Kreasioniste, evolusioniste .... en die Woord

  • 1

Wanneer dit kom by die skepping, is daar die drie ‘-iste’ aan die eenkant en die Woord, die Waarheid, welke deur die bona fide wetenskap bevestig word, aan die ander kant.

Aan die een kant is dit dus die darwinistiese tipe evolusioniste (noem hulle maar die ‘evolusioniste’); die ou-aarde kreasioniste en nuwe/jong-aarde kreasioniste, wat mekaar voortdurend onderling aan die hare gryp.

Die evolusioniste wil heeltemal wegbeweeg van die Goddelike Hand in die skepping en derhalwe is hulle regtig nie besig met bona fide wetenskapsbeoefening, nie en verongeluk die wetenskap geheel en al in die proses. Daarteenoor is die ou aarde kreasioniste en hulle het in hulle geledere dikwels kompromieë om die evolusie en die Woord met mekaar te probeer versoen, maar ook húlle verwring in werklikheid die Waarheid van die Woord én die wetenskap, ter wille van kompromie. Die jong aarde kreasioniste is dié wie die meeste moeite doen om die wetenskap te probeer laat inpas by wat hulle meen, die Woord oor die skeppingstydperke en aanverwante dinge, sê. By hulle geniet die Woord voorrang en dit is natuurlik hoe dit ook moet wees. Maar hulle is oor hul interpretasie van die Woord waar dit by tydperke aankom, baie despoties en in die proses verongeluk hulle die wetenskap én die Woord, waar die Woord op die skeppingstyd direk of indirek, betrekking het.

Die evolusioniste verkrag die wetenskap met hulle massas onbewese, onbewysbare en onhoudbare hipotese in hulle desperate poging om by die Woord verby te probeer kom, én hulle vertrap die Woord opsetlik. Hulle tydsbepalings vir die onderskeie evolusionistiese prosesse is sorgwekkend onbewysbaar en is saamgeflans by wyse van talle hipotese om so lank as moontlik tye te ‘voorsien’ waarbinne hulle onbewese en onwaarskynlike prosesse sou kon plaasvind, juis om die skeppende Hand van God daaruit te probeer weghou en ‘toeval’ as ’n soort ‘skepper’, ’n kans te gee. Hulle benadering is dus die mees onhoudbare en verwerplike en is boonop opsetlik Godslasterlik, ook. Die nut van hulle werk is egter dat baie van hulle navorsing en fondse (dit sluit nié hulle talle onbewysbare hipotese in, nie) eintlik die Goddelike Hand en veral, die Goddelike Intelligensie en beplanning, in die skeppingsproses demonstreer, al wil hulle dit nie só hê nie – maar, feite spreek mos vir sigself.

Die ou aarde kreasioniste is gelowiges wat eintlik ronddobber tussen wetenskap en Woord. Hulle besef dat die wetenskaplike fondse en feite nie noodwendig ’n jong of nuwe aarde skepping ondersteun nie, maar het ook nie ’n ander antwoord, nie. Hulle is diegene onder die gelowiges wat die swaarste las dra van jare lange indoktrinasie en blootstelling aan agnostiese wetenskapsbeoefening wat spesifiek anti-God gerig, is. Hulle besef, deur hulle blootstelling aan die wetenskap, dat die Goddelike Hand daarin móét wees, vanweë die verbysterende Intelligensie waarvan die skepping spreek. Aan die ander kant, neem hulle, weens jare lange blootstelling en indoktrinasie in die agnostiese wetenskaplike milieu, stééds die agnostiese evolusieleer op gesigswaarde sonder om dit aan die Woord te toets – en dit doen hulle, omdat hulle opgelei is en geïndoktrineer is deur die oorwegend agnostiese kollegas en leermeesters, dat God en Sy Woord absoluut géén rol te vervul het in die wetenskap, nie – tewens, dat God nie eens ’n werklikheid is, nie (omdat die agnostiese wetenskaplikes God kwansuis nie met hulle karige, gebrekkige insiglose wetenskapsbeoefening, kan ‘bewys’, nie). Tóg kan die ou -aarde kreasioniste nie by die werklikheid en oorheersende betrokkenheid van God in die natuur en die natuurwetenskap , verbykom, soos hulle agnostiese kollegas probeer doen, nie. Daarom gee hulle in titel erkenning aan God as die Skepper, maar gebruik dikwels die agnostiese tipe evolusieleer asof dit God se handewerk, is. Dit maak God dus heeltemal onbetrokke by die tenuitvoerlegging van die skepping terwyl só ’n benadering totaal teen die Woord is – sien weer Genesis 1:1-28; 2:4-9; Psalm 139. Dit is sinneloos om só te maak, want die evolusie, soos dit geleer word, is juis kunsmatig só geontwerp om sónder die Goddelike Intelligensie, ontwerp en Skepperhand, te probeer klaarkom. Trouens, die darwinistiese tipe evolusieleer is die agnostikus se sekulêre religieuse plaasvervanger van die Christendom. Daarom probeer ou-aarde kreasioniste vergeefs en steeds onbeholpe om die darwinistiese tipe evolusie wetenskap met die kreasionisme en meer in besonder, met Christelike norme, te versoen. Hulle maak dus nie vordering nie, maar in die proses verdraai en water hulle die Woord af deur te beweer dat Genesis nie bedoel was as om ’n wetenskaplike waarheid daar te stel, nie, maar eintlik maar net ’n manier om teologie oor te dra. Dit is natuurlik hoegenaamd nie korrek nie. die Woord noem sekere skeppingsfeite en hulle is en bly skeppingsfeite. Al wat oorbly, is vir die mens om dit korrek te begryp, maar nie te verdraai, nie. Maar hulle doen juis dit om plek te maak vir aanstootlike evolusionistiese teorieë. Aan die ander kant, sien hulle darem in dat die Woord nié noodwendig verwys na die skepping van die aarde self, binne die sesdaagse skeppingsperiode van Genesis, nie, al is dit om die verkeerde redes. Dus, hulle bied niks in essensie, nie.

Die jong aarde kreasioniste, daarenteen, stel die Woord voorop, soos dit hoort, maar hulle laat nie toe om die Woord te neem soos die Woord in die natuur geopenbaar word, nie. Dus, in ’n sekere sin, wil hulle die Woord só interpreteer, dat dit die Woord die handewerk van God, die natuurlike getuienis, verdring. Dit is ook nie ’n houdbare óf aanvaarbare situasie, nie. Maar, hierdie gelowiges het die juk van darwinistiese evolusie tipe natuurwetenskap, afgeskud. Hulle is bevry daarvan, maar hulle ywer om daarvan ontslae te raak, het hulle ook in die proses in sekere opsigte die natuurlike getuienis, dié wat die natuurlike skepping van God self getuig, verdring ter wille van hulle eie, subjektiewe interpretasie van die Woord, weer heel na die ánder uiterste toe, naamlik om geheel en al van omtrent alles wat van evolusionisme getuig, weg te doen. En daarmee saam, verwerp hulle in sommige opsigte die waardevolle getuienis van natuur self, oor die skepping van God soos dit in die Woord te vinde, is. Dit is dus ook nie aanvaarbaar, nie.

Die waarheid is en dit is ook logies, dat God se Woord volkome in harmonie met Sy Handewerk, Sy skepping, is. Hoe anders? As ons glo dat God die Skepper is – en ons glo dit inderdaad – sál die natuurwetenskappe, (mits dit onbevange, objektief en onbevooroordeeld beoefen word) met die Woord daaroor, harmonieer. Daarom is die ware en bona fide natuurwetenskap, die gelowige se vriend. Dus, dit wat ons in die natuur, in die skepping aantref, sal nié die Woord weerspreek nie en ook nie andersom, nie. Die wetenskap vervul dus ’n ministeriële (getuienis, verduidelikende, openbarende) rol by die Woord en nié ’n heersende of magistrale rol, nie. Die wetenskapsbeoefening is dus ondergeskik aan die Woord en getuig van God en behoort vir die vermelde redes met God se Woord te harmonieer. God nooi ons juis in Jeremia 33:3 uit om Hom te ken (aan te roep) in alle dinge en Hy sal vir ons openbaar maak dié dinge wat ons nie ken, verstaan en weet, nie. Die werke van God se Hande – en dit is mos ook dan die skepping ingeslote – getuig immers juis van Hom (Psalm 11:7; 19:2; 33:5-6; 104:24; Jesaja 40:26-28; Romeine 1:20).

Daarom is dit dus die eiewys en kunsmatige etikette (in die vorm van bevooroordeelde, onbevoegde aannames, hipotese en teorieë) wat mense – ongelowiges en soms ook gelowiges – aan die skepping, die natuurlike fondse en feite, hang, wat konflik met die Woord, bring. Wanneer daar dus konflik op die oog af, tussen wetenskap en die Woord is, is dit óf die natuurlike getuienis wat verkeerd verstaan of geïnterpreteer word, óf die Woord wat verdraai word – of selfs beide. Dan moet die wetenskaplike teruggaan en herondersoek doen – want harmonie met die Woord is ’n gegewe en ’n uitstekende maatstaf en rigtinggewer vir wetenskaplike ondersoek. Die objektiewe, eerlike wetenskaplike sál noodwendig begryp dat die menslike wetenskap baie beslis nog nie alle kennis en wetenskap in pag het, nie en wanneer die wetenskaplike met ’n situasie gekonfronteer word waar die natuurlike fondse oënskynlik met die Woord bots, óf die Woord in konflik is met wetenskaplike metodes sodat dit nie as sodanig versoen kan word, nie, dan moet die wetenskaplike weet dat hy nuwe navorsing, nuwe toetse, nuwe metodes moet ontwikkel om die onbekende, die onbegryplike, sinvol te ondersoek sodat dit uiteindelik verstaan kan word.

Die beginsel is dus dat die natuurwetenskap van God se verbysterende Intelligensie, skeppingsvermoë en metodes getuig en dat die Woord daar volkome in harmonie sal wees –soveel só dat die Skepping, as getuienis, die Woord in daardie opsigte sal ondersteun en verduidelik.

Daar moet natuurlik ook onmiddellik besef word dat die Woord nie ’n wetenskap handboek is nie en derhalwe nie wetenskaplike feite aanbied in die formaat en volgorde wat normaalweg met ’n wetenskap handboek geassosieer word, nie. Die wetenskaplike inligting wat in die Woord voorkom, is inderdaad daar vir die rede om God, as Skepper, daarmee te vereer en om die verband te bring tussen die Spirituele (Geestelike) dimensie en die materiële (fisiese) dimensie en om die inskakeling daarvan by mekaar, uit te wys. Dus, die wetenskaplike inligting in die Woord is feitelik korrek, maar dit is dáár om die Geestelike (Spirituele) Boodskap en Evangelie, diensbaar te wees. Dit getuig ook direk van die onlosmaaklike band tussen God en Sy Handewerk (die ganse natuurlike skepping) – soveel só dat daar sommige is wat meen dat God juis die skepping, is.

Die waarheid is dat die aarde self, as entiteit, nié op die eerste skeppingsdag van Genesis 1:3-5 geskape is, nie. Toe God op die eerste skeppingsdag met die huidige skepping begin, was die aarde alreeds vir ’n onbepaalde tyd, daar. Die Woord is duidelik:

Genesis 1:1 (AFR1953)

“IN die begin het God die hemel en die aarde geskape.” ‘Geskape’ en nie ‘gemaak’(sien), nie. ‘In die begin’ – en nie ‘op die eerste dag’, nie. Daar word ook in Eksodus 20:11 na die sesdaagse skepping verwys, maar in die beskrywing en konteks dáár gebruik die Woord juis nié bara, wat ‘skepping/create’ beteken, soos in Genesis 1:1, nie, maar juis die ánder woord, naamlik asah, wat voorberei/toeberei/toerus/maak/laat produseer, beteken – spesifiek verwysende na God se ‘werk’ om die aarde en sy uitspansel toe te rus en hou direk verband met die rus van die sewende dag wat God as rusdag instel. Dus, ’n duidelike onderskeid. Ons weet mos dat daar aan die begin van die ses skeppingsdae, niks op aarde was, behalwe water, nie. Die aarde as planeet, was daar, maar niks op aarde anders behalwe water, nie (Genesis 1:2). Dus, asah in Eksodus 20:11 (en 31:17) verwys nié na die skepping van die aarde self, in sy kosmiese hoedanigheid, nie, maar wel na die skepping op en om die aarde – die toebereiding, van die aarde met sy biosfeer en die uitspansel om die aarde heen.

Die gebeure op die eerste skeppingsdag van die huidige skeppingsera, se beskrywing begin by vers 2 en 3.

Die eerste vier skeppingsdae, weet ons nie hoe lank dié was, nie, want daar is geen aanduiding van die duur daarvan nie. Wat ons weet, al word daar in die Woord verys na ‘aand’ en ‘môre’, is dat die eerste vier skeppingsdae nié vier 24-uur dae, was, nie (dié was eers ná die vierde skeppingsdag in werking). Hierdie eerste vier dae kon óf korter óf langer as 24 uur wees. Die Woord leer ons dat ons begrip van ‘tyd’ in die Goddelike dimensie, nie geld nie. Vir God is ’n duisend jaar soos een dag en andersom (Psalm 90:4; 2 Petrus 3:8-9). Wat dit dus beteken is dat, wat ons as mense ’n duisend jaar sou neem om te verstaan of te verrig – en dit beteken die onmoontlike vir ons, want niemand van ons kán ’n duisend jaar leef nie – sal God in ’n dag verrig, want Hy is almagtig en by Hom is niks onmoontlik, nie (Job 11:7; Markus 14:36). Aan die ander kant, is een dag vir ons soos ’n duisend jaar vir God, wanneer dit by Sy langdurige geduld en lankmoedigheid, kom (sien 2 Petrus 3:8-9 vir daardie konteks).

Maar God het vanaf ná die vierde skeppingsdag (waarop die dag-nag siklus soos ons dit ken, ingestel is juis vir ons tydhouding en tekens – sien Genesis 1:13-19) die res van die skepping van die vyfde en sesde skeppingsdag, voltooi – in die 24-uur dae soos ons dit ken vandag – want tóé eers, sê die Woord, is dié dag-nag stelsel vir ons geskep sodat ons dit kan gebruik vir die berekening en vasstelling van ‘tyd’ en tydperke wat daarmee verband hou.

Daarom – ons weet nie hoe lank dit God geneem het om die reeds bestaande aarde gedurende die eerste vier skeppingsdae voor te berei vir die lewe wat vanaf die vyfde skeppingsdag daarop geskep is, nie, maar wat ons wél weet, is dat alle lewe wat op die vyfde en sesde skeppingsdae geskape is, wél binne daardie 24 uur dae, geskape is. Ons weet nie hoeveel van elke hoofsoort daar was nie, waarskynlik maar baie min – ’n teelpaar vir elke hoofsoort – want dit is geontwerp om te voortplant en te vermeerder, soos ons sien gebeur. God het immers ook net twee mense gemaak op die sesde dag. Daarna het die mense met die tyd, voortgeplant.

Ons weet ook dat God alle lewe op aarde, uit die gemeenskaplike aardelemente (Genesis 1:20,24; 2:7) geskape het – DNS en ander toetse bevestig dit.

Maar, vóór die skepping wat in Genesis 1:2 begin, was die aarde en hemel alreeds daar, maar die aarde was ook sonder water. En toe, voor die huidige skepping (waarna in Genesis 1:2 en verder verwys word) begin het, het daar wél water op die aarde gekom. Hierdie word bevestig deur die Woord in Openbaring 12:13-16. Maar ons weet nie uit die direkte Woord, welke lewe op die aarde was vóór die huidige skepping plaasgevind het, nie. Ons weet wel wat op die aarde gekom het met die huidige skepping, soos in Genesis 1: 2-27 uiteengesit. Dit is derhalwe duidelik dat God die reeds bestaande aarde hernuwe het met die huidige skepping, waarvoor God die water gebruik, het (Psalm 24:2; 136:6; 2 Petrus 3:5). Hierdie word ook deur die wetenskap bevestig – dat water die rumateriaal van eerste lewe, was – en God het dít, in die ses skeppingsdae van Genesis 1:2-27 gedoen.

Ons weet ook dat daar verskeie skeppingseras is waarop alle lewe uitgewis word en met nuwe lewe hernuwe word – soos ons sien uit Openbaring 12:13-16; daaropvolgend Genesis 1:2-27; daaropvolgend Jesaja 66:22; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1. God maak dit duidelik dat HY by sulke geleenthede nuwe lewe skep – vernuwe (Openbaring 21:5). Ons weet dus ook dat God dit weer sal doen maar dat hierdie aarde as kosmiese entiteit (weereens) nie heeltemal sal verdwyn nie, maar weer leeggemaak/skoongemaak sal word deur element-verterende vuur, vir nuwe lewe op ’n weereens seelose (waterlose) hernuwe aarde (Jesaja 51:6; 2 Petrus 3:10; Openbaring 21:1, 5). Wat die huidige skepping aanbetref, sien ons ook geen teken van darwinistiese tipe evolusie plaasvind in die menseheugenis nie in terme waarvan een soort in ’n ander soort evalueer en verdwyn, nie – en dit ondersteun die Woord dat alles gedurende die ses skeppingsdae in hulle onderskeie soorte klaargemaak is en só bly voortbestaan tot die einde met die nodige aanpassingsvermoëns (wat ook ’n baie beperkte vorm van evolusie in die sin van aanpassingsvermoë en diversiteit). Aap bly egter aap, dier bly dier, seedier bly seedier, mens bly mens en voël bly voël. Só leer die Woord ons en só bevestig die natuurwetenskap, dit onomwonde – onomstootlik.

Maar dit is ook te verwagte dat tekens van lewe uit die vorige skeppingsera/s te vinde sal wees op aarde, maar wat nié hoort by die huidige skeppingsera, nie. Die fossiele van vreemde lewensvorme wat baie oud is, wat gevind word, getuig van die vorige aardstelsel wat die huidige skeppingsera voorafgegaan, het. Dit is dan die verklaring vir die vreemde voorkoms van uitgestorwe lewe op aarde – hulle was daar, maar nié uit hiérdie era, nie en beslis geen mense uit die vorige eras, nie. Die Woord dui aan dat mense uniek tot hierdie skeppingsera is (Genesis 1:26-27; 2:5-7) Die evolusioniste het géén teenvoeter hiervoor, nie.

Ons weet ook uit die wetenskap dat rots, waarvan die aarde in hoofsaak geskape is, nie weens vuur/hitte vergaan nie, maar smelt (ons aardkern bestaan immers uit gesmelte rots wat magma genoem word en wat van tyd tot tyd uit vulkane uitbars) en, mits die hitte groot genoeg is, glasagtig word. Die wetenskap ken mos die sogenaamde ‘Pete’s hair’ wat eintlik skoon magma slierte, afkomstig van Hawaii tipe vulkane se magma borrels, is, wat bars en waarvan die magma stringetjies deur die atmosferiese winde aangedryf en vervleg word soos kristalagtige haarslierte – ’n pragtige skouspel – meestal vry van vuil vulkaniese as soos ander vulkaniese magma. Dus, gesmelte rots word eintlik glasagtig – dit vergaan nie. Nou, as ons kyk na die nuwe skeppingsera en die beskrywing daarvan, die verruklike kristalagtige voorkoms daarvan, dan lyk dit mos of die wetenskap die werklikheid van die ontstaan daarvan bevestig (Openbaring 4:6; 21:11)!

Berekening van tydperke en ouderdomme in die natuurwetenskappe, is egter ’n probleem, waar dit by vergange, onopgetekende materie en gebeure, kom. Ons het onlangs gesien hoe die wetenskaplike navorsers anomalieë en ander onsekerhede met die huidige metodes uitwys wat dit as onbetroubaar uitwys. Die toetse is dus onbetroubaar, nie net in wat ons weet daaromtrent nie, maar verál wat ons nóg nie weet, nie. Selfs ook by die berekening van tydperke volgens die Woord, in daar probleme in wat ons nog nié weet, nie. Só byvoorbeeld, word in die ou testament van maande en jare gepraat. Dit sal egter ’n fout wees om vandag se konsepte daarop toe te pas, want ons weet dat dit destyds nié só toegepas was, nie. As duie Woord dus sê dat Adam 930 jaar oud was toe hy sterwe, beteken dit bepaald nie dat dit 930 jaar in vandag se terme was, nie. Ons weet dat die antieke mense maar dikwels uiteenlopende manier had van tydsindeling. Sommige het 28 dae in ’n maand toegeken, ander weer, meer as 30 dae en ander weer, het die dae in siklusse met minder of meer dae, toegeken. Dan is daar géén manier om vas ste stel hoe die antieke mense jare bereken het, nie – hoeveel maande in ’n jaar toegeken is, nie. Sommige tien, ander weer, meer. In ’n stadium was die Arameërs en Hebreërs se gebruik om 10 maande in ’n jaar toe te ken, met ’n ekstra maand elke derde jaar. Dan was daar weer die sterrekykers wat min of meer twaalf maande had. Maar ons weet nie vandag, wat die geval met Moses was, wie nié ’n sterrekyker was, maar die opskrywer van die Pentateug was en dus jare vermeld het ooreenkomstig sý kennis daaromtrent, derduisende jare gelede. Ons kan bespiegel, maar ons weet nie. Kortom, ons weet regtig nie hoe lank ’n antieke (Ou-Testamentiese) jaar van die Woord, was nie – wat ons wél weet is dat dit nié gelykstaande is vandag se jaarbepaling, nie – dit is maar eers ingestel ná Christus.

Met die regte metode en benadering, sál die objektiewe, onbevooroordeelde wetenskaplike, geen probleem vind om die Woord in harmonie met die wetenskap, te vind, nie.

Groete,
Kobus de Klerk

  • 1

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Volgens die Bybelse Ensiklopedie, het die Israeliete het ’n sogenaamde ‘maanjaar’ van 12 maande of 354 dae gehad – afgelei van die Hebreeus 'c?d?sj', wat saamhang met die stam 'chdsj' (om nuut te wees, van die nuwe lig, die nuwemaan). Die ‘maanjaar’ word vereenselwig met volke wat geen vaste woonplek het nie.

    Maar, Israel  moes ook, ten laatste vanaf hulle besetting van Kanaän, ook met die ‘sonjaar’ rekening hou ter wille van hul nuut aangeleerde landbou en die jaarlikse feeste (soos die oesfees). Maar ons weet dat die optekenaar van die Pentateug, Moses, gesterwe het net vóór die besetting van Kanaän maar dat God alreeds vir Moses as deel van die Mosaïese wette, regulasies ten aansien van landbougewasse gegee het en ook met betrekking tot die verskillende Godsdienstige feeste waar sulke gewasse betrokke is. Dit beteken ook dat Moses sou kennis dra van die 'maanjaar' én die ‘sonjaar’ en is die jaar berekeninge in die Pentateug waarskynlik volgens die Israeliese jaarvasstelling.

    Ter wille van die ‘sonjaar’, sou dit nodig wees om elke 2 of 3 jaar, na gelang van die oeste, ’n 13de maand in te voeg, om die ‘maanjaar’ van 354 dae in ooreenstemming te bring met die ‘sonjaar’ van 365 dae, alhoewel die Woord nie spesifiek daarna verwys, nie. Dit maak dit dan natuurlik moeilik om die talle jaar-tydperke wat in die Ou Testament vermeld word, akkuraat te bereken, volgens hedendaagse norme, al word die Israelse tydsberekening gebruik, wat die waarskynlikste opsie was.

    Wat ons wél dan weet, is dat die jare akkumulatief dan langer sal wees as ons hedendaagse vaste jaarvasstelling, omdat dat elke soms 24 en soms 36 jaar ’n ekstra jaar bykom, om voorsiening te maak vir die ekstra maand in die ‘sonjaar’.

    Die burgerlike ‘dag’ het dan ook van sonsondergang tot sonsondergang geduur, maar dit is glad nie duidelik presies hoeveel dae die Israeliete in hul maande had, nie – maar die waarskynlikste is dat dit streng die maan gevolg het, af te lei van die fees elke nuwemaan (1 Samuel 20:5; ?Jesaja 1:13, ?14; ?Hosea 2:10; ?Amos 8:5). Hulle sou dus elke maand ten minste 30 dae hê, as die sinodiese periode van die maan (29 dae 12 uur 44 minute 2.9 sekondes), juis ter wille van die nuwemaan, eerder as die orbitale periode , soos ons dit vandag ken, in ag geneem word.

    Die effek hiervan, is dat die jaartye wat in die Ou Testament vermeld word, dus aanmerklik langer is as hedendaagse jaartye en is dit 'n fout vir enigeen, ook die nuwe aarde kreasioniste, om die Ou Testamentiese jaartye gelyk  te stel aan die huidige.

    Groete,
    Kobus de Klerk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top