Kuberklas Kreatief-kortverhaal: La Cumparsita

  • 0

Daardie oggend was warm en onrustig. Ek het voor die spieël gestaan en myself bestudeer. Die rok het perfek gepas en my nuwe dansskoene soos ’n tweede, donker vel. Ek het geweet dit is simpel om twee weke voor ’n groot kompetisie nuwes te kry, maar ek kon dit nie help nie, ek moes net. My oues was vaal en, wel, oud. Ek kon nie myself in hierdie mooi rok met daardie afgestorwe skoene wat ek al drie jaar gelede gekry het, sien nie. Nie vir hierdie kompetisie nie. Dit was of nuut of niks. My ma het maar met ’n sug die geld oorhandig; sy het geweet hoeveel daardie dag vir my beteken. Dit sou aan myself bewys dat ek dit in my het om ’n briljante danseres te wees, dat dit was wat ek vir ’n loopbaan sou kon doen. Want niemand het in my geglo nie. Almal het net gepreek en gemoan en gesê dans is nie ’n beroep nie en hoe kan ek daaruit geld maak en wat van universiteit en, en, en. Maar daardie dag sou ek hulle verkeerd bewys.

Ek het weer vir oulaas in die spieël gekyk, gevoel hoe my moed my amper begewe. Gelukkig sou ek dit nie alleen hoef aan te pak nie, want daarvoor het ek ’n dansmaat gehad. Wel, ek bedoel ons almal het dansmaats gehad, maar myne was spesiaal. Ek en Arno het al ’n lang pad gekom, of moet ek sê ’n lang pad saam gedans. Ons het al twee op tien begin dans. Ons wou dit al twee vir ’n beroep doen en ons het al twee talent gehad; hy net hope meer as ek. Gelukkig het hy dit nooit in my gesig gevryf nie, nie soos die ander ouens in ons klas gewoond was om te doen nie. Ek was nogal bly dat ons instrukteur ons die laaste paar weke as amptelike dansmaats vir die kompetisie gekies het, sodat ons alleen kon oefen. As ek saam met een van die ander moes dans, het ek geweet my selfvertroue sou aan ’n flenter hang en dat ek waarskynlik nie so goed sou gevorder het nie. Hulle het my net nie verstaan soos Arno het nie. Dit is seker maar oor ons al van die begin af gekliek het. Agt jaar is ’n baie lang tyd om iemand te leer ken; juis daarom het ek geweet dat daardie dag besonders sou wees, want ons het ekstra-ekstra hard geoefen. Die kompetisie is vir al die senior dansers om ’n beurs te wen by een van die top dansskole in die land. Dit sou aan die paartjie gaan wat die kompetisie wen. Dit sou beteken dat ons albei ons drome kon vervul om dans as ’n loopbaan te volg, en dat ons nog ’n paar jaar in dieselfde skool ook sou wees. Natuurlik het ek nie vir hom vertel hoe bly ek oor die laaste gedeelte was nie.

“Marissa, ons moet ry,” het my ma se stem van die voorportaal af opgesweef gekom na my kamer toe, daar waar ek voor my spieël gestaan en onseker gevoel het. Terselfdertyd het my foon skril begin biep en ek het gewip soos ek skrik. Dat twee verskillende geluide nou so eenders kon klink as mens staan en dagdroom. Ek het die foon vir eers dood gedruk en vir my ma geskreeu dat ek nou daar sou wees. Ek het my tas gevat en die trappe twee op ’n slag na onder geneem.

My hele gesin was alreeds besig om hulleself en al hulle bagasie (opvoustoele, piekniekmandjie, boeke, waterbottels, speelgoed, inkleurboeke, tydskrifte, warm baadjies, de lot) in die kar te boender. Ek het die spul so gestaan en kyk en net my kop geskud. Mens sou dink hulle is van plan om by die dansstudio uit te kamp of iets. Ek het beter geweet as om iets te sê. My ouers het daarin geglo om voorbereid te wees.

“Klim, suster Sarah, klim,” het my pa gesê en op sy horlosie gekyk. “Jy’s mos die een wat ’n uur vroeg daar wil wees.” Ek het versigtig in die agterste sitplek geklim sodat my rok nie moet skeur of vuil raak nie. Ek het myself ver weg probeer hou van my sussie en haar taai hande. Ek het gewonder wat sy nou al weer geëet het.

“Jy lyk pragtig my kind,” het my ma my gesê en haar hande op haar skoot gevou.

“Dankie,” het ek gemompel. Dit is toe dat ek van my boodskap onthou het en vinnig my foon uitgepluk het.

Gaan ons nog ’n uur vroeër oefen? Hoe lyk die senuwees?

Dit was van Arno, natuurlik. Ek het geglimlag en vinnig my antwoord getik. Reg so. Senuwees lyk nie te goed nie. Ek het gewag dat hy met iets bemoedigend moet terug antwoord, maar hy het nie, wat vreemd was. Hy het altyd terug geantwoord.

“Amper daar,” het my pa skielik gesê en weer eens veroorsaak dat ek wip van die skrik. As ek eers ’n senuweebol is, laat enige geluid my maklik tien voet die lug inspring.

“Is jy oukei?” wou my ma weet.

Ek het niks gesê nie, net my kop op en af geskud. Hoekom was hulle in elk geval gepla? Hulle het nie regtig hierdie droom van my ondersteun nie. Hulle wou hê ek moet ’n dokter of ’n prokureur word en met ’n ryk man trou. Wel, ek wou dans en persoonlikheid was vir my belangriker as geld.

Die rede hoekom ek so senuweeagtig was daardie dag was oor die dans wat ons moes doen. Die tango; en ’n baie gevorderde weergawe daarvan. Die tango was nog altyd die dans waarmee ek die meeste gesukkel het en al het ons al maande vantevore begin oefen, was dit nog steeds nie vir my goed genoeg nie. Al het Arno dan nou ook wat gesê, dit was nie. Maar ons het nie ’n keuse gehad nie, want ons instrukteurs het die danse gekies wat ons sou doen en ongelukkig het dit gekom dat ons s’n gedink het die tango sou perfek by ons pas. Ek het male sonder tal met hom gestry, maar Julianno, dit is nou ons instrukteur, wou niks weet nie. Hy is ’n Italianer met ’n vurige temperament wat in Suid-Afrika kom bly het om “sy dansvernuf met ons ryke kultuur te vereenselwig”,wat ook al dit veronderstel was om te beteken. Julianno het net gesê dit is vir ons eie beswil, en dat niemand anders so ’n gewaagde dans gaan doen nie, en as ons dit regkry, sou ons die beoordelaars oorhaal. Dit het seker sin gemaak op ’n manier, maar ek was steeds onseker. Dit was beslis nie my gunsteling of beste dans nie, want dit is vrek moeilik. Ek het maar net ingegee oor Arno so smekend na my gekyk het. “Kom aan, ek sal jou mooi lei,” het hy gepor en my smekend met daardie donker oë van hom aangekyk, wat in daardie jaar besonders meer vir my begin beteken het as wat ek vir myself wou erken. Ek het gesug, my hande in die lug opgegooi en toegegee. “Nou goed.” Julianno het sy hande geklap. “You two will do the best tango those judges have ever seen, I promise,” het hy vermakerig in sy beste aksent gesê, wat hy al jare tevore begin afleer het, maar nog steeds so af en toe vir ons plesier rondgegooi het. “Gmf,” was al wat ek kon uiter. Ek sou dit eers moet dans om dit te glo. Dit was drie maande gelede, die dag toe ons op die tango besluit het. Ek sou dit seker nog berou, het ek gedink.

Veral daardie dag van die kompetisie het ek dit vreeslik begin berou toe die kar voor die saal stilhou. Daar was skielik ’n reuse-knop in my keel. Om daardie dans reg te gedoen het, sou beteken dat ek die beurs sou kry en Arno ook. Maar as ons nie goed genoeg was nie, sou al my drome in duie stort. Ek was seker dat dit die finale spyker in my kis sou wees; om een of ander rede het ek geweet my ouers sou sê ek is nie goed genoeg nie. As ek wou dans vir ’n lewe, moes ek seker die tango ook bleddie goed kon doen.

“Sien julle later,” het ek gesê toe ek besef ons sit al ’n ruk in stilte voor die saal in die kar sonder dat ek uitgeklim het. Ek het nie geweet wat hulle van plan was om vir die volgende uur of so te doen nie, maar dit het my min geskeel. Ek was net gepla dat ek en Arno daardie laaste uur gebruik om goed op te warm en ’n stunning tango te doen wanneer dit by die kompetisie kom.

Ek het uitgeklim en in die rigting van die saal gestap – versigtig, sodat ek nie per ongeluk my rok leed aandoen nie. Dit was ’n pragtige rok van rooi satyn en dit het ’n klein fortuin gekos. Maar ek moes dit net hê, want ek wou spesiaal lyk. Weer eens het my ma met ’n swaar sug betaal om dit te huur.

Toe ek by die saal kom, was daar geen teken van Arno nie. Om die waarheid te sê, was daar geen teken van enigiemand nie. Daar was wel tekens dat die klankspan al vroeër daar was om op te stel, want die sisteem was daar, en aangeskakel, maar hulle was toe nie meer daar nie.

Ek het toe maar op een van die saalstoele gaan sit en wag. Hy was dan die een wat wou weet of ons nog oefen en dan is hy laat. Ek het my half vervies. Dit was nou tipies. Ek het my vingers op die leuning van die stoel begin tik en die tyd afgetel. Vyf minute. Tien minute. Amper ’n halfuur later het ek nog so na my voete gestaar, en toe ek opkyk, begin die musiek skielik speel en Arno het voor my gestaan. Hy het perfek gelyk in sy pak en ek het geweet ons sou ten minste goed lyk met ons voorkoms indien niks anders nie.

“Jy’s laat,” het ek beskuldig en gefrons.

Hy het niks gesê nie; daar was net ’n vreemde uitdrukking op sy gesig. Hy het my onverwags regop gepluk en tot in die middel van die vloer gemarsjeer. Ek het hom nog nooit vantevore so snaaks sien optree nie. Jy kon my omtik. Dit was duidelik dat iets skort.

“Arno?” het ek bekommerd gevra en gewonder of sy senuwees dan nou erger af as myne was dat hy so vreemd optree.

Weer het hy net woordloos na my gekyk en my die hand gebied, wat beteken dat hy my vra om te dans. Dit is maar ’n gebruik van dansers, dat die man eerste die hand bied en dan verskuif julle in die dansgreep. Ek het maar gedoen soos hy vra, al het hy steeds niks gesê nie. Ek wou nog iets sê, toe begin daar skielik oorverdowende musiek speel. Ek het geskrik, maar dit het gelyk asof Arno dit amper so beplan het dat die liedjie nou moes begin, al weet ek nie hoekom dit vir my so voorgekom het nie. Die oomblik wat ek gehoor het wat die liedjie is, het ek eers half verstar. “La Cumparsita.” Dit is die bekendste Spaanse tango. Ons het nie een keer tevore op die lied geoefen nie, maar ek het juis op ons laaste les aan Arno genoem dat ek wens ons kon dit kry vir die kompetisie. Vir dans is dit altyd instrumentaal en baie, baie mooi. Maar ek het eenkeer die lirieke gaan opsoek en dit in Engels ook gelees, en dit was baie romanties. Ek het dit byna uit my kop uit geken en dit was hoekom ek so mal was oor die lied. So dit was beslis baie eienaardig toe dit juis die liedjie is wat begin speel, en toe ... toe het ons begin dans.

Wat daardie dag gebeur het, sou ek nooit kon oorvertel nie, maar ek weet net dit was die perfekte tango gewees. Arno was so intens dat dit die regte emosie aan die dans deurgegee het. Ek het die oomblik toe ons begin dans, van alles vergeet en my so ingelewe dat ek seker was ek nog nooit so gedans het nie. Die ritme en sy leiding het my aangespoor en ons het voluit gedans. Ek het elke liewe beweging, elke draai, elke tree sonder huiwering gedoen en dit was vloeiend en beslis passievol. Ons het nog nooit so gedans voor daardie oggend nie. Dit was asof daar ’n ander energie tussen ons was, iets wat ek tot vandag toe nie kon beskryf nie. Ek het vergeet dat daar ’n kompetisie was en myself in die dans verloor. Die lirieke van die liedjie het wel in my kop opgekom en dit was vir my vreemd, maar dit het gelyk asof ... asof hy ook daaraan dink, want sy lippe sou elke nou en dan beweeg asof hy saggies saam sing.

(La Cumparsita)
If you knew
That still within my soul
I keep the love
I had for you ...
Who knows, if you knew
That I never forgot you
Returning to your past
You would remember me
The friends do not come.
Not even to visit me.
Nobody wants to console me
In my affliction.
Since the day you left
I feel anguish in my chest.
Tell me, woman, what have you done with my poor heart?
Nevertheless I always remember you
With the holy love
I had for you
And you are everywhere
Piece of my life
And those eyes that are my happiness
I search for them everywhere
And I can’t find them
To the abandoned bedroom
now not even the morning sun
Shows through the window
the way as when you were there
and that little dog our partner
that because of your absence would not eat
on seeing me alone the other day also left me ...

Die lirieke het deur my kop gemaal soos wat die bekende wysie oorverdowend hard die vertrek gevul het. Maar ek het nie omgegee dat dit so verskriklik hard was nie. Al waaroor ek omgegee het, was die oomblik, die dans ... en Arno se vreemde bui. Dit alles het veroorsaak dat dit ’n dans was belaai met passie en energie. Dit was absoluut perfek, het ek geweet. Ek het nie een fout gemaak nie en teen die laaste refrein van die lied het hy my in die lug opgetel en in die rondte geswaai bo sy kop, sodat dit gelyk het of ek vlieg. Hy het my neergesit en ek het uitasem na hom gekyk. Daar was ’n hartseer glimlag op sy mond en ons het een laaste keer die basiese bewegings gedoen.

Op daardie oomblik het die musiek weggesmelt en ek het skielik bewus geword dat ons nie meer alleen was nie. Ek het verskrik omgedraai, en daar was die vier beoordelaars, en natuurlik Julianno. Almal het dieselfde uitdrukking op hulle gesigte gehad: totale verwondering, en terselfdertyd komplete verbasing. Een se mond het selfs oopgehang, en as ek nie so in vervoering was nie, sou ek gedink het dis nogal ongeskik om so na my te staar.

“Hoe op aarde het jy dit reggekry!” Dis meer ’n uitroep van ongeloof as ’n vraag wat Julianno geuiter het op Engels, en hy het sy hande voor sy mond gesit in verwondering. Die ander beoordelaars het nie ’n woord gesê nie; hulle het na my gestaar op so ’n manier dat ek gewonder het of hulle miskien dink ek is mal. Dit was kompleet hoe iemand lyk wat na ’n mal mens staar en nie kan verstaan wat in daardie persoon se kop aangaan nie.

“En alleen. Vingeralleen ...” het ek een van hulle hoor prewel. Sy het gelyk of sy dalk gaan flou val en ek het meteens gewonder of sy nie dalk eerder moes sit nie.

“Ekskuus?” moes ek vra toe haar woorde tot my deurdring. Ek was nie alleen nie, enige aap kon dit mos sien. Hoe kan ek dan nou in elk geval alleen die tango doen? Dit kan nie, dis onmoontlik. Maar tog. Die uitdrukkings op hulle gesigte het ’n ander storie vertel .

“Ja, hoe de hel het jy die tango sonder ’n partner gedoen, en daardie toertjies ...” Dié keer was dit die een met die oop, gapende mond wat my aangespreek het – wel,  dié se mond was nou meer beskaafd toe.

“Ek verstaan nie ... Arno, sê vir hulle ...” Ek het na Arno toe gedraai sodat hy tog net sin in hierdie mense se koppe moet inpraat.

Maar Arno was nie meer langs my nie. Sy hartseer glimlag het weer by my opgekom en daar het ’n rilling by my ruggraat afgeloop.

“Maar jy was alleen, darling!” het Julianno vermakerig gesê en sy hande gevou. Hy het seker die geskokte uitdrukking op my gesig gesien en toe sy hand op my skouer geplaas. “Ek is bevrees ek het baie slegte nuus vir jou. Arno was vanoggend in ’n motorongeluk gewees op pad hierheen ...”

Sy woorde wou net nie sin maak nie. Daardie onheilspellende gevoel het my binneste deurkruis en ek het koud geword van bo tot onder. Ek kon nie die krag bymekaar skraap om te vra hoe dit dan moontlik is dat ek en hy dan nou enkele sekondes gelede die tango geoefen het nie en dat dit die beste dans was wat ek nog ooit gedoen het.

“Nee ... dit kan nie wees nie,” het ek koppig gesê, want dit was tog onmoontlik. Dalk het Julianno van ’n ander Arno gepraat. Nie my Arno nie, ons het dan gedans! Die lirieke van “La Cumparsita” het skielik weer deur my kop gespeel en ek het die tango wat ons gedoen het, oorgespeel in my kop. Sy intensiteit, die manier waarop ons saam beweeg het, daardie voorgevoel vanoggend en die perfekte dans. Nee, ons het definitief saam gedans. Hy was hier!

Maar Julianno se oë het ’n ander storie vertel. Een wat waarskynlik vir die res van my lewe, ja nou nog, by my sou spook. Daar was ’n traan op sy wang en hy het sy hand op my skouer gesit en my gedwing om op die verhoogtrappie te gaan sit. Hy het sy sonbruin hand geneem en oor myne gevou en ek kon sien hy was baie verward, net soos ek.

Die ander beoordelaars het stilletjies die vertrek verlaat, en toe hulle weg was, het hy die woord gesê wat my tot vandag toe slapelose nagte besorg het. Ek sou dit nooit ooit verstaan nie. “My skat, ek is baie jammer. Arno … hy het dit nie gemaak nie. Hy is op pad hospitaal toe dood.”

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top