
Ek lees tans hoofsaaklik Engels, want 2025 se Afrikaanse krimi-arsenaal het nog nie begin losbrand nie. Tot sover was dit nog net Bettina Wyngaard se Knal wat behoorlik gedonder het. Deborah Steinmair noem in haar resensie vir Rapport dat Wyngaardt haar ritme gevind het en dat elke boek meer vaartbelyn, elegant en onneersitbaar as die vorige een is. Resensies in Beeld en Sarie onderstreep dit.
Pieter Stoffberg is volgens my (en as ek reg onthou, het Jonathan Amid dit ook êrens genoem) ’n spanningskrywer wat baie onderskat word. Ek het sy roman Donker vuur regtig geniet. Lees asseblief Tenk en Die beweging van bloed. Jy sal nie spyt wees nie. Ek het ’n resensie geskryf, so ek gaan dit nie hier bespreek nie.
Vir my verdien die herdruk van Eleanor Baker se Die vyf susters ’n spesiale shout-out. Dit is die eerste titel in ’n reeks van vyf spanningsverhale wat tussen 1998 en 2003 onder die skuilnaam Alex Muller geskryf is. Ek het Alex Muller se naam in Francois Bloemhof se bundel misdaadkortverhale Donker veld raakgelees, maar was in die tronk toe die vyf boeke destyds die lig gesien het, so ek sien uit na elke herdruk.
’n Boek wat ek ongelukkig nie gelees het nie, maar na wie se gesprek ek by die KKNK geluister het, is Gert Coetzee se Lens. Kyk uit vir die boek! Ek doen.
Verskeie groot kanonne staan in gelid om af te vuur, of het pas begin om hulle stemme te laat hoor: Jaco Wolmarans (Donkermaan in Julie en Sekelmaan in Augustus); Sidney Gilroy (Roulette) en Marie Lotz (Nagdier). Net om enkele name te noem.
Ek sou egter my sente spaar vir ’n paar belowende nuwe stemme. Bloed van ’n vlinder (Marieta Carrick) en Die ooggetuie (Wilna Roux) is op my wenslys. Carrick het in 2020 onder Anna Emm Waar bloed kruip uitgegee, so die sprong na NB-Uitgewers maak my super opgewonde.
Skrywer: Cara Hunter
Titel: Making a killing
Uitgewer: HarperCollins Publishers
ISBN: 9780008545789
Making a killing is die eerste sielkundige riller wat ek van Cara Hunter lees, maar beslis nie die laaste een nie.
Dit is die “exclusive Adam Fawley short story” wat my aanvanklik na die boek gelok het. Dit het gevoel of ek ’n special kry. Verder het haar van, Hunter, my aan (Karin) Slaughter laat dink – sulke vanne voorspel mos gewelddadige misdaadfiksie. Net vir interessantheid, alhoewel Slaughter Karin se regte van is, is Cara Hunter ’n skuilnaam.
Hoekom wil ek Hunter weer lees?
(1) Hunter inkorporeer e-posse, WhatsApp-boodskappe en nuusartikels in haar boek, ’n stylmiddel wat aan Michael Crichton herinner. Sy boeke was vol dokumente, amptelike verslae, nuusberigte, e-posse, grafieke en wetenskaplike artikels. Ek is versot daarop. (En soms wens ek ons kan dit meer in Afrikaans sien.) Hierdie waremisdaad-dokumentêrformaat het my heeltyd laat wonder: Is hierdie boek op ware gebeure gegrond? Hierdie visuele dinamiek behoort ook vir ’n jonger generasie, wat meer visueel ingestel is, aanlokliker te wees.
(2) In ’n tyd waarin waremisdaad-dokumentêre, sensasionele hofsake en sosiale media ’n bloeitydperk beleef, het ek dit geniet om te sien hoe ’n skrywer die media se rol in die vorming van publieke persepsies rondom skuld ondersoek. Die vrae wat sy vra, is uiters relevant en betekenisvol. Dit dwing die leser om aktief na te dink oor hoe ons oordeel, hoe skuld bepaal word en hoe maklik mense mislei kan word.
(3) Sy skep nie net spanning deur die whodunnit nie, maar ook deur die hoe en hoekom. Haar klem val dus meer op innerlike konflik as speurwerk. Nie dat sy die speurwerk afskeep nie.
(4) Sy fokus op die impak van misdaad op die slagoffers en gewone mense – gesinne, huwelike, gemeenskappe en selfs die polisiebeamptes – eerder as net die oplossing daarvan.
Die tempo is wel stadiger as misdaadfiksie waaraan ek gewoond is. Aanhangers van Marie Lotz en Bettina Wyngaard sal byvoorbeeld verveel word waar Hunter haar spanning effens verslap weens interne dialoë en polisieprosedures. ’n Bietjie snoeiwerk sou, my insiens, die boek versterk.
Onthou, as jy die boek gaan koop, moenie dit met Bonnie Espie se boek met dieselfde titel verwar nie.
Skrywer: Karen Rose
Titel: Dead man’s list
Uitgewer: Headline
ISBN: 978 1 0354 1412 3
As ek aan romantiese spanningsverhale dink, kom die koningin van die genre Sandra Brown se naam eerste by my op. Haar romanse is passievol; sterk seksuele spanning heers gewoonlik tussen haar hoofkarakters. Haar geweld is minder grafies. Sy fokus eerder op intrige en politieke korrupsie. Ek soek gewoonlik nét haar boeke met ’n politiese kleur uit.
En dit bring my by Karen Rose. Alhoewel haar reekse ’n donker ondertoon het, fokus sy gewoonlik op reeksmoordenaars, stalkers en persoonlike trauma. Dead man’s list val meer in lyn met ’n internasionale politieke/spioenasie-spanningsroman, amper soos iets wat ek van Brown (Smoke screen of Ricochet) sou verwag. Dit is egter nie ’n klassieke spioenasieverhaal in die styl soos ek dit verkies nie, maar steeds ’n baie lekker lees.
Jare gelede het ek Evelyn Anthony se boek The assassin gelees. As jy soos ek grootgeword het met The day of the Jackal (Frederick Forsyth) en The Bourne identity (Robert Ludlum), verwag jy iets hards. Maar Anthony se prosa is introspektief. Met ’n sterk romantiese einde. En dit is hierdie iets anders wat Rose tafel toe bring.
As dit by spioenasieboeke kom (veral nuwe stemme), gaan dit in my huis soos met ’n James Bond-film: Sê dit kom uit en ek gaan kyk dit. Die res maak nie eintlik saak nie. Dead man’s list voorspel immers waaroor die boek gaan. ’n Lys name wat aan internasionale geheimedienste gekoppel is, moet vermoor word. Die protagonis is ’n voormalige MI5-agent. Wat wil jy meer hê? Jy weet mos Rose kan skryf!
Wat ek interessant vind, is dat Rose nie die eerste skrywer is wat onlangs van haar normale genre afgewyk het en iets met ’n spioenasiekinkel aanvat nie. As ek reg is, het Tess Gerritsen dit met The summer guests en sy voorganger ook gedoen. Ek het egter nog nie een van die twee Penguin-publikasies gelees nie. In Afrikaans pak Elsa Winckler ’n Romanza-spanning aan. Jy het reg gelees. Om Karolien te beskerm lê op my bedkassie en ek sien uit om te sien hoe dit van die cozy verskil. Persoonlik dink ek ’n spanningsreeks is ’n goeie opvolg na die hoogs suksesvolle stoomreeks.
Skrywer: DeWet Bisschoff
Titel: Die kubermoorde
Uitgewer: Turksvy Publikasies
ISBN: 978-1-0370-0918-1
’n Resensie speel nie keurverslag nie, het die maestro-resensent Jonathan Amid onlangs in sy resensie (“Debuut met ’n tipe dubbeldoor-aanslag”, Netwerk24, 23 Februarie 2025) van Pieter Henning se debuutroman Mamba uitgelig. Ook nie “Kortliks met Stefaans” nie.
Verlede jaar was Fredrick Botha in sy resensie vir Beeld sag op ’n debuutskrywer. Oor Marnus Kok se debuut-kort-kortverhale Op die kantlyn, skryf Botha in “’n Skrywer met potensiaal” (Netwerk24, 24 Januarie 2024): “Dit is eerder ’n kort skryfoefening waarmee Kok sy skryfspiere opwarm en aanduiding gee van potensiaal wat nog ontsluit moet word.”
Waar trek mens die lyn?
DeWet Bisschoff se debuut-spanningsroman Die kubermoorde, wat pas by Turksvy Publikasies verskyn het, laat my hieroor wonder.
My kopie lyk soos ’n inkleurboek vol aantekeninge vir die skrywer. Die karakters is onderontwikkel, lesers is nie altyd seker waar die verhaal afspeel of hoe laat dit is nie. Die omgewing is nie behoorlik ingekleur nie. Die skrywer is net te haastig om aan te beweeg. Hierdie roman is een van daardie boeke wat sal baat vind daarby om ’n 10 000 woorde plus langer te wees. Hy sal ook baat vind daarby om die verskil tussen show versus tell onder die knieg te kry, clichés (“stil soos ’n landmyn”) en die woord dan (net op die eerste vier bladsye begin vier sinne hiermee, om nie eens te praat van dié wat tussenin gegooi word nie) te sny. En, en, en ...
In die eerste gedeelte van die boek “Aanloop” vind drie gedeeltes plaas. Plaasopstal, Oos-Kaap; Kragsentrale, Mpumalanga; en Ministerie van Energie, Pretoria. Ek voel dat dit óf later in die boek ingeweef kon word, óf as koerantartikels geskryf moes word, soos die skrywer aan die begin van elke hoofstuk doen.
Verder is dit bondig. Lesers wonder ook wie is die jong boer, die inspekteur en die netwerktegnikus.
Die tweede gedeelte “Tommie” bestaan uit agt bladsye. Tommie sterf, dus is sy perspektief onnodig, wat beteken die boek begin eintlik op bladsy 27. Hoekom kon Mac nie net in kennis gestel word van Tommie se moord nie?
Perspektieffoute hardloop deur die hele boek. Op bladsy 12 skryf die skrywer: “Vir ’n oomblik lyk dit of hy nog beweeg, maar dit is net die laaste stuiptrekkings. Hulle ondersoek hom vinnig en verwyder die foon en sy aantekeninge. Skop sy lyk ’n laaste keer en vloek hom.”
As die inspekteur, wie se perspektief hierdie gedeelte is, dood is, kan hy dit nie weet nie. Dit vind ook op bladsy 14 plaas. Soms is minder meer.
Maar elke keer wanneer ek moed wou opgee, het die storie en die skrywer se stem (hoor hier, hierdie man kán skryf!) my aan die lees gehou. Min spanningsverhale wat self of deur ’n klein uitgewer uitgegee is, kon dit regkry. Ek hou van die hele komplot-intrige wat hy skep.
Ek wonder of gewone lesers, wat nie deur ’n magdom keurverslae was nie, die krampigheid sou optel? Of lesers wat met Kas van den Bergh, ID Lamprecht en Christo van der Merwe se boeke grootgeword het.
Ek het al beleef hoe Amid ’n boek optower en voel dit is wat die skrywer van Die kubermoorde nodig gehad het. ’n Stewige dosis manuskripontwikkeling en ’n ysterhand met redigering.
Daar gelaat. As jy bereid is om verby die foute te kyk (soos met ’n John Wick-film), gaan jy ’n vars storielyn vind wat op volspoed geskryf is. Die skrywer weet hoe om spanning te skep, asook hoe om intrige en cliffhangers in sy verhaal in te weef. Op die regte tye is hy, net soos ’n wafferse kortverhaalskrywer, ekonomies met woorde.
Die kubermoorde herinner aan stemme soos Chris Moolman (Komplot, Sweepslag en Operasie Ché), Quintus van der Merwe (Die blou van ons hemel, In landsbelang en Om te lewe, om te sterwe) en Frederick H Steyn (Die ultimatum).
Ek is bly ek het die boek gelees (ek beskou dit glad nie as tydmors nie) en ek is super-opgewonde om die skrywer se opvolgwerk te sien.
Indien jy onseker is, lees sy gekeurde kortverhaal van die “Kyk hoe ver het ons gekom”-skryfkompetisie op LitNet, “Sorglose kinderjare”, en besluit self.

