
Skrywer: Don Winslow
Titel: The winter of Frankie Machine
Uitgewer: William Heinemann
ISBN: 9780434017072
Hoe goed is ’n hitman om afgetree te bly?
Dit is ’n vraag wat reeds deur skrywers soos Thomas Perry en Derek Haas ondersoek is. Albei lewer boeiende spanningsromans, maar vir hierdie leser het Perry se Eddie’s boy en Haas se The way I die nie dieselfde trefkrag gehad as hul oorspronklike skeppings nie. Ek versamel albei skrywers se reekse, minus hulle slotboeke.
In Perry se 1983-wenner van die Edgar Award for best first mystery novel, The butcher’s boy, ontmoet ons ’n weeskind (Michael Schaeffer) wat deur Eddie Mastrewski, ’n slagter én professionele huurmoordenaar vir La Cosa Nostra, grootgemaak is. Eddie’s boy speel byna 40 jaar later af. Carlo Balacontano, wat valslik deur Michael vir ’n moord blameer is, kom in aanmerking vir parool.
In Haas se The silver bear ontmoet ons ’n man wat homself Columbus noem. Hy is die room van hitmen. Teen die tyd wat ons by The way I die uitkom – ’n dekade later – leef Columbus (nou bekend as Copeland) in self-opgelegde ballingskap ná die dood van sy vrou om afstand tussen hom en sy seun te kry.
Ek is doelbewus kripties indien – en ek beveel dit regtig aan – iemand die reekse wil opslurp.
Wat in hulle boeke ontbreek, kry die 72-jarige Don Winslow in The winter of Frankie Machine reg. Frankie is ’n voormalige Mafia-huurmoordenaar wat reeds “uit die game” is, maar sy waaksaamheid vóór die geweld uitbreek maak die verhaal geloofwaardig.
Frank knows the neighbors, knows all their vehicles. None of them owns a Hummer. (bl 40)
Die skrywer neem sy tyd om Frankie oor verskeie hoofstukke bekend te stel – en dit werk. Ons leer hom ken, ons hou van hom, en teen die tyd dat die geweld begin eskaleer, is ons reeds lief vir hom. Omdat The winter of Frankie Machine nie deel vorm van ’n bestaande reeks nie, word Frankie se verlede deur terugflitse ingekleur. Dit gee hom ’n sekere voorsprong: Daar is geen vorige boeke waarteen hy gemeet hoef te word nie. Tog is daar ook ’n verlies – ek sou bitter graag nog iets van Frankie wou lees.
Die roman herinner aan The butcher’s boy en John Sandford se Certain prey: karaktergedrewe met ’n sterk literêre aanslag. Soos met Andrew Vachss se Burke-romans, is die geweld funksioneel. Temas sentreer rondom oorlewing, lojaliteit, familie en die las van die verlede.
The winter of Frankie Machine bevestig dat die konsep van ’n hitman wat afgetree wil wees, kan werk – mits die skrywer sy karakter ernstig opneem. In Winslow se hande word Frankie nie net iemand wat mense “whack” nie, maar ’n mens.
Nou sit ek met ’n dilemma: Staan dit in my boekrak naas Perry en Haas óf skenk ek dit aan ’n biblioteek wat ek in die tronk help begin? Ian Rankin merk reeds in sy shout-out op: “So good you almost want to keep it to yourself.”
NOTA: Bob Shop verkoop Beat the reaper (Josh Bazell) teen R40. En Winslow se novella, Crime 101, is verfilm. Dit het ek uitgevind toe ek vir ChatGPT vir soortgelyke boeke gevra het.

Skrywer: Chris Holm
Titel: Red right hand
Uitgewer: Mulholland Books
ISBN: 9781473606180
Red right hand het ’n filmiese opening. Dink aan die eerste episode van Blacklist.
Chris Holm het in sy debuuttrilogie, The killing kind, vir Michael Hendricks geskep. Wat my aanvanklik op Google aangetrek het, is dat Hendricks nie jou gewone hitman is nie – hy maak hitmen dood. Nè.
Na The winter of Frankie Machine se prosa, kon ek ongelukkig nie in die tweede boek kom nie. Klomp aksie, sonder enige diepte.
Maar ...
As die boek 10 jaar gelede in my sel beland het, sou ek dit sonder twyfel verslind het. Dáár soek lesers nie noodwendig na boeke wat uitstaan nie (dit is immers min), maar ontvlugting – en daarvoor sou tronkvoël-Stefaans vir Red right hand 10/10 gegee het.
![]() |
![]() |
Skrywer: Matthew Dunn
Titels: Spycatcher en Sentinel
Uitgewer: Orion
ISBN: 9781409121299; 9781409143987
Terwyl die ek-was-daar-politieke-spanningsromans (dis die ouens van die SAS, Delta Force, ensovoorts) in ’n groef geval het, blom die spioenasiegenre met voormalige agente wat die pen opneem. Die Britse direkteur-generaal van MI5, Stella Rimington, se At risk en die voormalige CIA-diplomaat, Jason Matthews, se Red sparrow is net enkele titels wat soos ’n veldbrand onder lesers versprei het.
Die genre is verder aangevul met ’n magdom sterk stemme, soos Charles Cumming (A spy by nature), Olen Steinhauer (An American spy), David Ignatius (Agents of innocence) en Joseph Finder (The Moscow Club). Mens kan sweer hulle skryf uit ondervinding.
Hier is nog name wat jy op die lys kan voeg.
Die 56-jarige Matthew Dunn is een van daardie besonderse spioenasieskrywers. Hy het nie net persoonlike ondervinding in intelligensiedienste en spesialemagte nie, hy bied ook skryfkuns by die Chichester-Universiteit aan. Van sy 18 boeke het ek onlangs sy debuut, The spycatcher, en sy opvolger, Sentinel, gelees. Ek kan nie wag om die ander 16 boeke ook onder oë te kry nie.
Dunn bied ’n lekker kombinasie tussen Vince Flynn (hoë tempo, vol aksie) en Frederick Forsyth (realisme en tegniese akkuraatheid). Sy hoofkarakter, Will Cochrane, is ’n tipe Jason Bourne-figuur. Hierdie figure domineer mos die genre sedert 11 September 2001. Will is deel van MI6 se super-elite, die Spartan Section. Hy is (soos die meeste spioene) ’n lone wolf, en kenmerkend aan moderne spioenasieliteratuur, loop hy rond met emosionele letsels wat in sy werk gesien kan word. In The spycatcher skiet hy ’n bron dood.
Net soos Pike Logan in Brad Taylor se One rough man, dryf trauma hom. In genoemde boek moet hy ’n gevreesde Russiese spioen, Megiddo, opspoor en doodmaak. Hy is verder in ’n wedloop teen tyd om ’n grootskaalse aanval te voorkom. Kan hy die CIA, saam met wie hy werk, vertrou?
Temas om grootskaalse terreuraanvalle te verhoed is volop. Dink maar aan Flynn se Consent to kill, Daniel Silva se The messenger en Alex Berenson se The faithful spy. Alhoewel die voormalige SAS-held, Chris Ryan, se Ultimatum en Strike back van die beste terreuraanvalplotte bied, is Dunn vol kinkels en kabels.
In Sentinel moet Will ’n voormalige Russiese spioen beskerm. Niks nuuts in die genre nie. Brad Thor (The apostle), Charles Cumming (A colder war), Olen Steinhauer (The Cairo affair) is net ’n paar stemme wat hierdie tema van agent-as-beskermer ondersoek. Net soos hulle, doen Dunn dit geloofwaardig.
Dunn se direkte, vinnige styl en kort sinne verskil hemelsbreed van John le Carré se literêre, filosofiese, introspektiewe styl en langer sinne. Hy fokus ook eerder op eksterne gebeure, terwyl die Britse meester van spioenasieverhale diep in interne konflik gedelf het. Alhoewel ek Le Carré se morele dilemmas en lojaliteit in Dunn se boeke gemis het, voel dit vir hierdie leser of Dunn ’n waardige opvolger vir Le Carré se troon is.
Is Berry is een van die min hedendaagse skrywers wat, my insiens, regtig daarin kon slaag om die maestro John le Carré se formule vir spioenasieromans te bemeester. Net soos hy, ondersoek sy hoe mag, lojaliteit en die sin van verlies ’n spioen tot breekpunt kan bring. Beide skrywers delf diep in die morele kompleksiteit wat spioene in die gesig staar. Sy ondersoek die grys areas van spioenasie – waar morele lyne vervaag is – geloofwaardig. Beide skrywers se karakters worstel met etiese dilemmas en die moeilike keuses wat gemaak moet word.
Berry bring egter haar eie unieke bydrae: Sy het ses jaar ondervinding as ’n operasionele case officer vir die CIA, onder andere gedurende die Bagdad-oorlog. Hierdie ervaring gee realisme van ’n insider en egtheid aan haar debuutspioenasieroman, The peacock and the sparrow, veral in die uitbeelding van spioenasie en die kompleksiteit van intelligensiewerk. Dit gaan vrek moeilik nageboots kan word.
Waar Dunn se boeke meer patrioties van aard is, is Berry introspektief. Dunn se werke onderstreep die “argiewe voorkoming”.

Skrywer: Richard Stark
Titel: Flashfire
Uitgewer: Quercus
ISBN: 13 978 1 84724 210 5
Ek gaan my nou heeltemal contradict. Alles wat ek aanhaal om Holm en Dunn te diskwalifiseer, gebruik ek om Stark te prys. Maar wie het nog nie ’n Parker-film gekyk nie?
Ek het Richard Stark se The hunter many moons ago gelees en was dadelik verslaaf. Daar is iets aan die meesterdief, Parker, wat maak dat ek elke nou en dan sy boeke uitsnuffel. Dalk is dit omdat hy nooit bekeer of van sy wee afwyk nie.
Flashfire, die 21ste boek in die reeks, open waar Parker uit ’n vorige mislukte rooftog herstel. Jy weet mos – hy word nou en dan geskiet. Sy deel van ’n buit word teruggehou om hom by ’n groter roof te betrek. En julle ken vir Parker: Hy is 100% geweld. As jy hom vir ’n gat vat, bedrieg of skiet, gaan jy kak. Al kos dit hom wat.
Terwyl ’n rooftogspan hul planne verfyn om die grootste juweelroof nog in Palm Island te pleeg, maak Parker reg om die diewe te beroof. Sy diefstal is immers altyd meer as net geld – dis ’n spel van intelligensie teen ander kriminele.
Vóór Comeback (1997), waarop Flashfire volg, was 23 jaar van stilte. Parker-dissipels hoef egter nie bekommerd te wees nie: Hy oorbrug die nuwe era moeiteloos. Die filmweergawe, Parker, met Jason Statham in die hoofrol, is ewe goed. Selfs ... nee, ek mag dit nie sê nie.
Daar is net een probleem met Parker: Hy is soos ’n bier – een is nie genoeg nie.
Wat doen ’n goeie misdaadroman: Bly dit by jou, of moet dit gedeel word? Ek gaan Parker beslis tronk toe stuur.



