Korona

  • 5

Vir almal wat hulle lewe prysgegee het.

Korona laat almal wat lewe bewe,
sy naam klink vorstelik, maar dit is pure skyn.
Hy is onsigbaar en doodsgevaarlik, deur ’n proes
vind hy sy kronkelweg na mense se longe toe;
dáár gee hy aan sy onderdaan, Infeksie, opdrag,
om die longe na ruwe velde van onrus te lei,
harte te laat tril en suurstoftoevoer op te skort.

“Waar is God in dié doodsbleek dae? Kyrie eleison!”
Sonder visum is Hy Italië toe om haweloses
op te spoor; Hy vind oral kreunende sterwendes
en doodsengele wie se vlerke oor kwylendes flapper,
al wat oorbly is die een doodloopstraat na die ander.
Het Hy Sy rug op Sy aardse ryk vol slyk gedraai?

In die tye en getye hang vlae hier halfmas;
Hoe kan ons tog alleen die mas opkom?
Wat kan ons doen? Ons kan die ou digter
na-prewel: die velde lê “in sterlig en skadu”
of soos Dante sê: “tot ons die sterre weer sien”.

 

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Susan Vorster

    Dankie Cas, soos gewoonlik raak jy weer my hartsnare met jou woorde.
    Veral die tweede strofe is treffend, veral in die lig van die spronge waarmee die virus in SA toeneem. Kyrie eleison.

  • Avatar
    Connie Griessen

    Wie het ooit gedink hierdie situasie sal aanleiding gee tot 'n gedig? Dankie Cas vir die kunstige "verewiging" van die nagmerrie. Jy het die vermoë om die prentjie in skerp werklikheid te skilder.

  • Avatar
    Charl le Roux

    Cas, dis egte digterswerk om skrikwekkings beeldend uit te spalk in die soeke na verstaan en om pynvolle vrae te help vra. Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top