
Skrywer: Gregg Hurwitz
Titel: Antihero
Uitgewer: Penguin Michael Joseph
ISBN: 9780241598986
Die figuur van die professionele sluipmoordenaar is een van die mees volhoubare en veelsydige argetipes in moderne spanningsromans. Van die spioenasieverhale van die Koue Oorlog tot hedendaagse aksierillers, keer hierdie karakter telkens terug; dikwels in subtiele variasies, maar met herkenbare patrone. Die meeste fiktiewe assassins val binne drie breë kategorieë: die staatsinstrument, die professionele freelancer en die vigilante. Hierdie raamwerk vorm die morele en narratiewe struktuur van baie spanningsromans, en binne dit het Gregg Hurwitz se Evan Smoak – wat ons in Orphan X (2016) as The Nowhere Man ontmoet – ’n unieke plek gevind.
Die eerste en waarskynlik bekendste argetipe is die staatsinstrument, ’n operateur wat opgelei en ontplooi word deur ’n geheime regeringsprogram. Hierdie karakters funksioneer as wapens van die staat en voer operasies uit wat amptelik ontken kan word. ’n Klassieke voorbeeld is Jason Bourne, geskep deur Robert Ludlum, ’n produk van die geheime CIA-program Treadstone wat elite operateurs oplei vir operasies wat ontken sal word. ’n Moderne voorbeeld is Will Robie uit David Baldacci se spanningsromans (The innocent, The hit) wat werk vir ’n ultra-geheime CIA-afdeling wat “deniable operations” uitvoer, onder toesig van sy handler Roger Walton (Blue Man).
Evan Smoak begin op ’n soortgelyke manier: as kind gewerf vir die geheime Orphan-program, opgelei tot ’n elite-assassin wat missies uitvoer wat amptelik ontken kan word.
Die dramatiese kern van hierdie argetipe lê dikwels in ’n morele breekpunt – die oomblik wanneer die operateur besef dat lojaliteit aan die staat nie noodwendig gelykstaan aan morele regverdigheid nie. David Morrell se Brotherhood of the rose-trilogie beklemtoon veral hierdie spanning sterk.
Tweedens is die professionele freelancer, die vakman. Ek dink gewoonlik dadelik aan Frederick Forsyth se ikoniese Carlos the Jackal. Hulle werk wel vir geld, maar lesers raak bitter vinnig verlief op die karakters. Soms is hulle ’n voormalige wat-ook-al. In moderne tyd dink ons aan John Rain, wat deur Barry Eisler geskep is, en Victor, Tom Wood se hoofkarakter. Hulle is grootliks beïnvloed deur Thomas Perry, wat met The Butcher’s Boy een van die vroegste moderne prototipes van die professionele freelancer geskep het. Derek Haas se Silver bear-reeks herinner sterk aan Perry se styl.
In hierdie stories verskuif die fokus van politieke intrige na die tegniese en strategiese aspekte van die beroep: voorbereiding, ontsnappingsplanne en die sielkundige dissipline wat nodig is om as professionele killer te oorleef.
Die derde variant is die vigilante, ’n karakter wat geweld gebruik om onreg reg te stel buite die formele strukture van die staat. Anders as die freelancer, werk hy nie primêr vir geld nie, maar vir ’n persoonlike konsep van geregtigheid. Hier vervaag die grens tussen assassin en beskermheer. Hierdie tipe karakter tree dikwels op as ’n skadufiguur wat mense help wat geen ander opsies het nie. Robert McCall (The equalizer) is ’n bekende voorbeeld, veral na die films met Denzel Washington.
’n Kenmerk wat min mense in hierdie genre opmerk, is die monnikagtige dissipline van moderne assassins. Dit behels roetine, selfbeheer, ’n streng morele kode, maar ook minimalisme en afstand. Net soos monnike hul behoeftes beperk om fokus te verbeter, vermy assassins oormatige bande of afleiding. Hierdie patrone is sigbaar by Smoak, Rain, Victor en The Butcher’s Boy en verbind hulle direk met die krygermonnik-argetipe in wêreldliteratuur: hoogs vaardig, gestruktureerd en gedryf deur ’n eie kode.
Wat Smoak besonders maak, is dat hy elemente van al drie argetipes kombineer. Hy begin as staatsinstrument, funksioneer later as onafhanklike operateur en neem uiteindelik die rol van vigilante aan onder die naam The Nowhere Man. Sy sentrale dryfkrag is nie lojaliteit, oorlewing of selfs geregtigheid nie, maar verlossing. Smoak probeer die morele skuld van sy verlede afbetaal deur mense te help wat niemand anders het nie – ’n motief wat herinner aan Keller, wat destyds vir berading gegaan het. Hierdie innerlike konflik is dieper as in baie ander spanningreekse. Terwyl fiktiewe assassins dikwels worstel met identiteit, lojaliteit of oorlewing, worstel Smoak met die eksistensiële vraag of iemand wat opgelei is om te moor, ooit werklik ’n goeie mens kan wees.
Die assassin-trope bly ’n sentrale element van moderne rillerfiksie, omdat dit ’n kragtige raamwerk bied vir stories oor geweld, lojaliteit en moraliteit. Hoewel baie karakters binne herkenbare argetipes funksioneer, wys reekse soos Orphan X dat die trope steeds kan ontwikkel. Deur die fokus te verskuif na temas van skuld en verlossing, gee Gregg Hurwitz se Evan Smoak ’n nuwe dimensie aan ’n bekende literêre figuur, wat hom uiteindelik in lyn bring met die ridderlike argetipe van die Middeleeuse held – ’n moderne krygermonnik wat vaardigheid, kode en morele integriteit kombineer.

