Ironies genoeg het die bohaai oor ’n (wit) haarkapper van Melkbosstrand wat weier om swart mense se hare te sny my laat dink aan die boek – met die titel Afrikaners: Kroes, Kras, Kordaat – van die skrywer en oudredakteur van Rapport, wyle Willem de Klerk.
Rapport het in Mei oor dié storie berig nadat dit bekend geword het dat talle swartes deur Tanya Louw, eienaar van dié manshaarkapper, The Barber Shop, die deur gewys word. Vir die ongewilde stap, wat glo deur Helen Zille, die Wes-Kaapse premier, ondersoek word, voer Louw die volgende redes aan: “Ek is (ook) net opgelei om wit mense se hare te doen.”
Terwyl Louw ten minste eerlik (?) is oor haar (onregverdige) optrede, kan die (wit) werkgewer (van een van die swartes wat deur Louw weggewys is), Susan van Aswegen, “nie haar ore glo nie toe (Victor) Katekwa haar van die voorval vertel nie”.
Wel, Van Aswegen moet kennis neem dat verskillende haartipes – dit wil sê: gladde hare vs kroeshare – nogal ’n sensitiewe saak is, veral in bruin en swart gemeenskappe.
Kom ek gaan haal egter die storie by De Klerk se boek.
Al was dit nie sy bedoeling nie, het Afrikaners: Kroes, Kras, Kordaat van De Klerk vir die nou ontslape radiojoernalis Chris Louw ’n paar jaar gelede die bliksem in gemaak. Louw was so kwaad vir oudpresident FW de Klerk se broer dat hy ’n opspraakwekkende ope brief aan (Willem) De Klerk geskryf het wat later tot die Boetman-debat gelei het.
Al het die twee mekaar lelik in die hare gevlieg, het die woord “kroes” in die titel van dié boek niks met kroeshare te doen nie.
Die gevoelige kwessie van gladde (of reguit) hare versus kroeshare is egter beslis ’n debat wat groter sal bly as die Boetman-debat. Om die sensitiwiteit van die reguit hare versus kroeshare uit te wys, wil ek graag ’n staaltjie vertel.
’n Kollega vertel op ’n dag dat ’n sekere dame – ’n lid van ’n bekende bruin familie wat vroeër prominent in die (bruin) politiek was – ’n (bruin) kêrel die deur gewys het omdat hy kroeshare gehad het.
Dié kêrel sou met sy kroeshare nooit in die dame se familie gepas het nie, het die kollega vertel.
Al sou die kêrel destyds ’n universiteitsgraad verwerf het en ook hoog op in die (bruin) politiek was, sou hy nog nie aanvaarbaar vir die dame se familie wees nie.
Die uiteinde van alles was dat die dame alleen oud geword het; ook eensaam gesterf het. Die kêrel het toe wel ’n vrou (met kroeshare) gekry.
Ongetwyfeld herinner die “reguit hare versus kroeshare”-issue ’n mens aan die potloodtoets – hoe dit deur die apartheidsregering gebruik – of misbruik (?) was – om ’n persoon se ras te bepaal. Dit is reeds hierdie letsels wat nog vandag voortleef dat mense aan hul hare geken word.
Al sou die gladdebek karakters Joe Barber (Oscar Peterson) en Boeta Gamat (David Isaacs) in die destydse Joe Barber and Boeta Gamat 2 voortgaan met geniepsige herkouing aan die gevoelige kwessie, bring hul soms satiriese kommentaar geen genesing nie.
Hoe dan anders vind jy steeds ’n hele klomp (veral bruin) mense vandag met soolkouse en roulers om kroeshare “glad” te probeer kry? Ek vertolk dit as ’n strewe na gladde “Westerse” hare as die norm. Dit is ’n illustrasie van Suid-Afrikaners se beheptheid met hare.
Dink aan die nuuskierigheid destyds toe Allan Boesak en sy (wit) vrou, Elna, hul eerste kind, Sarah-Len, gekry het. So duur die nuuskierigheid voort as die babas van gemengde ouerpare gebore word.
In 2004 het Jonathan Jansen, nou rektor van die Vrystaatse Universiteit, geskryf oor sy gesukkel om sy “etniese” hare in Pretoria gesny te kry. Jansen skryf: “Die probleem met hare is dat dit nie slegs die toetssteen vir wit oppergesag geword het nie, maar ook die stempel van swart patologie.
“[O]ndanks al die bravade aangaande swart trots en swart onafhanklikheid, skuil daar diep binne-in ’n aaklige monster wat sosiale aanvaarbaarheid gelykgestel aan gladde hare.”
Daarvan was die gebeure in 2005 met Jody Kollapen, destydse voorsitter van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, ’n voorbeeld. ’n Manshaarkapper iewers in Pretoria het erken dat hy op grond van hare gediskrimineer het teen Kollapen deur te weier om sy hare te sny omdat hy (Kollapen) nie wit is nie.
In EKM Dido se roman Stringetjie Blou Krale beklemtoon Dido die hoofkarakter Nancy Karelse (Nomsa Hlabati) se identiteitskrisis wat met twee wêrelde verband hou. Die een is bruin, die ander swart of Xhosa.
Hedendaags gee ons (bruin en swart) uiting daaraan met warm kamme om kroeshare glad te stryk of deur kopdoeke te dra om kroeshare weg te steek.
Miskien moet bruin en swart eers vrede maak met hul kroeshare voordat ons (wit) mense soos Louw vir die leeus voer.

