Koue Pole se hart klop warm vir Afrikaans

  • 3

In Suid-Afrika woed daar vuurwarm debatte oor die voortbestaan van Afrikaans as akademiese taal. Maar in die yskoue Pole het een van die land se universiteite sy deure vir Afrikaans oopgegooi en klop daar warm harte vir Afrikaans. By die Adam Mickiewics Universiteit in Pozna? is dit nie vreemd om Afrikaanse woorde soos paddastoel, branderplankry, piesang, gogga en spinnekop te hoor nie.

Toe Karen Kuhn so paar jaar gelede vertel sy gaan haar doktorsgraad in Afrikaans aan ’n Poolse universiteit doen, het die mense gedink hulle hoor verkeerd. Jean Oosthuizen het met haar gesels oor haar werk in Pole, waar sy besig is met ’n Phd in Afrikaans. Haar proefskrif handel oor die siener, skrywer en baasspioen Johanna Brandt, wie se oortuigings in kontras was met destydse geloofservarings.

Terwyl daar hier in Suid-Afrika vuurwarm debatte woed oor die voortbestaan van Afrikaans en Afrikaans as akademiese taal, is jy in die yskoue Pole van alle plekke besig met ’n Phd in Afrikaans. Kan dit wees? Jy doen ’n Phd in Afrikaans aan ’n Poolse universiteit?

Ons departementshoof, prof Koch, tree as promotor op en na ’n gesprek met die dekaan (Katarzyna Dziubalska-Ko?aczyk) van die Fakulteit Engels verwelkom sy die voorstel, juis oor dit ’n eerste gaan wees in haar fakulteit. Die dekaan, prof Koch, Fanie Olivier, ander kollegas, regdeur tot by die studente, is passievol oor Afrikaans en Suid-Afrika, wat ’n uiters positiewe en motiverende klimaat skep. Dis opwindend.

Die Adam Mickiewics Universiteit in Pozna?, waaraan jy ook as ’n besoekende senior dosent verbonde is, het ’n Departement van Nederlands en Afrikaanse Studies. Watter kursusse bied Afrikaanse Studies aan?

Ons is op die oomblik besig om die kurrikulum te hersien, wat hoofsaaklik bestaan uit Afrikaanse taalverwerwing, Engelse en Afrikaanse letterkunde, kultuurstudies en Suid-Afrikaanse geskiedenis, dus kursusse in sowel Afrikaans as oor Suid-Afrika in sy geheel.

Die departement waaraan jy verbonde is, is veral betrokke by Nederlandse, Vlaamse en Suid-Afrikaanse letterkunde van die 19de en 20ste eeu. Waar kom Pole se belangstelling in dié tale vandaan?

Moderne tye staan vanselfsprekend in die kollig, maar in die taalgeskiedenis (Nederlands of Afrikaans) of in die literatuurgeskiedenis word baie aandag aan die historiese periodes gegee, soos die Middeleeue of die koloniale tydperk. Die historiese besef in Pole is baie groot – groter as in Wes-Europa. In die 19de eeu het die meeste Pole, as gevolg van besettings (Poolse delings aan die einde van die 18de eeu) ook ander tale gepraat, veral Russies en Duits, die elite nog Frans. Onder die kommunistiese bewind het dit as gevolg van geslote grense verander. Vir jong Pole in die jare '60 of '70 was Westerse tale ’n toegang tot ander kulture ook in die politieke sin. Vandaar die groot belangstelling sedert die begin van die '90’s vir die aanleer van vreemde tale.

Adam Mickiewics

Wat is die universiteit se amptelike taalbeleid en hoe hanteer hulle die groot verskeidenheid tale waarmee hulle te kampe het?

Die universiteit begin finansieel te desentraliseer en ons hoop die kleiner vakke (soos kleiner tale, byvoorbeeld) met minder getalle studente gaan nie ten koste van die groteres ly nie. Die beleid van die ouer fakulteit van moderne tale (formeel Neofilologiese Fakulteit) het die diversiteit aanvaar en ondersteun. Pozna? is naas Warskou en Kraków een van die universiteite in Pole waar 'n mens baie verskillende tale kan studeer. In die nuwe Engelse Fakulteit – ons Departement van Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies maak deel daarvan uit – word die beleid voortgesit. Jacek Fisiak, die vorige direkteur, het prof J Koch na Pozna? laat kom om eers Nederlands en daarnaas Afrikaans te ontwikkel.

Waar ons nou staan, is as gevolg van daardie beleid en die jare lange spanbou. Die nuwe dekaan, prof Dziubalska-Ko?aczyk, en ander kollegas besef baie goed dat die Engelstalige wêreld baie divers is en grotendeels uit sprekers bestaan wat Engels as tweede of derde taal gebruik. Die ontwikkeling van kleiner tale kan ’n mens met hierdie besef van ’n geglobaliseerde wêreld steun. Ons sien ook elders in die wêreld op politieke en kulturele vlak dat die globalisasie aan die een kant vorder, maar aan die ander dat daar plaaslike tale en kulture herontdek word.

Afrikaans word selfs nou nog deur sommige Suid-Afrikaners as ’n apartheidstaal of die taal van die onderdrukker beskou. Wat is die mense in Pole met wie jy te doen het se indrukke van Afrikaans?

Nee, ek het nog nooit die indruk gekry of teëgekom dat hulle Afrikaans verbind met hierdie stigma nie, eerder ’n fassinasie weens die taal se eksotiese aard en komplekse historiese ontwikkeling, maar ook die herkenning van woorde, hetsy van Frans, Duits, Engels en selfs binne die Slawiese tale.

Maar waarom sal iemand in Pole meer oor Afrikaans wil leer as daar soveel ander tale is wat ’n veel wyer gehoor het?

Ek het die vraag aan ons studente gestel en die oorhoofse antwoord was dat hulle geïnteresseerd is in Suid-Afrika en in ons land se kultuur en geskiedenis. Na ’n jaar van studies waar hul al redelik gemaklik Afrikaans kan praat, ervaar hul die taal as klankryk en grammaties nie te moeilik nie. Van hul gunstelingwoorde: paddastoel, branderplankry, piesang, gogga en spinnekop. ’n Nuwe wêreld het vir hul oopgegaan saam met die taalverwerwing, wat ek dink van onskatbare belang is vir sowel persoonlike as intellektuele ontwikkeling. Begrip en respek vir ’n ander se taal, kultuur, geloof en die konsep van ubuntu – alles beginsels wat vandag broodnodig is reg oor die wêreld.

Derdejaarstudente in Afrikaans aan die Adam Mickiewics Universiteit in Pozna?

Waaroor handel jou proefskrif?

Die proefskrif handel oor Johanna Brandt (1876–1964), ’n Suid-Afrikaanse propagandis, spioen en skrywer. Brandt het verskeie boeke geskryf, onder andere Die Kappie Kommando. Dis die mees bekende werk van haar, maar my navorsing fokus op haar tekste wat gemarginaliseer is. Veral as gevolg van haar religieuse en mistieke blik en visioene wat omstrede en in kontras was met destydse geloofsopvattings, maar moontlik nou in ’n vernuwende lig gelees kan word.

Jy is nou al ’n geruime tyd in Pole. Het jy al hulle taal en manier van skryf aangeleer, en hoe moeilik is dit?

Pools is ’n uiters uitdagende taal om aan te leer, van uitspraak tot grammatika. Die substantiewe het sewe naamvalle, meer as in Latyn, om nie eens te praat van die verbindings nie. Fassinerend. Ek kan die basiese sê, dalk al bietjie meer begryp.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Geliefdes, ’n tjoppie en die son.

Adam Mickiewics Universiteit in Pozna? se hoofgebou

Jou debuutdigbundel, Ingeboek, het in 2012 verskyn. Kry jy darem nog kans om te dig ook, en is daar dalk iets in jou laai wat ons een of ander tyd sal kan sien of waarna ons al kan loer?

Vir seker, om hier in die buiteland te wees, om te reis, dit is alles ’n verrykende ervaring wat uitloop in verse. Skryf is deel van ’n leefstyl hier.

Oorbly

Malaika
jou strale plant
vanuit jou hemele
goud en water en energie
jou diamante trek
vanuit jou baarmoeder
in modder sterrelig
vanself Malaika
om jou uitsig
weer te sien
in Pole
soen geraas stilte
proe ek al jou
reuke in een tong
vanself Malaika
om jou tale
weer te hoor
in Pole
sing geraas stilte
kom hop en wip en klop
voete en boude en heupe
soos ’n kidege kwikkie
op warm stof
draal en dans en draai
vanself Malaika
om jou ritme
weer te voel
In Pole
smelt stilte geraas
in donker
volg brandende vingerpunte
jou grense deur jou buitelyne
jou riviere in
vanself Malaika
jou stroom
my weer indra
in Pole
wieg stilte geraas
Malaika
bly Jy altyd oor
spreek vanself.

Jy en jou kollegas is ook besig met ’n paar ander lekker projekte. Vertel ons kortliks daarvan.

Die International Baccalaureate Organization se tak in Den Haag het my uitgenooi om deel te neem aan die Peterson Academic-simposium wat handel oor die rol van kreatiwiteit, hetsy in die klaskamer of in die alledaagse lewe.

Daar is sprekers van Australië, die VSA, Singapoer, Engeland, Frankryk, Thailand en vanjaar ook ’n verteenwoordiger van Afrika en spesifiek Suid-Afrika.

Verlede jaar het ek en ’n kollega van die Departement van Moderne Griekse Studies ook aan die Adam Mickiewicz Universiteit begin werk aan die vertaling van die Griekse digter Odysseus Elytis se vers “Die Monogram”.

Fanie Olivier is besig met ’n vertalingsprojek waar ons derdejaars Poolse gedigte van hul eie keuse in Afrikaans vertaal. Fanie neem ook ons derdejaars in Februarie op ’n toer deur Suid-Afrika. Finansiële ondersteuning vanuit die privaatsektor is verkry en al is daar nog fondse uitstaande, is die opwinding en motivering daar. Die toer bied die studente die geleentheid om hul teoretiese kennis nou prakties te gaan toepas en hulle beoog om van noord na suid te reis.

Prof Koch, spesifiek in verband met Suid-Afrikaanse Studies, het al drie boeke in Pools oor Afrikaanse literatuur geskryf: twee daarvan vorm Afrikaanse literatuurgeskiedenis vanaf die begin tot ongeveer 1930. Die eerste deel (17de tot 19de eeu) verskyn binnekort in ’n Engelse vertaling by Van Schaik.

Jerzy Koch

Hoe sien jy die toekoms van Afrikaans, veral as akademiese taal, maar ook wyer, van doer ver uit die vreemde en wat kan Afrikaanse mense doen om hulle taal te bevorder? Is Afrikaans uiteindelik besig om sy lê te kry en hopelik tussen almal se lakens en nie in ’n doodskis nie?
In een van jou gedigte, “Taalles”, skryf jy:

 Moet haar nie so styf
 vashou nie, sy versmoor:
 Stuur haar terug
 om die wêreld
 te herinner sy lê
 tussen almal se lakens.

Die voortbestaan van Afrikaans, maar ook ander inheemse tale in Suid-Afrika, is in die gedrang, maar terselfdertyd is daar soveel positiewe dinge aan die gebeur wat eerder ons aandag en energie vereis. Verdere samesprekings binne ons departement om uiteindelik ’n nagraadse kursus aan te bied, is in die pyplyn. ’n Gedagtegang van “opstaan vir verdraagsaamheid en respek” in plaas van “vrees teen uitsterwing” is meer konstruktief. Afrikaans is ’n wêreldtaal, nes enige ander: so lank as wat sy blootstelling kry, sal sy waardeer word, daarvoor is sy mooi genoeg.

Taalles

Moet haar nie so styf
vashou nie, sy versmoor:
Stuur haar terug
om die wêreld
te herinner sy lê
tussen almal se lakens.
So kom sy van orals
na haar Afrikabed:
Excuse-moi, moet haar
nie so styf vashou
nie, sy krimp.

Kyk hoe sexy is sy,
as sy so suutjies
almal met hul eie
woorde verlei.
Onthou: Sy lê
tussen alle lakens.

Tula-tula, tula-tula.
So kom hulle van oral
na haar Afrikabed:
Gesundheit én ???? .[1]

[1] Arabies vir “groei”

Karen Kuhn en Jean Oosthuizen by die US Woordfees in 2012 kort voor haar vertrek na Pole.

 

  • 3

Kommentaar

  • Lizelle Jacobs

    Ai Karen, jy is 'n stunning mens! 'n Suksesvolle mens. En nou bedoel ek jy is suksesvol in jou menswees!

    Lief jou so baie en verlang!
     
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top