Konsert vir Christa Steyn in Stellenbosch

  • 0

Gevorderde bors- en lewerkanker is onlangs by die liedjieskrywer, pianis en musiekvervaardiger Christa Steyn gediagnoseer. Om haar finansieel by te staan in ’n tyd wat sy hoë mediese koste in die gesig staar en sy weens die siekte en sterk chemoterapie nie volstoom sal kan werk nie, het haar vriende in die musiekbedryf (en daar is baie) saamgespan en vir haar ’n konsert beplan.

Rika Vermeulen en Anéle du Plessis van Maniac Music Produksies het besluit om ‘n konsert vir Christa in die Wes-Kaap te reël, en ’n Kaapse konsert vir Christa word gehou op 21 November 2011 om 20:00 in die Bloemhof Sentrum by Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch. Die aktrise en dramaturg Lizz Meiring sal die leisels tydens die vertoning op die verhoog vashou. Sy gaan ook haar lyf afslaer hou tydens die vertoning en handgeskrewe bladmusiek van en deur Christa opveil. Al die fondse gaan ook aan Christa geskenk word.

Van die 24 kunstenaars wat vir die konsert bevestig het, is David Kramer, Dowwe Dolla, Lizz Meiring, Valiant Swart, Anton Goosen, Gian Groen, Anna Davel, Sarah Theron,Leroi Nel van Foto na Dans, Inge Beckmann van LARK, Adriaan Brand, Schalk Joubert, 3rd World Spectator, Roné Roux, lede van New Holland en Heuwels Fantasties en vele ander. Indien haar gesondheid dit toelaat, sal Christa die konserte bywoon.

Kaartjies kan by Computicket gekoop word en kos R120.

Christa, wie se eerste openbare uitvoering in 1962 was toe sy op vierjarige ouderdom die kleuterskool se koor begelei het, is veral bekend om haar vertonings saam met Jannie du Toit, veral as Tannie in hul vertoning Jannie en die Tannie.

Sy is vir baie kunstenaars egter ’n mentor betreffende die skryf van liedjies. Haar liedjies Aan die einde van die reënboog en Ek wil vir jou was groot treffers en haar solo-albums Rondo en Burlesque was baie suksesvol.

Sy is ook ’n baie gesogte begeleier op die klavier vir ander kunstenaars.

Studio of Note was in 2006 vir Christa die verwesenliking van haar jarelange droom om haar eie opname-ateljee te besit en sy het intussen baie kunstenaars gehelp om hul musiek op te neem. Sy was ook betrokke by musiekproduksies soos Houtkruis, die musical in 2008, en Hartsnaar in 2009, weer aan die sy van Jannie du Toit.

Rika Vermeulen
Director/Direkteur

MANIAC MUSIC

072 262 7239

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top