Kortliks met Stefaans: Om kieskeurig te lees

  • 0

Samesteller: Lee Child
Titel: No middle name
Uitgewer: Bantam Books
ISBN: 9780857503770

Lee Child se kortverhaalbundel No middle name dien as ’n oortuigende bewys dat kortverhale wél effektiewe bemarking kan wees, ondanks die hardnekkige persepsie dat sulke bundels minder verkoop. Ek vra al lank dat kortverhale as bemarking kan – nee moét – dien.

Ek verstaan dat kortverhaalbundels tradisioneel minder verkoop, maar Luca se Stories van die siel (wat verlede jaar gereeld op die Nielsenlys verskyn het) getuig van ’n leserspubliek wat toenemend honger is vir die korter formaat. Wie sien byvoorbeeld nié uit na Martin Steyn se komende bundel nie? Selfs Deon Meyer se kortverhaalbundels vaar kommersieel goed – al haal dit nie die rekordsyfers van sy romans nie.

Internasionaal volg misdaadskrywers meestal een van twee roetes: óf ’n bundel uiteenlopende misdaadstories, óf ’n bundel wat sentreer rondom ’n gevestigde speurder. Child kies doelbewus laasgenoemde opsie deur verskeie verhale uit Jack Reacher se lewe aan te bied – van sy jeugjare tot oomblikke net voor sleutelromans afspeel.

In “Second son” ontmoet ons Reacher op 13, gevolg deur “High heat”, waar hy 17 is. Ander verhale speel af tydens sy militêre loopbaan, terwyl “Guy walks into a bar” slegs minute voor die openingstoneel van Gone tomorrow afspeel. Die bundel funksioneer dus nie net as aanvullende leesstof nie, maar as ’n strategiese uitbreiding van die Reacher-mitologie – en juis dáárin lê die bemarkingskrag van ’n kortverhaal.

Samesteller: Dennis Lehane
Titel: The drop
Uitgewer: Abacus
ISBN: 9780349140728

Moenie dat Dennis Lehane se slakkepas jou afskrik om The drop te lees nie. Dit is een van die beste misdaadromans wat ek in die laaste dekade gelees het.

The drop het in 2009 as “Animal rescue” in die bundel Boston noir verskyn, voordat dit in 2014 as volledige roman gepubliseer is. Dit is ook as film, met Tom Hardy in die hoofrol, verwerk.

Die roman speel in Boston se onderwêreld af en fokus op Bob Saginowski, ’n stil, teruggetrokke kroegbestuurder wat saam met sy neef Marv ’n kroeg (wat as “drop bar” vir die Tsjetsjeense mafia dien) bedryf. Wanneer die kroeg beroof word, word hy onwetend in ’n gevaarlike web van georganiseerde misdaad, verraad en geweld ingetrek. Om die verhaal te verdiep vind Bob twee dae na Kerkfees ’n hond in ’n asblik.

The drop het nie die literêre diepte van JM Coetzee se Disgrace nie, maar beide romans werk met hoofkarakters wat min sê en in albei romans lê die ware konflik eerder innerlik as uiterlik. Die hond in The drop vervul ’n verrassend soortgelyke funksie as die honde in Disgrace. In albei tekste word sorg vir ’n weerlose dier ’n maatstaf vir menslikheid, empatie en moontlike verlossing.

Skrywer: Chuck Hogan
Titel: The town
Uitgewer: Bloomsbury
ISBN: 9781408815694

Na The drop wil mens in noir bly. In my boekrak se willees-rak lê Calumet City (Charlie Newton), wat Lee Child as “the best cop noir for years” beskryf. Maar dit is die film poster van The town deur Chuck Hogan wat my aandag trek. Ek hou daarvan om boeke wat verfilm is, te lees en te vergelyk. Dit gaan nie oor hoe getrou die film aan die boek is of hoe goed die toneelspel is nie, maar wat van die boek het in die film behoue gebly. Hoe om só te skryf ...

Ek weet nie hoekom ek Don Winslow, Lehane en Hogan so laat ontdek het nie. Hierdie drie skrywers maak dat ek my leeslys moet hersien en heelwat name verwyder om vir hulle plek te maak. Hulle boeke het emosionele diepte wat meestal in jou gewone misdaadboeke, wat op prosedure of plot fokus, ontbreek. As krimis literêre werke moes lewer, sal die trio (asook Andrew Vachss) beslis aan die deure klop.

Kortliks: Die roman speel in Charlestown, Boston, ’n buurt bekend vir bankrowe, af. Doug MacRay is die leier van ’n professionele rooftogspan. Tydens ’n bankroof neem hulle kortliks vir Claire Keesey as gyselaar. Later begin hy haar dophou om seker te maak sy kan hulle nie uitken nie, maar hy raak onverwags verlief op haar. Die kernkonflik lê daarin dat hy tussen twee wêrelde vasgevang is: sy lojaliteit aan sy kriminele “familie” en sy begeerte na ’n nuwe, eerlike lewe saam met haar. Om spanning op te bou stel die FBI-agent Adam Frawley ook in Claire belang. Dit is nou ’n liefdesdriehoek wat jy nie aldag in ’n Romanza raaklees nie!

As dit by rooffilms kom, is 1995 se HEAT seker die baanbreker. Den of thieves is duidelik deur HEAT geïnspireer. Albei is ’n kat-en-muis-spel tussen die rowers en die ondersoekspan. The town volg nie die roete nie; dit is eerder intiem. Selfs die stad is ’n karakter.

Ek het die boek oor ’n paar dae gelees en net na sononder voltooi. Dit was so goed dat ek geen ander boek dadelik wou begin nie. Ek wou nog eers die woorde in my binneste voel maal. So goed was dit.

Skrywer: George Pelecanos
Titel: Drama City
Uitgewer: Phoenix
ISBN: 0753819392

Ek het nie van Drama City gehou nie, maar dit is nie George Pelecanos se skuld nie. Na The drop en veral The town sou min skrywers in dieselfde genre my bevredig. Ek het hier aan die gatkant van die roman handdoek ingegooi en Drie misdade in ’n knoop (Eleanor Baker) opgetel.

Dit bring my by ’n punt waaroor ek baie wonder. As ek ’n boek lees wanneer alles net maanskyn en rose in my lewe is, kry die boek gewoonlik ’n goeie indruk. Maar wanneer die harmonie rondom my versteur is, is die boek soms minder goed. Selfs boeke van gunstelingskrywers. Maak dit die boek swak?

Die antwoord bring my by Drama City. Ek sou waarskynlik anders gevoel het as ek dit vóór genoemde twee boeke gelees het. In The drop en The town is die geweld funksioneel. In Drama City was dit vir my amper te veel. Of dalk raak ek nou te oud.

Die roman speel in Washington DC af en vertel die verhaal van Lorenzo Brown, ’n voormalige misdadiger wat probeer om sy lewe reg te ruk. Ou kennisse, korrupte polisiemanne en bendegeweld trek hom terug. Die stad as karakter toon vir ons hoe moeilik dit in sommige gebiede is om skoon te loop op parool. Sosiale ongelykheid en rassisme is ’n kerntema wat meesterlik ondersoek word. Dit verander Drama City se harde aanslag in ’n menslike storie.

Ek is jammer ek ken nie die einde nie.

Nota: Ek sal baie graag wil hoor wat jý van die boek dink. Moet ek dit weer probeer? En voltooi jy alle boeke wat jy begin? Wat laat jou ophou lees? Met my oë word leestyd al hoe minder en my standaard al hoe hoër.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top