde betref, ontstaan ’n potensiaalverskil tussen amalgaam en ander soorte vulsels in die mond (bv goudvulsels); gevolglik word kwikdamp geleidelik vrygestel. Hierdie faktore kan ook amalgaamvulsels se voorkoms en samestelling in die mond verander en daartoe lei dat metaalione, amalgaamstukkies, niemetallurgiese korrosieprodukte en kwik in die mondholte afgeskei word (Salih en Shakir 2017).
Die amalgaamdebat handel spesifiek oor die veiligheid van die gebruik van kwik in tandheelkunde, maar volgens Jones (2005) toon die redevoering ook ondertone van mag en ideologie. Die pro-amalgaamgroep beheer die tandheelkundige praktyk en bepaal gevolglik die inhoud van onderrigleerplanne in tandheelkunde, en is dus ook die amptelike spreekbuis van die tipe inligting wat via professionele tandheelkundige verenigings aan pasiënte oorgedra word. Die gemiddelde pasiënt is egter deesdae baie beter ingelig weens die beskikbaarheid van moderne elektronika en het gevolglik andersoortige en meer gevorderde behoeftes ontwikkel. Die meeste Eerstewêreldse pasiënte beskik nie net oor meer inligting as voorheen nie, maar is dikwels ingestel op professionele kundigheid wat verder gaan as die blote gerusstelling deur outoritêre magsfigure wie se kennis en insig op teenstrydige navorsingsbevindings gebaseer is.
In aansluiting by die bogenoemde argument kom Dodes (2001:355) op grond van ’n deeglik saamgestelde en omvattende getuienisgebaseerde literatuuroorsig tot die volgende gevolgtrekking: “Amalgam restorations remain safe and effective. Dentists should educate patients and other health care professionals who may be mistakenly concerned about amalgam safety.” Is dit moontlik dat Dodes (2001) se standpunt as “outoritêr” van aard bestempel kan word? Dodes (ook ’n tandarts in privaatpraktyk) se etiese geloofwaardigheid kan egter nie sondermeer bevraagteken word nie. Indien die debat oor amalgaam as ’n samesweringsteorie afgemaak sou word, laat so ’n uitgangspunt min ruimte toe vir werklike vordering in die debat. Die debat oor kwik is dus sonder twyfel uit alle hoeke gesien uiters ingewikkeld.
Rathore, Singh en Pant (2012) voer die debat verder en kom tot die gevolgtrekking dat amalgaam wel hipersensitiwiteitsreaksies by sekere pasiënte kan veroorsaak, maar indien die aanbevole riglyne vir veilige kwikhanteringsprosedures behoorlik nagekom word, word die risiko’s vir negatiewe gevolge beperk. Die risiko dat amalgaam-intoksikasie verskillende gevolge vir pasiënte inhou, kan dus deur voorkomende aksies beperk word.
Dodes (2001) se gevolgtrekking, in vergelyking met Rathore e.a. (2012) se uitgangspunt ’n dekade later, verteenwoordig ’n klemverskuiwing van amalgaam as ’n “absoluut veilige” herstelmetode na die “veilige hanteringsprosedures” van amalgaam. Die navolging van riglyne in verband met die veilige herstel, verwydering, booraksies, berging en hersirkulasie van kwik/amalgaam in die konteks van die hedendaagse tandheelkundige praktyk is van kardinale belang.
2. Doel van hierdie artikel
Die hoofdoel van hierdie artikel is om twee gevallestudies van tandheelkundepasiënte wat voorheen volgens hul eie weergawe van verbandhoudende gebeure aan amalgaamintoksikasie blootgestel was, te beskryf, en om hul onderskeie benaderings tot behandeling en herstel van kwikvergiftiging te bespreek.
As agtergrond vir en bydraend tot die hoofdoel word die resultate van toepaslike amalgaamverwante navorsing wat vanaf 1 Januarie 2017 tot Augustus 2017 (wanneer hierdie artikel sal verskyn) in erkende vaktydskrifte gepubliseer is, opgesom.
Die doel van hierdie artikel is nie om ’n standpunt in te neem ten gunste van die gebruik van amalgaam of die teendeel nie, maar bloot om op die bestaan van sodanige debat te wys en om in die konteks van die debat twee persone se subjektiewe ervarings in hierdie verband te beskryf.
3. Kwik en amalgaam
3.1 Samestelling en effek
Kwik kom voor in ’n elementêre (metallurgiese), organiese, en anorganiese vorm (Wolf, Parish en Parish 2017:318). Elementêre kwik kan deur middel van diffusie en met skadelike gevolge deur die bloedbreinskans en die plasentale membraan beweeg. Kwik veroorsaak mitokondriese disfunksie, verlaag ATP-sintese (adenosientrifosfaatsintese), verlaag die beskikbare bron van glutatioon, verhoog fosfolipied en proteïen en beskadig ook DNS oksidatief (Genchi, Sinicropi ea 2017:2). Die vaskulêre effekte van kwik kom onder meer voor as inflammasie, trombose en skade aan mitokondriale membrane.
By erge kwikintoksikasie nadat die opname van elementêre kwik deur die hartbloedvatstelsel plaasgevind het, moet die uitskakeling van die kwik uit die liggaam so snel as moontlik plaasvind ten einde die risiko vir ernstiger skade (soos indringing van vesel) te verminder. Cheleringsmetodes word normaalweg as ’n behandelingstrategie gebruik om die kwikbloedvlak te verminder, insluitende diurese (verhoogde urienafskeiding), kontrole van uriensuur vir metaalafskeiding, verhoging van ontlastinguitskeiding asook hemodialise (Genchi e.a. 2017:6). Die effektiwiteit van hierdie prosedures word bepaal deur die tipe prosedure, intensiteit van die behandelingsprogram, die duur van die intoksikasie, en die fisiologiese eienskappe van die pasiënt.
3.2 Amalgaam en tandheelkunde
Kwik in sy elementêre vorm kom vry algemeen in tandheelkundige amalgaam voor. Volgens Sing (2017) het die Franse tandarts Taveau reeds in 1826 kwik en silwer gemeng om amalgaam te produseer. Daarna het ’n mengsel van 72,5% silwer en 27,5% tin gevolg, terwyl Youdelis reeds in 1963 koperamalgaam ontwikkel het.
Die hedendaagse amalgaamvulsels bestaan uit ’n samestelling van vloeibare kwik en ’n metaalpoeier wat as allooi bekend is (Bengtsson en Hylander 2017). Die vermengingspersentasie kom neer op ongeveer 50 persentasiegewig. Hierdie prosedure staan in die tandheelkundige praktyk as triturasie bekend.
Die voordele van amalgaam sluit in kostedoeltreffendheid, duursaamheid, betroubaarheid, selfverseëlingsvermoë, en lae sensitiwiteit (Bhardwaj, Bhardwaj en Kalra 2017), terwyl nadele soos die gebrek aan estetika, problematiese afvalbestuur en kwikintoksikasie in die literatuur beklemtoon word.
Die intoksikasieproses vind plaas gedurende die plasing of verwydering van vulsels (Rathore, Sing en Pant 2012). Wanneer die prosedure afgehandel is, is die hoeveelheid kwik wat afgeskei word, laer as die huidige gesondheidstandaard. Die mate van kwikblootstelling (Rathore, Sing en Pant 2012) hang af van die getal en grootte van die vulsels, die samestelling van die mengsel, kougewoontes, kosstruktuur, tandeknersgewoontes, tandeborselaksie en verskeie ander fisiologiese faktore. Kwikdamp word maklik en met 80% doeltreffendheid deur die asemhalingstelsel opgeneem. Opname deur die vel en dermkanaal is minder effektief. Dit neem 55 dae vir kwik om deur die liggaam te beweeg vanaf die punt van opname tot uitskeiding.
Die Internasionale Akademie vir Mondmedisyne en Toksikologie (IAOMT) se riglyne kan as ’n goeie voorbeeld dien van ’n raamwerk vir die veilige verwydering van amalgaamvulsels wat omvattend en wetenskaplik gegrond is. In kort kom die bestepraktykriglyne (J Hartshorne, persoonlike kommunikasie, 10 Augustus 2017) neer op die gebruik van die kofferdamtegniek vir die isolasie van die amalgaamvulsels, hoë-intensiteit-waterspoeling vir afkoeling van die amalgaam en hoë suigingskapasiteit (high volume evacuator).
4. Gevallestudies
Dodes (2001) spreek hom sterk uit teen die gebruik van gevallestudies in navorsing oor die effek van amalgaam, omdat gevallestudies volgens hom anekdoties van aard is. Gevallestudies is nie noodwendig betroubaar nie, omdat dit dikwels op persoonlike ervaring (of persoonlike waarneming) en nie op feite of wetenskaplike navorsing berus nie. Juis daarom kan ’n gevallestudie vatbaar vir sydigheid wees, en is die inhoud of gegewens van gevallestudies nie veralgemeenbaar nie.
’n Gevallestudie is wel ’n nuttige tegniek om ’n voorbeeld van ’n situasie, gebeurtenis of verskynsel te beskryf. Dit is ’n effektiewe manier om ’n spesifieke punt te stel of te beklemtoon. Die elemente wat deur middel van ’n gevallestudie beskryf word, kan ’n volledige beeld van die waarnemer se ervarings van ’n gebeurtenis skep. ’n Gevallestudie kan ook gebruik word om in die algemeen die begrip van ’n bepaalde konsep by mense wat betreklik onkundig oor die konsep is, te verbeter. ’n Gevallestudie verteenwoordig dus die innerlike verwysingsraamwerk (of innerlike beleweniswêreld) van ’n spesifieke persoon, en die elemente waaruit dit saamgestel is, is gewoonlik werklike betekenisgewende of kairos-ervarings (Thurstone 2016) vir die waarnemer en behoort gevolglik in daardie konteks gerespekteer te word. Gevallestudies is ook ’n erkende en beproefde metode om sieketoestande te beskryf en word gereeld deur erkende internasionale mediese tydskrifte soos The Lancet en The New England Journal of Medicine gepubliseer.
Persoonlike amalgaamgevallestudies soos dié van Carol Ward, Jaro Pleva en Taskinen (om slegs enkeles te noem) wat aanlyn gepubliseer word, illustreer hierdie sterkpunte van pasiënte se persoonlikhede tydens traumatiese gebeurtenisse en dui aan dat blootstelling aan amalgaam vir hulle unieke gevolge ingehou het.
Vir die doeleindes van hierdie artikel is twee gevallestudies skematies saamgestel en word die besonderhede daarvan in tabelvorm opgesom (tabel 1).
Tabel 1: Vergelyking van twee persone wat aan kwikintoksikasie blootgestel was
|
Persoon |
p1 |
p2 |
|
Geslag |
Vroulik |
Manlik |
|
Kronologiese |
65+ |
72 |
|
Beroepsgroep |
Onderwyseres |
Besigheidsman/ boer/ |
|
Sosio-ekonomiese |
Hoog |
Hoog |
|
Provinsie woonagtig |
KP |
KP |
|
Blootstelling aan |
Ja |
Ja |
|
Tandheelkundige |
Ja |
Ja |
|
Tydsduur van intoksikasie |
2.5 jr |
9 jr |
|
Simptome van |
Agteruitgang van |
Motoriese koördinasie disfunksie; |
|
Klag teen tandarts by HPCSA ingedien |
Nee |
Nee |
|
Vergifnis van |
Ja |
Ja |
|
Intensiteit van trauma agv intoksikasie |
Uitermate hoog |
Uitermate hoog |
|
Mediese hulp tov deïntoksikasie |
Ja |
Ja |
|
Koste van |
R30 000–R40 000 |
R500 000+ |
|
Aard van mediese hulp ontvang |
DMSA-chelering |
Deïntoksikasie; |
|
Effektiwiteit van |
Baie effektief |
Baie effektief |
|
Word nagevolge van kwikintoksikasie steeds ondervind? |
Ja |
Ja |
|
Toksisiteitstoetse |
Ja |
Nee |
Die prosedure wat gebruik is om die gevallestudies saam te stel, het die volgende stappe ingesluit:
- Onderhoude oor hul amalgaam-ervarings is aanvanklik met die twee persone afsonderlik gevoer.
- Daarna het die skrywer ’n gesamentlike sessie gereël waartydens die twee persone se ervarings met amalgaam en kwikvergiftiging met mekaar gedeel en vergelyk is.
- Op grond van hierdie gesprekke het die skrywer die besonderhede in tabel 1 saamgestel.
- Die tabel is afsonderlik aan die twee persone voorgelê vir hul goedkeuring.
- Die inhoud van tabel 1 is ooreenkomstig hul kommentaar gewysig en bygewerk.
- Beide persone se toestemming is verkry om die inhoud van tabel 1 vir die doeleindes van hierdie artikel te benut en te publiseer.
5. Kort oorsig van onlangse amalgaamverwante literatuur
Die trefterm mercury vapor and dental amalgam is op erkende databasisse soos Ebsco Host, Google Scholar, Medline en Medical Database ingevoer om sodoende voorbeelde van die mees onlangse navorsing wat in 2017 oor kwik en amalgaam gepubliseer is, te identifiseer.
5.1 Biomerkers
Akerstrom, Barregard, Lundh en Sallsten (2017) het die verband tussen kwikbiomerkers in die niere, urine, bloed en bloedplasma van ’n groep lewende Sweedse nierskenkers (N=109) wat deur middel van hul dieet en amalgaamvulsels aan kwik blootgestel was, ontleed. Nierbiopsies en urine- en bloedtoetse is uitgevoer. Die totale kwikkonsentrasies vir elke veranderlike vir die pasiënte is bereken, en regressie-ontleding is gebruik om die aard van die verband tussen die veranderlikes te bepaal. Die korrelasiekoëffisiënte tussen die nier-, urine- en plasmamerkers was statisties beduidend, maar nie tussen nierkwikvlak en bloedkwikvlak nie. Die biologiese uitskeidingstyd van kwik het gewissel tussen 32 en 90 dae en was betekenisvol stadiger vir vroue.
Boerleider, Roeleveld en Scheepers (2017) het bevind dat bloed-, urine- en haarmonsters verreweg die beste biomerkers vir blootstelling aan kwik is. Bloedmonsters is effektief vir onlangse en onmiddellike blootstelling aan anorganiese en organiese kwik. Koordbloedkwiktellings is beter biomerkers vir fetale kwikblootstelling, terwyl urinetoetse goeie aanduiders van langtermynblootstelling aan kwik is. Haarmonsters is ’n betroubare biomerker vir medium- en langtermynblootstelling aan kwik, afhangende van die haarlengte.
Selenoproteïen (maw enige proteïen wat ’n selenosistien-aminosuur-residu bevat) word algemeen aanvaar as ’n effektiewe biomerker vir kwikvergiftiging (Branco, Caito ea 2017). ’n Dringende behoefte bestaan aan die validering van betroubare en spesifieke biomerkers wat ’n aanduiding van die vroegste tekens van kwikvergiftiging gee.
Salih en Shakir (2017) het 51 Irakkese kinders tussen die ouderdomme van 8 en 10 jaar in drie groepe verdeel op grond van die getal amalgaamvulsels in die mond: geen vulsels; 1–2 vulsels; en 3 vulsels of meer. Speekselmonsters is geneem voor- en nadat die kinders suikervrye kougom gekou het. Die resultate dui aan dat ’n klein hoeveelheid kwik deurlopend deur die amalgaamvulsels afgeskei word, kwikvrystelling deur die kou-aksies bevorder word, en ’n beduidende positiewe verband tussen die getal vulsels en die kwikkonsentrasie in die speeksel bestaan.
5.2 Genetika
Die Italiaanse navorsers Andreoli en Sprovieri (2017) het ’n literatuurstudie oor die rol van genetika as ’n faktor by die vatbaarheid vir kwikvergiftiging gedoen. Die gevolgtrekking was dat die persoonlike kwesbaarheidsfaktor vir nadelige gevolge van kwik as gevolg van ’n individu se genetiese samestelling ’n nuttige hipotese is om die effek van kwikvrystelling op menslike gesondheid verder te ondersoek.
5.3 Praktykbestuur
Arora, Mittal en Dogra (2017) van Indië stel dit aksiomaties dat kwik ’n neurotoksiese, nefrotoksiese en bioakkumulatiewe chemiese element is. Groen tandheelkundepraktykbestuur is derhalwe ’n absolute noodsaaklikheid. Dit behels die gebruik van voorafingekapselde amalgaam; die gebruik van ’n kwikstortstel wanneer elementêre kwik per abuis gestort word; die vermenging van elementêre kwik met silwerallooi om afval-amalgaam te vorm; maatreëls om te sorg dat elementêre kwik nooit in ’n afvoerstelsel beland nie; gebruik van ’n sponstipe-kwikhouer om afval-amalgaam te stoor; gebruik van ’n amalgaamskeier op die suiglyn, en sodoende die opvang van 95% van die kontakamalgaam voordat dit in ’n afvoerstelsel beland.
Bhardwaj, Bhardwaj en Kalra (2017) sluit by die groenpraktykvoeringfilosofie aan en het bevind dat Indiese tandartse in die algemene praktyk min kennis van doeltreffende kwikbestuurmetodes dra; kwikgesondheidsregulasies nie deur tandartse toegepas word nie; en ’n dringende behoefte aan die inwerkingstelling van ’n sistematiese amalgaamafvalbestuursprogram bestaan. Anupama, Yavaneetha en Sunil (2017) sluit hierby aan en wys ook op ’n gebrek aan duidelike riglyne vir biomediese-afvalbestuur en dat die Indiese professionele tandheelkundige vereniging en die Indiese regering die blaam hiervoor moet dra.
In ’n studie met 50 Indiese finalejaar-tandheelkundestudente (Chandrapooja, Dhanraj en Gounder 2017) is bevind dat meer as 90% van die steekproef kennis dra van amalgaam as ’n stopseltegniek, maar bykans 70% was nie van die nadelige effekte van amalgaam bewus nie.
Loto, Oyapero, Awotile, Adenuga-Taiwo, Enone en Menakaya (2017) het die elementêre kwikdampvrystelling in die spreekkamer van Lagos Universiteit se opleidingshospitaal in tandheelkunde gemeet. Die lugmonsters is tussen 09:00 en 11:00 op ’n hoogte van 1,4 m geneem en deur middel van ’n Lumex-kwikdampmeter ontleed. Onaanvaarbaar hoë kwikvlakke is gemeet. Die aanbeveling word gemaak dat goeie praktykbestuurbeginsels geïmplementeer moet word sodat pasiënte en personeel teen kwikdamp in die spreekkamer beskerm word.
Shirkhanloo, Mehrjerdi en Hassani (2017) het die bloed- en urienkwikvlakke van 50 tandartspersoneellede en ’n vergelykbare kontrolegroep wat nie aan kwikdamp blootgestel was nie, gemeet. Tandartspersoneellede toon meer siektetoestande wat met die sentrale senuweestelsel verband hou as wat die kontrolegroep toon. Die kliniese simptome van tandheelkundige personeel kan met die blootstelling aan laevlak-kwik op lang termyn verband hou, maar kan ook met toename in ouderdom, uitbranding en stres verband hou. Beide bloed- en urinekwikvlakke was vir tandheelkundepersoneellede beduidend hoër as vir die kontrolegroep (Nagpal, Bettiol, Isham, Hoang en Crocombe 2017).
5.4 Diffusie
In ’n studie oor die verspreiding van kwik en ander metale uit amalgaamvulsels na die omringende tandbeen deur middel van femtosekonde lasergeïnduseerde spektroskopie, het ’n Brasiliaanse navorsingsgroep (Bello, Da Ana, Santos, Krug, Zezell, Vieira en Samad 2017) tot die gevolgtrekking gekom dat die bepaling van ’n metaalvoetspoor (vir kwik, silwer, koper en tin) wel meetbaar is; dat die elementpenetrasiediepte vir elke tand dieselfde en konstant is vir beide permanente en niepermanente tande; en dat alle elemente van amalgaam deur middel van diffusie die omringende dentien op grond van presies dieselfde meganisme binnedring.
5.5 Moderne amalgaam
Uit Swede rapporteer Bengtsson en Hylander (2017) dat moderne niegamma2-amalgaamvulsels hedendaags as ’n uiters duursame produk met hoë verweringsbestandheid bemark word. Onder eksperimentele omstandighede (Bengtsson en Hylander 2017) blyk dit egter dat hierdie vulsels ongeveer tien keer meer kwikdamp afskei as die soort amalgaamvulsels wat voorheen gebruik is. Moderne amalgaamvulsels is dus wesenlik onstabiel.
Wat die verband tussen die voorkoms van amalgaam in die mondholte en die aanwesigheid van outoïmmuunsiektes betref, het Crowe, Allsopp, Watson, Magee, Strain, Armstrong, Ball en McSorley (2017) op grond van ’n sistematiese literatuurstudie tot die gevolgtrekking gekom dat die metodologie van die navorsing uiteenlopend is; dat die bevindings teenstrydig is; en dat tans geen voldoende bewys bestaan dat dentale kwik met die voorkoms of die ontwikkeling van outoïmmuunsiektes geassosieer word nie.
Yildiz, Alp, Gul, Bakan en Ozcan (2017) het die bloedtoetse van 19 Turkse pasiënte tussen die ouderdomme van 17 en 23 jaar met amalgaamvulsels van ’n universiteitskliniek vergelyk met 22 vergelykbare pasiënte met harsvulsels. Die oksidatiewe degenerasie van lipied en DNS voor en ná afloop van die tandheelkundige herstelproses is gemeet. Kwikvrystelling deur amalgaam word vergelyk met die vrystelling van monomere deur hars. Die resultate toon aan dat beide tipes vulsels die oorsaak van oksidatiewe stres in die mondholte is.
Lin, Wang, Chiang, Lai, Chang en Chi (2017) verdeel ’n steekproef bestaande uit 88 068 kinders in twee groepe met en sonder amalgaamvulsels. Hulle vind op grond van ’n regressie- en voorspellingsmodel dat die kinders met amalgaamvulsels ’n 20% hoër risiko loop om in die toekoms met aandagtekort-hiperaktiwiteitsteuring gediagnoseer te word.
5.6 Waarneembare gesondheid
Twintig pasiënte wat amalgaamvulselverwydering ondergaan het, is oor ’n periode van vyf jaar deur Björkman, Sjursen, Dalen, Lygre, Berge, Svahn en Lundekvam (2017) gemonitor. Die intensiteit van hul algemene gesondheidsklagtes het beduidend afgeneem, hoewel sekere simptome van kwikvergiftiging steeds by die ondersoekgroep aanwesig was.
Ernstige dermatitis wat op die lyf van ’n 37-jarige vrou voorgekom het, het geleidelik herstel nadat alle amalgaam- en metaalvulsels en ’n prostese met palladiumvrye allooivulsels vervang is (Fujii 2017). Die oorsaak van die dermatitis was waarskynlik ’n oorkruisreaksie tussen nikkel en palladium wat deur kwik vererger is. Allergiese reaksies wat in die mond ontstaan het, het dus in hierdie geval op die lyf voorgekom.
Pelclova ea (2017) beskryf ’n gevallestudie van ’n 41-jarige man wat aan elementêre kwik blootgestel was. DMPS-cheleringsterapie is vir 14 dae toegepas en daarna weer vir 40 dae ná verloop van een jaar. Die chemiese aksie van die middels (byvoorbeeld natrium) wat in cheleringsterapie gebruik word, immobiliseer die werking van kwik in die liggaam. X-straalplate het ná die behandelingsperiode steeds kolle op die pasiënt se longe getoon. ’n Verhoogde kwikbloedtelling, kognitiewe uitvalle soos visuele afleibaarheid, buigsaamheid en geheue- en motoriese abnormaliteite was steeds by die persoon aanwesig. Die gevolgtrekking is dat DMPS-cheleringsterapie nie die binneaarse neerslag van kwik suksesvol verwyder het nie.
Genchi, Sinicropi, Carocci, Lauria en Catalano (2017) toon aan dat die gesamentlike toediening van DMSA- en MIADMSA-cheleringsterapie beter resultate lewer (maw beter kliniese herstel aandui) om kwikneerslae in die liggaam te verwyder as wanneer die behandelingsmetodes apart toegepas word.
5.7 Minamata
Die Minamata-konvensie beklemtoon nege klousules oor die gebruik van amalgaam in die tandheelkundige praktyk (Ogunseitan 2017), naamlik die ontwikkeling van metodes om tandbederf te voorkom en sodoende die gebruik van amalgaam te verminder; die daarstelling van doelwitte om die gebruik van amalgaam te verminder; die bevordering van plaasvervangende opsies vir amalgaamgebruik; die bevordering van navorsing vir die ontwikkeling van alternatiewe hersteltegnieke; die bevordering van opleiding in die gebruik van amalgaamvrye vulsels; die ontmoediging van mediese skemas om amalgaamvulsels goed te keur; die aanmoediging van mediesefondsdekking vir alternatiewe herstelmetodes; die inperking van die gebruik van amalgaam in gekapselde formaat; en die bevordering van beste omgewingspraktyke om die beskikbaarstelling van kwik te verminder.
6. Bespreking
Volgens die gevallestudies (kyk tabel 1) is beide persone aan kwikvergiftiging blootgestel op grond van die verwydering van tandheelkundige amalgaamvulsels in die mondholtes. Die verhoogde kwikkonsentrasies by p1 is deur middel van toksiese toetse bepaal, waarop cheleringsterapie gevolg het. Die tydsverloop van die proses sedert die diagnose finaal geformuleer is, het reeds langer as twee jaar geduur.
Die diagnose van p2 is gefinaliseer tydens sy bywoning van ’n werkswinkel oor toksikologie en tandheelkundige amalgaam in die VSA, en die voorgestelde behandelingsproses (wat medikasie en ’n gesonde dieetprogram insluit) het reeds langer as vyf jaar geduur.
Beide persone toon steeds merkbare en voortdurende simptome, soos geheuedisfunksie by p1 en motoriese disfunksie by p2, wat met kwikvergiftiging geassosieer word.
Die navorsing oor kwik en amalgaam wat in hierdie artikel geraadpleeg is, dui daarop dat (a) betroubare biomerkers vir kwik (wat bloed-, urien-, hare- en speekselmerkers insluit) bekend is; (b) ’n genetiese kwesbaarheidsfaktor vir kwik bestaan; (c) veilige praktykbestuur in tandheelkunde wat amalgaam betref in sekere lande veel te wense oorlaat; (d) ’n metaalvoetspoor vir amalgaam in die mondholte op grond van diffusie identifiseerbaar is; (e) geen eenstemmigheid oor die stabiliteit/onstabiliteit van moderne amalgaamvulsels bestaan nie; (f) en die effektiwiteit van verskillende benaderings ten opsigte van cheleringsterapie onder deeglik gekontroleerde omstandighede verder ondersoek behoort te word. ’n Groot mate van onsekerheid word steeds met amalgaam geassosieer, aldus Ogunseitan (2017:7) wat sê: “Dental-filling amalgam, one of the most controversial uses of mercury, is an informative example of the influence of scientific uncertainty on policy decisions.”
Die twee pasiënte wie se gevallestudies hier bespreek is, se ervarings met kwik- en amalgaamblootstelling was uiters traumaties vir albei. Beide is met die voortdurende onsekerheid oor die effek van kwik en amalgaam gekonfronteer. Hulle het onafhanklik van mekaar besluit om nie ’n geregtelike geding teen die betrokke tandartse van stapel te stuur nie, maar eerder die uitweg van aanvaarding van die situasie en vergifnis van die praktisyns te volg. Hulle het in die proses om tot vergifnis te kom, die grense, beperkinge en fisiese realiteite van hul trauma getransendeer.
Bereidwilligheid om te vergewe vorm ’n belangrike komponent van algemene geestesgesondheid by volwassenes (Toussaint, Williams, Musick en Everso 2001). Strümpher (2005:15) definieer laasgenoemde operasioneel as “fortigenese”. Hierdie model beklemtoon persoonlike sterkpunte of bates (eerder as die afwesigheid van psigopatologie) as die fondamentsteen van geestesgesondheid. ’n Individu se reaksie op ’n bedreiging, verlies of uitdaging hang van ’n wye verskeidenheid faktore af, onder andere die aard van die gebeurtenis; die tyd en plek, en of die gebeurtenis voortdurend van aard is; die genetiese samestelling, psigofisiologiese aard, persoonlikheidsamestelling en lewensfase van die persoon; gesin-, sosiale en kulturele milieu; morele en religieuse agtergrond; en ekonomiese en regspolitiese omstandighede.
Die eienskappe van goedfunksionerende en geïntegreerde persoonlikhede het duidelik tydens die onderhoude wat met die twee persone gevoer is, na vore getree. Hul persoonlike sterkpunte ten opsigte van selfaanvaarding, handhawing van positiewe persoonlike verhoudings, selfstandigheid, suksesvolle beheer van eie persoonlike omgewing, ervaring van sin en betekenis, en die nastrewing van persoonlike ontwikkeling (Strümpher 2005:18) was veral prominent.
Beide persone het positief gereageer op uitdagings wat hul siektetoestande meegebring het en ook ’n weerbaarheid (toughness, kyk Strümpher 2005:26) en ’n sterker terugbonsvermoë of veerkragtigheid (resilience) gedurende hul traumatiese ervarings getoon as wat hulle voor die tyd gehad het.
7. Finale gevolgtrekkings
Die onsekerheid oor die debat duur voort en word verder deur die teenstrydige aard van navorsing oor die onderwerp aangewakker. Die beginsels soos in die verslag van die Minamata-konvensie vervat word, is egter prysenswaardig en poog om goeie praktykbestuur wat die hantering en gebruik van kwik en amalgaam betref, plaaslik en internasionaal te bevorder.
Die reaksies van die twee pasiënte wie se gevallestudies in hierdie artikel beskryf word, getuig van sielkundige sterkpunte en merkwaardige terugbonsvaardighede. Soos Strümpher (2005:15) tereg sê: “It is not a story of remarkable people ... it is a story of just how remarkable people can be.”
8. Opsomming
Raadpleging van die literatuur wat sedert 2017 oor die gebruik van kwik en amalgaam gepubliseer is, dui daarop dat ’n groot mate van onsekerheid oor die effekte en gevolge daarvan steeds bestaan. Twee gevallestudies van pasiënte wat aan tandheelkundige amalgaamintoksikasie blootgestel was, se individuele reaksies op die trauma is in terme van die teorie oor sielkundige fortigenese geïnterpreteer.
9. Kritiese evaluering
Die artikel is aan dr Johan Hartshorne, ’n spesialis in gemeenskapsgesondheid, voorgelê, en dit was sy kommentaar (persoonlike kommunikasie, 10 Augustus 2017):
9.1 Die artikel dek nie ’n verteenwoordigende spektrum van die beskikbare bewysgerigte (evidence-based) literatuur met betrekking tot die argument vir of teen amalgaam- of kwiktoksisiteit nie. Daar is meer bewysgerigte studies wat die veiligheid van amalgaam ondersteun as die gevare daarvan.
9.2 ’n Verdere tekortkoming is dat daar nie verwys word na risikogroepe (verwagtende moeders en kinders); beroepsgevare van kwik; neurotoksiese aspekte; uitfasering van amalgaam; blootstelling aan toestelle (byvoorbeeld selfone) met elektromagnetiese bestraling nie.
9.3 Mense wat in hoërisikogroepe val (soos verwagtende moeders) en pasiënte wat hoë metaalsensitiwiteit toon, moet bedag daarop wees om nie sonder meer amalgaamvulsels te laat uithaal of plaas nie. Op amalgaamhouers staan: “Not indicated for use in pregnant patients”.
My reaksie op 9.1 en deels op 9.2 en 9.3 is dat die doel van hierdie artikel beslis nie is om (a) pasiënte aan te moedig om amalgaamvulsels te laat verwyder nie, en ook nie is om (b) standpunt in te neem ten opsigte van die amalgaamdebat nie, maar hoogstens om die leser van die kompleksiteit van die debat bewus te maak. Die artikel is (c) doelbewus so beplan is om uitsluitlik in die literatuuroorsiggedeelte (afdeling 5 van die artikel) te fokus op navorsing wat sedert 1 Januarie 2017 gepubliseer is. Die rede hiervoor is (d) dat die literatuuroorsig op een of ander wyse realisties afgebaken moes word om die omvang daarvan te beperk, en om (e) sodoende die mees onlangse bewysgerigte tendense uit te lig. Daarom val bekende studies soos Bellinger ea (2006) en De Rouen ea (2006), JAMA 295(15):1784, buite die bestek van hierdie literatuuroorsig.
Bibliografie
Andreoli, V en F Sprovieri. 2017. Genetic aspects of susceptibility to mercury toxicity: An overview. International Journal of Environmental Research and Public Health, 14(1):93.
Anupama, N, R Yavaneetha en D Sunil. 2017. Biomedical waste management in dentistry. Guident, 10:38–42.
Arora, S, S Mittal en V Dogra 2017. Eco-friendly dentistry: Need of future. An overview. Journal of Dentistry Allied Sciences, 6:22–7.
Bello, LT, PA da Ana, D Santos, FJ Krug, DM Zezell, ND Vieira en RE Samad. 2017. Applied Spectroscopy, 71(4):659–69.
Bengtsson, UG en LD Hylander. 2017. Increased mercury emissions from modern dental amalgams. Biometals, 30(2):277–83. doi:10.1007/s10534-017-0004-3.
Bhardwaj, S, A Bhardwaj en T Kalra. 2017. Knowledge and practices regarding mercury hygiene and amalgam waste disposal: A survey among general dental practitioners. Indian Journal of Dental Science, 9:30–3.
Björkman, L, TT Sjursen, K Dalen, GB Lygre, TLL Berge, J Svahn en BF Lundekvam. 2017. Long term changes in health complaints after removal of amalgam restorations. Acta Odontologica Scandinavica, 75(3):208–19.
Boerleider, R, N Roeleveld en PTJ Scheepers. 2017. Biomarkers of mercury toxicity: Past, present, and future trends. Human biological monitoring of mercury for exposure assessment. AIMS Environmental Science, 4(2):251–76.
Branco, V, S Caito, M Farina, J Teixeira, M Aschner en C Carvalho. 2017. Biomarkers of mercury toxicity: Past, present, and future trends. Journal of Toxcicology and Environmental Health, 20(3):119–54.
Chandrapooja, J, M Dhanraj en R Gounder. 2017. Knowledge and awareness about oral galvanism among the final-year students in Chennai. International Journal of Current Research, 9(4):49482–85.
Crowe, W, PJ Allsopp, GE Watson, PJ Magee, JJ Strain, D J Armstrong, E Ball en EM McSorley. 2017. Mercury as an environmental stimulus in the development of autoimmunity – A systematic review. Autoimmunity Reviews, 16(1):72–80.
Dodes, JE. 2001. The amalgam controversy: An evidence-based analysis. Journal of the American Dental Association, 132:48–56.
Fujii, Y. 2017. Severe dermatitis might be caused by a cross-reaction between nickel and palladium and dental amalgam resolved following removal of dental restorations. Clinical Case Reports, 5:795–800. doi:10.1002/ccr3.938.
Genchi, G, MS Sinicropi, A Carocci, G Lauria en A Catalano. 2017. Mercury exposure and heart diseases. International Journal of Environmental Research and Public Health, 14:74.
Jones, LM. 2005. The quicksilver quest. Two psychological studies investigating the effects of mercury in dentistry. DPhil-proefskrif. Massy University, Wellington, Nieu-Seeland.
Lin, P, J Wang, Y Chiang, C Lai, H Chang en L Chi 2017. Risk of subsequent attention-deficit/hyperactivity disorder among children and adolescents with amalgam restorations: A nationwide longitudinal study. Community Dentistry and Oral Epidemiology. https://doi.org/10.1111/cdoe.12327.
Loto AO, A Oyapero, AO Awotile, AO Adenuga-Taiwo, LL Enone en IN Menakaya. 2017. Managing amalgam phase down: An evaluation of mercury vapor levels in a dental center in Lagos, Nigeria. Journal of Dental Research Review, 4:4–8.
Nagpal, N, SS Bettiol, A Isham, H Hoang en LA Crocombe. 2017. A review of mercury exposure and health of dental personnel. Safety and Health at Work, 8:1–10.
Ogunseitan, OA. 2017. Mercury safety reform in the 21st century: Advancing the new framework for toxic substances control. Environment: Science and Policy for Sustainable Development, 59(4): 4–13.
Pelclova, D, S Vlckova, O Bezdicek, M Vaneckova, P Urban, P Ridzon, P Diblik, T Navratil, P Klusackova, K Vlcek, O Benesova, P Trestik, J Homolka en S Zakharov. 2017. Is chelation therapy efficient for the treatment of intravenous metallic mercury intoxication? Basic & Clinical Pharmacology & Toxicology, 120:628–33.
Rathore, M, A Singh en VA Pant. 2012. The dental amalgam toxicity fear: A myth or actuality? Toxicology International, 19(2):81–8.
Salih, BA en AWT Shakir. 2017. Measurement of mercury concentration in saliva of selected sample of children in relation to amalgam fillings. Journal of Baghdad College of Dentistry, 23(1):134–40.
Shirkhanloo, H, MAF Mehrjerdi en H Hassani. 2017. Identifying occupational and nonoccupational exposure to mercury in dental personnel. Archives of Environmental & Occupational Health, 72(2):63–9.
Singh H, KM Dhillon, JS Mann en JS Kumar. 2017. Evolution of restorative dentistry from past to present. Indian Journal of Dental Science, 9:38–43.
Strümpher, DJW. 2005. The strengths perspective: Fortigenesis in adult life. Social Indicators Research, 77:11–36.
Thurstone, B. 2016. Hidden in God. Discovering the desert vision of Charles de Foucauld. Indiana, Ave Maria Press.
Toussaint, LL, DR Williams, MA Musick en SA Everso. 2001. Forgiveness and Health: Age Difference in a US Probability Sample. Journal of Adult Development, 8(4):249–57.
Wolf, R, LC Parish en JL Parish. 2017. Emergency dermatology. 2de uitgawe. Florida, CRC Press.
Yildiz, M, HH Alp, P Gul, N Bakan en M Ozcan. 2017. Lipid peroxidation and DNA oxidation caused by dental filling materials. Journal of Dental Sciences, 20:1–8.
Eindnota
1 Dr Johan Hartshorne, ’n spesialis in gemeenskapsgesondheid en ’n konsultant aan die Universiteit Stellenbosch, word bedank vir sy bereidwilligheid om die tegniese aspekte oor kwik en amalgaam in die teks vir die korrektheid daarvan te kontroleer, asook om die artikel krities te evalueer.
Dr Dewald Botha, ’n tandarts in privaatpraktyk word bedank vir sy belangstelling en wenke in verband met hierdie artikel.
Die taalkundige redigering is hanteer deur Danie Steyl, ’n taalpraktisyn.

