Kroniek van turf
Dolf van Niekerk
ISBN: 9781485306474
Protea Boekhuis
Kroniek van Turf is Dolf van Niekerk se jongste novelle in ’n lang en luisterryke loopbaan as prosaskrywer, dramaturg en digter. Die boek is ten minste gedeeltelik ’n voorvolg vir die jeugverhaal Karel Kousop wat in 1985 verskyn het, asook vir Koms van die hyreën, wat in 1994 gepubliseer is. Kroniek van turf vertel die verhaal van ’n Afrikaanse familie en ’n Boesmanfamilie se verbintenis met dieselfde stuk grond. Hierdie grond is geleë in wat vandag die Vrystaat tussen die Riet- en die Modderrivier is. Die storie begin by Gerrit, ’n werknemer van die VOC wat in die 18de eeu begin boer op ’n leningsplaas in die Roggeland en later aan die Oosgrens sneuwel.
Na Gerrit se dood verskuif die fokus na sy seun, Johannes, wat aanvanklik vooruitstrewend in die Renosterberg-omgewing boer. Nadat ’n sprinkaanplaag egter sy plaas kaal vreet en ’n daaropvolgende droogte dit onmoontlik maak om in die Renosterberg te bly boer, word Johannes gedwing om verder die binneland in na ’n nuwe staning te gaan soek. So kom hy dan by die stuk vrugbare grond tussen die twee riviere uit. Met sy aankoms ontmoet hy ’n groepie Boesmans, wie se leier se een oog effens skeel kyk. Johannes onderhandel met hierdie leier, na wie hy aanvanklik as “Skeeloog” verwys. Hulle kom ooreen dat Johannes en sy familie teen betaling van beeste en skape die grond met Skeeloog en sy mense kan deel. Skeeloog kry later ’n naam: hy word Skeel Kobus toe Johannes uitvind dat hy “stamvader en kaptein, draer van Gamoep se nalatenskap” is (53). Nog later kom dit aan die lig dat Skeel Kobus se ware naam Kousop is.
Die herhaaldelike verwysings na die Boesmanleier se skeel sig is nie toevallig nie en vorm ’n integrale deel van die allegoriese kompleks van die teks. Van Niekerk sinspeel met hierdie verwysings nie net op die andersheid van Kousop en sy mense nie, maar ook op die feit dat die nomadiese Boesmans die verhouding met die grond volgens ’n ander sienswyse beskou as Johannes en sy mense. Die denke van die Sloweense filosoof Slavoj Žižek aangaande die parallakse oogpunt vind aansluiting by Van Niekerk se idee van die skeel oog. Žižek beskou hierdie ander manier van sien as ’n noodsaaklike voorwaarde vir transformatiewe denke, omdat dit ’n uitbreiding van begrippe moontlik maak wat andersins stagnant sou bly.
In Kroniek van turf is die tersaaklike begrip eienaarskap. Van Niekerk se uitbeelding van die twee groepe (of families) in die verhaal spreek van ’n omvattende begrip van die kolonialisme as ’n proses waarvolgens een groep mense grond toe-eien waarmee ’n ander groep mense reeds ’n bepaalde verbintenis het. Daardie verbintenis toon nie noodwendig die tekens van dit wat ons vandag as eiendomsreg beskryf nie, maar dit beteken nog nie dat die ander groep ’n swakker aanspraak op die grond het of dat hulle eksistensiële verbintenis met die grond minder intens is nie. Op ’n stadium word daar byvoorbeeld verwys na die rotstekeninge in die holkrans op die plaas as die Boesmans se “kaart en transport” (73). Van Niekerk gebruik sy keurige, bondige prosa om hierdie verskillende benaderings tot – of oriëntasies ten opsigte van – die grond op ’n treffende wyse te verwoord.
’n Idilliese periode van harmonieuse saambestaan tussen die twee families word weldra ontwrig, enersyds deur ’n groeiende toeloop van mense na die gebied en andersyds deur “’n skelmstreek van ’n Boesman met die naam Danster” (73) wat voorgee dat die grond tussen die twee riviere aan hom behoort en dit aan die wit boere begin verkoop. Kort na Johannes se afsterwe word Kousop en sy mense deur die Britse regering van die grond afgesit, ten spyte van Kousop se vertoë oor “die onwettige besetting” van hulle grond. Johannes se seun, Johan, moet magteloos toekyk hoe Kousop en sy mense deur ’n aanvallende kommando uitgewis word omdat Kousop op gewelddadige wyse teen die afsetting in opstand kom. Hieroor dink Johan aan die einde van hoofstuk 5 in een van die mees aangrypende gedeeltes van die boek as volg: “[Kousop-hulle] was vir hom soos die grond deel van sy wêreld. Hy skaam hom dat van sy mense wat so hard vir hulle eie vryheid gewerk het, deelgeneem het aan ’n oorlog wat die Boesmans se vryheid en saambestaan vernietig het.”
Tussen hoofstuk 5 en hoofstuk 6 is daar ’n groot sprong, maar Van Niekerk land vas op sy voete en in hoofstuk 6 is Johan se agter-agterkleinkind as ek-verteller in die 20ste eeu aan die woord. In ’n dagboek wat deur Johan se oudste seun nagelaat is, lees hierdie karakter die res van sy voorsate se storie. Die laaste deel van die boek handel oor die verhouding tussen hierdie nasaat van Gerrit en ’n Boesmanspoorsnyer genaamd Kousop met wie hy as ’n soldaat in die Bosoorlog kennis maak.
In sy kenmerkende gestroopte styl kry Dolf van Niekerk dit reg om veel meer as bloot die fiktiewe geskiedenis van twee Suid-Afrikaanse families en ’n plaas te vertel, want wat op ’n allegoriese vlak aan bod kom, is niks minder nie as die hele geskiedenis van die mens se konstitutiewe verbintenis met, afhanklikheid van en konflik oor grond. Soos die verteller in hoofstuk 8 opmerk: “In my jeugdige voortvarendheid [...] het ek gedink ek verstaan iets van die mens en grond. Van die vraag aan wie die oppervlak van die planeet aarde behoort, of grondhonger tot mag lei of mag tot grondgryp. In dié proses duik name op: Josua in Palestina, Xerxes in antieke Griekeland, Alexander die Grote in Europa tot Indië, Julius Ceasar in Galië, Gengis Khan in die eindelose wêreld van die Ooste [...] Natuurlik is dit veel ingewikkelder as wat ek gedink het: dat niks in afsondering gebeur nie, dat alles vervleg is” (97).
In hierdie verband kom mens veral onder die indruk dat die skrywer nie net ’n hoogs deurdagte begrip van die kompleksiteit van die mens se geskiedenis met grond het nie, maar ook oor die vermoë beskik om die spesifieke geskiedkundige besonderhede van die verhouding met die grond in Suid-Afrika oordeelkundig met die fiksie te verweef. Tydens ’n onlangse gesprek by die Woordfees oor Karel Schoeman se Skepelinge het die historikus Dan Sleigh, wat ook as romansier bekend is, aangedring op die verskil tussen historiese fiksie en geskiedskrywing. Kroniek van turf beding hierdie verskil op vernuftige wyse deur subtiele verwysings in die teks te plaas wat die fiktiewe element benadruk. In hoofstuk 8 sê die ek-verteller byvoorbeeld dat die geskiedenis van sy eie mense “’n soort raaisel” (97) is.
Die slot van Kroniek van turf sal nie die siniese leser geval nie. Dit is ’n idealistiese einde waarin die skrywer ’n konkrete skets bied van hoe grond gedeel kan word, hoe die grondkwessie in hierdie land aangespreek kan word sonder verdere gewelddadige toe-eiening en verbanning. In ’n tyd van soveel onsekerheid, angs en woede oor die grond, is Van Niekerk se kort maar kragtige novelle onontbeerlike leesstof vir almal wat die verhouding tussen grond, mens, geweld en vrede beter wil verstaan.
- Jaco Barnard-Naudé is professor in regsfilosofie aan die Universiteit van Kaapstad en die Britse Akademie se Newton Gevorderde Genoot in die Fakulteit Sosiale en Geesteswetenskappe, Westminster-universiteit, Londen.