Kunstefees 'n kunsfees: Sandra Hanekom oor KKNK Visuele Kunste

  • 0
Die Absa KKNK Visuele Kunste staan vanjaar vir die eerste keer onder kuratorskap van Sandra Hanekom en bestaan uit 17 uitstallings. Naomi Bruwer het met Hanekom gesels.


Sandra, wat was jou motivering agter die keuse van uitstallings wat vanjaar deel uitmaak van die Absa KKNK Visuele Kunste?

Die visuele kurator van ’n kunstefees moet anders dink as ’n visuele kurator van ’n museum of privaat galery – hetsy kommersieel of konseptueel-akademies. Jy moet ’n program skep wat amper die teaterprogram reflekteer, met ander woorde ’n wye verskeidenheid van kuns wat ’n breedvoerige benadering het – konseptuele stukke en genre-werk van ’n uiters hoogstaande gehalte. My fokus was wyd, maar die mantra regdeur was “gehalte”.

Feesgangers en kunstenaars wat kom na ’n fees toe soos die Absa KKNK, ervaar in ’n groot mate emosionele uiterstes as hulle teaterproduksies bywoon, so ek het gevoel die visuele program moet nie ’n neutrale intellektuele program wees nie, dit moet emosionaliteit wys sodat die feesganger met die werk kan identifiseer. Subjektiwiteit en emosionaliteit in die werk was vir my belangrik in die keuse van uitstallings. Die feesgangers het nodig om ’n emosionele konneksie te kan vorm met die werk – dit natuurlik sonder kitsch sentiment of ’n goedkoop vertoning van emosie.

Het die werk op vanjaar se Absa KKNK Visuele Kunste versamelwaarde?

Daar is ruim 95% van die werk wat definitief versamelbaar is, werke waarvoor mens as ’n kurator met redelike gemak vir ’n koper kan sê: ja – hierdie is ’n goeie belegging. By die jonger kunstenaars en minder bekende kunstenaars se werk is daar altyd ’n mate van risiko. Hierdie kunstenaars het nog nie ’n bewese rekord nie, maar dit is ook jou plig as ’n kurator om vir hulle ’n geleentheid te skep en kopers bewus te maak van hulle werk.

Wat bied julle vir die kunsliefhebber wat nie die Absa KKNK kan bywoon nie?

Dit is ’n aspek van vanjaar se Absa KKNK Visuele Kunste waaroor ek baie opgewonde is. Ons is nou nog maar in ons babaskoentjies, maar ons bied vanjaar vir die eerste keer ’n virtuele galery van die Absa KKNK Visuele Kunste. Dit beteken dat waar jy ook al in die wêreld is, jy die werke kan besigtig wat by die Absa KKNK op uitstalling is en natuurlik ook vir ons kan kontak en die werke aankoop. Dis veral lekker vir die ernstige versamelaar wat nie noodwendig hierdie jaar die fees besoek nie – hulle kan nog steeds hul hand op die pols hou, sien wat daar hierdie jaar beskikbaar is en besluit of hulle ’n kunstenaar wil voeg by hul versameling. Tot dusver was die reaksie daarop baie positief. Mense geniet dit en die versamelaars voel ingesluit. Dit gee natuurlik ook ’n breër platform vir die kunstenaars.

Daar is ook ’n uitstalling van kunswerke wat deur kunstenaars geskenk is aan die Absa KKNK om opgeveil te word. Waaroor gaan hierdie projek?

Tradisioneel skenk die hoofkunstenaar van die fees, in hierdie geval Handspring Puppet Company, ’n werk aan die Absa KKNK. Omdat die Absa KKNK soveel doen vir die promosie van die kunstenaars, het ek as kurator gevoel al die kunstenaars moet die geleentheid kry om werk te skenk. Die skenking van ’n werk was heeltemal vrywillig en ek as kurator, wat nie by die fees kan uitstal nie, het ook ’n werk geskenk. Hierdie werk kan op gebie word deur die publiek wat die KKNK besoek. Alle fondse wat so ingesamel word, gaan vir kunste-ontwikkeling. Die kunste-ontwikkeling is letterlik visuele-kuns-projekte wat die Absa KKNK se bestuur inisieer onder agtergeblewe gemeenskappe in die omgewing. Hierdeur word kuns ook geïntegreer in hierdie mense se lewens en kry hulle ’n geleentheid om deel te wees van die groter kunspubliek. Die Absa KKNK se motto sê dat dit die fees van geleenthede is. Die kunstenaars het goedgunstiglik werk geskenk aan hierdie fees van geleenthede.

Aiden Westcott by sy uitstalling Geheue. Klik hier die virtuele galery van hierdie uitstalling. [Foto: Alwyn van Zyl]

Simon du Toit-Kombuis bekyk Willem Boshoff se werk “Tien teen een” wat deel vorm van die uitstalling Ik ben een Afrikander III. Klik hier die virtuele galery van hierdie uitstalling. [Foto: Alwyn van Zyl]

Mathias Chirombo by sy uitstalling Sacred Spaces. Klik hier die virtuele galery van hierdie uitstalling. [Foto: Alwyn van Zyl]

Corlie de Kock is die kurator van Die taal van teken – ’n groepuitstalling van visuele interpretasies van Ingrid Jonker se gedigte. Klik hier die virtuele galery van hierdie uitstalling. [Foto: Alwyn van Zyl]

Tim Hopwood by sy solo-uitstalling Voëlvrytoer – Grahamstad, 1989. [Foto: Alwyn van Zyl]

Andries Bezuidenhout kyk na die legendariese Voëlvry-foto's van Tim Hopwood. [Foto: Naomi Bruwer]

Clanelle Burger by haar solo-uitstalling Perforation / Separation wat die vroulike liggaam as ’n seksuele wese ondersoek. [Foto: Alwyn van Zyl]

Brahm van Zyl by sy solo-uitstalling Hinterland. Klik hier die virtuele galery van hierdie uitstalling. [Foto: Alwyn van Zyl]

Beelde uit Elana-Marie Snyman se solo-uitstalling ’n Plek genaamd Veelsgerust, ’n kartonlandskap. [Foto: Alwyn van Zyl]

Juria le Roux by haar tentoonstelling van 50 olieportretskilderye, Reeksmoord. Klik hier die virtuele galery van hierdie uitstalling. [Foto: Alwyn van Zyl]

Elfriede Dreyer is die kurator van die uitstalling Ontwerpe wat bestaan uit vier dele: "Ontwerpe van tyd", "Ontwerpe van leefstyl", "Ontwerpe van self" en "Ontwerpe van die natuur". Klik op die afdelings vir die virtuele galerye van hierdie uitstalling. [Foto: Naomi Bruwer]
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top