Kunstenaar van die lem: Etienne van Heerden se Die wêreld van Charlie Oeng

  • 0

Die wêreld van Charlie Oeng
Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624080527

Hierdie bydrae is uit eie beweging as lesersreaksie gestuur.

“Helder water is die woorde, melodieus is die see van betekenisse,” dink Charlie op pad na Suid-Afrika (209). Dit is wys om met hierdie woorde in gedagte Etienne van Heerden se nuwe roman, Die wêreld van Charlie Oeng, aan te pak. Al die versigtig gekose woorde, frases en sinne pas in mekaar soos in ’n legkaart wat onvoltooid sou wees as daar maar net een stukkie ontbreek, miskien onbenullig op sigself, maar onlosmaaklik deel van ’n groter, voltooide geheel. Só kunstig word die leser toegespin dat hy ietwat te laat besef dat geen ontsnapping uit die web moontlik is nie. Dit word gou duidelik dat die skrywer veel meer op die hart het as net ’n Chinees se wedervaringe in Suid-Afrika. Niks in hierdie roman is soos dit op die oppervlak lyk nie. Wat begin as ’n oënskynlik lekkerleesverhaal, dwing lesers subtiel om ook op persoonlike vlak bestekopname te neem van eie oortuigings, om ongemaklike kwessies en situasies wat voorheen eerder geïgnoreer is, uit snippermandjies op te diep. Die bloederige lem van Charlie Ng word ’n instrument waarmee die skrywer die spreekwoordelike keiser se klere sekuur in een haal afstroop en die leser staan nakend met ’n bloederige gemors op sy bors met ’n swaelreuk in sy sinusse wat net nie wil wyk nie. Krygstegnieke word nie net aan verskeie karakters onderling geleer nie, maar ook aan skrywers: moenie wegskram wanneer ’n storie homself kom aanmeld nie; sorg dat jy skerp sien en ontbloot die waarheid, wat dit ook al mag wees.

Op die eerste vlak van die roman gaan die storie oor Tian Kilian, boekuitgewer en skrywer van die verhaal, se soeke na die psige van sy ouers se moordenaar, Charlie Ng, ’n Chinees wat in die sestigerjare ná vele omswerwinge, gebeurtenisse en ’n sameloop van omstandighede op ’n dorpie in die Karoo uitspoel, homself in ’n vervalle skuur vestig en sy brood en botter verdien deur velle en bene te smous aan ’n fabriek in die Baai.

Gelyklopend jukstaponeer die verteller sy eie grootwordjare as aanvanklik bevoorregte blanke kind in Suid-Afrika gedurende die hoogtepunt van die apartheidsera. Met hierdie kennis hoop hy om van die swaelreuk wat hom al van sy ouers se moord af omgewe, ontslae te raak.

Verskeie raakpunte en omstandighede tussen die twee karakters bring hulle al hoe nader aan mekaar totdat die een uiteindelik in die ander vervloei. Hierdie vervloeiing vanuit twee verskillende verwysingsraamwerke begin heel onskuldig wanneer Tian aan die begin van die roman in Charlie se toorwiel gaan sit (16–7). Hy ril onwillekeurig en hoendervleis slaan op sy hele liggaam uit. Van hierdie oomblik af kleef ’n Charlie-reuk aan Tian waarvan hy maar net nie ontslae kan raak voor veel later in die verhaal wanneer hy sekere kwessies vir homself kon uitpluis nie. So byvoorbeeld sê Tian op bl 313: “Dieper en dieper begeef ek my in Charlie Ng se gemoed in, in ’n poging om hom te verstaan, want as ek hom begryp, het ek die roete na myself gevind.”

Van Heerden slaag uitmuntend daarin om Charlie as ’n volronde karakter te teken, iemand met wie die leser empatie ontwikkel. Tian besef in die Chinese woonbuurt in Amsterdam wat dit van Charlie moes geverg het om uiteindelik in Suid-Afrika te land, dat die reis nie maklik kon gewees het nie. Al word Charlie al hoe meer die produk van sy donker verlede wat ongetwyfeld van hom ’n geslepe wreedaard vol woede en frustrasie gemaak het, word die leser voortdurend daaraan herinner dat daar ook ’n sagte en sensitiewe kant aan sy karakter is. Nie alleen probeer hy die lewe vir ander makliker maak nie, maar hy vereenselwig hom ook met die vlakte se diertjies en goggatjies wat, net soos hy, onophoudelik sukkel om te oorleef, en hy word lief vir hulle (226).

Dit is interessant om na te gaan presies hoe Van Heerden sy sentrale tema rondom hierdie twee karakters uitbou. Maatskaplike omstandighede speel ’n belangrike rol in die volwassewording van beide mans. Tian word groot in die apartheidsjare in Suid-Afrika, Charlie as derdegenerasie-migrant in Nederland. Van Heerden stel die eensame wêreld van migrante in Nederland teenoor die inheemse bevolking in Suid-Afrika voor 1994. Die lewe van die migrant in Amsterdam word metafoor vir die lewe van swart mense in Suid-Afrika. Die een is ’n inkommer in ’n vreemde land, die ander inheems aan sy eie geboorteland, maar optredes, of gebrek daaraan, het dieselfde gevolge vir beide se lewens. In die huidige tydsgewrig raak migrante ’n al hoe groter probleem in Oos-Europa, en inwoners van gasheerlande al hoe minder geneë om hierdie vreemdelinge in hul midde te verwelkom. Dit wat Charlie op hierdie dorpie in die middel van nêrens ervaar, intensiveer die vernedering, skaamte en gebrek aan selfrespek wat hy as migrant tot nou toe aan eie bas ervaar het tot ’n blinde woede teen die lewe en onreg. Wanneer Sy, sy enigste hawe op die stormsee van hierdie lewe, van hom weggeneem word, ontketen die feit dat hy sy laaste greintjie selfrespek verloor het, vlakke van witwarm woede, haat en aggressie wat Charlie nie gedink het in sy wese skuil nie. Daar is vir hom net een manier om weer ware vryheid te smaak en dit is deur die lem in sy hand. Grense is oorgesteek, reg en geregtigheid sal soos ’n bloederige feesmaal van die tafel af drup, en hy wat Charlie is, sal soos die eens dooie skoenlapper op sy tekening vry in die wind wees. Sy wraak was nie soseer teen Pa en Ma persoonlik nie, besef Tian later met nuwe insig, maar teen die idee dat sekere mense knus tuis voel in die een of ander ideologiese wanopvatting wat hulle bevoorreg bo ander en klaarblyklik aan hulle die reg gee om ander van hul menswaardigheid en selfrespek te stroop. Vergelyk in hierdie verband ook die Duitse oorlogsoffisiere vir wie Charlie kok speel.

Subtiele aansnyding van uiters plofbare temas word geteken binne die konteks van die verhaal en kom daarom natuurlik en ongedwonge oor – trouens, in Van Heerden se verhaal vorm dit deel van ’n groter universele tema so oud soos die mensdom self. Van daar die sirkel op die boek se stofomslag. Temas omvat nie alleen die wêreld van ’n enkeling nie. Dit mag op die oppervlak lyk asof individue heel gemaklik in hul eie geselskap is, maar uit die roman is dit duidelik dat die een nie suksesvol sonder interaksie met ander mense kan funksioneer nie. Wanneer hierdie interaksie om die een of ander rede gebrekkig of onsuksesvol is, het dit negatiewe gevolge vir beide die individu en die gemeenskap waarvan hy veronderstel is om deel te wees. Onder hierdie omstandighede speel oorsaak en gevolg ’n rol wat nie misken kan word nie.

Migranteskrywers sedert die begin van die 21ste eeu wat vanuit eie perspektief in Nederlands begin skryf het, het sekere eiesoortige temas in hul skryfwerk ontwikkel wat spesifiek fokus op alledaagse problematiek wat hulle as migrante in gasheerlande ervaar het. Wat aanvanklik Charlie se belewingswêreld was, kom mettertyd ongemaklik naby eie huis en haard, soos onder andere vooroordeel, ontkenning van menswaardigheid, diskriminasie, ekonomiese uitbuiting, onwilligheid om andersheid te akkommodeer, gebrekkige kommunikasie, bespotting, vervreemding, kultuurbotsings as gevolg van onkunde, marginalisering, buitestanderskap, gebrek aan identiteit, liminaliteit, vernedering, en so meer. Charlie word versamelnaam van hierdie oorsake en gevolge. In sy geval veroorsaak onbeskryflike vernedering as gevolg van verlies aan menswaardigheid dat sy opgeboude woede uiteindelik ontplof, net soos die stoomketel van die trein wat hom en later ook vir Mavis Latsky na die Karoodorp sou bring. Aan die ander kant is daar ook die stille meerderheid, “Gelatenheid”, wat net ’n lont (Simon Mtuze) in die kruitvat nodig het. Dit sluit simbolies aan by Charlie se “Groot Insig”.

Verskillende vlakke van bewustheid, of dan bewuswording, staan sentraal in die roman. Waarskuwings is aan die orde van die dag en niemand kan onkunde pleit sonder om hul eie gewete te verkrag nie. Tian se ma waarsku hom reeds aan die begin van die roman dat hy die aand van die vuurwerkvertonings moet wegbly van die crackers af – mens kan ’n oog of ’n toon verloor (17), min wetende waarop hierdie oënskynlik minder belangrike waarskuwing gaan uitloop. Selfs Ouma Ogies, ’n gerespekteerde waarsêer in die gemeenskap, se waarskuwings dat hier ’n man gaan aankom wat alles gaan verander, word in die wind geslaan (109), al weet almal dat sy as blinde oor ’n soort instink beskik wat ver verby sintuiglike vermoëns gegroei het. Uiteindelik probeer sy ’n klag teen God lê, maar ook dit word nie deur die dorpsprokureur ernstig opgeneem nie. Ook Tian word mettertyd bewus van verskeie geheime en hy begin al hoe meer om dit van sy ouers te weerhou omdat hy ook nie meer so seker is wat om van hul oortuigings te dink nie. Sy Pa verteenwoordig soms mense wat die slagoffers van onreg is, maar verkies meestal om nie té veel stof op te skop nie, want dit is sleg vir besigheid. Die gewone orde van dinge moet gehandhaaf word. By herhaling wys ander daarop dat die wit man altyd haastig is, só haastig dat hy fisies sien, maar eintlik stokblind is. Op bl 309 vra Ouma Ogies vir Missus Mtuze: “Is blind dan wit?” Hiermee saam hang natuurlik sintuiglike waarneming. Veral reuke, en veral dié wat aan karakters kleef, loop hand aan hand met verskillende motiewe en simbole wat saam met die storie ontwikkel.

Die reuk van die gragwater in Amsterdam nadat Lise Vroman daarin geval het, sal Charlie nooit vergeet nie. Sy herinnering aan ’n tyd toe hy vry en ongebonde was, word versuur deur die feit dat dit van hom weggeneem is deur mense wat, soos die Hollander in Amsterdam, stap met ’n houding asof die aarde syne is (99). Hierdie wete bly kleef aan hom net soos die swaelreuk van sy vuurwerke met ’n onheilspellende ondertoon, want hierbenewens ruik Charlie se lyf ook na swael, dooie varke, ou velle, beendere en afgeslagtheid. Die goedkoop reuk van die Filippynse prostituut kan hy, net soos sy status as migrant, ook nie van sy hande afgewas kry nie. Die reuk van Sy se parfuum luier ook nie meer in sy neusgate nie, want sy is, net soos die verlies van sy gesig, ook vir altyd weg. Charlie is uitgespoel op die verlate strande van hierdie lewe, maar hy gaan dit nie daar laat nie: iemand moet boet en hy begin om ’n slim, sluwe plan te bedink. “Gelatenheid” word aksie, die lem in sy hand.

Niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie en die gevolge hiervan speel uit in die roman wat soos ’n rivier rustig, maar donker en onheilspellend parallel saam met die storie vorder en orals in verskillende gedaantes kop uitsteek. Tian se pa en ma, as vergestalting van die bevoorregtes, sien maar registreer nie. Dit is ironies dat Pa se verkyker altyd binne bereik op die sideboard lê (13), maar hy kyk sonder om te sien, net soos die onsiende oë van die opgestopte kanaries wat herhaaldelik in die roman opduik. Ma verwys na die sloot op haar familieplaas wat stadig maar seker alles in sy pad verteer, maar besef nie dat die kanker waarna sy verwys, reeds terminaal is nie, dat dit reeds ’n lewe en momentum van sy eie gekry het wat onstuitbaar is en selfs nie deur die skrywer beheer kan word nie. Soos paddas op ’n stoof besef hulle nie dat die water stadig maar seker besig is om al hoe warmer word nie.

Sonder uitsondering worstel elke karakter in die roman, bewustelik of onbewustelik, met die een of ander manifestasie van skuld: Cor van Gogh omdat hy toegegee het aan afdreigings en daardeur mense se lewens in gevaar gestel het; Mavis omdat sy vir Charlie toestemming gegee het om haar motorhuis as ’n fabriek te gebruik; Ouma Ogies omdat niemand na haar voorspellings wil luister nie en sy nie die uitkoms daarvan kan verander nie; Ouma Voetjies omdat sy haar kleinseun na sy verderf stuur; Charlie omdat hy sy pa gesig laat verloor het; Tian omdat hy geheime bewaar het wat hy terugskouend eerder met sy ouers moes gedeel het. Skuld en die verskillende fasette van hierdie meerkantige begrip konfronteer lesers met ongemaklike vrae waarop antwoorde nie so voor die hand liggend is soos wat dit met die eerste oogopslag lyk nie. Wie moet aanspreeklikheid aanvaar en watter gewig moet aan ’n pleit van onkunde toegeken word? Maak die feit dat Tian nie vrae gevra het nie, maar bloot die status quo aanvaar het, dat dinge nou maar eenmaal is soos dit is, hom ook skuldig aan enige oortreding?

Wat van oorsaak en gevolg? Charlie oorweeg nog sy opsies, toe gebeur die voorval by die brug in Amsterdam waarvan hy ook nie heeltemal vry te spreek is nie (aberratio ictus). Sy hele lewe lank agtervolg die spook van Lise Vroman hom, maar hierdie gebeurtenis stuur sy lewe in ’n bepaalde rigting wat hy waarskynlik nie self sou gekies het as hy ’n keuse gehad het nie (137). Wat van die politieke ideologie wat deel van die maatskaplike omstandighede was waarin Tian grootgeword het en wat aanleiding gegee het tot die byna onmenslike tragedie? Is beide Charlie en Tian nie net slagoffers van omstandighede en daarom op vryspraak geregtig nie? Nie een van die twee het tog met eie hande die moord(e) gepleeg nie. Watter rol speel ’n groepering se geskiedenis en/of die noodlot in ’n individu se lewensverloop? Selfs Tian speel aan die begin met die gedagte dat sy ouers waarskynlik ook nie geweet het wat aangaan in die land nie, maar soos sy reis vorder, word hy wreed ontnugter. Hy worstel die grootste deel van sy volwassewording met die vraag of hy dalk die uitkoms kon verander het, en of hy bloot slagoffer was van die omstandighede wat tot die tragedie aanleiding gegee het. Net so is Charlie Ng se familie ook nie heeltemal vry te spreek nie. Die jas wat Charlie dra wanneer hy varke slag, is metafoor vir die liederlikheid wat onverbiddelik sy lewe in ’n bepaalde rigting gestuur het. Wanneer Ouma Voetjies hom versoek om dit uit te trek, bedoel sy baie meer as net die fisiese ontslae raak van die kledingstuk, maar sy weet dat dit reeds te laat is. Daarom bewe haar onderlip en sak sy oud, gedaan en afgetakel in dieselfde stoel neer as waarin Charlie opgelei word in die handel en wandel van ’n triadelid. Sy het deur die miskenning van Charlie se talent en passie daartoe bygedra dat hy die eerste tree op ’n pad van totale selfvernietiging gegee het. Is die individu in sodanige gevalle aanspreeklik vir die wandade van sy voorgeslagte, en is dit geregverdig om die noodlot, of selfs God, ook in die beskuldigde bank te plaas? Is daar ’n mag groter as die individu self wat lotsbepalend is en waarin keuse-uitoefening ’n minimale rol speel? Uiteindelik besef Tian dat hy die geskiedenis van sy voorgeslagte soos ’n voorbode in sy lyf dra (147) en dat hy nie op volkome vryspraak geregtig is nie. Net so kan Charlie hom ook nie op die wandade van sy familie as verweer beroep nie.

’n Belangrike vraag in regspleging is die vervaldatum van aanspreeklikheid. Bly dit ’n gegewe solank as wat wandade van die verlede voortleef in die databank van ’n individu of groep se geheue? George Dun wys vir Charlie daarop dat sy wegdra van die triade se kontant die nag toe hy ontsnap het, nie uit die geheuebank verdwyn het nie. Hy moet pa staan. Dieselfde is waar van Veiligheid se vergrype, al ontbreek woorde wat dit beskryf in woordeboeke. Die feit dat lyke in die middel van die nag langs verlate plaaspaaie weggegooi is, ongemaklike bewyse in snippermandjies beland het, of gebeurtenisse nie in amptelike geskiedenisboeke opgeteken is nie, laat dit nie verdwyn nie. Iewers onthou iemand. So byvoorbeeld teken Witkant die lewe van die mense wat aan die verkeerde kant van die muur woon, noukeurig in sy weegjoernaal aan. Ouma Ogies is reeds geheue; in haar is die geskiedenis wat nog moet gebeur, reeds opgeteken. Daarom is al haar pogings om die onverbiddelike gang van die geskiedenis te verander onsuksesvol, en die gewig daarvan trek haar lyfie krom (447, 456). Het sy dan nie van meet af aan die lem in die water gesien nie?

Spoke, of drogbeelde in die sloot op Slootplaas wat aan Boesmantekeninge herinner, is deel van die geheuebank van hierdie land. Dit is niks anders as transportaktes van die eerste inwoners wat al skreeuend ’n verhaal vertel van onreg, ontworteling, ontbering en liefdelose, wrede dade wat mense reeds oor eeue heen teenoor mekaar pleeg, of gepleeg het nie. Die leser word bewus van die feit dat daar onheilspellende onderstrominge in die sloot is wat tot uiting kom in Skreeu. Net soos wat individue nie opgeboude momentum van oorsaak en gevolg kan keer in hul persoonlike lewe nie, net so kry oorsake en gevolge op ’n breër vlak ook ’n onstuitbare momentum van sy eie. Dat ’n nuwe tydvlak in aanloop is, word vervat in die feit dat Solomon Mtuze begin om weer selfbewuswording onder sy eie mense aan te wakker. Uiteindelik sal Veiligheid, wat nou so heer en meester speel oor die lotgevalle van ander, moet vlug voor die geeste wat die Sandsloot bevolk (141).

Wie is te blameer, wie moet die skuld dra en is daar verskillende grade van skuld afhangende van bepaalde optredes of gebrek daaraan? Moet God nie ook tot verantwoording geroep word nie? In aansluiting hierby, wat van belydenis of die aflaat van skuld? Neem dit straf weg, of op die minste, kanselleer dit so ’n bietjie van die aandadigheid uit? Op watter vlak lê reg en geregtigheid en op wie rus die bewyslas? Tian het sy pa dikwels vergesel wanneer hy by strafsake op naburige dorpe betrokke was. Hy het sy pa dikwels in aksie gesien, iemand wat met groot onderskeiding die getuienis van getuies en aangeklaagdes kon lei totdat die regte storie uit die verf kom. Tian raak histeries tydens sy pa en ma se moordverhoor, waarskynlik omdat hy weet die volle waarheid is nie vertel nie. Die werklike oortreders staan nie in die beskuldigdebank nie. Die voorsittende beampte help ook nie veel dat reg en geregtigheid seëvier nie. Die landdros verpersoonlik een van die hoekstene wat die vorige bedeling in stand moes hou (312), maar ook hy worstel met vrae oor wat geregtigheid werklik beteken: mensgemaakte wette of veel eerder jou persoonlike gewete. Wanneer hierdie stryd vir hom te veel word, gaan drink hy in die Boek Oase tee saam met Ouma Ogies. Al twee van hulle swyg oor daardie dinge wat in die heersende politieke klimaat nie onder woorde gebring mag word nie, anders as die objekte wat Charlie teken en wat deur Cor of Witkant se aanraking lewendig raak met ’n lewe van hul eie.

Tussen hierdie warboel van reg en geregtigheid, kennis en onkunde, oorsaak en gevolg, skuld en aanspreeklikheid, neem die religieuse weliswaar ’n onderbeklemtoonde, maar daarom nie ’n minder belangrike posisie in die verhaal in nie. Charlie se van is nie verniet Ng nie. Die skrywer het sy lem nie net in vir ’n kerk wat meegehelp het om ’n bepaalde ideologie op Bybelse gronde in stand te hou nie, maar eintlik vir verskillende gelowe. ’n Simboliese plek wat veronderstel is om ’n tuiste te bied vir die verstotelinge van die wêreld doen dikwels die teenoorgestelde. So byvoorbeeld bied die slams aan Charlie ’n ou verwaarlooste hoenderhok as tuiste, maar kniel dan sonder enige gewetenswroeging op sy bidmatjie, rigting Mekka. Soveel vir medemenslikheid.

Daar kan nie van Charlie gesê word dat hy nie probeer het om aanvaarbaar te wees nie. Hy probeer juis om plaaslike onkunde oor sy Oosterse afkoms op verskeie geleenthede te besweer, die belangrikste waarskynlik wanneer hy sy toorwiel voor die Boek Oase trek en aan Tian se ma die Chinese sprokie van die erdwurm en die verlore biblioteek vertel. Ten spyte van die feit dat haar boekwinkel die middelpunt van sosiale samesyn in die gemeenskap is, is dit niks anders as die toegemesselde biblioteek in sy sprokie nie. Te midde van al die boeke staan een oor die Chinese kultuur eenkant, vergete en vol stof, want niemand het die behoefte om meer uit te vind oor die vreemdeling in hul midde nie. Hy steek ’n hand van vriendskap uit, maar dit word simbolies weggeklap, nogeens ’n oënskynlik onbenullige gebeurtenis in die alledaagse lewe van die dorpsbewoners, maar in terme van die roman, met gelaaide betekenis. Uit hierdie sprokie is dit ook duidelik dat niemand onkunde as verweer kan pleit nie.

Plek, in die sin van ’n emosionele tuiste, neem ’n besonder belangrike posisie in die lewe van ’n ontwortelde persoon in. Reeds as kind kon Charlie geen rusplek vir sy voet vind nie, word hy as verstoteling nie net in sy huisgesin nie, maar ook in die openbare domein van herwaarts na derwaarts gestuur. In Suid-Afrika plak hy tussen bosse en slaap in ’n gat in die grond, in rioolpype of tussen sinkplate wat eenmaal ’n hoenderhok was. Uiteindelik word ’n vervalle, eienaarlose skuur ’n dak oor sy kop. “Skuur” verbind die slagterskuur in Oudekerk aan de Amstel met die vervalle skuur op die Karoodorp as simbool van Charlie se vorige lewe waarin geweld, bloed en dood deurslaggewende rolle gespeel het en waaruit hy só graag wou ontsnap, maar wat hom tot in Suid-Afrika agtervolg soos sy eie skaduwee. Hier in die middel van die Karoo, in ’n land waar hy gedink het dat hy uiteindelik ’n holte vir sy voet sal vind en sy vorige lewe vir altyd sal kan agterlaat, gaan geweld en doodslag weer oorneem en dit op ’n skaal wat hy self nie vroeër kon bedink het nie. Tog probeer hy deur middel van sy toorsirkel, vandag hier, môre daar, iewers ’n kleim afsteek, byna net soos die wilde renoster wat sy nuwe terrein op kenmerkende wyse merk (269), maar hoe hard hy ook al probeer, ’n gevoel van “behoort aan” bly hom ontwyk. Hy is niks anders as ’n randfiguur en buitestander nie.

Dit wat vir Charlie ’n toevlugsoord moes gewees het (13, 400) teen die wreedhede en onreg wat hy in die wêreld moes verduur, word niks anders as ’n tronk wat hom finaal van sy vryheid beroof nie. Saam met die muur waarteen Witkant sit, is die sirkel ook ’n simbool van uitsluiting: dit is ek/ons hier binne teen die wêreld daar buite: ’n ideale broeiplek vir ’n gevoel van verontregting met gepaardgaande gevolge. ’n Sirkel speel ook ’n belangrike rol in Charlie se inisiasie by die Chinese triade, en hierdeur draai Van Heerden die algemene simboliese betekenis van ’n sirkel binne die literatuur om. In plaas van net geborgenheid kan ook boosheid binne-in ’n sirkel vasgevang word, soos wat hier inderdaad gebeur. Dit word uiteindelik beliggaam in die toorsirkels wat Charlie met sy pendoring trek. Wanneer hy fisiek en geestelik uit die sirkel tree, neem hy die boosheid met hom saam en versprei dit soo ’n swaelreuk wat baie meer as net homself omsluit.

Vryheid het verskeie gedaantes, maar is waarskynlik een van die mees basiese begeertes van ’n mens, veral onder omstandighede waar dit van jou weggeneem word. Charlie verkies stilte, omdat hy nie oor die vermoë beskik om hierdie begeerte oor te dra nie. Hy sonder homself in sy sirkel af. Sy onvermoë om te kommunikeer word sy tronk (354). Aanvanklik kon hy as jongeling op ander mense se fietse volkome vryheid in die strate van Amsterdam beleef, maar nou, op hierdie Karoodorp, trek hy die groot stilte soos ’n sirkel om homself wat sy skuiling word, sy wegkruipplek, sy taktiek van afwesigheid. Lyne word sy woorde en hy neem sy toevlug tot simbole wat vir hom vryheid suggereer: vlieërs wat hy van optelgoedjies bou of die skoenlappers wat hy teken.

Al het Ouma Ogies haar eie huisie op die plaas, is dit na die Renosterveld dat haar hart hunker. Dit is die plek waar haar mense eens gewoon het, waar sy vry was en waar haar pa haar van die lewe geleer het op ’n unieke manier eie aan hul gebruike en gewoontes. Kortom, haar emosionele tuiste. Wanneer ’n renoster weer in die gebied hervestig word, is sy getuie van die dier se tuiskoms. Die woedende dier probeer die veldwagters stormloop met sy kenmerkende woede-uitbarstings, maar stap dan versigtig en saggies na die oumatjie toe en lê sy horing in haar hand. Hierdie gedeelte is so goed geskryf dat die leser die gewydheid van die oomblik net so intens beleef soos al die omstanders wat uit respek hul hoedens afhaal. Nou is die renoster weer tuis, hier waar “Ouma Ogies, haar pagoed en hul mense eenmaal vry was, jare gelede” (269). Sy voorsien dieselfde vir haar mense, want, sê sy, “Eendag word die hele Karoo Renosterveld. Dan kan almal maar asemskep, en die duusmanne sal op hul pense skrywe” (89).

Die hele grondkwessie word dus in Van Heerden se roman verbind met die begeerte na vryheid, ’n begrip wat Tian in sy onskuldige jeug glad nie verstaan het nie, maar soos wat sy reis na selfontdekking vorder, uiteindelik die ware betekenis van hierdie woord ten volle begryp. Vir Ouma Ogies byvoorbeeld, wat in haar blinde, jeugdige onskuld onbewus was van die feit dat een (skuld) eintlik twee (oorsaak en gevolg) beteken, was begeerte baie meer as die lyf se drifte; vir haar was dit ’n begeerte na die Renosterveld, na vryheid. Gedwonge verskuiwings en die pyn daaraan verbonde, is deel van die verhaal. So byvoorbeeld word ’n onderwyser se huis ’n slams se deurmekaar negosiewinkel omdat laasgenoemde se velkleur ideologies aanvaarbaar is, ongeag sy duidelik laer beskawingspeil as dié van die vorige eienaar. Saam met ontheemdes ervaar lesers die pyn van ontworteling wanneer diegene vir wie die dice verkeerd geval het, verby die plekke stap waar hulle eers gewoon het, meestal verby Witkant se muur wat die woongebiede van mekaar skei.

Universele temas wat aangeraak word bevestig reeds die universele aard van hierdie werk, maar dit is eerder die wyse waarop die storie gekonstrueer is wat vir hierdie roman ’n plek oopskop tussen die voorste letterkundige werke van hierdie dekade. Van Heerden is meester van die woord, bekend daarvoor dat hy hom nie gebonde ag aan tradisionele betekenisse van simbole nie, maar eiesoortige betekenisse aan bekende simbole en motiewe toeken wat saam met bepaalde temas op ’n kreatiewe wyse binne die konteks van sy romans ontwikkel word. In Die wêreld van Charlie Oeng word dieselfde motiewe onder verskillende omstandighede en kontekste herhaal en wel op so ’n wyse dat dit uiteindelik meehelp om al die verskillende verhaallyne tot ’n eenheid saam te snoer. Daar is reeds na enkele voorbeelde verwys, maar vergelyk byvoorbeeld ook die reuk van swael, vuurwerkvertonings; splintertonge (verbind met boosheid en die Chinese triade); drake in hul verskillende kleure, vorme en gedaantes; slange geassosieer met boosheid, maar wat ook rivier en water is (135). Ook Chinese tradisies, mites en legendes word bygehark. Chinese se huise moet nie na die rivier kyk nie, want dit bring teenspoed, dit word ’n lem wat jou ondergang bewerkstellig. Beide skure in die storie staan langs riviere. Charlie is op water gebore en ooreenkomstig mitiese oorlewering het al sy ma se boosheid in hom in gevloei omdat die naelstring nie onmiddellik afgebind is nadat sy gesterf het nie. Vier beteken dood in Chinees en daarom is dit glad nie so toevallig dat George Dun se kamernommer in die goedkoop Baaise hotel 404 is nie. Ander motiewe wat binne die konteks van die verhaal belangrike betekeniskonnotasies het, is onder andere die spoorwegbankie waarop “Nie-Blankes” staan en wat Witkant en Koekepan tot by hul blyplek dra. Dit word uiteindelik Charlie se draketroon, ’n herinnering aan verontregting, diskriminasie, vernedering en ontneming van sy menswaardigheid en selfrespek, simbool van die redes waarom hy besluit om tot aksie oor te gaan.

Dit is veral deur die gebruik van verskillende kleure dat Van Heerden sy onbetwiste kunstenaarskap onderstreep. Aanvanklik kom die verwysings na kleure heel onskuldig voor. Die feit dat rooi verbind word met die soutpanne waar Charlie vir die eerste maal werk in Suid-Afrika kry, is insiggewend. Charlie se rooi hande is binne die konteks van die verhaal heeltemal geloofwaardig, want die sout brand sy hande; Cor se sensitiewe vel verbrand bloedrooi onder die Afrika-son; maar mettertyd word rooi geassosieer met bloed, vuur (vuurwerkvertonings, lem, geweld, woede, dood en beendere). Swart met die kol varkbloed in die skuur agter Oudekerk in Amsterdam waar Charlie sy eerste treë in die slagterambag gegee het en in Tian se gemoed die vlek van sy ouers se dood is. Die subtiele verbinding tussen “wit” en “rooi” dra “’n see van betekenisse”. Son en wit word Charlie se vyand nommer een. Daagliks moet hy stry teen vernedering as die laags besoldigde handearbeider op die wit soutpanne, met ’n strepie see en vlakte so ver weg op die horison dat hy dit byna nie kan sien nie, maar vir hom die simbool van vryheid en ’n beter lewe is. Dit wat hy op die soutpanne moes verduur, projekteer hy later direk op sy nuwe vyand, die mense wat hom gesig laat verloor het. Wanneer Sy, die laaste vesting van sy menswaardigheid, ook wegloop, begin Charlie se selfbeheersing stukkie vir stukkie wegkalwe, net soos die sloot op die familieplaas wat al feitlik die hele vrugteboord weggespoel het. Hierdie reuk van witheid trek in sy liggaam in, dit brand sy sinusse, dit raak simbool van sy haat teenoor onreg wat om vergelding roep. Sy woorde: “Jy kan ook net sóveel wit aankyk” (218) is profeties. Uiteindelik word Tian se pa en ma die gesig van Charlie se oortreders, die mense wat hom ’n onmenslike onreg aangedoen het, die mense wat moet boet vir die wandade van die hele mensdom. Sy wraak was dus nie gemik teen twee individue nie, maar teen alle mense wat dink dat hulle beter as ander is en daarom die reg het om ander mense van hul menswaardigheid en selfrespek stroop, of nog erger, nie eens agterkom dat hulle dit doen nie.

Ten spyte van die donker prentjie wat die roman skets wanneer duidelike tekens van verontregting misgekyk word, wil die skrywer ook impliseer dat aflegging moontlik is – ’n mens hoef nie vir die res van jou lewe ’n gevangene in ’n selfgeskepte tronk te wees nie. Ma in haar niksplek in die agterplasie van haar boekwinkel bedink die feit dat jy kán wegloop van alles, dat jy ’n nuwe lewe kán begin. Jenny May, die meisie wat Tian in ’n Chinese restaurant in Amsterdam ontmoet, is in Nederlandse terme ’n halfbloed, van Oosterse en Westerse afkoms, maar uiteindelik Tian se redding. Sy word die brug tussen twee wêrelde, so ver uitmekaar soos die spreekwoordelike Ooste en Weste. Vir Tian Kilian, maar ook vir almal anders, is daar ’n nuwe verwagting, ’n nuwe lewe sonder die swaar las van ’n gemeenskap se kollektiewe skuld. Die wêreld van Charlie Oeng bevestig opnuut die rol wat letterkunde in die alledaagse lewe van gewone mense speel. Dit is ’n boek wat nie geïgnoreer durf word nie .

Marietjie Lambrechts

Navorsingsgenoot in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top