Koos Prinsloo se wenverhaal, "Die wond"

  • 0

In 1991 was ek vir ’n tweede keer die hoofbeoordelaar vir De Kat se groot kortverhaalwedstryd. Dit was ’n spanningsvolle aangeleentheid, want die verhale in die eindliga was uitmuntend en het, gehaltegewyse, só na aan mekaar gelê dat ek my paneelgenote gevra het om nog ’n keer na “Die Wond” van Koos Prinsloo te kyk, en dié norm aan te lê: “amount and diversity of materials integrated”. Is daar ’n ander verhaal in die wenkategorie wat soveel wêrelde in homself verenig – en, let wel, artistiek verenig – as “Die Wond”? het ek gevra.

“Die Wond” van Koos Prinsloo was die uiteindelike wenner. Hier volg my oorkoepelende verslag:

Die voorspelbare, maar gevaarlike vraag, het in die jongste tyd in literêre kringe na vore gekom na aanleiding van De Kat, Antenne en HAUM-Literêr se tweede groot kortverhaalwedstryd. Hoe, word gevra, vergelyk vanjaar se verhale met dié van die vorige keer?

Daar is min antwoorde op dié vraag wat met statistiese en wetenskaplike stelligheid gegee kan word. Daar was 1 005 inskrywings vir die eerste wedstryd en daar was 642 vir die huidige wedstryd. Dit sou egter onversigtig wees om te sê dat belangstelling in kortverhaalwedstryde van dié aard afgeneem het: die standaard van die verhale wat vanjaar die kortlys van die beoordelaars gehaal het, is byna ontsenuwend hoog. Eerder sou ’n mens dié hipotese kon waag: dat die standaard van die wenverhale in die vorige wedstryd, gebundel as Die bruid en ander verhale, talle voornemende deelnemers afgeskrik het. Die titelverhaal, deur Abraham H de Vries, word byvoorbeeld telkens onder die akademiese loep geneem, en "Dolhond" deur Etienne van Heerden is reeds in Engels vertaal vir ’n Penguin-publikasie. "Die liegfabriek", ook van Etienne van Heerden, blyk ’n sleutelverhaal binne sy oeuvre te wees, veral na aanleiding van sy jongste roman, wat eersdaags verskyn. Skrywers wat vanjaar ingeskryf het, het dus vooraf geweet op watter streng mededinging hulle kan reken.

En hiermee word afgestap van die kwessie van standaarde – of miskien net nog dit: Die bruid en ander verhale het ’n paar klassieke kortverhale gevoeg by die Afrikaanse verhaalskat; HAUM-Literêr se 1991-bundel gaan dit beslis weer doen. Applous dus, in dié stadium, vir De Kat, Antenne en HAUM-Literêr wat die eens maledyde kortverhaalgenre binne die brandpunt van belangstelling geplaas het.

My sterkste reaksie op die wedstrydverhale was emosioneel eerder as tegnies. Met die verhale – of ’n baie groot persentasie daarvan – is ’n waterskeiding oorgesteek. Wat sal ’n mens die waterskeiding noem? Openbare smaak, burgerlike smaak? (Koddig hoe geredelik “burgerlike smaak” gelyk gestel word aan “goeie smaak” …) Dis ironies, en iewers ook ’n bietjie droewig, dat Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde nou, in ’n stadium van vreeslose gedurfdheid wat taalgebruik en tematiese register betref, met ’n “godeskemering” gedreig word. (U het reg gehoor: “gedreig” en nie “bedreig” nie.) Met verhaal ná verhaal weet jy, in Peter Blum se woorde, “op watter vasteland ons boer”. “Die nuwe Suid-Afrika” is nie meer ’n vae estetiese of literêre begrip nie; dis ’n rou, brute werklikheid wat na honger, rook en geweld stink. Talle titels sê dit al:

“Ag, ja, sug die kondukteur, so lyk die nuwe Suid-Afrika”
“Kamerade laat ons praat”
“Petrol”
“Slagplaas”
“Dogters van Afrika”
“Luitenant Vos se teregstelling”
“Die einde van die struggle”.

En dan is daar nog dié geweldsverhale wat hul verskriklike inhoud onder onskuldige titels soos "Telefoon" en "Die openbaring van Tomas" versteek.

Die sogenaamde “grensverhaal” van ’n paar jaar gelede het later daartoe geneig om ’n literêre mode en selfs bedryf te word. Die grens in party verhale was soms ver, ver van hier; ’n soort literêre hinterland. Die verhale waarvan die titels so pas genoem is, het ’n dwingende, dringende, verontrustende onmiddellikheid. Dis verhale oor townships en suburbs en “sagte teikens”; verhale oor grense wat verskuif en naderskuif om later in individuele bewussyne te bestaan, waar hulle met wilsinspanning gekanselleer moet word, ter wille van oorlewing. Iets hiervan gebeur byvoorbeeld in ’n verhaal soos "Dogters van Afrika", waar ’n Afrikanervrou, steunpilaar in eie gemeenskap, met ’n soort herkondisionering besig is; en dié herkondisionering kom hierop neer: dat sy haarself as “’n dogter van Afrika” begin sien. Dat dié ommekeer verhaalmatig oortuig, is geen geringe prestasie nie, gesien die beperkte omvang van die kortverhaal.

Dit is miskien die opwindendste kenmerk van die beste wedstrydverhale oor “Die Nuwe Suid-Afrika” dat hulle wars is van literêre foefies en slimmighede. Die arena is HIER en die tyd NOU; en flitsberigte oor hierdie “hier” en “nou” moet hulle noodwendig van “sterfbedwoorde” bedien. Dit wil nie sê dat die verhale nie op die wyse van literatuur tot stand gekom het nie. ’n “Statement”, as hy krag wil hê – dit het selfs Mao Tse Toeng verkondig – moet in die eerste plek as kuns slaag. Kuns, dit weet ons darem ook aan die groot voorbeelde uit die verlede, is meer as bloedlose estetiek. Kuns en lewe, weet ons verder, is meer verwikkeld as slagspreuke.

Nog ’n waterskeiding wat deur talle verhale in die 1991 De Kat-wedstryd oorgesteek word, is dié van seks. Talle manifestasies en oriëntasies kom aan bod: die verskrikking van Vigs, lesbiese verhoudings, homoverhoudings, promiskuïteit, bloedskande, kindermolestering, masturbasie. Wat verkwiklik is, is dat die tema van die vreugde(s) van seks “uiteindelik deur die bastionne van burgerlike argwaan en godsdienstige vooroordele breek”. (Vooroordele is die operatiewe woord – op stuk van sake staan Hooglied óók in die Bybel.) Dat die vreugdes van seks pertinent uit die hoek van die vrou gegee word, met humor en onselfbewuste sensualiteit, is vir my ’n verdere teken van emansipasie op literêre gebied; ’n wenronde vir feministiese literatuur.

Dit het my by die lees van talle wedstrydverhale opgeval hóé moeilik dit is om ’n verhaal in Afrikaans te skryf waarin seksuele belewenis spontaan sentraal staan. Dis of temas oor seksuele taboes binne ’n gemeenskap moeiliker afgebreek kan word as temas oor politieke taboes. Ek dink aan Van Wyk Louw se woorde in Die Jaar van die Wonder van Afrikaans: hy het gesê dat Afrikaans ’n wonder van kortstondigheid kan word as dit nie toegelaat word om alles te sê wat in die mens leef nie. Vroeër, het hy gesê, was daar wetgewing wat Afrikaans tot die kombuis beperk het; tans, sê hy, is daar ’n poging van owerheidsweë om Afrikaans tot die voorkamer te beperk. (Die slaapkamer was in 1975 in ’n baie hoër mate ’n kontroversiële “terrein” in die Afrikaanse letterkunde as wat dit nou is.)

Om boeke oor die volle register menslikheid te lees, het Louw gesê, moet jy na ander letterkundes as Afrikaans gaan: na Engels, Duits, Frans en Hollands. Altyd na letterkundes buite Afrikaans. Skrywers in Afrikaans eis toenemend – en tereg ook – dat die Afrikaanse skrywer oor alles, maar ook alles, onder die son en maan mag skryf. Die skrywer, as hy sy sout werd is, onderskryf maar een credo, naamlik dié van Terrentius: “Ek is ’n mens: niks mensliks is aan my vreemd nie.”

Temas is natuurlik nooit eensydig nie. Kenmerkend van ’n hoë persentasie wedstrydverhale is juis die versnydings van motiewe om by ’n verwikkelde, haas onomskryfbare tema uit te kom. Binne ’n hipergespanne politieke situasie kan verwag word dat die sosiale probleme van ons tyd en die sogenaamde “private ache” al hoe minder in apartheid gaan leef. Die seks van politiek het deurtrek geraak van die politiek van seks.

Maar genoeg oor die tematiese register van die wedstrydverhale.

Wat ook opval, is dat literêre -ismes van die jongste jare ’n rol speel in talle wedstrydverhale. Rigtings en tegnieke soos Dekonstruksie, Postmodernisme en Ideologie-kritiek laat hulle nie onbetuig nie, en die ontginning van inter- en intratekstualiteit wil soms na ’n modespeletjie begin lyk. Soms word intertekstualiteit egter skokkend oorspronklik aangewend, soos in die verhaal “Die einde van die struggle”. Die titel van die verhaal is klaar ironies: geen idealistiese verhaal dié nie, maar die verslag van ’n vryheidsvegter wat in ’n koelkamer wegkruip en daar sy einde vind. Die student Ashiek prewel in sy laaste woorde aanhalings uit die Afrikaanse letterkunde wat óf op die stuiptrekkings van Afrikaans kan dui óf op die oorlewingsvermoë daarvan.

Die nuwe skryftegnologie meld hom ook in enkele verhale aan. In die verhaal "Jy: skerm" word die skryf-, of beter gesê, skeppingsakt, vooropgestel. Die woordverwerker word ook woordwekker; word só medespeler en medeskrywer.

 

<< Terug na die Koos Prinsloo Miniseminaar <<

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top