Kwatryne oor plante, gewasse, mens en natuur

  • 0


Oor plante en gewasse

Kokerboom
Aloe dichotoma 

In ons barre Suid-Afrika waar die ongenadige son alles braai,
van Aggeneys deur dorre stof, sand en klippe tot by Alexanderbaai,
staan jy, kokerboom, ongestoord, onwrikbaar stewig in die grond gewortel
en steeds geelblom jy, hoe swaar ook, soos ons almal, want ons is gehard, taai.

Grasaalwyn
Aloe minima 

Grasaalwyn, oorlewingswenner vir almal in ons land,
veldvuur en vertrapping, hoe fel ook, maak jou nie van kant;
tussen  langer veldgras staan jy op  die  grond, nogal klein
en tog stoot jy jou stingel óp en blom aan die bokant.

Smutsvingergras
Digitaria eriantha 

Op alle grondsoorte floreer jy, Smutsvingergras,
selfs oorgeplant in Australië en Amerika;
hoe jy jou ook al loswikkel, jou wortels bly Afrikaans,
maar vir óns skrale lewensbrood is jy steeds nommerpas.

Oor mens en natuur

Verswakking

Die dokter vind verswakking in ’n orgaan,
niere, min suurstof in spiere van die hart;
ek is ’n ou hond wat styf-styf opstaan
en op drie pote probeer om bewerig te staan.

Moeilik loop 

Wat het geword van my voete en bene sonder weerga,
rats soos ’n ribbok, en nou brommend soos ’n gewonde by
moet ek spartel met ’n kierie om gewig te dra; driepoot
hond stryk ek sukkel-sukkel aan na plekke digby.

Lente

Sal ek nóg ’n winter lewend kan afsluit?
Vrolik is elke voël, vlinder, blom en by;
struike en rose spruit tere blaartjies uit,
maar vir my sal dit steeds laat-herfs bly ...

Armes

By hul lewe in leegtes van stof en modder leer ons van armes
dat met die strooi van deeglike stikstof van liefde en deernis
in die vlei se glibberige modder, gaan die wit vleiblom
oop in ’n glimlag en verbind ons met medemenslike gom.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top