Kunsuitstalling en boekbekendstelling “86 Days in the City of Lights” deur Eric Möller

  • 0


Die Stad van Lig
Kunsvereniging Pretoria
Mackiestraat 173, Nieuw Muckleneuk, Pretoria
Vrydag 23 September 2011


Eric Möller
het in 2010 vir drie maande as besoekende kunstenaar in die Paryse Cité Internationale des Arts vertoef.  Vir hom was dit ’n oorrompelende ondervinding wat hom ontroer en geïnspireer het. Parys, soos destyds vir Hemmingway, was vir hom ’n ware “moving feast” wat hom met ’n uitbundige  joie de vivre vervul het. 

In Eric se eie woorde: “My werke verskil in styl, tegniek en gedagtes om by die kyker tuis te bring dat ’n oopkop-besoeker aan Parys tot die oortuiging sal móét kom dat die lewe ’n fees is om mens te betower, te verlei en weg te voer.  Die werke wissel van eenvoudige, amper karikatuurtekeninge van “can-can”-danse in die Moulin Rouge tot abstraksies van dwalende geeste in die skemeragtige, nou straatjies van Mont Martre of  lewendige indrukke van kafees in die Marais, sierlike Art Nouveau-argitektuur en spookagtige visies van prostitute in die Bois de Bologne. In die geheel is die uitstalling ’n hoogs persoonlike relaas van ’n besoeker wat die Stad van Lig ervaar, ontdek en met oorgawe belewe het.”

Boonop was Eric se Paryse verblyf die inspirasie vir ’n boek wat ontstaan het uit die talle e-posse wat hy aan vriende gestuur het. Met sy terugkeer het hy besef dat hierdie briewe eintlik in ’n boek verwerk kan word. Met die nodige versorging het hy toe die manuskrip aan ’n Britse uitgewer gestuur wat dit onmiddellik opgeraap en uitgegee het met die titel 86 Days in the City of Lights.

“My boek”, sê Eric, “is lekkerlees, meestal lighartig, soms bietjie laf, onbeskaamd eerlik met hier en daar diepsinnige bepeinsings. Dit is terselfdertyd ’n reisgids vir mense wat bereid is om ongebaande weë te betree.”  Die Suid-Afrikaanse bekendstelling van die boek vind ook op die aand van die opening van sy uitstalling plaas.

Eric se uitstalling word deur Marinus Wiechers geopen op Vrydag 23 September 2011 om 18:30 vir 19:00 in die Mackiestraat-kunsgalery van die Kunsvereniging Pretoria en duur tot 19 Oktober 2011. Op Saterdag 15 Oktober 2011 om 11:00 is daar ’n rondleiding deur die kunstenaar/skrywer.

Galeryure
Dinsdag tot Vrydag:  09:00 tot 18:00
Saterdag:  09:00 tot 14:00

Tel:  012 346 3100
artspta@mweb.co.za
www.artsassociationpta.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top