LitNet Akademies-resensie-essay: Kopwond deur Anthony Feinstein – die waarheid as fiksie beleef

  • 2


Kopwond

Anthony Feinstein
Uitgewer:
Tafelberg
ISBN: 9780624052876
Prys: R157.95
Klik hier en koop Kopwond nou van Kalahari.net!

1. Inleiding

Meer as twee dekades na die Grensoorlog verskyn daar meteens ’n hele string boeke oor hierdie onderwerp. Om enkele onlangse titels te noem, is daar Skadus (sic) in die sand (Sisingi Kamongo), Ons was daar (Jannie Geldenhuys), Grensoorlog-stories (saamgestel deur Jeanette Ferreira) en Kopwond deur Anthony Feinstein. Enkele jare gelede het Die buffel struikel (L.J. Bothma) verskyn en ook A greater share of honour deur Jack Greef.

Dit vorm ’n lysie van slegs enkele publikasies wat boonop aangevul is met TV-reekse soos Grensoorlog en Hartland, asook die musiekblyspel Tree aan! (Deon Opperman).

Die vraag wat deur baie gevra word, is waarom daar juis nou so ’n toestroming van hierdie tipe literatuur is. Roux (2011) maak die volgende opmerking in dié verband:

Miskien het ’n nuwe generasie behoefte om te lees oor die dinge waaroor hul pa's en ooms steeds nie wil praat nie. Ek het onlangs by ’n plaaslike boekwinkel aan die Weskus gevra watter boeke gewild is. Die antwoord: "Boeke oor die Grensoorlog".

Gedurende die tagtigerjare is die Grensgenre reeds op sy bene gebring en gevestig deur onder andere Koos Prinsloo en Etienne van Heerden.

Daarna was dit of die aandag tydelik afgedwaal het van wat ook as die Bosoorlog bekend was. En toe, na ’n stilswye, skielik weer die lang lys verwante publikasies. Dit ontketen dan dadelik gesprekke op die internet en in koerante, en baie van die oudvegters – nou vir die eerste keer vry om hul mening te lug – het duidelik ook hulle mes in vir die destydse politici. "Maar waarom wil die debat nie gaan lê nie?" vra Venter (2011) "en hoekom woed dit twee dekades later byna vuriger as ooit?" Ferreira (2012) vat die situasie as volg in haar voorwoord saam:

Solank die Grensoorlog gewoed het, was publikasies skraal en dit het gou opgedroog ... Toe dekades ná die hoogtepunt – in soverre dit nie ’n klaaglike laagtepunt was nie – van daardie oorlog in die bos, was dit asof Suid-Afrikaners uit ’n skoktoestand bykom en begin bestek opneem van wat met hulle gebeur het. Straks moet mens ’n hele ent wegstap om ’n baie groot beskilderde muur in perspektief te kan beskou.

Die tyd het inderdaad vanself geryp geword vir die ou Bosvegters om openlik en sonder terughouding terug te kyk na hul ervaringe van weleer. Ook diegene wat nie noodwendig met ’n geweer geveg het nie, maar eerder met ’n medisynetas toegerus was. Almal wat daar was, het op die een of ander wyse deel in die oorlog gehad en baie het nagevolge van die trauma oorgehou. Sommige het ligter daarvan afgekom. In hierdie artikel kyk ek spesifiek na Anthony Feinstein se Kopwond en probeer ek onder meer antwoorde op die volgende vrae vind:

  • Wat was die effek van die oorlog op mense soos Feinstein en hoe sterk is die ("anti-oorlog"-) boodskap wat hy wil oordra?
  • Hoe kry die skrywer dit reg om sy leser se aandag te behou, en waar staan sy boek tussen ander Grensboeke?
  • Watse geheime ontbloot Feinstein?
  • Van watter verteltegnieke maak hy in die aanbieding van sy stof gebruik?

In kort, dus: Waarom en hoe het die skrywer hierdie boek geskryf (ideologie) en hoe kry hy dit reg om in sy vertelling die trefkrag te kry wat die leser enduit sal boei? In my aanbieding van die artikel word bostaande punte nie afsonderlik behandel nie en kom hulle dikwels gelyk aan bod. Die verskillende opskrifte vir die afdelings volg dus eerder die chronologie van die teks as die spesifieke punte wat ek wil behandel.

2. Agtergrond

Die gebeure in Kopwond speel af tydens die vroeë 1980's terwyl die skrywer as mediese offisier in die psigiatriese afdeling "honderde soldate in Suid-Afrika en op die Grens in Ovamboland, Namibië, geëvalueer en behandel het". Ná sy twee jaar diensplig word hy ook opgeroep vir maandkampe aan die buitewyke van die townships Sebokeng en Sharpeville. Die hooffokus draai egter om die gebeure wat afspeel in die basisse by Oshakathi en Tsandi in die operasionele gebied. Om die vertrouensverhouding tussen dokter en pasiënt nie te skend nie het Feinstein onder meer mense se name verander en van die pasiënte se geografiese liggings verskuif. Maar aan die gevalle self het hy, soos in die voorwoord gestel, glad nie gekarring nie.

Die boek is dus op eerstehandse ervaring en feite gebaseer en word as sodanig as niefiksie aangebied. Soos baie van die boeke wat deesdae oor die Grensoorlog verskyn het, lees hierdie een ook met dieselfde soepelheid en intensiteit van ’n roman, wat natuurlik heelwat bydra tot die meesleurende leeservaring. Feinstein noem dat die dialoog die produk is van "rekonstruksie, my onvolmaakte herinneringsvermoë en digterlike vryheid". In haar resensie vestig ook Ferreira (2011) die aandag daarop dat hierdie boek in vele opsigte ’n roman kon gewees het. Sy beskou die teks as een van die "mees veelkantiges" wat al oor die Grensoorlog geskryf is en verwys na Feinstein se "geslypte satiriese vermoë, sy selfspot" en ook sy "verstommende vermoë om tog skoonheid te herken terwyl die son sak".

3. Aanloop

Anthony Feinstein word ná sy sestiende verjaardag deur die weermag opgeroep na Upington om vir diensplig aan te meld – ’n eenheid waar hulle "seuns breek en van hulle mans maak". Hoewel hy die oproep verwag het, is dit nietemin ’n groot skok en is die hele gedagte rondom Upington vir hom skielik ligjare verwyder van sy voorstedelike bestaan in Johannesburg, waar "Haydn en Mozart se fortissimo's en pianissimo's die enigste bevele was om te gehoorsaam".

Intussen het hy nou reeds sy eie loopbaanplanne agtermekaar gekry. Deur ná skool ses jaar lank medies te studeer aan die Universiteit van die Witwatersrand kry hy telkens uitstel van sy weermagverpligtinge. Hy neem dus, anders as wat dit byvoorbeeld die geval is met boeke soos Die buffel struikel (Bothma 2006) of A greater share of honour (Greeff 2001), ’n baie duidelik-gedefinieerde standpunt in met betrekking tot diensplig: hy wil dit ten alle koste vermy en selfs ontduik.

’n "Grensboek" wat in sommige opsigte ideologies by Kopwond aansluit, is An unpopular war (Thompson 2006) wat met wisselende vertelperspektiewe dikwels op die negatiewe aspek van die Bosoorlog konsentreer.

Ná die afhandeling van sy studies bevind Feinstein hom in Parys nadat hy pas die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging se musiekprys vir strykers gewen het "wat ’n mooi medalje en ’n ruim tjek ingesluit het". Die weermag bly egter op sy spoor en selfs in die verre vreemde bereik die oproepinstruksies hom nogmaals en hierdie keer word hy opgeroep om as mediese dokter by Klipdrif aan te meld vir sy diensplig.

Suid-Afrika is egter teen daardie tyd in ’n ernstige oorlog aan die Angolese grens in Suidwes-Afrika gewikkel en hieroor het die skrywer in elk geval ook ’n baie duidelike opinie: "Dis ’n onnosele, aaklige oorlog en enigeen met ’n greintjie verstand weet dit kan nie gewen word nie ..." Die oproepinstruksies laat hom met drie opsies wat hy kontrasterend genoeg op ’n sonskyndag in Mei op ’n sitbank in die idilliese Parc Monceau moet oorweeg: 1. Bly in Parys en word ’n uitgewekene. 2. Gaan terug huis toe en word ’n gewetensbeswaarde; dit sal egter met drie jaar tronkstraf gepaard gaan. 3. Gaan huis toe, hou op weghardloop, doen twee jaar diensplig en kry dit agter die rug. Laasgenoemde is die opsie wat hy dan ook kies.

Reeds vroeg in die teks maak Feinstein sy ideologiese standpunt bekend wanneer hy verklaar dat hy Parys opgee vir "’n stelsel wat ek verafsku het". Nietemin bly hy by sy besluit: "Ek gaan eenvoudig vergeet wat reg en verkeerd is, my kop laat sak en kyk hoe die kak rondom my spat." En dis inderdaad ook hoe dit gebeur. Hierdie besluit laat hom ’n weg betree wat hy selfs in sy wildste veronderstellings nie sou kon voorsien het nie. ’n Weg waarin die "Oshakati-mantra" ("niemand het gesê die oorlog gaan maklik wees nie") hom soos ’n leitmotief in elke denkbare situasie sou agtervolg – vanaf die mees komiese tot die koelbloedigste.

4. Basiese diensplig

Vóór sy operasionele aanwending moet hy eers "basies" doen – oornag tot staatseiendom gereduseer met ’n rangnommer wat selfs vóór sy naam staan en hy, in een van sy korporaals se woorde, "fokken useless" en "laer as slangkak" is. Drie maande van hardloop, spring, kruip en klim "totdat jy jou in ’n staat van gedehidreerde gevoelloosheid bevind wat jou heeltemal laat afskakel". Links swenk en regs swenk. Tot vervelens toe. Maar sodra hy dink hy het nou alles gehoor en ervaar, word die kersie op die koek geplaas wanneer sy peloton een dag by ’n vroulike korporaal verbymarsjeer en sy hulle smalend toesnou: "Julle dril so swak, dit laat my poeshare krul."

Na sy basiese opleiding doen hy aansoek om by plastiese chirurgie ingedeel word, maar hy word oorgeplaas na die psigiatrie-afdeling. Sy verbasing oor hierdie onverwagte skuif word in militêre styl deur ’n hoogs geïrriteerde sersant bondig aan hom uiteengesit: "Fok, ken jy nie jou alfabet nie? PS kom ná PL. Fokkof nou."

Feinstein aanvaar die nuwe aanwending met ’n gelatenheid ("ek is immers laer as slangkak"), maar tot sy eie verbasing vind hy die werk in die psigiatrie-afdeling spoedig fassinerend. Sy dae is nou vol (vreemde) psigoses en van sy soldatepasiënte sluit in "seuns wat met die maan praat, wat soos wolwe huil, wat daarvan oortuig is dat hulle vergiftig word, of dat hulle Jesus is ... jong mans wat in so ’n diepe depressie verval dat hulle smeek om dood te gaan".

Soos dit uit Feinstein se skryfwerk blyk, kan die leser vroeg al sien hoe die skrywer wat deel van die situasie is, dit terselfdertyd regkry om van buite (afstandelik) oor die gebeure en dikwels ook oor homself te rapporteer. Die vermoë om die komiese in die gevalle raak te sien is ’n bindende draad in sy skryfwerk wat regdeur die boek loop. Die onstabiele troep begin byvoorbeeld sy korporaal se bevele op die paradegrond eggo en die rugbyspeler-soldaat raak onder verdowing hand om die blaas met sy bevelvoerder. Feinstein "versag" dus die erns van die situasie met slim-ingewerkte humor. Soos Alwyn Viljoen (2011) dit in sy resensie van die Engelse weergawe van Kopwond, getiteld Battle Scarred, stel: "Despite the cover, this is not a war story. It's the often deeply funny memories by an accomplished author of his two years of national service as a young doctor, rendering 'psycho-genital' services to army and police members 'to prop up the rotten edifice of apartheid.'"

5. Oshakati

Maar die oorlog is nie regtig ver weg nie – dit ervaar Feinstein in die maer, sonverbrande en gespanne troepe wat van die Grens af by sy mediese eenheid beland met ernstige simptome van "posttraumatiese stres, gevegstamheid (en) bomskok". Hoewel die titel dit al suggereer, is dit hier waar Feinstein se fokus heelwat verskuif van die gebeure waarop daar gewoonlik in ander boeke oor die Grensoorlog gefokus word. Feinstein rig hom nie soseer op die fisieke wonde wat aan eie en vyandelike magte toegedien word nie, maar eerder op die “kop”-wonde wat die oorlog self op die Suid-Afrikaanse vegters nagelaat het – ’n invalshoek wat sy boek eiesoortig maak.

Wat dié werk verder uitsonderlik maak, is die groot nie-oorlogse verwysingsraamwerk waaruit Feinstein as ingeligte voortdurend rapporteer. So maak die talle Latynse aanhalings dat die leser telkens daaraan herinner word dat daar vir die skrywer ook ’n selfstandige (akademiese) wêreld naas die militêre bestaan. Intussen skuif die oorlog steeds nader aan hom en meteens is ook sy eie Grensdiens op hande! Daar is iets universeels te lees in Feinstein se afskeid van die tuisfront voordat hy na die front vertrek. Soos so baie soldate oor die eeue vóór hom (al sien hy homself nie deel van nie, maar as ’n buitestander) gee hy hom ook skielik oor aan "iets heel onverwags – seks. En baie daarvan: “Ek doen dit met ’n oorgawe wat aan waansin grens." Dan vertrek hy, nog vol passievolle gedagtes en met fotoherinnerings, in die "spelonkagtige binnekant" van ’n Hercules-vliegtuig na die Bos.

Soos dikwels in Feinstein se vertelling maak hy graag van kontrastering gebruik as hy twee uiterstes wil uitlig. Buiten terugverwysings na sy eens amper oorbeskaafde bestaan wend hy ook die natuur se skoonheid mildelik aan, soos hy byvoorbeeld doen om die haglike omstandighede te verwoord waarin hy sy eerste oggend op die Grens in ’n oorgangskamp wakker word ná ’n slapelose nag toe die aandete (bully beef) nie met die soldate se mae akkordeer het nie:

Die oggend breek vars en helder aan. Nie eens die strafkampomgewing kan die prag van die sonsopkoms demp nie. Deur die draad sien ek hoe die horison pienk verkleur. ’n Ligte briesie waai die stank van die nag weg.

Hulle word in die operasionele gebied verwelkom deur ’n majoor wie se taalgebruik "deurspek (is) met oorlogstaal – rooi sones, hinderlae, ammu, terrs, klieks, victor yankees – ’n haas onverstaanbare taal". Feinstein se tuisbasis is Oshakati en hy kry ’n kantoor in die siekeboeg ("die psigiater se saal van melancholie"). Sy lessenaar is bekrap met fallusse, vroulike skaamdele en obsene boodskappe. Hy verkyk hom aan die besonderhede en verwoord sy waarnemings amper poëties wanneer hy sê dat hy "stomgeslaan (is) deur die ongebreidelde wellus wat nie deur ’n enkele skoon gedagte besmet word nie".

Soms word hy ook as ’n gewone dokter uitgeroep, en só kom hy spoedig in aanraking met die gevoelloosheid (ontmensliking) van oorlogvoering wanneer drie lyksakke in die nag met ’n helikopter afgelaai word en die kaptein die ritssluiters ooptrek en met ’n selfvoldane glimlag verklaar: "Ag, dis net swartes."

Feinstein se ironisering en selfspot bereik ’n hoogtepunt wanneer hy skutter Nel se geval behandel – ’n wag wat Oshakati se beheerpunt ’n paar uur lank kaap en geen deurvloei van verkeer toelaat nie, omdat hy oortuig is hy het geheime, gekodeerde boodskappe ontvang dat Swapo Oshakati gaan aanval. Hierdie ernstige geval van skisofrenie word soms skreeusnaaks wanneer Feinstein (met oorgenoeg selfspot) die plofbare situasie by die kontrolepunt moet ontlont. Nietemin slaag hy op simpatieke wyse daarin om Nel se geval ("Ek verdien ’n fokken medalje, dok") te ondersoek en hom terug te stuur huis toe.

Waar die meerderheid boeke oor die Grensoorlog hoofsaaklik mans betrek, kry Kopwond ’n bykomende dimensie: ook vroue besoek Oshakati se siekeboeg. Hierdie afwisseling lei tot ’n toonverandering in Feinstein se skryfwerk. Sy aanslag kry dadelik ’n intiemer toonaard wanneer hy Marie (skuilnaam) se geval beskryf – ’n besonder aantreklike vrou getroud met ’n militêre en sosiale boelie (kolonel) wat sy eintlike minderwaardigheid met drank, seks en geweld in so ’n ekstreme mate laat geld dat dit aan sadisme grens. Die uiteinde is dat die mishandelde vrou selftoegediende beserings begin aanwend om emosie te ervaar en ook in kokende warm water stort.

Die koms van Marie maak Feinstein, wat nog altyd ’n afsydige houding teenoor sy omgewing ingeslaan het, skielik toegankliker en meer betrokke. Sy word die katalisator wat hom betrek by ’n gedagtewêreld buite sy eie, hom minder afstandelik maak en al hoe minder soos ’n buitestander laat rapporteer. Hy noem ook dat dit een pasiënt is wie se huweliksprobleme die spreekkamer nie saam met haar verlaat nie: "Die beelde en bekentenisse bly lank daarna nog hang in die Chanel-deurtrekte lug wat haar teenwoordigheid kenmerk."

Dit is ook een van die min gevalle in die boek waar die pasiënt uiteindelik ’n daadwerklike deurbraak maak deur los te kom van haar omstandighede. Hierdie klassieke geval van die onderdrukte vrou in ’n mannewêreld kry heelwat vertelruimte en word met groot sensitiwiteit en heelwat besonderhede uiteengesit.

Die verteller begin weldra uitsien na Marie se besoeke en dit blyk duidelik uit die subteks dat die skrywer-dokter baie sterk identifiseer met haar as persoon sowel as iemand wat die sagter kant van die oorlog simboliseer. Marie se geval verteenwoordig ook die sensuele aspek in die boek, en wanneer die fokus van haar weg beweeg en die intrige verder ontwikkel, bly haar stille teenwoordigheid steeds ’n faktor in die leeservaring en in die belewing van die ander gebeurtenisse. ’n Enkele keer word hierdie sensualiteit, wat heeltyd met die barre omstandighede in die oorlogsbasis gekontrasteer word, selfs meer eksplisiet verwoord. Die skrywer onthou dat sy tydens haar ontsnappingsvlug sonder ’n broekie gereis het om makliker ’n vliegkaartjie by die militêre personeel te kon bekom. In sy spreekkamer maak hy dan die volgende waarneming: "Sy bly ingedagte daar (by die snippermandjie) staan met die voue van haar ligte somerrok wat aan haar klam vel vasklou. Ek kan nie help om op te let dat sy geen onderklere aan het nie."

Na haar vertrek verneem hy skielik dat hy vanaf Oshakati oorgeplaas word na Tsandi. Hoewel Marie se man hom woedend in die siekeboeg kom dreig en as ’n "donnerse inmenger" uitkryt, het die oorplasing waarskynlik niks met die vrou te doen nie, maar eerder met sy eie bevelvoerder wat die "boeke gekook het" om dit te laat voorkom asof hulle meer sielkundige gevalle op Oshakati behandel het as wat werklik die geval was. Feinstein het nog nooit van Tsandi gehoor nie. Die enigste inligting beskikbaar is dit wat die majoor (wat hom van sy oorplasing in kennis kom stel) hom kortaf en leedvermakerig meedeel: dat dit in die Ongandjera-distrik is, nie ver van Etunda nie, waar Sam Nujoma gebore is:

Jou nuwe tuiste is in die middel van Swapo se agterplaas. Dit behoort ’n lekker verandering te wees ... Jy word geleen aan die polisiemag, ’n klomp Suid-Afrikaanse polisiemanne. Agtien van hulle, ’n lekker klein groepie – sal nes familie wees.

6. Tsandi

Tsandi word inderdaad dan ook die middelpunt van Feinstein se militêre betrokkenheid by die Grensoorlog. Die sentrale fokus van die basis is ’n kroeg wat rondom ’n kremetartboom geprakseer is en waaraan menslike oorskot (twee onderkake, die een nog met tande, die ander daarsonder) vasgemaak is. Daarnaas hang twee onderbroeke - heelwaarskynlik afkomstig van dieselfde twee ongelukkige individue. Verder hang die manne lui-lui rond. "Dis happy hour op Tsandi, waar elke uur jou laaste kan wees." ’n Prentjie wat die leser nogal onwillekeurig wil laat dink aan ooreenkomste met Francis Ford Coppola se klassieke oorlogfilm Apocalypse now.

Feinstein se eerste indrukke van Tsandi, wat mettertyd so deurslaggewend in sy loopbaan as militêre sielkundige en dokter sou word, beskryf hy as volg:

Tsandi is kleiner as wat ek my dit voorgestel het. ’n Sandput die helfte so groot soos ’n rugbyveld, omring deur ’n dik grondwal met ’n grensdraad waaraan koeldrankblikkies as ’n bykomende veiligheidsmaatreël vasgemaak is. As iemand aan die draad raak, klingel die blikkies. Dit laat Tsandi van buite af na ’n vullishoop lyk. Watter donker geheime skuil daar in hierdie klein stofhool?

Die oorlogsjargon, waarmee hy so vroeg al in sy militêre loopbaan kennis gemaak het, dra inderdaad wyd en ver. Selfs in die afgeleë Tsandi eggo die Oshakati-mantra, hierdie keer geuiter deur ’n gryskop-adjudantoffisier wat sit-lê in ’n stoel met ’n bier in die hand: "Dis oorlog, dok, moenie ’n fout maak nie. G’n oorlogspeletjies hier nie." Feinstein staan nou op die punt om die Grensoorlog eerstehands te ervaar - "die ware Jacob" soos dit aan hom beskryf word. ’n Oorlog waarin sommige van die manne daarvan hou om trofeë bymekaar te maak wat soos ’n goeie jagopbrengs uitgestal sal word.

Net daar onder die kremetartboom word die nuwelingdokter deur sy toekomstige kamerade by Tsandi se lewenswyse ingewy:

Die gesprek gaan oor oorlog, niks anders as oorlog nie. Opgewonde, koorsagtige gesprekke, aangehelp deur gerugte, anekdotes en verhale van waaghalsigheid wat al oor en oor vertel is. Dis alles een groot speletjie, wegkruipertjie met skerp ammunisie, bomme en vuurpyl-aangedrewe granate.

In die loop van die kennismaking word Feinstein se rol al duideliker vir hom uitgespel: die verskil tussen eie magte en vyand gaan deur hóm bepaal word. Dís hoe die gryskop-adjudant hom laat verstaan: "Ons het nog iets wat die terroriste nie het nie ... en weet jy wat dit is, dok? Toe, toe raai bietjie. Die leidraad is naby, jy hoef nie baie ver te soek nie ... die antwoord is jý, dok."

So word Feinstein ongevraagd tot sjamaanstatus verhef: as die man wat die towersak sal ronddra en wat hulle tydens gevegte gesond sal dokter. En dís wat uiteindelik die verskil gaan maak tussen Tsandi se manne en Swapo – hý wat Feinstein is:

Gooi jou kop agteroor en haal diep asem, maak jou neusgate oop. Jy kan die klammigheid ruik, nè? As jy dit eers geruik het, bly dit by jou. En onthou, saam met die reën kom die insypelaars. Jy kan hulle ook ruik, dis die stank van vrees en sweet en gebrande kordiet wat aangewaai kom op die winde wat die reën bring. So, maak seker dat jy weet wat rondom jou aangaan ... die reuke dra versteekte boodskappe van lewe en dood.

Dis met hierdie woorde dat kaptein Allen ’n nog ietwat skeptiese Feinstein dié aand in die Tsandi-basis voorberei op die gevegvoering wat kom. Die transformasie vind ook vinnig plaas. Feinstein is nog skaars ’n volle dag van Oshakati weg en vir die eerste keer begin hy werklik twyfel aan sy eie oorlewing. Sy belewing van oorlogvoering staan nog in sy kinderskoene, maar sy horisonne het reeds vinnig en onherroeplik met groot spronge verskuif. Om 20:00 word die kragopwekker al afgeskakel en dan is dit net jy en die nag en jou eie gedagtes. Alles wat rondom hom gebeur ervaar hy as vreemd.

Wanneer hy sy eerste oggend in Tsandi wakker word, is dit waarskynlik kwalik wat hy as ’n normale oggend sou kon beskou. Sy begrip van wat werklikheid en fiksie is, moes sekerlik nóg verder getoets gewees het deur die opvolgende gebeure wat voor sy oë afspeel. Na Bybelparade daag sy nuwe buddies (plaaslike bevolking) by die basis op – ongeveer dertig jong swart mans. Hulle klouter dadelik op die pantservoertuie, om later die oggend nog saam te gaan oorlog maak. Sy beskrywing van hierdie toneel (geroesemoes) op die oorlogsvoertuie moet vir enige buitestander sekerlik lees soos iets wat ’n mens slegs in ’n fiktiewe roman of fliek sou kon aantref:

Dis ’n mengelmoes van opgeruimde Ovambo's, eintlik huursoldate, swaar gewapen en vreemd aangetrek in ’n sameflansing van gevegsdrag, T-hemde, kortbroeke, tekkies en selfs sandale. ’n Mens sou dink hulle is op [pad] na ’n karnaval soos hulle lag en gesels, terwyl hulle die gewere soos speelgoed vashou ... Buiten die leier, praat nie een van hulle Afrikaans of Engels nie. Ons gespreksgenoot, ’n baie koel ou, het al ’n kakhuis vol gevegte beleef en het nog nooit ’n skrapie opgedoen nie. Hy is ’n veteraan, met ’n spierwit Stetson en ’n donker bril.

Een van die polisiemanne is dadelik byderhand om Feinstein advies te gee rakende sy eerste moontlike kontak: "Wanneer die kak begin spat, bly naby aan hom ... Hy's John Wayne."

Buiten die komiese wat die leser hierin raaklees, of die fiktief-filmiese beeld wat die mededeling aan die vertelling verleen, dien dit ook as openbaarmaking van inligting wat die breë Suid-Afrikaanse publiek nie gehad het nie. Min mense het destyds geweet van die bestaan van hierdie huursoldate. Soortgelyke inligting was vir sekerheidsdoeleindes selfs van soldate in die groter basisse soos Oshakati en Katima Mulilo weerhou. Hoewel in ’n ander formaat, word die sluier oor hierdie tipe betrokkenheid (spoorsnyers) ook deeglik deur Kamongo (2011) belig.

Na sy kennismaking met sy nuwe buddies meld Feinstein se rol as sjamaan hom selfs vinniger aan as wat hy verwag het. Op die Casspir begin sy bevelvoerende offisier (kaptein Allen) teenoor hom as ’n totale vreemdeling "oopmaak". So in die ry beken hy aan Feinstein dat hy eintlik niks van oorlog hou nie (hy is al vier keer Grens toe gestuur) en dat hy maande lank nagmerries gehad het nadat hy tydens ’n kontak amper aan die hand van vriendelike vuur (eie magte) gesterf het toe hulle per ongeluk op mekaar begin vuur het. Hierdie skielike ontboeseming betrap Feinstein ("die heler") egter so onkant dat hy glad nie daarop kan reageer nie. Uit ’n verhaaloogpunt bekyk, dien die verwysing na die nagmerries natuurlik ook as ’n vooruitwysing vir wat die leser later in die verhaallyn te wagte kan wees.

Juis op daardie oomblik trek daar ’n rimpeling van opwinding deur die patrollie. Hulle het by ’n plek gekom waar drade geknip is. ’n Ent verder verneem Feinstein dat die buddies uit die bykomende tekens op die grond agtergekom het daar is iemand in die omgewing ("see van sand") wat verdag optree. Terwyl die kaptein hom plegtig inlig dat hy binnekort ’n bietjie aksie kan ervaar, word die vertelstyl afgewissel om ook humor aan die geleentheid te verleen:

Vir my ongeoefende oë is hier niks ... Die afgelope vier uur het ons g’n mens of dier gesien nie. Wat kan ’n individu hier rond nou juis doen om agterdog te wek. Sit? Hardloop? Gaan lê en dut? Onpatriotiese gedagtes dink? ... Ek probeer die lug ruik om ’n leidraad te kry ... Ek is duidelik besig om iets groots mis te kyk ...

Dan volg die mishandeling van ’n ou man (wilddief wat vir oorlewing jag) en die onskadelikmaking van sy geweer (instrument waarmee hy sy familie voed). Soos baie kere bring dit die kwessie van twee uiteenlopende werklikhede onder die skrywer se aandag. Feinstein se emosie is een van afkeer; vir die kaptein gaan dit om die voorkoming dat een van sy manne eendag in ’n dennehoutkis sou kon beland. Wat of wie is nou reg of verkeerd? Dit is ’n werklikheid, besluit Feinstein uiteindelik, waar die bepaling van wat die feite is, afhang van wie die werklikheid beskryf. Die skrywer se dilemma is dat hy die dennehoutkis wil vermy, maar nie deel van boewery wil wees nie. Tog is daar skynbaar geen middeweg nie: "Hier moet jy óf die een óf die ander doen. Dít word al hoe duideliker vir my."

Die rassekwessie, waaroor Feinstein heelwat bedenkinge en vrae het uit sy waarnemings sedert hy op die Grens aangekom het, duik onverwags weer op en wel op ’n wyse wat hom so byna in ’n skaakmatposisie plaas. By Tsandi aangekom na die dag se patrollie in die haaiveld, begin die buddies weer ontwaak en is die uitbundige gekwetter van vroeër die dag terug in die lug. Hulle maak oor en weer grappe, klap mekaar speels op die rug en lag so hard dat sommige dubbel vou (’n herkenbare oorlogstoneeltjie wat byvoorbeeld ook in ’n Wêreld sonder grense van Strachan 1984 eggo). Hierdie uitstalling van ongebreidelde uitbundigheid laat die skrywer - nog ontsteld en diep onder die indruk van wat hy die middag beleef het - geïrriteerd aan sy nuwe makkers vra waarom die buddies dan so vrolik optree. Daar volg ’n uit die veld geslane stilte en dan kry een van die manne, asof hy baie daaroor nagedink het, meteens sy stem terug: "Hulle is swartes, dok."

Die skrywer verloor nooit sy analitiese denke nie, maar hy word onafwendbaar al dieper ingetrek by die daaglikse bestaansroetine (oorlewing) van soldaat-wees in ’n oorlogsituasie. Na ’n verfrissende stort in primitiewe omstandighede word ’n koelhouer by die kremetart uit ’n gat in die grond gelig en koue biere word oopgeknak. Die "armsalige" sandwalle wat veronderstel is om hulle te beskerm, begin gou-gou soos "die Groot Muur van China lyk”. Hoewel ironies bedoel, kan die skrywer nie anders as om die samesyn te beskryf as ’n "hegte klein groepie ... een vir almal en almal vir een". Om die koelkas word hulle daar en dan die grootste pelle totdat Feinstein die vrolike samekoms bederf deur voor te stel dat hulle die beendere en onderklere in die kroeg afhaal en behoorlik gaan begrawe.

Weer eens word Feinstein deur ’n logika gestuit wat nogmaals sy vermoede van twee verskillende werklikhede selfs nóg verder moes onderstreep het. Die uitbundige partytjie verflou dadelik en die teregwysing is stug, somber en geïrriteerd: "Nee, dok, nee. Jy verstaan ook niks ... Hoekom krap jy waar dit nie jeuk nie ... die eenheid wat die trofeë ten toon gestel het ... hulle het almal oorleef, het hulle nie? ... as ons die oorblyfsels verwyder, sal dit boonop ’n teken van swakheid wees wat die buddies sal opmerk."

Ironies genoeg kom daar gou ’n kans om sy verlore aansien te herwin. ’n Aggressiewe sersant het ’n kleingeboude konstabeltjie ernstig aangerand en die bewustelose man moet dringend mediese behandeling kry. Almal hou die situasie gespanne dop terwyl Feinstein die binneaarse drup vinnig en behendig aansit. Wanneer hy dit boonop regkry om die beseerde na ’n ruk weer by te bring, word hy in sy rol as sjamaan terug op sy troontjie geplaas: die man wat heel, die man wat hulle sal red as dit nodig raak. Maar daar is ook in hierdie insident vir hom ’n les te leer: in Tsandi word boelies nie gestraf nie – die sersant sal nie gedissiplineer of tereggewys word nie.

Feinstein bied sy stof kleurvol aan en wissel beskrywende gedeeltes gedurig af met aksievolle tonele en ook ’n deeglike besinning van die situasie waarin hy hom bevind. En deurentyd bly sy amper terloopse humor en selfspot ’n element om mee rekening te hou, soos wanneer hy skielik na homself verwys as "die bekeerde soldaat" ná sy "blaps" oor die uitgestalde menslike oorskot. Die leser put ook heelwat plesier uit sy voorstelling van "John Wayne" (die buddies se leier) wat sy manne uit hulle babelaas wakker skop tot in die harde werklikheid in en ook in die wyse waarop hy koel, kalm en berekend die regte rigting van die spore vir die stryende buddies aandui. Van die relatief min fotomateriaal in die boek is juis die foto van die skrywer saam met "John Wayne", wat, asof verhewe en baie "koel", met ’n bier in die hand sit, werklik ’n treffer met onmiddellike en blywende impak.

Om deurlopendheid in sy vertelling te verseker, maak Feinstein dikwels gebruik van verteltegnieke soos vooruitwysingom spanning te skep en terselfdertyd te verseker dat die leser nie die spoor van die intrige verloor nie. Wanneer hulle Tsandi byvoorbeeld die oggend met drie Casspirs verlaat, lees ons: "Tien ure later sou ons besig wees met gespanne nabetragting ..." Hierdie stelling skep afwagting en prikkel die leser om verder te lees. Daar is verskeie kere in die artikel gesuggereer dat Kopwond baie soos ’n roman lees, hoewel die boek hom glad nie as sodanig uitgee nie. Gemeet aan die (ongevraagde) vereistes wat die genre van die roman sou stel, sal daar vir sommige lesers (puriste) dalk te veel byvoeglike naamwoorde in die volgende sin voorkom: "Toe ons daardie noodlottige oggend by Tsandi uitgedreun het, was die lug helderblou, ’n sagte briesie het oor ons uniforms gewaai en die water in ons bottels was nog verfrissend koel."

Nietemin, Feinstein het in sy doel geslaag: die vooruitwysing skep dadelik ’n gelade situasie wat die leser intenser by die gebeure betrek en dieper in die oorlog saamsleep: "Ons is vier ure lank op die spoor, maar dit word nie varser nie. Ons is besig om te verwelk. Die grootste bedreiging is die son. Ons beur egter voort." Wanneer hulle uiteindelik in die versengende hitte by ’n groot kraal aankom, vind hulle geen inwoners daar nie. Uit die skrywer-dokter se kommentaar hierop kan die leser aflei hoe hy onbewustelik sy waarnemings en denke al hoe meer soos dié van ’n regte soldaat begin verwoord:

Waar is al die inwoners dan? ... Dis ’n vraag wat ons onsself nie afvra nie. Terugskouend moes ons – nog ’n fout ... Duidelik het die Swapo-vegters hier gerus. Die spoor is nou net sowat vyf uur oud. Min of meer dieselfde tyd wat ons van Tsandi vertrek het, het die insypelaars opgestaan in die hutte hier reg voor ons. Hulle het waarskynlik die nag hier deurgebring.

Sodra die pantserkarre vorentoe beweeg en deur die heining breek, bars alle hel uit die hinderlaag op hulle los - Feinstein beleef sy eerste volwaardige kontak: "Masjiengewere, missiele en granate ontplof met ’n oorverdowende lawaai. Een van ons Casspirs is getref. Rook borrel daaruit en ons kan niks sien nie. Daar is geen skuilplek nie." Feinstein se voortgaande beskrywing slaag baie goed daarin om die verwarring en chaos uit te beeld wat sommige patrollies tydens ’n hinderlaag kon ervaar het – iets wat vir die oningewyde leser moontlik ’n splinternuwe visie op gevegsituasies kan gee:

Die kaptein se opdragte om terug te skiet word geïgnoreer. John Wayne s’n ook, alle gesag word deur vrees oorheers ... Om die een of ander onverklaarbare rede ry ons tot in die middel van die kraal, waar ons weer stilhou ... Die paniekbevange bestuurder het die voertuig se enjin laat vrek ... Om sake te vererger, kan die elektriese deure van die Casspir nie oopmaak as die enjin afgeskakel is nie. Ons is in ’n doodskis van metaal vasgekeer. Hier sit ons, reg in die middel van die geweervuur, ’n maklike teiken en heeltemal impotent. Ek hoor die tromslae van koeëls teen die buitekant van die Casspir. As die insypelaars nou ’n vuurpylaangedrewe granaat afvuur, is dit klaarpraat met ons. Die tyd gaan staan stil – is dit die voorspel tot ons dood?

Uiteindelik begin hulle terugveg en Feinstein, wat homself nog altyd as “nie deel van nie” beskou het, se reaksie hier is opmerklik. In hierdie uiterste lewe-en-dood-situasie is dit of hy al meer van ’n inklusiewe ons begin praat, sonder die kenmerkende ironiese toonaard: "Ons jaag reguit vorentoe, niks gaan ons dié keer stop nie."

As oningewyde in oorlogvoering vind hy hom, vreemd genoeg, besonder kalm te midde van die geweervuur. Hy maak gedetailleerde waarnemings van die manne rondom hom in die saamgedrukte ruimte, sowel as deur die skietpoort na buite, waar hy sien hoe ’n vrou, enkele meter van die skietende insypelaars, haar baba borsvoed. Langs hom in die binneruim vuur die alomteenwoordige "John Wayne" en ook kaptein Allen (met sy hele bolyf nou ontbloot deur die oop dak van die Casspir) op die vyand. Feinstein word deur die warm patroondoppies getref - die vuurgeveg is duidelik in volle, dodelike swang:

Die Casspir baan sy weg deur die dorpie en ry verskeie hutte plat. Ons masjiengeweer klink of hy ’n aanval gaan kry; die geraas ruk deur my kop. Naby ons ruk ’n geweldige ontploffing die Casspir, en ’n vuurbol skiet die lug in. Ons het ’n ammunisie-opslagplek getref.

Ná die hewige vuurgeveg volg die onafwendbare bestekopname. Van groot belang hier is weer eens die wyse waarop Feinstein sy waarnemings doen op die slagveld, waar die dooies en gewondes (ook aan eie kant ’n ernstig beseerde) so ver hy kyk, gesaai lê. Eerstens stop hy behendig die bloed in die slagaar van die eens weerbarstige sersant uit wie se been die bloed nou soos ’n fonteintjie spuit. Hy vervul sy taak as sjamaan met uitnemendheid en help ook om die huilerige sersant plat te hou terwyl daar mortiere op hulle gegooi word. So tussendeur merk hy op dat die lug helder blou is "soos lasuursteen" en probeer hy selfs ’n verwante aanhaling uit Yeats se digkuns oproep. Feinstein moet versigtig trap op die slagveld:

As jy jou aandag verslap, of jou kop oplig, loop jy die risiko om oor ’n stuk vlees te struikel wat alleen lê soos vergete afvalvleis wat van die slagter se blok af eenkant gegooi is. Ek kom af op ’n been wat afgeruk is en kyk of ek die bolyf kan sien, maar vind niks. My sintuie is aan die brand en my visie vlymskerp terwyl die wêreld in fokus kom.

Dit is duidelik dat hy as gevolg van al die adrenalien wat afgeskei is, nou ’n emosionele hoogtepunt beleef – ’n uitgelate lewensvreugde omdat hy lewe: "Niks kan ons vreugde demp nie, nie eens die afgryse wat by ons voete lê nie ... Ons vertel opgewonde van ons prestasies. Het jy dit gesien? Onthou jy dat? En ons lag lank en hard ..." Sonder dat hy dit besef, ervaar hy in hierdie oomblik aan die lyf die afstomping wat oorlogvoering bring. Die besonderhede wat hy op die slagveld waarneem ("dybeen met die penis en testikels nog daaraan vas"), laat hom onwillekeurig vergelykings tref met die oorlogsbuit wat in Tsandi se kroeg hang: "My gedagtes is so helder ... Sal ons buit ’n klomp groteske beelde wees wat met hoëresolusie-sekerheid in ons bewussyn ingebrand is? Ag, wat maak dit saak, ek voel uitbundig."

Só word Feinstein, al is dit net tydelik, onafwendbaar deel van die alternatiewe werklikheid waarvan hy hom nog altyd so streng gedistansieer het. Hoog opgetrek in hierdie euforie, is dit ironies genoeg "John Wayne" (Ovambo) wat stadig en steeds met sy sonbril op oor die slagveld nader gestap kom, wat hom met sy stilswye weer aan die "regte" werklikheid moet herinner en aldus ’n demper op al die kunsmatige vreugde plaas. Die huursoldaat se somberheid het nie alleen daarmee te doen dat hy ’n veteraan van baie gevegte is nie. Dit strek veel verder as dít. Sy stilte is terselfdertyd ook ’n tipe teregwysing, want na alles is dit sý mense se oorskot wat aan hulle voete lê. Gevolglik het hy niks om oor te lag of te juig nie. Daar rus nou ’n vloek op die plek, deel hy Feinstein met die terugrit mee; die inwoners sal nie terugkom nie – nie eens om die dooies te begrawe nie – die oorskot sal net so vir die jakkalse en hiënas gelos word.

Die oorlog het wel ’n broederskap tussen Feinstein en sy makkers gesmee, maar nou word hy met iets heel anders gekonfronteer. Eers die agteraf bevraagtekening van die kaptein se leierskap deur die manskappe omdat hy hulle in die hinderlaag ingelei het. Almal is senuweeagtig – dit pla hulle dat hulle so “met ‘n slap riem" gevang is. Dan het ook die gryskop-adjudant (wat tydens die geveg met pluisies in sy ore weggekruip het) sielkundige letsels oorgehou en voel hy skaam en vernederd omdat hy sy makkers in die steek gelaat het. En dan veel erger nog: kaptein Allen se nagmerries waarin hy met ’n kinderstemmetjie, tot groot verleentheid van die basis, huilend om hulp roep. Snags herbeleef hy die hinderlaag en soggens is hy skynbaar heeltemal onbewus daarvan - net die donker kringe om sy oë is getuienis van sy trauma.

In hierdie tyd - hetsy vasgevang in Tsandi se sandpunt of in die binneruim van die Casspir - begin Feinstein se dae in dié afgeleë basis uiteindelik hul einde nader. Dit word egter ’n tydvak waarin die skrywer opnuut deur sy eie worsteling gaan: "Tonnelvisie geld van dagbreek tot skemer ... Agtien wit mans, in kwarantyn van swart Afrika, met een enkele taak: om mense te jag." Dís hoe hy alles opsom. Die vraag wat hy hom oor en oor bly afvra, is hoekom hy so naïef was om te glo dat die oorlog hom nie heelhuids sou insuig nie ... hoe hy hoegenaamd kon gedink het dat hy as buitestander net op ’n afstand sou kon toekyk. Sy (wit) makkers lei nou toenemend aan "angs, irritasie, woede, slapeloosheid en uitputting". Dit kom nie by sy swart buddies voor nie, hulle rapporteer net by hom vir geslagsiektes. "Ons bewoon afsonderlike wentelbane, ons paaie kruis net oppervlakkig wanneer ons op patrollie is en daardie situasie is nie juis bevorderlik vir intieme openbarings nie."

Nóg ’n maand gaan om en dan, laat een agtermiddag, word Feinstein oor die polisieradio finaal teruggeroep Oshakati toe: die dokter se tyd in die oorlog is verby. Die afgeleë Tsandi, waar hy soveel uiterstes beleef het, gaan slegs in sy herinneringe nog bly voortbestaan. Hy is verlig en bly, maar die manne is minder opgewonde. Hoe gaan die nuwe dokter wees en sal hy soos Feinstein saam met hulle uitgaan op patrollies, of dalk net in die basis agterbly? In die kroeg neem hulle afskeid en kaptein Allen gee hom later tydens gereedstaan in vertroulikheid ’n brief waarin hy sy opregte dank teenoor Feinstein uitspreek – ’n gebaar wat die skrywer hoog op prys stel. Maar tog hy sou eers nog heelwat afstand moet kry voordat hy sy verblyf op Tsandi uiteindelik in volle perspektief sou kon sien.

Ná Tsandi voel hy hom op Oshakati nietemin ’n buitestander tussen die ander dokters wat ook regmaak om huis toe te vertrek. Hy kan nie deelneem aan die joligheid nie en word tot toeskouer gereduseer. Tsandi het sy merk te diep gelaat.

Baie kortliks verwys die skrywer hier ook na antisemitiese opmerkings, maar soos in die res van die boek brei hy nie daarop uit nie. In dié dae word hy ook in kennis gestel dat hy deur kaptein Allen eervol vermeld is vir sy "dapperheid op die slagveld". Hy word in die teenwoordigheid van ’n afgunstige majoor toegelaat om die aanprysing te lees en dan vlieg hy terug Suid-Afrika toe.

Feinstein sou nooit weer as soldaat teruggaan Grens toe nie. Hy word wel verplig om tydens die doodsnikke van apartheid in die townships diens te doen. Sy kritiese siening van diensplig het ook nie verander nie, en om alle verdere oproepe deur die weermag te omseil, koop hy na sy troue ’n eenrigtingkaartjie Londen toe.

7. Slotsom

Aan die einde van Kopwond maak Feinstein ’n groot tydsprong in die vertelling. Daar is skielik ’n kwarteeu verby en hy kan met die voordeel van agternavisie op die oorlog terugkyk:

Oor die jare heen het ’n onverwagte transformasie egter plaasgevind. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek mis nie my tyd in uniform nie. Vir groot dele van my diensplig in Ovamboland was ek onbeskryflik ongelukkig. Dis net dat ek met verloop van tyd sommige dinge met groter helderheid kan beskou.

Terugskouend (ná die insigte wat vaderskap en verlies gebring het) begryp Feinstein wat ’n las die kaptein op Tsandi moes gedra het, wat, anders as die jongelinge, besef het hoeveel verlore gaan as iemand sterf. Dis vir dié "dapper man" dat hy uiteindelik nou sy hoed as middeljarige lig in die verre en koue Kanada waarheen hy geëmigreer het om as psigiater/navorser te werk.

In die loop van die boek het Feinstein hom verskeie kere eksplisiet uitgespreek teen diensplig en ook die oorlog, soms in sulke kras terme dat hy woorde soos verfoeilik gebruik het om sy standpunt te illustreer. Nietemin het hy hom, via sy lewensegte beskrywings, en aangevuur deur die drang om te oorleef, dikwels baie sterk in die situasies ingeleef – die ernstige sowel as die komiese. Dermate dat hy in die hitte van die stryd vir kort momente selfs deel van die ons geword het waarop hy nog altyd op ’n afstand toegekyk het.

Met die vertelling (telling) staan hy deurgaans by sy anti-oorlog-ideologie; tog word hy teen wil en dank in die oorlog meegesleur, soos sy hantering van die gevegsituasie (showing) wys – in so ’n mate dat ideologie tydens die hoogtepunt van die vuurgeveg soms tydelik agterweë bly en die wil om lewend (dus as oorwinnaar) na die basis terug te keer, ander dinge begin oorskadu. Die oorlog se intensiteit blyk ’n manier te hê om die onwillige individu onbewustelik in te suig, sodat vooropgestelde idees dikwels voor hierdie magtige adrenalieninspuiting moet swig. Iets wat die individu nie uit sy eie sou en wou beleef het nie, het nou onherroeplik deel van sy verwysingsraamwerk geword. ’n Mens sou byna kon sê dat oorlog, midde van die stryd, ’n tydelike wig tussen ideologie en meelewing indryf. Vasgevang onder vuur is daar nie regtig tyd vir kritiese beskouinge en analise nie – oorlewing is die drang wat seëvier.

In sy terugskouing op die oorlog sien hy ook meer as een kant van dié lewensingrypende ervaring raak en wil sy herinneringe plek-plek aan die nostalgiese grens. Lazeby (2011) maak die volgende opmerking hieroor: "There are at times hints of glibness or sentimentality, especially evident in the epilogue ..." By die terugkyk na hierdie (skok-)ervaring in sy jeug, waarvan hy sy hele lewe lank nooit weer heeltemal sou kon loskom nie, maak Feinstein die volgende gevolgtrekking:

Daar was lesse te leer op Tsandi en Oshakati wat ek nie sou leer deur op ’n bankie in die lowergroen Parc Monceau te sit nie. Om dit te impliseer, sou oneerlik wees. Oorlog bring ’n intensiteit na die oomblik wat karakter blootlê met die presisie van ’n vivisektor. In oorlog word niks half gedoen nie en is daar geen wegkruipplek nie, die goeie en die slegte word ewe duidelik blootgelê.

Soos in ’n goeie roman word die leser enduit deur die vertelling geboei. In sy Nawoord noem Feinstein dat Namibië nooit sy houvas op hom verloor het nie, hoewel sy oorlogservaringe daar sy verknogtheid aan dié land slegs deels verklaar. Feinstein se terughunkering in dié verband is egter nie uniek nie. Soos dit dikwels die geval met oudsoldate is, breek daar die een of ander tyd ’n behoefte aan om weer die slagvelde van weleer te besoek – selfs al is dit ’n kwarteeu later. Hierdie keer reis Feinstein natuurlik nie saam met sy swaargewapende buddies nie, maar is sy metgeselle sy vrou en drie kinders. Tog is daar ’n punt waar hy hulle moet agterlaat, selfs al het almal intussen op die land verlief geraak. Hieroor het hy geen illusies nie: "Maar daar was een rit wat ek alleen moes onderneem. Ek moes weer na Tsandi gaan."

Onderweg soontoe is hy verstom oor hoeveel lewe daar in Ovamboland is. Oral is cuca-winkels met ongewone en dikwels amusante name. Hy sien die tekens van die oorlog langs die pad in die vorm van geroeste wrakke van voertuie wat deur landmyne uitmekaar geskiet is. En dan kom sy reis tot ’n einde. Ewe skielik is hy daar. Hy het die volle sirkel ná ’n kwarteeu voltooi. Hy het Tsandi bereik. Wanneer hy uit sy voertuig klim, loop hy hom vas in ’n muur van laatoggend-hitte – die een herinnering wat nie deur die tyd verander is nie.

Maar het Feinstein gekry wat hy kom soek het? Dis onseker, want sy sintuie vertel vir hom iets, maar hy kan die boodskap nie ontsyfer nie. Al wat van Tsandi oorgebly het, is ’n hoop opgerolde draad en ’n paar vervalle geboue. Die vertrekke is leeg gedra en aan die brand gesteek. Die mure is swart, die dakke weg, en die vloere lê besaai met stukke pleister en dieremis. Op die stukke oorblywende pleister het die oorwinnaars hul graffiti gekrap – uitbeeldings van mans met AK47's, beskadigde Casspirs, die kentekens van die triomferende Swapo.

Sy besoek, wat hy ten alle koste alleen wou meemaak, kry meteens ’n komiese kant wanneer ’n vroulike beampte uit die omgewing haar ongenooid by hom aansluit en heeltyd agtervolg terwyl hy deur die oorblyfsels van sy gewese basis stap, ’n polisievrou wat hom daarna verplig om in die Tsandi Pub vir haar bier te koop. Boonop word hy gekonfronteer deur ’n staatsamptenaar wat bang is sy voertuig verskyn op ’n foto voor ’n cuca-winkel vol drank. Daar kom niks van Feinstein se voorgenome "plegtige staptog op die basis se verlate ringmure, alleen met my eie gedagtes" terwyl hy besin oor ’n tyd wat vir ewig verby is nie. Die ongevraagde inmenging het sy besoek in ’n klug laat ontaard. Maar dan, skielik, begin hy die humor daarvan insien. Eintlik was alles skreeusnaaks. Sy irritasie wyk en hy begin kliphard lag. En dit word die een ding wat hy selfs nie in sy wildste drome sou kon voorsien het nie – dat hy heelpad terug van Tsandi sou lag.
 


Bibliografie

 

Battle scarred: The hidden costs of the border war – Opinions. Argiefplatform. 2011.

Bothma, L.J. 2006. Die buffel struikel. Bloemfontein: Handisa.

Feinstein, A. 2011. Kopwond – vergete slagoffers van die Bosoorlog. Kaapstad: Tafelberg.

Ferreira, J. (samesteller). 2012. Grensoorlog-stories. Pretoria. Litera Publikasies.

—. 2011. Kopwond: Genesing vir die dinge wat een mens aan ’n ander doen. LitNet.

Greeff, J. 2001. A greater share of honour. Ellisras: Ntomeni.

Kamongo. S. 2011. Skadus in die sand. Pinetown. 30* South Publishers (Edms.) Bpk.

Roux, J.B. 2011. Terugblik op oorlog nou dalk genadiger. Rapport, 6 Augustus.

Strachan, A. 1984. ’n Wêreld sonder grense. Kaapstad: Tafelberg.

Thompson, J.H. 2006. An unpopular war: from afkak to bosbefok. Kaapstad: Zebra Press.

Venter, A. 2011. Debat oor die Grensoorlog. Boeke24, 28 Oktober.

Viljoen, A. 2011. A doctor's deeply funny memories. The Witness, 24 Augustus.

 

  • 2

Kommentaar

  • Mev Cherryl Brand (Strachan)

    Sal wil kontak met Alexander Strachan maak, ek kan dalk familie van hom wees. My pa Douglas Guthrie Strachan gebore in Durban. Sal graag met hom kontak wil maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top