Koue front

  • 0

Foto: Canva

Koue front

as die koue lug trog maak
duskant Calvinia se berg
en nat wolke uitryg
teen haar hang

hang my wasgoed teensinnig
aan die slap draad
arms gevou teen die kou

die pad voor die huis stil
nie ’n hond wat blaf nie
nie ’n kind wat roep nie

ek ryg my toe in trui en serp
trap na ’n enkele sonkol
luister na die nuus

die Kaap verspoel tot modder
die Noorde warm en droog

ek is nie hier nie
en ook nie daar nie

my asem wasem vas
teen die ruit

my refleksie gestil
tot ’n oomblik

teen die winterkou

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top