Kwaad word en slaap

  • 0

Baie aande, so kort voor insluimering, het ek lê en dink aan die een persoon wat ek nog graag aan die strot sal wil gryp. Of, dalk met suur sy tuin sal gaan opmors, daardie tuin wat ek help plant het; of dalk die grasdak-lapa aan die brand wou steek, daardie een wat met my geld help bou is. Of dalk, net ‘n vrot vis weekliks in sy posbus te gaan gooi, of om naamloos sy vrou te laat weet watse swakkerd hy werklik is. Die gemiddelde mens sal redelik maklik die afleiding kan maak dat daar iewers in hierdie provinsie ‘n ou rondloop vir wie ek nog effens kwaad is. En ja, as dit nie was dat ek my Vader liewer as vir hom het nie, dan het ek seker aan die kwade drome lewe gegee.

Dit mag dom klink, maar hoeveel keer het jy al iemand vir wie jy duidelik kwaad behoort te wees, probeer oortuig dat dit nie die geval is nie? Om die een of ander rede, weerstaan sommige mense dit om te erken, beide aan hulself en ander, dat hulle kwaad is. Ek het agtergekom dat ek nie veel kan doen aan iets, wat ek nie self erken wel daar is nie.

Daarom het so ‘n mate van bewuswording deel van die dag se bestaan geword. Wanneer 'n onaangename emosie of gedagte ontstaan, onderdruk ek dit nie, ek nie loop weg van dit af nie, of ontken dit ook nie. In plaas daarvan, neem ek die ding aan deur dit ten volle te erken vir wat dit is. Diepe eerlikheid met myself, dwing my dus.

Dit is belangrik om te verstaan dat woede iets is wat deur jouself geskep word. Dit het nie gekom wortelskiet in jou kop en skielik die lot daar binne begin besmet nie. Ons is geneig om te dink dat woede veroorsaak word deur iets buite onsself, soos ander mense of frustrerende gebeure. Maar my Oupa het gesê: "Niemand maak jou kwaad nie. Jy maak jouself kwaad. "

Die Woord leer ons dat woede geskep word deur die sondige natuur. Maar wanneer jy te doen het met jou eie woede, moet jy meer spesifiek wees. Woede daag ons uit om diep na onsself te kyk. Die meeste van die tyd, is woede maar net ‘n manier van selfverdediging. Dit spruit uit onopgeloste vrese of wanneer ons ego-knoppies pap gedruk word. Woede is onaangenaam, maar tog so verleidelik. Daar is iets heerliks oor die foutvind met 'n ding wanneer jy moeg of gefrustreerd of net misluk is. Dan kan ons kwaad raak vir wat op ‘n andertyd, as niksseggend beskou sal word. As iemand dan net durf waag om jou teë te gaan , veral wanneer ons ego's betrokke is (wat byna altyd die geval is), dan pluk ek net die woedebui uit om my te beskerm. Ons regverdig dit en voed dit selfs.

Ek is so diep spyt elke keer wanneer ek buite myself kwaad word, want feit is: woede is nooit geregverdig nie. Ons geloofspraktyk leer ons tog dat 'n liefdevolle goedheid teenoor ons naaste geleef moet word. Dit sluit die ou in wat my baan by die N1-afrit afsny, so ook die kollega wat krediet geneem het met my idees, en selfs iemand wat so beheer oor my selfbeeld geneem het, dat ek vergeet het wie ek is.

Om hierdie rede, wanneer ons kwaad word, moet ons groot sorg neem om nie te reageer op ons woede en ander seer te maak nie. Die wiel van Godsgeregtigheid draai vir ons almal. Ek moes ook aanvaar dat ek versigtig moet wees, om nie my kwaadgeit vir eers êrens “op te hang”, sodat ek dit later weer kan gaan afhaal nie. Want dit het die stilnagwoede voeding en 'n blyplek gegee.

Die laatstaan-stuk is die moeilikste. Ek erken deesdae dadelik wanneer ek kwaad word, en ek doen onmiddellik selfondersoek, om te verstaan wat aangaan en wat die woede veroorsaak het. Tog, is ek selfs na al die introspeksie, soms nog steeds kwaad. Wat is volgende?

Geduld. Geduld beteken “wag om op te tree of te praat”. Soos my wyse geselsvoorreg vroeg in ons verhouding gesê het: “Stop, Wag, Dink”. So met die geduldige oefening daarvan, het dit my keer op keer gehelp om die kwaadheid aan sy strot te gryp, voordat dit skade veroorsaak.

Geduld met SWD, skep ruimte vir eerlikheid met jouself en beter nagruste.

Hennie Fritz

Naskrif: Hierdie stuk moes ek vir meer as een rede uitkry. Dankie, die afskeid is goed.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top