Foto: NALN |
|
Sêgoed van Koos Prinsloo “Ek skryf vir almal – en ek sal bly wees as daar ’n groot klomp straights en ’n groot klomp moffies is wat geïrriteer word deur my werk, as dit hulle maar laat nadink.” (De Kat, Maart 1988) “Skrywery is baie intiem. Ek sal dinge op papier doen wat ek nie in die geselskap van ander kan doen nie.” (De Kat, Maart 1988) “Skoktegnieke lê nog altyd ten grondslag van goeie letterkunde. [...] Kuns is daar om jou te laat sien, nié om jou eie kleinburgerlike selfvoldaanheid in te sus nie.” (Die Burger, 29 Januarie 1993) “Ik schrijf gewoon over een wereld die ik ken en word gezien als een schokkende schrijver. Dat is behoorlijk vervelend.” “Dis nie belangrik vir ’n skrywer om die ‘beste dit’ of die ‘beste dat’ uit ’n literêre oogpunt te wees nie. Dis baie belangriker dat hy kommunikeer met sy leser as mens.” “Nie alles in my verhale het werklik gebeur nie. ’n Mens moet begin ‘lieg’ om sekere dinge uit die werklikheid vas te vang. Jy draai as ’t ware die werklikheid tot hy ’n sekere iets oordra. Jy moet selekteer – want as jy die hele werklikheid net so vat, sal jy nie die bepaalde vorm van jou verhaal kan toepas nie.” (De Kat, Maart 1988) “Maar die konsep ‘fiksie’ is eintlik ’n mite, al dink mense ’n skrywer kan alles sit en ‘uitdink’. Ek kan nie glo daar is één skrywer wat nie sy karakters grond op mense wat hy ken of wat verhale kan uitdink sonder om sy ervaring van werklike gebeure te gebruik nie.” (De Kat, Maart 1988) “Maar ons moet wegkom van die ophemeling van die skrywer as ’n soort god. Die hele idee van die resepsie-estetika, byvoorbeeld, is immers dat dit nie meer gaan oor die ‘wonderlikheid’ van die teks nie, maar oor die leesvermoë van die leser. Wat die skrywer bedoel, is nie relevant nie – die ware werk lê by die leser.” (De Kat, Maart 1988) “Afrikaans literature, especially poetry, has an inbuilt danger of becoming elitist, but the fact that I write about contemporary issues from a personal point of view makes it accessible. I think it is Fugard who said that if the personal is specific enough it becomes universal.” (The Star, 27 April 1988) “Ek dink nie aan myself as ’n skrywer nie. As ’n mens eers daardie etiket skrywer om jou nek hang, is die gevaar daar dat jy pretensieus kan raak. ’n Skrywer moet eerlik skep. Nie soos hy dink ’n skrywer behoort te skep nie.” (Insig, Junie 1988) “Mense dink ’n skrywer is ’n romantiese wese met profetiese vermoëns. Iemand op wie se uitverkore skouer die Muse sit, maar dit is ’n mistasting. ’n Skrywer is iemand wat baie stip kyk. Iemand wat oplettend is.” (Insig, Junie 1988) “Ek dink elke skrywer skryf vir ’n ideale leser, ’n alter ego. Ek raak ontsteld as iemand van wie ek dit nie verwag het nie, my werk nie waardeer nie.” (Insig, Junie 1988) “Die bevrydende stap sou wees om jouself juis nie te kategoriseer binne ’n bepaalde seksuele kategorie nie, maar om daaraan te dink dat seksualiteit ’n vry, ontwikkelende en bewegende toestand is. Ek dink nie daar is iets soos ‘gay’ en ‘straight’ mense nie.” “Ek hou nie van die onderskeiding tussen poësie en prosa nie. Dis daai tussengebiede wat vir my exciting is. Êrens tussen prosa en film is daar ’n vreeslike kreatiewe grys gebied. Daai menstruasiekaart wat Antjie insluit in haar bundel (Lady Anne), dis die potentste ding in die hele bundel.” (Die Burger, 27 Maart 2004) “Ons leef in ’n post-modernistiese era waarin die illusie dat daar net een Groot Roman is, aan skerwe lê. Dit is nie belangrik of daar ooit weer ’n NP van Wyk Louw uit die Afrikaanse letterkunde kom nie. Tussen die hedendaagse skrywers is daar plek vir almal. As ons mekaar toelaat om te skryf, net dán is daar ’n toekoms vir Afrikaanse letterkunde. Die doel van skryf is tog om te kommunikeer. Dit is belangriker as dat dit ’n groot kunswerk moet wees. In die moderne era is daar ’n kans vir almal om te skryf. Dit is iets wat ons moet leer. Taal is taal. Dit maak nie saak wie dit praat of wie dit skryf nie.” (Insig, Junie 1988) |
Gebore en getoë
Jacobus Petrus (Koos) Prinsloo is op 15 April 1957 op Eldoret in Kenia gebore. Hy was die jongste van drie kinders. Eldoret is suid van die Uasin Gishu-plato Moiben waar sy pa, Daniël Francois (Daan), geboer het. Sy pa is op die plaas Waterval in die provinsie Naivasha in Kenia gebore. Sy ma was Dora Pretorius en is in Gwelo in die destydse Rhodesië gebore. Hy en sy ouers het in 1962 na Suid-Afrika getrek en hulle op Newcastle in die huidige KwaZulu-Natal gevestig. Koos het sy skoolopleiding daar ontvang en het in 1975 gematrikuleer.
Op Newcastle het hy bekend gestaan as Koos Klassiek wat gedigte geskryf het (en ’n paar amateur-gedigkompetisies gewen het), maar meer bekend was as ’n begaafde sanger en pianis. Tydens sy hoërskooljare was hy vir twee jaar lid van die Natalse Jeugkoor.
In Newcastle het Koos verwyderd gevoel van die gemeenskap. “Dit het baie te doen met ons verhuising in 1962 uit Kenia na Suid-Afrika. Ons het agtien maande by my ouma op ’n plot in die Moot gebly terwyl my pa rondgereis het op soek na ’n plaas.” Die trek het hom ontwortel laat voel in ’n vreemde omgewing. As kind in Kenia was die meeste van sy speelmaats swart en apartheid het vir hom ’n onbegryplike konsep gebly. (aan Johan Bruwer, De Kat, Maart 1988)
Toe sy pa as turbine-operateur by die kragstasie op Newcastle gaan werk het, kon Koos nie aansluiting vind by sy portuurgroep in die industriële omgewing nie. “Daar was nie plek vir mans of seuns wat klavierspeel nie. Ek het my altyd beskou as iemand met wie daar iets verkeerd is, iets te ‘verfynds’,” het hy aan Johan Bruwer vertel. Sy pa het ook geweier dat hy rugby speel – uit vrees vir beserings.
Koos het sy kinderjare en die geskiedenis van sy oupa die jagter en sy pa in sy stories opgesoek, kompleet met foto’s, briewe en doodsberigte.
As klein seuntjie van twee jaar op Eldoret was Koos reeds verslaaf aan stories. Sy ma Dora en sy twee ouer susters, Sarie en Marie, moes elke aand vir hom slaapstories (Jakkals en Wolf) lees, en hy wou elke aand ’n ander storie hoor. “Hy was toe al ’n nagmens,” vertel sy ma. “Hy het geweier om voor elfuur saans te gaan slaap.”
Hy was “mooi en parmantig”, volgens ma Dora. As enigste seun in die huis was hy baie bederf en op die hande gedra en het ook altyd ’n sterk wil gehad. Sy ma het vertel van die stryd met ’n wisseltand: “Elke aand het sy pa die toutjie om die tand gebind en dan het Koos ’n keel opgesit tot hy sy sin kry. Dit het seker vyf aande gevat voor die tand uit is, ek weet nie of hy eers pak gekry het nie.”
Koos het twee keer in sy kindertyd slae gekry wat ma en susters kan onthou, vertel Schalk Schoombie in De Kat van Mei 1994. Hy was sy hele lewe lank bitter gekant teen lyfstraf en uitgesproke oor kinderregte. Hy was ’n voorbeeldige kind wat hom meestal eenkant gehou het en onophoudelik gelees het.
Riana Scheepers was ’n tiener in graad tien toe sy Koos ontmoet het. Dit was tydens ’n skoledebatsaand. Sy was van Vryheid en Koos van Newcastle. Sy het dadelik besef dat Koos ’n formidabele intellek het. In die debat het Koos haar beïndruk met sy individuele stem en die volwassenheid waarmee hy geargumenteer het. Uit hierdie ontmoeting het ’n “wonderlike jeugvriendskap gegroei” wat etlike jare geduur het. As tieners en later ook as volwassenes het hulle oor en weer gekuier. Sy vertel: “Ons het jare lank hartstogtelike briewe aan mekaar geskryf. Daar was geen sprake van ’n liefdesverhouding nie, maar ons het met tipiese adolessente oordadigheid geskryf oor die poësie en die lewe.”
In 1988 het hy aan Johan Bruwer vertel dat hy ’n vervreemde kind was. Aan die een kant het hy verwyderd gevoel van sy ouers, veral sy pa, hoewel hy later jare ’n deernisvolle versoening met sy pa bereik het. “My pa het ons kinders beskou as ’n verlenging van hom. Hy wou hê ons moet sy belange en belangstellings uitdruk. As ’n mens gepresteer het in die dinge wat vir hom saak maak, het jy aandag gekry. Maar ek het nooit gevoel ek is liefgekry nie. Miskien is dit hoekom ek wou skryf – ek het gehoop ek vind één ou wat sê dat ek dít goed doen.”
Drome dat hy eendag ’n Groot Skrywer sal wees, het hy nooit gehad nie, het hy aan Willemien Pieterse (Insig, Junie 1988) vertel. “Ek het nooit eers daaraan gedink om eendag boeke te skryf nie, ek het ’n hele reeks van ander beroepe in gedagte gehad. Ek dink ek wou eers ’n valskermspringer word, toe ’n tandarts, ’n akteur, ’n konsertpianis (maar ek het hopeloos te min talent!), en toe ek sestien en verlief was, ’n digter.”
Verdere studie en werk
Na skool is Koos na die weermag vir sy diensplig. Dit was sy drang om hom met sy portuurgroep te identifiseer, wat hom daarna laat uitsien het om weermag toe te gaan, het hy aan Johan Bruwer vertel. Ironies, want sy latere “grensverhale” is in hul ontbloting van die onmenslike sinloosheid van oorlog ’n afwysing daarvan.
“Ek wou ‘army’ toe gaan want al die seuns in my klas het gegaan. Maar my pa was kwaad omdat ek so graag wou gaan – hy wou nie hê ek moet iets oorkom nie.”
Na sy diensplig is Koos na die Universiteit van Pretoria, waar hy sy BA-graad behaal het. Hy het in 1980 sy Honneursgraad verwerf en hom daarna ingeskryf vir ’n MA-kursus. In 1978 en 1979 het Koos as student ’n aantal gedigte en kortverhale in die tydskrif Vlieg gepubliseer. Vlieg was die lyfblad van die Letterkundekring van die Departement Afrikaans aan Tukkies. Volgens Gerrit Olivier het dit Koos se eerste literêre leerskool geword en sy eerste kennismaking met sensuur.
Koos het spontaan begin skryf. Op universiteit het hy een vakansie as ’n skofwerker by Yskor gewerk en daar het ’n verhaal in sy kop begin groei. “Iets wat móés uit. Dit was my heel eerste verhaal, ‘Skrot’, wat in Jonkmanskas verskyn het.”
Die studentekoerant Perdeby het op 4 Mei 1979 berig dat “baie Tukkies” besware het teen die inhoud van Vlieg iii en dat die blad deur die uitvoerende komitee van die studenteraad “ongewens” bevind is. Die rektor, EM Hamman, het op 9 Mei ingegryp met ’n brief aan die redakteur Hans Pienaar. Hierin het hy onder meer beweer dat Koos se verhaal “Skrot” (later in hersiene vorm in Jonkmanskas opgeneem) “onbetaamlik en onwelvoeglik” is. Die redaksie word geskors hangende verdere optrede deur die Komitee vir Dissipline (Studente) teen hulle en die outeurs, terwyl verdere verspreiding van Vlieg iii verbied word. Op 9 Junie 1979 word Koos, Hans Pienaar en Johann de Lange aangekla van wangedrag omdat hulle “die goeie naam van die Universiteit ten nadele in gedrang gebring het”. Op 12 Junie is die drie ingelig dat hulle skuldig bevind is, ’n jaar lange opgeskorte skorsing opgelê is en nooit weer op die redaksie van ’n studentepublikasie mag dien nie.
Sedert 1982 het Koos as joernalis in Johannesburg gewerk – by die dagblad Beeld, die glanstydskrif De Kat, waar hy sub- en boekeredakteur was, en ook as boekeredakteur by Vrye Weekblad. Sy tydjie as assistentredakteur by De Kat het net twee maande en agt dae gehou voordat hy terug is na Beeld, waar hy in die algemene redaksie was en ook letterkundige stories vir die kunsblad gedoen het. Hy het gesê dat hy weg is weens persoonlike verskille met die redakteur.
Koos se eerste gepubliseerde kortverhaal, “By die skryf van aantekeninge oor ’n reis”, word in 1980 in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer. Daarna het ander verhale in ander tydskrifte verskyn.
In 1982 het Jonkmanskas by Tafelberg Uitgewers verskyn. Ses jaar na die publikasie van Jonkmanskas, in 1988, is ’n klagte by die Direktoraat van Publikasie teen die kortverhaalbundel aanhangig gemaak, maar daar is bevind dat dit nie ongewens is nie. Van die verhale het in vertaling in bloemlesings in Engeland, Amerika en Nederland verskyn.
In sy artikel in Stilet (September 2008) skryf Gerrit Olivier dat in hierdie bundel sensuur alreeds sy kop uitgesteek het. In die oorspronklike manuskrip was die verhaal “Fighting for peace” se titel “Fucking for virginity”. Petra Grütter was egter van mening dat lesers dalk by die uitgewers sou kla oor die oorspronklike titel. Hennie Aucamp het ’n hand in Koos se besluit gehad. Aucamp en Koos het breedvoerig oor die bundel gekorrespondeer en Aucamp het ook sy invloed gebruik om die bundel die lig te laat sien.
“In die bundel gaan dit om die lewe, ondervindings en herinnerings aan die verlede, maar ook die hede is van allergrootste belang: ’n reis deur die hedendaagse lewe van geweld, oorlog, terrorisme en homoseksualiteit. Dit is ’n reis om homself te ontdek, ’n reis om sy plek in die samelewing te soek en ’n eie identiteit te vind. Teenoor hierdie ontdekkingstog in die hede is daar die reis van lank gelede. Dit is die ontdekkingstog van ’n grootvader in ’n woeste en ongetemde Kenia. [...] Jonkmanskas is ’n waardige debuut wat getuig van skerp waarneming. Die klem val hoofsaaklik op die handelinge, sonder om emosioneel te wees. Die taalgebruik is soms effens lomp. Die bundel getuig deurgaans van ’n eenvoud in aanbieding, wat betref dialoog en karakteruitbeelding. Voorwaar ’n genot om te lees” – aldus Adrianna Andersen in Beeld van 31 Januarie 1983.
JP Smuts skryf in sy resensie in Die Burger van 3 Maart 1983 van Koos se debuutbundel dat dit ’n verdere bevestiging lewer dat die Afrikaanse kortverhaal ’n besondere oplewing toon en daarby ook ’n opbloei met gehalte. “Alles in die versameling oortuig weliswaar nie heeltemal nie – Prinsloo slaag beter met sy langer verhale as sy korteres – maar in sy beste tekste toon hy die vermoë om te eksperimenteer met vorm en om ’n nuwe en eie aanpak van ’n gegewe te bewerkstellig. [...] Jonkmanskas is nie net ’n belofteryke debuut nie, maar Prinsloo het met ten minste die titelverhaal, ‘Fighting for peace’ en ‘In die kake van die dood’, klaar die punt van blote belofte verbygesteek en skryfwerk gelewer waarvan daar deeglik kennis geneem moet word.”
TT Cloete beskou Jonkmanskas as een van die belangrikste prosawerke van 1982 – belangrik omdat dit nuwe prosa in Afrikaans kom praat. “In hierdie bundel word nuut vertel, gekarakteriseer, en wat miskien belangriker is: nuut gekonstrueer en gekyk. Veral nuut is die mutasie van feitelikheid tot fiksie, dws tot kunswerk. Jonkmanskas staan uit onder die tydgenootlike kort prosa.” (Volksblad, 25 Junie 1983)
Groot lof het vanaf Nederlandse kant gekom. Hans Ester het in Zuid-Afrika van Julie/Augustus 1983 geskryf dat hierdie debuutbundel “verwarrend en intrigerend” is. Selfs net ’n vlugtige deurblaai deur die bundel bied ’n visuele verrassing: soms verskil die lettertipes, een gedeelte is in ’n “ongeoefend” handskrif afgedruk, die strokiesprenthondjie Snoopy duik ’n paar keer op, en dialoog wissel die “vertelde” af. “Door de bonte afwisseling heeft deze bundel op het eerste gezicht een speelse karakter. Bij nader inzien blijkt het spel van Koos Prinsloo veel grimmiger te zijn dan vermoedde. Maar het spelelement blijft tijdens vrijwel alle verhalen aanwezig, omdat Prinsloo zo nadrukkelijk aan het jongleren is, terwijl hij vertelt. De verteller laat ons als het ware over zijn schouder meekijken, terwijl hij schrijft. Hij vervaardigt het produkt voor onze ogen.”
Ester beskou Prinsloo as ’n verteller sonder illusies. Menslike verhoudings is by hom sonder liefde en slegs op een “verschaalde” seksualiteit gerig. “Er zijn geen vaste waarden, waarvan impulsen uitgaan voor het persoonlijke handelen. Het leven is een die gedreven worden van incident tot incident. De handeling binnen de verhalen wordt soms tot een minimum afgeremd. Zo komt het problematische karakter van het leven tot uitdrukking. [...] Koos Prinsloo heeft met Jonkmanskas een bundel boeiende verhalen vol vragen het licht doen zien. Hopelijk legt hij de pen niet neer.”
In 1986 het Koos ’n manuskrip met die titel Agt verhale en later Klaproos aan Tafelberg Uitgewers voorgelê. Hulle vra vir AP Grové om as keurder op te tree. Hy het die publikasie van die manuskrip aanbeveel en die “delikate en selfs ontroerende hantering van die ‘homoseksualisme’ in ‘Grensverhaal’” geprys. Hy het egter bygevoeg: “In die teks het ek wel die aandag op sekere kruhede gevestig, nie omdat die stukke die bepaalde kruhede nie kan verdra nie, maar omdat dit in die gevalle wat ek uitgewys het, iets van ’n opsetlikheid vertoon en die verhaal stilisties skaad.”
Een van die sinne wat later groot opslae gemaak het, is die uitspraak van die dienspligtige in die verhaal “Grensverhaal”: “Hierie kamp is PW se skuld, die meidenaaier.” Teenoor hierdie sin het Grové geskryf: “Nee, dit kan absoluut nie.”
Gedurende die tyd voor die publikasie van die bundel is groot druk op Koos uitgeoefen om nie die publikasie van die bundel in gevaar te stel ter wille van een sin nie. Totdat Danie van Niekerk, bestuurder van Tafelberg Uitgewers, ’n “ultimatum” aan Koos gestel het: óf hy verwyder die sin óf Tafelberg staak die publikasie van die boek. Die onafhanklike uitgewery Taurus het reeds te kenne gegee dat hulle belangstel om die bundel uit te gee, maar Koos wou eers vir Hettie Scholtz by HAUM-Literêr nader – en weer was daar twyfel. (Gerrit Olivier se artikel “Moeilikheid soek” in Stilet)
Die eerste keurder wat HAUM-Literêr genader het, was André P Brink, wat publikasie van die bundel wat as Die hemel help ons uitgegee is, “met graagte” aanbeveel het sonder om iets oor die gewraakte sin te sê. Die uitgewer het egter, met die oog op moontlike probleme, twee verdere menings ingewin. Charles Malan het voorgestel dat die uitgewer en die skrywer moet onderhandel en hy het die verwysing na PW as een van die ernstigste probleme beskou. Volgens hom was daar wetgewing wat die aantasting van die staatspresident se persoon verbied, maar volgens Gerrit Olivier is die spesifieke wetgewing in 1983 herroep. Ook Hilda Grobler, HAUM-Literêr se ander leser, en ’n letterkundige met ’n regsagtergrond was van mening dat die publikasie van “Grensverhaal” regsimplikasies kon hê.
Ten spyte van Hettie Scholtz se geesdrif om die manuskrip wel te publiseer, het sy later van besluit verander, maar het tog aangebied om te help met die pers en klaarmaak van die bundel wat toe uiteindelik in 1987 by Taurus verskyn het en vir die Rapport-prys voorgelê is.
Koos was aanvanklik huiwerig om die boek by Taurus te laat publiseer, aangesien hy nie wou hê sy werk moet onder etikettering of kategorisering gebuk gaan nie en ook wou hy eers uitvind wat HAUM-Literêr te sê gehad het. Volgens Gerrit Olivier het hy teenoor sy vriende in hierdie tyd laat blyk dat hy veral nie wou hê dat Die hemel help ons as ’n politieke stellinginname gelees moet word nie. “Die ervaring met Tafelberg en HAUM-Literêr het hom egter gedwing in ’n posisie wat hy wou vermy het: in eksplisiete opposisie tot die politieke en sensuurstelsel, in die marge van die uitgewersbedryf.”
Die Rapport-prys is toe aan Die hemel help ons toegeken. Drie dae voor die seremonie waartydens Koos die prys in Bloemfontein sou ontvang, het Willem van Heerden, voorsitter van Rapport Uitgewers, bekendgemaak dat die seremonie gekanselleer is. Koos se boek was skielik nie meer die beste nie en die prys van R25 000 en twee vliegkaartjies na Europa is ook teruggeneem. Taurus se reaksie op die hele debakel was dat dit duidelik wys dat die hand van sensuur wat almal gereken dood is, weer eens sy verskyning gemaak het en dat dit ’n bespotting maak van die regulasies van die prys. Al wat Koos te sê gehad het, was: “Die hemel help ons.” Uiteindelik het Rapport besluit dat Koos die prysgeld sou ontvang, maar nie die prys nie.
In Januarie 1989 was die hele debakel rondom die Rapport-prys in twee akademiese tydskrifte weer in die kollig. Stilet, die tydskrif van die Afrikaanse Letterkundevereniging, en Spits, ’n kritiese meningsblad van die Randse Afrikaanse Universiteit, het al die gebeure onder die loep geneem en daar is tot verrassende gevolgtrekkings gekom, soos dat Die hemel help ons waarskynlik nie die beste boek was wat om die prys meegeding het nie.
In sy resensie skryf André P Brink (Rapport, 6 Desember 1987) dat Die hemel help ons briljant is. Hy beskou die kortverhaal “Grensverhaal” as een van die allerbeste wat nog in dié genre in Afrikaans voortgebring is. “In hierdie verhaal word die private en die aktuele teenoor mekaar afgespeel om ágter dit wat ‘eintlik’ vertel word – die ruheid van die dienspligtiges, die saaiheid én geweld van ’n gemilitariseerde bestaan – ’n deerniswekkende eensaamheid, ’n uitgryp na sin en suiwerheid, ’n beswering van onskuld te onthul. Dis nie ’n bundel vir oppervlakkige lesers nie. Want dit is van die onverbiddelikste en mees deurtastende besinning op die Suid-Afrikaanse noodsituasie (in elke sin van die woord) wat nog by ons verskyn het. Wie ligtelik hierin seksuele of politieke sensasie wil soek, brandmerk homself as een van dié soort dwase wat instorm waar engele aarsel.”
In Die Suid-Afrikaan van April/Mei 1988 skryf Henriette Roos dat Die hemel help ons die vroeë indruk omtrent Prinsloo se literêre werk bevestig het. “Met sy omslag en titel wat reeds intrigeer, bied hierdie versameling van nege vertellings ’n toenemend boeiende en onthutsende leeservaring – deur die uiteindelike impak word die potensiële beperkings van uiterlike formaat, hedendaagse konteks en die intiem-persoonlike ervarings heeltemal oorskry. [...] By die lees van die resente Afrikaanse prosa du Van Wyk Louw se versugting oor die werk van die Vyftigs soms onwillekeurig weer by my op. Soveel van die hedendaagse ‘little books’ is beslis nie ‘gemoedelik’ nie, maar tog vasgevang in die beperkinge wat die locale en die realistiese kan meebring. In Prinsloo se werk word sulke tematiese en kontekstuele grense met behulp van ’n eiesoortige, persoonlike perspektief en ’n besondere literêr-tegniese vaardigheid oorskry. Sy verhale is primêr vertolkings van ’n hedendaagse geestesklimaat, maar daarby is dit ook onmiskenbaar dié soort literatuur wat nie deur tyd of plek beperk word nie.”
Pieter van der Lugt (Die Burger, 7 Desember 1987) skryf dat Prinsloo se nuwe stories oor alledaagshede gaan – “’n Kuier by die huis. ’n Mislukte pick up by ’n opera-uitvoering. ’n Onverwagte swangerskap. Lang aande en middae waarin die banaliteit van roetine ’n lewensangs meebring. Die slaggate is sentimentaliteit, onbenulligheid en eenselwigheid. Maar Prinsloo trap hulle mis deur sy materiaal en woorde uiters versigtig te kies. Die verhale is melankolies en intiem. Die protagoniste probeer baie persoonlike problematiek deurwerk. Seksuele verhoudings, eensaamheid, die ‘afrekening’ met die verlede, soos dit voor in die boek gestel word. [...] Prinsloo se beheerstheid trek die [...] stories deur die drif en ’n mens kry nietemin respek vir dié boek, omdat dit so deeglik geskryf is. Jy raak opgewonde oor die direktheid en openhartigheid daarvan. Boonop bars dit deur die dik mure wat kritici en sommige gevestigde skrywers om die kortverhaalgenre gebou het. Die hemel help ons is ’n vernuwende en dinamiese werk.”
Vir Joan Hambidge (Vaderland, 1 Februarie 1987) word die verhale nooit goedkoop effekbejag nie. “In Die hemel help ons vermoed die leser dat hy die ‘private dagboek’ van ’n jong man se ontwikkeling (soms in derdepersoon weergegee) onder die oë kry. Hierdie teks is tot in die vesels toe versorg. Die hemel help ons getuig van vakmanskap én integriteit. En vir hierdie eerlikheid móét ’n mens waardering hê.”
In Volksblad van 30 Januarie 1988 is Riana Botha se mening dat Koos Prinsloo met hierdie bundel nie net sy kunstenaarskap in Die hemel help ons bevestig nie – met hierdie verhale het hy vir hom ’n waardige plek in die voorste linie van Afrikaanse prosaïste verdien. “Daar is raakpunte met Jonkmanskas, maar daar word voortgebou op sekere tegnieke en temas wat al amper as ’n vingerafdruk van Prinsloo beskou kan word: die homofiele verhouding, die refleksiewe besinning van die skrywer oor sy skrywerskap wat gestalte vind in die post-modernistiese metateks, en bowe-al, die faksionele gebruik van die manuskrip. Dit is egter nie ’n borduursel op reeds beproefde tegnieke of temas nie. Die verhale in Die hemel help ons getuig van ’n afgerondheid en digtheid wat in vele opsigte ’n vooruitgang op Prinsloo se vorige werk is. [...] Waar Prinsloo in sy debuutbundel nog in ’n groot mate besig was met ’n eksperiment in Afrikaans, met ’n taalaanbod in visuele vorm wat al beskryf is as ‘literêre kaperjolle’, is dit nou in Die hemel help ons getemper en ‘hard’ gemaak. Hierdie bundel kortverhale het Koos Prinsloo se meesterskap oor die geskrewe woord ondubbelsinnig bewys.”
Die hemel help ons is in 1991 deur Riet de Jong-Goossens in Nederlands vertaal en deur Uitgeverij Amber in Amsterdam uitgegee.
Na ’n tussenpose van vyf jaar, net soos tussen sy eerste twee bundels, word Koos se volgende bundel, Slagplaas, in 1992 deur Human & Rousseau uitgegee. En weer is die publikasie van ’n bundel van Koos in omstredenheid gehul.
Teen die voltooiing van die manuskrip van Slagplaas het Taurus reeds besluit om nie verder boeke te publiseer nie. Koos het die manuskrip op aandrang van Danie van Niekerk eers aan Tafelberg voorgelê. Gerrit Olivier skryf in sy artikel in Stilet dat Van Niekerk na ’n misverstand oor ’n voorskot en ’n meningsverskil oor die gebruik van ’n buitebladontwerper vir Koos laat weet het dat Tafelberg nie die manuskrip kon uitgee nie: “Koos, die seks-element in Slagplaas is te sterk, vir Tafelberg altans; ek kan nie sien hoe ons ‘PCP’, ‘Voor die oorlog’ en ‘Slagplaas’ kan publiseer nie.”
Daarna het Koos die manuskrip aan Human & Rousseau gegee wat dit aan drie keurders: TT Cloete, Ernst Lindenberg en Henriette Roos – voorgelê het en positiewe opmerkings van al drie is op die omslag van Slagplaas gebruik. “Human & Rousseau se omsigtigheid het verder geblyk uit die feit dat Lindenberg en Roos ’n tweede keer genader is met die spesifieke versoek om ’n mening uit te spreek oor die funksionaliteit van die foto aan die einde van ‘Die poort van hemelse vrede’.”
Human & Rousseau het dus alles moontlik gedoen om Slagplaas as ’n literêre werk bekend te stel. Uit die ontvangs van die bundel blyk egter dat selfs die versekeringe dat die leser hier met literatuur te make het, nie vir ’n paar letterkundige deskundiges gehelp het nie. In sy bespreking ignoreer Charles Malan (De Kat, Februarie 1993) byvoorbeeld die komplekse literêre verwerking van outobiografiese gegewens in Slagplaas en beweer dat dit hier gaan om “die bedsake van Koos die Reële Outeur en sy Reële Pelle”.
Tom Gouws eindig sy resensie in Die Burger (22 Desember 1992) met ’n morele les aan die skrywer: “En Koos kan maar probeer, maar met ’n plastiekborseltjie sal hy nie die laaste kak onder sy naels kan uitskrop nie, soos in een van die verhale staan. En gedagtig aan die durende reuk van die slagplaas in en om ons, will all the perfumes of Arabia not sweeten that little hand.” En Jan Rabie volstaan met twee sinne wat drup van wanbegrip en homofobie: “One of the leading, younger with-it Afrikaans writers, Koos Prinsloo, has created a furore with his short prose work Slagplaas – Abattoir. Not before have the gay world’s obsessions and quarrels been exposed with such venom and desire to shock.”
Koos self het aan Emile Joubert (Die Burger, 29 Januarie 1993) gesê dat as ’n boek die leser skok, hy kan kies om dit toe te maak. “Lesers wat dus verontwaardig is omdat hulle geskok word, doen dit aan hulself. Ek skryf nie om te skok of reaksie uit te lok nie. Ek het net een doel voor oë: om ’n goeie storie te skryf, een wat wérk.”
Op ’n vraag van Joubert waarom mens geskok word, het Koos geantwoord: “Ek dink nie Afrikaanse lesers is kleinseriger as ander taalgroepe nie. Maar jy moet onthou die plaaslike gemeenskap was dekades lank afgesonder en tot in hul stomme maai verdruk deur ‘publikasiebeheer’. Kultureel was ’n groot deel van die gemeenskap dus nie in voeling met wat in die res van die wêreld gebeur nie. Sedert ons die afgelope tyd egter deel geword het van wat aangaan, moet mense vinnig bykom en dit kan baie traumaties wees. Daarom is ’n lekkerleesboek soos Griet skryf ’n sprokie ’n welkome verskynsel, ook en veral om nie-literêre redes.”
Die middag voor Slagplaas se bekendstelling in Pretoria op 10 Desember 1992 het Ralph Rabie, oftewel die sanger Johannes Kerkorrel, vir Koos in sy kantoor by De Kat te lyf gegaan oor verwysings in die bundel na “my vriend die Pop Ster”. Koos het die aand by die bekendstelling opgedaag met die tekens van die aanranding duidelik sigbaar op sy gesig.
In die verhaal “Nawoord” in die bundel praat die verteller van sy vriend “Die Pop Ster” en vertel hy van dié se verhouding met ’n jong kunsskilder wat selfmoord gepleeg het. “Ek noem nie name in die verhaal nie en wat daar geskryf staan, is fiksie. Dit kan nie aangeneem word dat Koos Prinsloo die skrywer, die verteller in ‘Nawoord’ is nie. Die karakters en situasies in Slagplaas is denkbeeldig. Enige ooreenkoms met lewende mense en die werklikheid is bloot toevallig. Die karakter ‘Die Pop Ster’ is nie Johannes Kerkorrel of Ralph Rabie nie – ook nie Cupido, Cora-Marie, Rina Hugo, Bles Bridges, Die Fluitende Predikantsvrou, Anneli van Rooyen, Innes en/of Franna of Randy Rambo nie. Mense wat hulself in die stories inlees, vlei hulself,” het Koos aan Barrie Hough van Rapport (13 Desember 1992) vertel.
Koos het regsadvies ingewin en ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, ingedien. Hy sou ook later ’n siviele geding aanhangig gemaak het. Ralph Rabie het vroeër gesê dat hy staan by wat hy aan Koos gesê het, naamlik dat Koos mors met goed wat vir hom, Ralph, heilig is en dat hy wat Koos is, dit nie weer sal doen nie. “En ek hou nie van leuens nie,” was Rabie se reaksie.
Oor sy stories het Koos aan Emile Joubert vertel dat hy in ’n dokumentêr-realistiese styl skryf. “Wat ek skryf is fiksie en nie feite nie. Ek vind bespiegeling oor die mense/gebeure agter die boek onfatsoenlik en nie ter sake nie.”
Verkope het daarop gedui dat Slagplaas ’n treffer is. Meer as 1 100 eksemplare is binne die eerste twee weke verkoop.
In 1993 is die bundel ná klagtes aan die Direktoraat van Publikasies voorgelê, maar ’n publikasiekomitee van die Direktoraat het bevind dat die boek nie ongewens is nie, op voorwaarde dat dit net in boekwinkels verkoop sal word en nie in skoolbiblioteke beskikbaar sal wees nie. Koos se kommentaar was: “Om Etienne Leroux aan te haal: ‘Sensuur is van die duiwel.’”
In 1993 het die Uitgewery Hond en die tydskrif Die Suid-Afrikaan aangekondig dat hulle ’n nuwe literêre prys gaan toeken – aan ’n werk “wat die grense verskuif het”. Die eerste ontvanger van die prys ter waarde van R1 000 was Koos Prinsloo vir Slagplaas. “Die gedagte om ’n literêre prys in te stel spruit uit die ignorering van Prinsloo se Slagplaas met die toekenning van letterkundepryse in die literêre jaar 1992,” het ’n verklaring deur Die Suid-Afrikaan en Hond gelui. (Die Burger, 22 November 1993)
Die kritici was erg verdeeld oor die literêre meriete van Slagplaas. Wilhelm Liebenberg skryf in Insig van Februarie 1993 dat dit moeilik raak om te weet waar in Prinsloo se verhale fiksie ophou en die werklikheid begin. “Hierdie verwarring van werklikheid met fiksie is nie die enigste effek wat Koos Prinsloo in Slagplaas bewerkstellig nie. Dis ook nie altyd duidelik waar die een verhaal ophou en die ander begin nie. Wat na ’n relatief betekenislose detail in die een verhaal lyk, word besonder betekenisvol as mens dit eers verbind met wat vertel word in ’n ander. So vorm nie net die verskillende verhale in die bundel nie, maar ook al drie Prinsloo se bundels tot dusver ’n ryk en geskakeerde geheel wat al hoe meer aan diepte wen hoe meer mens daarop ingaan. [...]
“Daarby weet Prinsloo ook deksels goed hoe om met die leser se verwagtinge te speel en hoe om te ontstel. ‘’n Skrikwekkende leeservaring’ is die kop van Tom Gouws se resensie in Die Burger (22 Des 1992); ‘’n Skokkende boek’ is die beskrywing wat Johann de Lange (in Exclusive Communique, 27 Nov 1992) gepas vind.”
Slagplaas is ’n boek wat volgens Henning Snyman (Rapport, 13 Desember 1992) “die leser dwing om te kyk waar hy nie wil kyk nie”, en Liebenberg meen dat dit ’n boek is wat die leser sal laat krap waar hy nie sal wil weet dat hy gejeuk het nie. “Hiermee word ’n tema wat al van Prinsloo se eerste bundel met die veelseggende titel Jonkmanskas af saamkom – die uit die ‘closet’ haal, en dan spesifiek die boere-closet, van dit wat ons mense nie graag wil erken nie – tot ’n nuwe hoogtepunt voer. Juis daarom is dit ’n werk waaroor almal nie ewe gemaklik gaan voel nie. Vergelyk die ‘bekende literator’ wat in Kalender aangehaal word se uitspraak dat die ‘grense van platvloersheid met die werk verskuif’ sou word. Wie dié persoon is wat so vanuit die closet verdoem, sou ek regtig nogal graag wou weet, want Slagplaas is die soort werk wat literatore en kritici gaan maak of breek. [...] Slagplaas is ’n boek wat die literêre establishment tot in sy fondamente gaan skud. Dit is ’n werk wat getuig van ’n sonderlinge vakmanskap. Dit is in ’n woord: briljant.”
Vir Charles Malan (De Kat, Februarie 1993) handel Slagplaas om slagting, geweld, kliniese brutaliteit, die miskenning van die reg om te lewe, fisieke en geestelike doodmaak om vraatsige behoeftes te vervul. Daar is nie ’n mooi literêre naam daarvoor nie. Ook nie mooi beelde nie. “Daar is geen twyfel dat talle passasies en selfs hele verhale [...] steun op die elementêrste konvensies van pornografie. Geen literêre sousie kan die slagplaasreuk verbloem nie. Soos met enige porno sal daar tere siele wees wat geskok word, maar soos met enige porno word een oorheersende indruk gelaat: dit raak so blerrie vervelig. ’n Mens vermoed dat die skrywer een of ander rekord wou opstel: kom ons kyk wie kan die meeste kere in die kortste sinne met die goorste woorde vertel hoe die ding in die meeste openinge gedruk word. (Mag dit so wees dat die sensors nie die bostaande lees nie – laat ons gou met die oog op die komende hofsaak vir hulle sê: die porno is relatief, literêr ingebed, bedoel vir die waarskynlike, gesofistikeerde, verdraagsame leser, ens, ens, o magtige Sensors. Glimlag tog maar as klein Koos hierdie keer nou so behoorlik sy tong vir julle uitsteek, by wese van spreke.)
“’n Mens sou boonop vir die sensors kon sê dat die boek verdien om gepubliseer te word bloot op grond van enkele verhale: vanselfsprekend veral die skitterende wenverhaal van De Kat en andere se kompetisie, ‘Die wond’. Daaroor is genoeg geskryf, maar heelwat sal nog gesê moet word oor verwikkelde verhale soos ‘Die affair’, ‘Drome is ook wonde’ en die erg metafiksionele ‘Klaarpraat’ of die joernalistieke ‘verslae’ soos die werklik skokkende ‘Sy het nie ’n geluid gemaak nie’ en die selfmoordbeskrywings wat hulle intertekstuele oorsprong reeds in Jonkmanskas het.
“’n Mens sal vir die sensors kan wys op die skrywer se werklik voortreflike styl- en perspektiefwisselings, sy gemaklike bokspronge tussen erns en luim, sy lughartige spel met konvensies en so meer. Maar vir so ’n briljante skrywer soos Koos kan ’n mens ná die byna teensinnige lof net een ding toewens: dat hy so gou moontlik ’n nuwe speelding moet kry.”
Henning Snyman skryf in Rapport dat die suggesties, subtiliteite en tegnieke van Jonkmanskas en Die hemel help ons met Slagplaas tot ’n uiterste grens gebring word. “[D]it word ’n slagplaas van Suid-Afrikaanse politieke wreedheid, van genadelose seksualiteit, van persoonlike en innerlike geestelike woede en van die wreedheid van menslike verhoudinge. Op ’n meer akademiese vlak word dit ook ’n slagplaas van literêre konvensies, maniërismes en taboes. [...] Prinsloo se bundel is sekerlik nie slegs gay-literatuur nie, hoewel dit die sentrale tema vorm. Dit word in vele opsigte ’n kombinasie van die ‘vermetele woord’ as letterkunde, van uitgesproke en skokkende seksualiteit, van ’n eiesoortige erotika en van ’n register van geestelike geweld. [...]
“Waar Prinsloo se bundel daarin slaag om gay-literatuur te wees en tog ook nie is deurdat dit totaal wegbeweeg van gay-stereotipering. Hoewel dit van situasies uitgaan wat bekend is binne die gay-idioom, verwerk Prinsloo hierdie situasies tot die essensie van die mens se uitgelewerde woede aan die mag en wreedheid van seksuele drif. Dit word dus metafoor vir die emosionele slagplaas van konstante geestelike destruksie. Juis omdat gay-literatuur in so ’n hoë mate seks-georiënteerd is, is dit so ’n suksesvolle paradigma vir hierdie boek met sy kompromislose blootlê van die tegelyk wondbare én brutale menslike psige. [...]
“Slagplaas is inderdaad indrukwekkende prosa. Dit is nie ’n boek wat op sigwaarde veroordeel moet word nie, maar ’n boek wat die leser dwing om te kyk waar hy nie wil kyk nie en laat luister na wat hy nie graag wil hoor nie.”
Emile Joubert (Die Burger, 29 Januarie 1993) het aan Koos gevra as hy vir iemand wat nog nie Slagplaas gelees het nie, moes vertel waaroor dit gaan, wat hy sou sê. “Ek sou prof JP Smuts aanhaal in sy radioresensie: ‘Slagplaas verwoord die desperate verset van ’n mens teen een van die grootste bedreigings van ons tyd: eensaamheid, veral binne die groot stad, die ontreddering wat dit meebring en die vervlietende seksuele verhoudings wat dit moet probeer besweer.’ Ja, ek sou sê die boek gaan oor eensaamheid, geweld en verdrukking.”
Smuts (New Contrast, Maart 1993) het ook geskryf dat die bundel ’n nuwe en fel blik bied op ’n sienswyse en subkultuur wat nog nie voorheen so konsekwent en so uitgesproke in Afrikaans beskryf is nie. “Die bundel daag alle konvensies uit, dit is dikwels kru en plat en by tye nihilisties. Dit is ’n werk wat net vir die sterk literêr ingestelde leser wat vertroud is met die eietydse idioom, kan aanbeveel word. Ander lesers sal waarskynlik vind dat die teks soveel weerstand op verskeie vlakke bied dat hulle dit nie as ’n lonende leeservaring sal ervaar nie.”
Vir Gerrit Olivier is Slagplaas ’n merkwaardige bundel “waarin die realistiese vertelling ’n byna surrealistiese kwaliteit aanneem, waarin die verbygaande detail telkens met betekenis gelaai word, en waarin die komplekse vertelwyse tot in besonderhede sinvol is. Meer nog as in Die hemel help ons is daar in Slagplaas ’n unieke, eie stem. Prinsloo sal lank onthou word vir wat hy in hierdie ontstellende, komiese en hartverskeurende boek verrig het.” (Vrye Weekblad, Desember 1992–Januarie 1993)
Soos reeds vermeld, het Johann de Lange gesê dat dit ’n skokkende boek is en dat die seksuele nog nooit vantevore so inhibisieloos en brutaal-eerlik, selfs genadeloos, in Afrikaans oopgeskryf is nie, “soveel só dat selfs die grense van die taal verskuif moes word om dit te kan akkommodeer. En dan praat ek net van seks as sodanig: gay seks is nog groter taboe. Maar ook so onteenseglik virtuoos geskryf dat om dit te ignoreer of as pornografie af te maak, sal neerkom op ’n negering van een van die belangrikste literêre gebeurtenisse in ’n lang tyd. Pornografie is dit júis nie, want die seksuele word in hierdie verhale klinies en brutaal benader. [...] Slagplaas is ’n belangwekkende nuwe werk van een van Afrikaans se sterkste jonger stemme, ’n teks wat nie slegs Prinsloo se voriges oortref wat stilistiese vaardigheid en rypheid aanbetref nie, maar ook ’n nuwe standaard daarstel vir kortverhale.”
In Weekly Mail (29 Januarie–4 Februarie 1993) skryf Shaun de Waal dat Prinsloo die joernalistieke en outobiografiese met verbeeldingryke kreatiwiteit meng, maar dat ’n mens nie te seker kan wees wat in watter kategorie val nie – dalk omdat feite in hierdie geval fiksie word. “The smell of the abattoir is explicit in one story, but it symbolically permeates the whole volume. There are suicides, there is death by Aids, there is domestic violence and sexual violation. Eventually this sense of emotional horror overcomes the cool self-assurance of the prose and the aptness of design, and one is left disturbed and discomforted. Prinsloo’s refusal to compromise the savage accuracy of his vision reminds one of the work of Hubert Selby (Last exit to Brooklyn), and, in its bleakness, of Jean Genet. But in Slagplaas, unlike in Genet, the shackles cannot be transformed into garlands.”
Koos se vierde bundel kortverhale, Weifeling, word in 1994 deur Hond Uitgewery gepubliseer. En ook met hierdie bundel was die omstredenheid weer daar. Die bundel bevat die verhaal “A portrait of the artist” wat nie alleen ’n uiters boeiende beeld van die jare lange mentor-leerling-verhouding tussen Koos en Hennie Aucamp bied nie, maar ook ’n hele geskiedenis van Jonkmanskas op weg na sy uiteindelike publikasie, en ’n illustrasie van die soort teks wat Koos uiteindelik téén alle literêre vaders inskryf.
“Hierdie merkwaardige verhaal is tegelyk ’n homage aan en ’n kritiek op Aucamp as kunstenaar, literêre smaakbepaler en voorstander van ’n beskouing op gay-identiteit as deel van die ‘menslike kondisie’. Vanuit die oogpunt van die publikasiegeskiedenis beskou, bied die teks insig in die subtiele en verleidelike maniere waarop goedbedoelde advies en leiding, ingebed in ’n stel dominerende konvensies rondom ‘stil effekte’ en subtiliteit, vir die jong skrywer ’n vorm van verdrukking of ’n literêre sublimering van die waarheid word. Dis asof die literêre tradisie en fatsoen sélf, met sy verlengstuk in die advies van raadgewers, uitgewers en keurders, in Prinsloo se oeuvre die literêre ‘jonkmanskas’ geword het, met sy versmorende geur van motwortel waaruit die skrywer eenvoudig móés ontsnap.
“Teen hierdie agtergrond is dit nie verbasend nie dat ‘Die jas’ die wraak word van ’n ‘gemene’ skrywer teen ’n ernstige magsmisbruik en vertrouensbreuk van dieselfde uitgewers wat al met die publikasie van ‘Grensverhaal’ moeite ondervind het. In hierdie verhaal word die hele geskiedenis van Prinsloo se onderhandeling met Tafelberg oor die publikasie van Die hemel help ons en Slagplaas in besonderhede betrek” – aldus Gerrit Olivier in Stilet.
Louise Viljoen skryf in De Kat dat die strategieë van ontmaskering wat Prinsloo reeds vanaf sy eerste bundel ontgin, hier met steeds groter genadeloosheid teenoor homself én veral ook ander voortgesit word. “Die formaat en omslag van die bundel is ’n deurbreking van die verliteratuurdheid en kunstigheid van Prinsloo se ander bundel-omslae, maar dit lyk ook asof die sereniteit van die fotobeelde op die buiteblad doelbewus die grimmigheid van die lewe daarbinne wil verhul. [...] Die bundel se roekelose spel met werklikheid en fiksie kry dit reg om te toon dat hierdie kenmerkend postmodernistiese procédé nie net ’n skadelose bedryf is wat min of geen konsekwensies vir die werklikheid het nie. Juis die postmodernisme bring die skrywer tot op ’n punt waar aanspreeklikheid (‘accountability’) in die werklikheid buitekant die teks nie ontduik kan word deur te sê dat dit alles net fiksie is nie – dit is ’n politisering van skryf én lees wat implikasies ver buite die geval van net hierdie boek het. [...] Uiteindelik is hierdie leser se reaksie ’n dubbelkantige een: saam met die besliste huiwering voor die morele konsekwensies wat die bundel inhou, is daar bewondering vir Prinsloo se genadelose vermoë om die leser te dwing tot selfontmaskering.”
LS Venter meen dat Weifeling ’n werk is wat in die Afrikaanse literêre lewe en in die gemoed van die sensitiewe leser ’n storm gaan veroorsaak. “Dis ’n uitgesproke homoseksuele boek; daarby een wat nie huiwer om te vertel van homoseksuele geweld of van die siektetoestande wat met die homoseksuele liefde gepaard kan gaan nie. Niks word privaat gehou nie; niks is té intiem om onverteld te bly nie – ook nie wat in private korrespondensie te lese staan of wat in private telefoongesprekke gesê word of ongesê bly nie. Die vertellers in Weifeling is sonder piëteit en sonder dekorum. ‘Piëteit’, ‘dekorum’, ‘die Afrikaanse literêre lewe’ is natuurlik almal begrippe wat aan waardestelsels gekoppel is. Dit sou te sterk gestel wees om te sê dat Weifeling dié waardes uitdaag. Veel eerder wil dit die onwesenlikheid daarvan demonstreer. [...] Die Afrikaanse leser sal dus verby aanstoot, moedswilligheid en misverstand moet lees om Weifeling te begryp. Doen hy dit, vind hy intelligensie en sensitiwiteit waar hy slegs die vulgêre meen te bespeur.” (Beeld, 8 November 1993)
Volgens Riana Scheepers in Die Burger (30 November 1993) is hierdie bundel van ’n totaal ander stoffasie as Koos se ander bundels. “Die styl is steeds onmiskenbaar Prinsloo, die temas en tegnieke (amper) óók, maar by die lees van dié tekste het ek die onbehaaglike gevoel gekry dat ek literêr verneuk is. Myns insiens moet Weifeling gesien word as ’n soort addendum tot Prinsloo se briljante Slagplaas wat minder as ’n jaar gelede verskyn het. Addendum, ja, want hierdie verhale het doodeenvoudig nie die dodelik-geslypte tegniese beheer óf die vermoë om emosioneel te ontredder of te ontroer soos met sy vorige tekste ervaar is nie. Veral teleurstellend van hierdie versameling is die feit dat die meeste van hierdie sewe verhale berus op die intrige van die skinderstorie. En nou wil ek nie sê dat ’n skinderstorie nie die grondstof kan vorm van ’n goeie verhaal nie, inteendeel. Wat egter hier gebeur, is dat die interpretasie van die verhale berus op ’n vooraf-kennis van mense en gebeure in ’n wêreldjie waarvan die meeste lesers doodgewoon geen buite-tekstuele kennis dra, of belang stel om dit in te win nie. [...] Prinsloo moes beslis meer weifeling aan die dag gelê het toe hy die verhale in hierdie bundel uit die laai gehaal het.”
Gerrit Olivier sluit sy resensie in Vrye Weekblad (Desember 1992–Januarie 1993) as volg af: “Weifeling mag die woord wees, en tog weet elke skrywer: weifeling en onsekerheid is die één ding wat deur trefsekerheid van tegniek nie opgehef word nie, eerder geaksentueer word. Hierdie boek is geen Slagplaas nie – niemand skryf so ’n boek ’n jaar later nie – maar ’n bevestiging, meedoënloos en indrukwekkend, dat Prinsloo verteltegnies, emosioneel en in sy aanvoeling vir die komplekse verhouding van teks tot werklikheid verder ontwikkel het as miskien enige ander skrywer in Afrikaans.”
Vir Joan Hambidge word die grense van die medium in Weifeling versit: vreesloos en kompromisloos. “Miskien sê hierdie bundel ten slotte alles van die (Afrikaanse) skrywer as ’n blootgestelde, bemarkbare kommoditeit. Miskien verwoord hierdie verhale ten beste ’n ‘romantic agony’ en is die verskille tussen die ouer en jonger skrywer (in die eerste verhaal) ’n opsomming van ’n verskil in werkwyse en persoonlike etiek. Verwoord Prinsloo die onsêbare (p 11) sou ’n mens kon vra, of is die verhale te openlik, opsetlik en na aan die been gesny?” (Insig, November 1993)
In Junie 1993 het die Koos die Winterforum aan die Witwatersrandse Universiteit bygewoon en volgens Gerrit Olivier het niemand meer pertinent en skrynend kommentaar op Koos se werk gelewer as hy self nie toe hy pleks van ’n lesing ’n skyfievertoning met musiek van Arvo Pärt aangebied het. Dit was klein grepe van sy jeug in Kenia, familie- en plaastaferele met die karigheid wat die beelde soms kan hê, omring met die melancholie van ’n verlore tyd. Dit was soos ’n requiem.
Na die Winterforum het baie van die mense wat dit bygewoon het, hulle skok uitgespreek omdat Koos so siek gelyk het. Hy het egter gesê dat hy tydens sy kuier in Amerika ’n maagvirus opgedoen het wat nie gesond wou word nie. En omdat hy nie daar nog geld aan dokters wou bestee nie, het hy Suid-Afrika toe gekom sodat hy behoorlike aandag aan sy gesondheid kon gee.
Vroeg in 1994 het die geding tussen Koos en Johannes Kerkorrel ook tot ’n punt gekom toe Kerkorrel erken het dat sy aanval op Koos onregmatig was. Kerkorrel het op 18 Februarie R3 000 aan Koos betaal, asook R2 500 ten opsigte van Koos se regskoste. Koos se regsverteenwoordiger het gesê dat Koos op sy beurt R1 500 aan Kerkorrel betaal het weens bewerings dat Kerkorrel se privaatheid geskend is omdat hy in Koos se verhale uitgebeeld is.
Op 6 Maart 1994 is Koos in die ouderdom van 36 jaar aan Vigs-verwante komplikasies in Johannesburg oorlede. Hy is in sy woonstel in Berea dood terwyl sy metgesel, Andrew McLeod, en ander vriende by hom was. Hy het sy ouers, Daan en Dora Prinsloo, agtergelaat.
Aan sy vriend Ryk Hattingh het hy ’n maand voor sy dood vertel dat hy gedroom het hy staan op ’n hoë toring. En toe val hy. “Dit was so exciting. Ek het in die see geval en na die bodem gesink en net daar bly lê.” “En toe word jy wakker?” het Hattingh gevra. “Nee, ek het net daar bly lê. Dit was ongelooflik lekker. Ek het so goed gevoel toe ek wakker word.” Toe sê hy: “Ek kan nie verstaan hoekom mense so ’n groot ding van die dood maak nie. Dis maar net die natuur. En ons is tog natuur. Ek weet dis miskien maklik om te praat, maar ek dink dis een ding wat ek geleer het, om álles op te stuur en met ironie daarna te kyk. Die dood, miskien juis die dood.”
Op 8 Maart is Koos in Braamfontein veras en op 9 Maart het sy vriende, ouers en susters in die kapel van die Braamfontein-begraafplaas van hom afskeid geneem. By die kapel het Edwin Cameron, Gerrit Olivier, Marlene van Niekerk en Hedwig Barry almal hulde aan Koos gebring “sonder sentimentaliteit en met die eerlikheid wat hy van ons sou verwag het”.
In sy begrafnisbrief was ’n uittreksel uit Weifeling: “Die rit oor die Styx is ’n nagwaak lank. Party sê dis ’n rivier-sonder-end. Veerman Charon roei ritmies. Swart water. Luister. Hoor julle die honde blaf? Ja, staan nader, geliefdes. Muntstukkies byderhand. Die instruksie is eenvoudig: forseer die lyk se geklemde kake van mekaar, en, versigtig nou, so ja, kyk, netjies lê die passaat op sy skubberige swambedekte melkwit tong.”
Huldeblyke
- Henriette Roos, letterkundige: “Dit is vandeesmaand presies dertien jaar gelede dat ek vir Koos Prinsloo, toe ’n voornemende MA-student, ontmoet het. Hy wou die ongehoorde doen om oor die Afrikaanse kortverhaal ’n verhandeling te skryf waarin aan die hand van sy eie kreatiewe werk, teorieë oor narratiewe strukture beproef en geëvalueer kon word. Die gang van akademiese sake kon hierdie onkonvensionele aanpak nie akkommodeer nie en die verhandeling is nooit geskryf nie, maar in die loop van die daaropvolgende jare het Prinsloo een van die bekendste en na my oordeel een van die belangrikste name en opvallendste vernuwers in die Afrikaanse prosa geword. [...] Iemand het al eerder gesê dat in groot letterkunde daar van agter die orde van die kunstige struktuur, juis altyd iets van die angsaanjaende lewenschaos deurskemer. Een van die vertellings in Slagplaas, ‘Sy het nie ’n geluid gemaak nie’, illustreer hierdie gedagte baie direk. Die hoofkarakter se lewe en dood word in die slotparagraaf gruwelik saamgevat: ‘Dit het die bure sowat twintig minute gevat om die vlamme te blus. Dit was ook een van hulle, Gladman Makeba, wat gesê het heeltyd wat sy soos ’n fakkel om die huis geloop het, het sy nie ’n geluid gemaak nie.’Maar – in Koos Prinsloo se prosa is die geluidlose wanhoop wel verwoord, die intense radeloosheid tog gekommunikeer, die oorweldigende gruwel vorm en patroon gegee. Deur die skryfdaad kry die lyding betekenis en duur. Sy vertellings is unieke vertolkings van ’n hedendaagse geestesklimaat, maar ook onmiskenbaar die soort literatuur wat nie deur tyd of plek beperk word nie.” (Insig, April 1994)
- Riana Scheepers, vriendin en skrywer: “Koos se relatief klein oeuvre het nie net ’n vingerafdruk op die literêre sisteem gelaat nie, hy het dit kompromisloos en radikaal verander en vernuwe. ’n Letterkunde is bevoorreg as dit maar een so ’n skrywer het. ’n Paar jaar gelede het ek op ’n dag in ’n verspotte oomblik van vertedering vir hom gesê: ‘Koos, jy sal eendag hemel toe gaan.’ Hy het vreeslik gelag. ‘Vergeet dit,’ het hy gesê, ‘ek gaan nêrens heen nie. Ek sal sorg dat ek op ’n plek is waar ek kan skryf.’ Doen dit, Koos Klassiek, doen dit.” (Die Burger, 9 Maart 1994)
- Fanie Olivier, digter:
vir koos – altyd op pad na ’n grens
o, niemand kan lag soos jy kon lag nie
en niemand kan jag soos jy kon jag nie
en so min was so sag soos jy sag was
maar min het geweet soos jy wat slag was
wie het soos jy gesweer van nie keer nie
en wie had soos jy nie eintlik verweer nie?
het iemand die kas soos jy kon oopskryf
en iemand soos jy die lyf gaan loop vry?
o, my skraal maat, uiteindelik verskraal deur die virus
neergepen bly alles durend straal deur jou iris. (Beeld, 9 Maart 1994)
- Gerrit Olivier, vriend en skrywer: “Vir die Afrikaanse letterkunde beteken die dood van Koos Prinsloo die verlies van miskien die belangrikste jong skrywer. Sy werk het soms skandale veroorsaak, en daar is geen twyfel dat hy ’n konfrontasionele skrywer was nie. Maar Koos se werklike bydrae het niks te doen met die klein opskuddinkies wat ons van tyd tot tyd gesien het nie, veel meer met sy volgehoue formele vernuwings van die kortverhaal, sy verregaande ontwrigting van die veronderstelde grens tussen fiksie en werklikheid, en sy verkenning van gebiede waarvoor selfs geharde lesers soms moet terugdeins. [...] Prinsloo se onbetwisbare tegniese meesterskap – sy manuskripte was altyd afgerond tot in die fynste besonderheid – maak van hom reeds ’n besondere skrywer. Wat sy werk onvergeetlik maak, ook vir diegene wat met skok (die skok van selfherkenning?) daarop gereageer het, is ’n kwaliteit wat ek net kan omskryf as kompromieloosheid. Vir die stryd met die vader – en daar is baie vaders in sy werk – is daar by Prinsloo geen oplossing nie. Emosionele geweld, en selfs die wellus daaraan verbonde, beeld hy sonder skroom en eufemisme uit. Sy tekste staan oop vir die wêreld, in so ’n mate dat ontstellende drome, liriese passasies, skinderverhale en koerantberigte maklik geabsorbeer kan word. Deur die virtuositeit van sy beste werk, Slagplaas, heen bly menslike behoeftes en verlatenheid voelbaar – die aanwesigheid van die pyn en die nabyheid van die dood. Weifeling het hy nog klaargemaak, miskien omdat dié bundel eindig met verhale wat tegelyk ’n laaste uitbarsting van woede, ’n requiem en ’n wiegelied is.” (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1994)
- Ryk Hattingh, vriend en skrywer: “Om namens Koos Prinsloo se vriende hulde aan hom te bring, is ’n moeilike ding. ’n Mens moet versigtig wees wat jy sê, pasop dat jy nie jou persoonlike verlies aan ’n reisgenoot probeer verdring deur té mooi dinge oor hom te sê, of sentimentele beelde te probeer optower nie, want dit sou oneerlik teenoor hom en die self wees. En eerlikheid, veral teen die self, het Koos Prinsloo verafsku. Daarom, as ’n mens hulde aan Koos Prinsloo wil bring, moet jy nie nalaat om jou eie emosie te ondersoek en miskien selfs daaroor te praat nie. Dit het goed met Koos gegaan as hy, soos hy dit gestel het, ‘na aan sy emosies is’. Daardie plek waar ons almal graag wil wees, maar meestal nie ’n benul het hoe om by uit te kom nie. [...] Natuurlik het baie mense hom ‘te erg’ gevind. Sy ongebreidelde emosie, sy weersin in te maklike moraliteit, sy oënskynlik onvoorspelbare bitsigheid, sy ontstellende sensitiwiteit wat maklik met selfsug verwar kon word, het talle mense genoop om eerder óór hom as mét hom te praat. Koos het baie vyande gehad, maar ek dink dit kan van enige buitengewone talent gesê word.” (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1994)
- Shaun de Waal, joernalis: “Koos Prinsloo, who died last weekend of Aids-related illnesses at the age of 36, was one of the most important Afrikaans writers of recent years. In his four collections of short fiction, he challenged the sexual taboos of ‘family values’ Afrikanerdom and extended the formal boundaries of Afrikaans literature. From his first volume, Jonkmanskas, published in 1982, Prinsloo was a thoroughgoing post-modernist, using a bricolage of disparate elements – from family memorabilia to cartoons, quotations and newspaper clippings – to construct his texts. But he also wrote lean, acute observations of human interaction, observed in often painful close-up. [...] Although there was little that was aggressive about Prinsloo himself, his work was necessarily and courageously confrontational. Rubbing the modes of fact and fiction together, he mercilessly portrayed their repressions and violences of the family, the society and the individual.” (Weekly Mail & Guardian, 11–17 Maart 1994)
- NALN: “Dit is vir Naln van besondere betekenis om Koos Prinsloo se literêre nalatenskap in die vorm van primêre bronne te mag bewaar. Koos het in sy gesprekke met ons laat blyk dat hy ’n hoë premie op navorsing plaas. Navorsers behoort te vind dat Koos as mens en as skrywer ook in hierdie baie besonderse dokumente geken, onthou en gewaardeer sal word, en dat dit één seker manier is waarop sy literêre produksie binne geheelverband na waarde geplaas kan word.” (NALN-Nuusbrief, April 1994)
- Irna van Zyl, as redakteur van De Kat: “Dit was as Boekeredakteur, van eers Vrye Weekbladen die afgelope drie jaar De Kat, dat Koos sy nis in die joernalistiek gevind het. Voor dit was hy altyd in die eerste plek skrywer, met die gestroopte dissipline van die joernalistiek ’n onmiskenbare eienskap van sy fiksie-skryfstyl. Terselfdertyd het die toegewydheid aan en kreatiwiteit van sy fiksiewerk neerslag gevind in die joernalistiek – nooit was ’n artikel of enigiets wat onder sy naam verskyn het, onafgerond of nie fyn gestruktureer of geslyp nie. In die redaksie het hy, benewens sy direkte verantwoordelikhede, twee ander belangrike rolle vervul. Hy was ’n wonderlike (en terselfdertyd party dae, befoeterde) klankbord vir artikel- of bemarkingsidees. Hy het ’n uitstekende oordeel gehad en het nie gehuiwer om sy misnoeë te toon met goed waarvan hy nie gehou het nie – alles eienskappe wat baie waardevol is in ’n kreatiewe bedryf soos die tydskrif-joernalistiek. [...] Hy laat ’n groot leegte as skrywer, kollega én vriend.” (De Kat, Mei 1994)
- Hans Ester, Nederlandse letterkundige: “De vraag is nu of het werk van Koos Prinsloo zo sterk gekoppeld is aan een bepaalde fase van de Zuidafrikaanse geschiedenis dat een nieuwe tijd dit werk ad acta zal leggen of dat dit werk de universele problemen van de mens zo radicaal heeft uitgesproken dat het tot in lengte van dagen levend zal blijven.” (Zuid-Afrika, Augustus 1994)
- Riet de Jong-Goossens, vriendin en Nederlandse vertaler: “Nu, na zoveel jaren, heb ik zijn werk opnieuw gelezen. Het ontroerde me diep. Weer valt het me op hoe kwetsbaar hij in wezen was, hoe dikwijls hij zich beledigd voelde en hoe hij zijn talent gebruikte om die kwetsbaarheid te overwinnen. Want bang was hij niet. Hij durfde zijn lezers te provoceren met uitvoerige beschrijvingen van neukende mannen. Ik zag de verontwaardiging voor mij. (Vroeg niet ooit een leesclub-mevrouw mij hoe ik zo’n ‘vieslike goed’ wilde en kon vertalen?) En stiekem had ik een beetje leedvermaak bij de bijna achteloze mededeling waarmee een passage besluit, namelijk dat deze scène afkomstig is uit The sexual outlawvan John Recky. Niks Prinsloo dus. Natuurlijk heeft hij mensen beledigd, vooral in zijn laatste bundel Weifeling, maar ik heb toch sterk de indruk dat het hier op een veel mildere, humoristischer wijze gebeurt. Het was een laatste afrekening met het leven. Nu kom hij zich overgegeven aan die ene taak die hem nog wachtte: dood gaan. En toen ik aan zijn sterfbed zat en de nacht langzaam zag verkleuren terwijl de agressieve geluiden van Hillbrow, door hem zo treffend beschreven, door het open raam binnendrongen moest is sterk denken aan zijn laatste verhaal: ‘Die storie van ’n slapelose man’. De therapeut, de slapeloze man, leest Cioran en luistert naar Gesualdo, de zondaar. Hij zoekt een zinsnede om zich aan vast te houden en vindt die in ‘destroying ourselves’. Maar ook in Gesualdo’s madrigaal: ‘Miserere mei, Deus ..., God, heb medelijden met mij ...’ Waarmee alles is gezegd.” (LitNet, 2 April 2008)
- Iris Stark, sestien jaar lank ’n vriendin van Koos wie se dogter Helena ’n boesemvriendin van Koos was en wie se dood vir hom ’n geweldige slag was: “Ek sal altyd sy ondeundheid onthou. Ek het hom ervaar as ’n gelykmatige mens met volstrekte voor- en afkeure. Vriende kon hom gruwelik irriteer en dan het hy hulle ’n tyd lank vermy, maar daar was ook weer versoening.” (De Kat, Mei 1994)
- Kéki Pienaar, ’n kollega: “As mens was hy interessant omdat hy wyd belese was, iemand met ’n goeie humorsin wat altyd die snaakse in elke situasie kon raaksien. Ek was altyd verbaas oor hoe kinderlik eerlik hy oor sy foute was. Wat ander sou wegsteek omdat dit te persoonlik was, het hy nie gehuiwer om te wys nie. Hierdie sy was egter vir my onversoenbaar met die sinisme en venyn teenoor ander wat soms na vore gekom het.” (De Kat, Mei 1994)
- Edwin Cameron, Koos se advokaat en skrywer: “Die meedoënlose skryf was deel van ’n meedoënlose soeke, na die wond, die pyn, die onvoltooidheid in homself. Koos moet nie sentimenteel onthou word nie. Hy het die stryd teen vigs onsentimenteel gestry. Hy is daardeur sonder ’n oomblik van self-bejammering.” (De Kat, Mei 1994)
- Ena Jansen, letterkundige, skrywer en een van Koos se resensente: “Toe hy so twee weke voor sy dood dikwels oënskynlik verward was, soms die kluts begin kwytraak het, was dit verstommend hóé sinvol sy gesprekke was – maar net op ’n ander manier. Wanneer daar duidelike aanwysers vir onderwerpe was, het hy sonder aarseling en volkome in karakter daarop gereageer. Dit was egter asof stiltes tussen hierdie afgebakende stukke gesprekke hom senuagtig gemaak – of was dit dalk spelerig? Dan het hy druk verder gepraat, vertel hoe hard hy die oggend nog gewerk het, hoe moeg hy nou is, maar dat hy bly is om nou by die huis te wees. [...] Met groot oë het ons hom aangehoor. Ten spyte van die verdrietige vermoede dat iets besig was om in daardie wakker kop op ’n ander spoor te begin loop, wou ek tog vir Koos ‘grant’ dat hy ons nog tot op die laaste vol binnepret dramaties vermaak, dat hy almal om daardie bed steeds met ’n skerp oog observeer, kyk hoe ons konvensioneel probeer reageer op ’n koers wat gek lyk, maar waarin hy vir oulaas speel met dit wat ons so ontoereikend as redelikheid of droom, as óf werklikheid óf fiksie wil interpreteer en afbaken.” (De Kat, Mei 1994)
- Andrew McLeod, minnaar: “Ons het dikwels baklei oor Koos se ironiese kyk na die lewe. Sy woede was net ’n verdedigingsmeganisme. Agter al die bravade was hy die broosste mens wat ek geken het. Soos ’n klein voëltjie wat uit ’n boom geval het, wat jy weet gaan vrek maar jy probeer hom nogtans optel en red.” (De Kat, Mei 1994)
- Elmari Rautenbach, vriendin en redakteur van Insig: “Ja, in die laaste jaar voordat Koos dood is, het hy mense bitter, bitter seer gemaak [...] en vir die meeste van ons het dit lank gevat om wat na verraad gevoel het, te verwerk. Maar dat hy soos ’n soort gewete in ons vriendekring was, is waar. Dat hy nooit kompromieë aangegaan het wat homself betref nie, is waar. En sedert sy dood tien jaar gelede, is dit die vriend wat ons nog elke dag mis: die een wat soveel van homself in ruil gebied het.” (Insig, Junie 2004)
- Johann de Lange, skrywer en vriend: “Wat ek van Koos mis, is nuwe verhale van hom. Koos was (en bly) ’n opwindende skrywer en ’n gedugte vakman. Syne is myns insiens ’n skrywerskap wat in groot mate afhanklik is van die persona van die skrywer. Koos het self, meer as enigiemand anders, gesorg dat die belangstelling in sy werk lewend bly. Sonder hom het sy fiksie (soos hyself) algaande op die agtergrond begin raak, sodat mens nou, ’n dekade na sy dood, omtrent geen verwysings na hom óf sy fiksie in die media hoor of sien nie. Wat Koos op ’n morbiede manier ’n boeiende skrywer maak, is die ooglopende wyse waarop sy eie psigopatologie bloot materiaal was vir sy fiksie. Die wyse waarop hy sekere magsrelasies wat binne die skeppingsproses en die leesproses aanwesig is, maar tradisioneel beperk was tot private korrespondensie, intieme gesprekke en vertroulike mededelings, in die openbare arena van sy prosa uitgespeel en uitgespel het.” (Die Burger, 27 Maart 2004)
In 2004 skryf en regisseer Adriaan Meyer ’n toneelstuk getiteld Prinsloo Versus waarvoor hy by die KKNK bekroon word met die Jong Kanna vir die beste studenteteater. Meyer, die seun van Koos se jeugvriendin Riana Scheepers, vertel aan Kirby van der Merwe (Insig, Junie 2004) dat vandat hy kan onthou, hy bewus was van Koos se werk. Maar die eerste keer wat hy met sy skryfwerk te doen gekry het, was toe hy een van die boeke wat in die huis rondgelê het, opgetel en begin lees het en sy ma dit onmiddellik uit sy hande gryp en skree: “Nee, wat doen jy? Jy mag dit nie lees nie!”
“In fact,” sê hy, “in my stuk sê Prinsloo juis sy skryfwerk is nie die tipe goeters wat ’n ma in haar huis laat rondlê met die hoop haar seun lees dit om ’n bietjie kultuur te kry nie.” Meyer se teikenmark met die stuk is nie die 35-plussers wat Koos se skryfwerk onthou nie, want die groep is te klein.
“Ek hoop dat my toneelstuk my generasie sal prikkel om Prinsloo te ontdek.” Op ’n vraag van Van der Merwe of hy besig is met ikoonskepping, antwoord Meyer: “In ’n mate, maar nie doelbewus nie – hoewel my generasie dringend op soek is na helde. Prinsloo is egter problematies omdat hy so gelééf het, en in die proses mense na aan hom te na gekom het. Mense vind sy beskrywings van homoseksuele seks vandag steeds skokkend, alhoewel hy dit in die 1980’s geskryf het. Dit wys vir my dat mense steeds met daardie kwessies wroeg.”
As teksskrywer was Adriaan aangenaam verras oor hoe die stuk mense geraak het. Dit is vir hom ’n bewys dat Prinsloo en die kwessies waarmee hy geworstel het, steeds geldig is. “Ek hoop dat Koos êrens met ’n sardoniese glimlag knik dat ek die regte ding gedoen het. My stuk is ’n klein manier om hom in die lewe te hou. Want ’n mens is net werklik dood as niemand jou onthou nie. Ek dink die grootste kompliment was toe die gehoor aan die einde van die stuk te geroer was om hande te klap. ’n Paar het in trane uitgebars en uitgehardloop toe die dooie Prinsloo alleen op die verhoog agterbly.”
Riana Scheepers het in 1997 haar PhD verwerf met ’n proefskrif oor Koos wat in 1998 deur Tafelberg uitgegee is onder die titel Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes. In 2008 sien Gerrit Olivier se lang verwagte studie oor Koos die lig onder die titel Aantekeninge by Koos Prinsloo by Rapid Access Publishers.
Ook in 2008 publiseer Human & Rousseau Koos Prinsloo – Verhale waaruit ’n mens kan aflei dat meer as vyftien jaar na Koos se dood die belangstelling in hom as skrywer, sy werk en in hom as mens voortduur. In Verhale het die leser toegang tot al vier kortverhaalbundels van Koos in een band. In ’n resensie skryf Neil Cochrane (Tydskrif vir Letterkunde, 2009) dat Koos se kompromislose en rebelse aard – beide in sy skryfwerk en in sy persoonlike lewe – sy uitstaande en blywende bydrae bly. “Sy verhale besit ’n eerlikheid en persoonlike integriteit wat min skrywers hom kan nadoen. Jonger lesers, skrywers en navorsers kan sy werk as aanknopingspunt gebruik om vir ’n slag uit hul virtuele gemaksones geruk te word.”
Tydens ’n huldigingsprogram vir Koos Prinsloo by NALN, Koos Prinsloo 2017: krummelspoor in die doolhof, in Bloemfontein in 2017 het Riana Scheepers en haar seun Adriaan Meyer oor die lewe en werk van Prinsloo gepraat. Riana het aan Elsje du Toit vertel dat Koos van die begin af ’n omstrede figuur was: “Hy het ’n baie vernuwende styl gehad waar vars postmodernisme geseëvier het.”
Adriaan Meyer het die pryswennerdrama Prinsloo versus geskryf en hy het gesê: “Koos was só ver voor sy tyd. Sy werk sou mense vandag nog geskok het, maar ons is al meer gewoond aan onder meer die gay-ervarings waaroor hy geskryf het. Maar die manier hoe hy dit beskryf en geskryf het, sal mense vandag nog laat regop sit.”
Koos Prinsloo het ook tydens die Woordfees van 2022 op die verhoog verskyn toe Charl-Johan Lingenfelder in gesprek getree het met Gerrit Olivier, wat Koos se verhale in Engels vertaal het onder die titel Koos Prinsloo: Place of slaughter and other stories.
Publikasies:
|
Publikasie |
Jonkmanskas |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624018423 (sb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die hemel help ons |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0947046135 (sb) |
|
Uitgewers |
Emmarentia: Taurus |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens 1991 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Slagplaas |
|
Publikasiedatum |
1992 |
|
ISBN |
0798130709 (sb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Die Suid-Afrikaan en Hond Uitgewery se prys 1993 |
|
Vertalings |
|
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Weifeling |
|
Publikasiedatum |
1993 |
|
ISBN |
0620179457 (sb) |
|
Uitgewers |
Groenkloof: Hond |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Verhale |
|
Publikasiedatum |
2008 |
|
ISBN |
9780798149402 (sb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasies oor Koos Prinsloo
- Meyer, Adriaan: Prinsloo versus [drama oor Koos Prinsloo se lewe]
- Olivier, Gerrit: aantekeninge by Koos Olivier. 2008. Stellenbosch: Rapid Access Publishers [ISBN 9781919985312 (sb)]
- Scheepers, Riana:
- Die verhouding tussen outobiografiese feit en fiksie in die kortverhaaloeuvre van Koos Prinsloo. PhD-tesis, Kaapstad: Universiteit van Kaapstad, 1997
- Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes
Artikels oor en deur Koos Prinsloo
- Aanval op Prinsloo: Kerkorrel praat. Volksblad, 8 Maart 1994
- Attree, Lizzy: Two Koos Prinsloo short stories translated into English for the first time – among the first fictional texts about HIV/Aids in South Africa. Johannesburg Review of Books, 1 Desember 2018
- Bekende Afrikaanse skrywers se werk in Engelse gay bundel. Volksblad, 4 Junie 1993
- Botha, R: Die struktuur van die tekskode: die strukturele organisasie van “Die jonkmanskas” van Koos Prinsloo. Literator, Mei 1989
- Britz, Elretha: “Krummelspoor” vir ontslape Koos Prinsloo se 60ste. Netwerk24, 27 Julie 2017
- Bruwer, Johan: Solank dit jou laat dink. De Kat, Maart 1988
- Cloete, Elsie: Going on safari: the tales of two Koos Prinsloos. Tydskrif vir Letterkunde, April 2017
- Coetzee, Amanda: Kerkorrel het Prinsloo R5 500 gegee nadat hy aangerand is. Beeld, 8 Maart 1994
- Crous, Marius: Koos Prinsloo and discourses of power. Journal of Literary Studies, 2019
- De Bruin, Philip: Prinsloo ontken gerugte oor siekte, vigs. Beeld, 22 Julie 1993
- De Lange, Johann: Koos Prinsloo (1957–1994). OuLitNet; PoetryNet
- De Lange, Johann en Ryk Hattingh: “Die lewe is een groot verlies. Desnieteenstaande, desondanks ... Liefde, Koos.” Die Burger, 27 Maart 2004
- Dennehy, Peter: A writer in “gay” punch-up. Cape Times, 12 Desember 1992
- Dié “slagting” was ’n hoë noot vir Kerkorrel. Volksblad, 15 Desember 1992
- Du Toit, Elsje: “Koos Prinsloo se werk sou vandag nog skok”. Netwerk24, 21 Augustus 2017
- Engelbrecht, Theunis: Deurbraak vir SA skrywers. Beeld, 4 Junie 1993
- Erasmus, Elfra: Kerkorrel glo in geveg met “gay” skrywer. Beeld, 10 Desember 1992
- Fryer, Charles: Van vrot “lovers” tot ’n woordelose Koos by dié forum. Insig, Augustus 1993
- Gray, Chantelle: Introduction: Koos Prinsloo: A tribute. Journal of Literary Studies, Januarie 2019
- Hambidge, Joan:
-
- Daardie pueriele Prinsloo. Die Burger, 19 Februarie 1991
- Prof Olivier probeer sy meerdere kennis bewys [Kopstukke]. Beeld, 29 Augustus 2000
- Waarom was Truman Capote op niemand se gastelys, Koos? [Op my literêre sofa]. Beeld, 17 Desember 1992
-
- Harmse, Ellen: Nie ’n geluid nie [brief]. De Kat, Januarie 1989
- Hattingh, Ryk: Kleedrepetisie vir die dood. Vrye Weekblad, 5–12 Maart 1993
- Heyns, Johan Dirk: ’n Literatuursosiologiese ondersoek na ’n groep Afrikaanse tagtigerskrywers. DLitt et Phil, Universiteit van Suid-Afrika, 1995
- Horn, Stephanie: Koerantman met geweld gedreig oor Prinsloo se boek. Volksblad, 14 Desember 1992
- Hough, Barrie: Hieroor het Kerkorrel my bygekom – Koos Prinsloo. Rapport, 13 Desember 1992
- Hugo, Johan: Prinsloo-drama uitstekend [Prinsloo Versus] [brief]. Die Burger, 28 Oktober 2003
- Jacques van die Oos-Rand: Moderne Langenhoven [brief]. Vrye Weekblad, 13 Januarie 1994
- Joubert, Emile: Koos Prinsloo skryf oor eensaamheid, maar nie om te sus. Die Burger, 29 Januarie 1993
- Joubert, Jan-Jan: Gay pionier steeds “helder ligsuil” 28 jaar ná sy dood. Ink, 14 Oktober 2022
- Kerkorrel en skrywer Koos swaai lustig appels. Die Burger, 11 Desember 1992
- Kerkorrel sê hy het voorval geniet. Die Burger, 15 Desember 1992
- Kerkorrel vs Prinsloo vs Scheepers. Insig, Oktober 1999
- Kerkorrel wou Koos Prinsloo glo opkerf oor Slagplaas. Volksblad, 11 Desember 1992
- Koen, Dewald: Uit die jonkmanskas [brief]. Insig, Augustus 2004
- Koos Prinsloo
- Lamprecht, Daan: G’n steelhoue na Kerkorrel ná bakleiery oor boek. Beeld, 16 Desember 1992
- Le Roux, André:
-
- Prys die beste boek! Die Burger, 30 April 1988
- Wanneer staat en skrywers stry kry. Die Burger, 29 April 1988
-
- Linford, Randy: Koos Prinsloo: the cult Afrikaans writer has been translated to English – here’s a review. The Conversation, 28 November 2022
- Mischke, Anne-Marie: Dooie skrywer spook by sanger. Rapport, 26 September 1999
- Olivier, Gerrit: “Moeilikheid soek”: die publikasiegeskiedenis van Koos Prinsloo. Stilet, September 2008
- Pieterse, Petra:
-
- Einde van die Rapport-prys. De Kat, Junie 1988
- Johan Bruwer en Irna van Zyl: Uit die perd se bek. De Kat, Junie 1988
-
- Pieterse, Willemien: “Ons het g’n illusie oor pryse”. Insig, Junie 1988
- “Pop Ster” is nie Kerkorrel, Ralph Rabie, Bridges óf Rambo nie, sê Prinsloo. Die Burger, 12 Desember 1992
- Prinsloo, Koos:
-
- And our fathers that begat us [kortverhaal; vertaal deur Louis Greenwood Lüthi]. Socrates on the beach
- Die trapgeskenk [kortverhaal]. Rapport, 14 Oktober 1984
- My vyf gunsteling-boeke van 1991. Vrye Weekblad, 6–12 Desember 1991
- Sy het nie ’n geluid gemaak nie [kortverhaal]. Vrye Weekblad, 19–25 April 1991
- The story of my father [kortverhaal; vertaal deur Michiel Heyns]. The Johannesburg Review of Books, 5 Desember 2018
-
- Prinsloo oor hoof gesien. Die Burger, 15 Junie 1988
- Prinsloo wil vir Kerkorrel dagvaar. Volksblad, 12 Desember 1992
- Rapportgeld in Prinsloo se sak. Die Burger, 10 September 1988
- Scheepers, Riana en Riet de Jong-Goossens: Koos Prinsloo vir oulaas. Insig, Junie 2004
- Skikking oor Rapportprys. Volksblad, 2 Julie 1988
- Skrywer Koos Prinsloo sê hy het nie vigs; is gesond. Volksblad, 22 Julie 1993
- Ströh, Rickus: Koos Prinsloo se queer prosa is steeds relevant. Klyntji, 2 Maart 2018
- Tot-die-dood-toe-bevrees: Skaam om Afrikaner te wees [brief]. Volksblad, 13 Mei 1988
- Van der Merwe, Kirby: Woed teen vergetelheid [Prinsloo Versus]. Insig, Junie 2004
- Van Heerden, Etienne: Op my duimnael. LitNet, 27 Maart 2008
- Viljoen, Louise: Afrikaans literature in / and the World Republic of Letters: The case of Koos Prinsloo and SJ Naudé. Journal of Literary Studies, Mei 2019
- Vinassa, Andrea: The moment when the arsonist is appointed fire chief. The Star, 27 April 1988
- Visagie, Andries: Die laaste woord oor Kerkorrel steeds ongesê [Aantekeninge by Koos Prinsloo deur Gerrit Olivier]. Rapport, 15 Februarie 2009
- Wessels, Roux: Skrywer wil Kerkorrel hof toe vat. Beeld, 12 Desember 1992
- Woods, Mary Jean: Sexual slur on PW caused book’s rejection. Business Day, 22 April 1988
- Woordfees bekyk rol van Tagtigers [Prinsloo Versus]. Die Burger, 19 Januarie 2005
Artikels oor Koos Prinsloo se afsterwe en huldeblyke
- Coetzee, Amanda: Koos Prinsloo droom van val in see voor sy dood. Beeld, 9 Maart 1994
- De Waal, Shaun: Death of a talented writer. Weekly Mail & Guardian, 11–17 Maart 1994
- Glorie, Ingrid:
-
- Nederlandse huldeblyk aan Koos Prinsloo. Beeld, 1 Julie 1994
- Prinsloo gehuldig deur sy vertaler. Die Burger, 8 Julie 1994
-
- Huldeblyk: Koos Prinsloo. NALN-Nuusbrief, April 1994
- Koos Prinsloo (1957–1994). Zuid-Afrika, Augustus 1994
- Koos Prinsloo Miniseminaar:
-
- Aucamp, Hennie: Koos Prinsloo se wenverhaal, “Die wond”. LitNet, 27 Maart 2008
- De Jong-Goossens, Riet: Miserere mei, Deus ... LitNet, 2 April 2008
- Hambidge, Joan: Koos Prinsloo – ’n naam gekoppel aan omstredenheid. LitNet, 27 Maart 2008
- Olivier, Gerrit: Om hulde te bring aan Koos Prinsloo. LitNet, 2 April 2008
- Scheepers, Riana: Die skrywer het nié die laaste sê nie: Koos Prinsloo se onvoltooide nalatenskap. LitNet, 2 April 2008
-
- Koos Prinsloo sterf. Vrystaatse Biblioteke, April/Junie 1994
- Kumalo, Siseko H: “Authentic” queer identities – Koos Prinsloo as a site of contestation. Universiteit van Pretoria
- Nieuwoudt, Stephanie: “Koos was ’n komplekse, maar ook weerlose mens”. Beeld, 20 Oktober 1998
- Olivier, Gerrit en Ryk Hattingh: Huldeblyk aan Koos Prinsloo. Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1994
- Olivier, Gerrit: Soektog na ’n eie, bevrydende stem. Beeld, 9 Maart 1994
- Prinsloo sterf weens vigs. Die Burger, 7 Maart 1994
- Rautenbach, Elmari: Liewe leser. Insig, Junie 2004
- Roos, Henriette: Hy het die geluidlose wanhoop verwoord. Insig, April 1994
- Scheepers, Riana: Kompromislose vernuwer. Die Burger, 9 Maart 1994
- Schoombie, Schalk: Die woedende woord. De Kat, Mei 1994
- Skrywer Koos Prinsloo sterf weens vigs. Volksblad, 7 Maart 1994
- Van Jaarsveld, Ingrid: Skrywer Koos Prinsloo gister dood aan vigs. Beeld, 7 Maart 1994
- Van Zyl, Irna: In memoriam. De Kat, Mei 1994
- Vriende huldig Prinsloo by verassing. Die Burger, 9 Maart 1994
Besprekings van enkele kortverhale van Koos Prinsloo
- Jansen, Ena: Bespreking van “Die wond”. De Kat, Junie 1991
- Olivier, Gerrit:
- Die stryd teen die vaders: variante van homoseksuele diskoers in die Afrikaanse letterkunde [“A portrait of the artist”]. Stilet, Maart 1996
- Frans Kellendonk, Koos Prinsloo en de dood “oprecht geveinsd” [bespreking van “Die dood van Karel Viviers”]. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, Desember 1997
- Frans Kellendonk, Koos Prinsloo en de dood “oprecht geveinsd” [bespreking van “Die storie van my neef”]. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, Desember 1997
- Frans Kellendonk, Koos Prinsloo en de dood “oprecht geveinsd” [bespreking van “Die storie van my pa”]. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, Desember 1997
- Frans Kellendonk, Koos Prinsloo en de dood “oprecht geveinsd” [bespreking van “Neil Goedhals is dood”]. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, Desember 1997
- Olver, Thomas: Duplicity as structure: translation and analysis of a story by Koos Prinsloo [“Die affair”]. Stilet, Junie 2019
- Strachan, Alexander: By die lees van “And our fathers that begat us”. Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1992
- Van Heerden, Etienne: “Nu tasten wij naar verf en woord”: Die aangetekende verlede in Abraham H de Vries se “Siëniese dagboek” en Koos Prinsloo se “By die skryf van aantekeninge oor ’n reis”. Stilet, September 1995
- Viljoen, Louise:
- Postkolonialisme en die Afrikaanse letterkunde: ’n verkenning van die rol van enkele gemarginaliseerde diskoerse [bespreking van “And our fathers that begat us”]. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, Desember 1996
- Werklikheid en fiksie in Koos Prinsloo se verhaal “In die kake van die dood”. In: Op die wyse van die taal, redakteurs Gilfillan en De Vries. Kaapstad: Vlaeberg, 1989
Koos Prinsloo se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 3 Junie 2010 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


Foto: NALN