Kuur

  • 0

kuur

Foto: Canva

dalk het die aarde minimaal
geswik in sy wenteling
dalk was daar in sy baan
’n bestemde wankeling

en deur die kleinste kier in tyd
deur ’n ruimtelike gleuf
glip ’n verworde virus uit
’n teistering sonder onderskeid

en die hele aarde word siek

diep verkweld en bang
die strate verlate
die bordjies verhang

in ’n kamer vol son
pak sy stillewes uit
vase en blomme en boeke
vrugte in bakke op bont tafeldoeke

met liggetinte water lê sy die gloed
deur die venster neer op papier
laai dan die kwas swaar met pigment
en skilder sorgsaam ’n kuur

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top