Koorsstilpunt

  • 18
“Except for the point, the still point, there would be no dance, and there is only the dance.” (TS Eliot, The four quartets)

Verlede Woensdag word ek tydens ’n roetine-ondersoek deur my internis as besonder gesond en fiks vir ’n sewentigjarige verklaar. My daaglikse 400 meter-rivierswem weer mos alle gevare en siektes af.

Teen Donderdagaand begin ’n koors opsteek. Saterdag weet ons daar is groot fout – die koorspen meet besonder hoog. ’n Lighoofdigheid laat my klou van bed na stoel en terug na die bed. Die internis en ’n doktersvriend dring aan ek moet onmiddellik hospitaal toe.

So begin ’n onwerklike sci-fi movie. Ons word vooraf ingelig oor die COVID-19-protokol by Vergelegenhospitaal in Somerset-Wes en moet direk by die ondergrondse parkering inry. Die kuspad is geluid- en kleurloos deur die kar se venster, al sê Anuta dit is die mooiste blou see daar buite. Ek lê net met my kop so teen die ruit. Die padblokkade laat ons dadelik deur, hoor ek later.

Humor is oorlewingstaktiek. Gerard por die verpleegsters aan om vinniger en vinniger die gange af te hardloop.

Die eerste toetsing in die donker-somber ondergrondse afgesperde gebied word ’n goedkoop derderangse Oos-Europese movie. Ek slaag die vrae. Moet nou iewers gaan wag tot hulle my by die motor met ’n masker en ’n rolstoel kom haal. Deure word oop- en toegesluit. Alles word ontsmet. Weer deure oop- en toegesluit. Weer ontsmet.

......

“Die koors fluktueer soos trosse sakkies aan Willie, my kapstoklewensmaat, gehang word. Ek raak bang vir alles wat my liggaam binnevloei. En donkergeel as lyfwater uitspoel. Ek sweef dag en nag in en uit die komas en slape. Aarde, nag en tyd wankel.” 

......

In die streng afsluitingseenheid word ysere reëls gevolg. Eers nóg ’n ontsmettingsritueel en toe is ’n vampier op my wat begin bloed suig. Melkbottels vol. My are sak weg en die nurse begin missteek soos sy soek. Voos slagvelde vorm op my hande en arms soos iemand anders ’n aar vir binneaarvoedings soek. Pyn verlaat my. ’n Mobiele X-straalmasjien rol soos ’n dreigende robot die kamer binne. Te veel dinge gebeur en ek sak weg in komas, drome, koorse en veldbrande.

Deur suisings hoor ek ’n dokter sê die bloedtoetse dui op ’n ernstige longinfeksie en ek word dadelik in totale isolasie in ’n gevreesde afgesperde kamer geplaas. 

Die langste, vreemdste drie dae van my lewe volg. Dis net maskers, oorpakke, latex-handskoene. Pille, drips en koors. Ophelp. Neerlê. Fluisterende WhatsApps na my naastes en geliefdes. Ons hou die nuus selektief – bang ’n pandemievrees breek in die dorpie waar ons bly se skindergroepe los.

Asemhaling met ’n respirator met die hulp van ’n fisioterapeut.

Net my toegewyde nurse dra ’n sleutel tot Tartarus, daardie diep afgrond waar ek ’n prisonier van die Titane word. Ook die plek met sy oergoddelike kragte tussen aarde, nag en tyd. Ek klou aan TS Eliot. En die psalm wat sê dat die arend jonk sal word en weer sal vlieg.

Die koors fluktueer soos trosse sakkies aan Willie, my kapstoklewensmaat, gehang word. Ek raak bang vir alles wat my liggaam binnevloei. En donkergeel as lyfwater uitspoel. Ek sweef dag en nag in en uit die komas en slape. Aarde, nag en tyd wankel. How queer can a ship go before it flounders?

Gerard, Willie en die mooi fisioterapeut.

Een nag vaar ek die Styx halfpad oor. My “still point” breek aan. Tussen oorvaar en die stil oomblik voor omdraai. Tussen die lig wat nog brand net voor jy dit afskakel. Tussen hoe stil dit kan word as jy ophou asemhaal en weer begin. Daardie oomblik tussen die dans en geen dans nie.

Die eenheidsdokter bel die internis daardie oggend om vier. Hoekom altyd vieruur in die oggend? Alle dosisse binneaarse medikasie word tot die maksimum verhoog. Twee nurses bly heelnag by my en sê dit voel soos ICU. Ek kom tot rus.

......

“Verbasend hoe alles in ’n week kan verander. Dat daardie still point tydens die koors my nuwe stilte is.”

......

Buite die venster is ’n hoë grys grensmuur met kabels. Agter ’n kabel het ’n uitgedorde witgrys duif begin vasgroei. Soos die porseleinwerk op die voorblad van Gisela Ullyatt se nuwe bundel, die waarheid oor duiwe. My duif se nek is na regs gedraai. Die lyf volmaak engelagtig, pote krampend, soekend na ’n tak. Vere roer in die wind asof nog in vlug. Die porselein begin verkrummel. Die duif se still point. Geen vlug meer vir die duif nie, net die finale vlug na vryheid.

Nog ’n oggend van bloedtoetse volg. Die internis word ingelaat. Ek is Kroonvry! Alles ’n erge longinfeksie met hoë infeksiemerkers. Beterskap kom. Willie word my verlenging. My hoop. My verligting. Ek begin die blomme op die gordyne name gee, want dis my enigste geselskap. Die eensaamheid en afsluiting word my redding. Ek kom tot stilstand en bedink my lewe. Belangrikste, my sonkant moet opgepolish word. Dit wat ek aan mense, die aarde, die maan en son moet terugkaats, moet blink.

Die fisioterapeut neem vir Gerard en Willie na buite die hospitaal vir oefening.

’n Jong verpleër kom haal my een oggend uit die bed om te stort. Ek staan gekruisig en sonder lendedoek voor hom. My palms teen die stortmure. Hy is so gemasker dat ek net die swart van sy pupille en die fyn bloedbarsies in die albaster van sy oogballe sien. Hoe vinnig word ons afgebreek en weerloos gelaat. Hy skrop. Ek is bang ek word stof. Soos wat ons was en waarnatoe ons sal terugkeer in daardie stil oomblik tussen niks en niks. Hy skrop elke aanpaksel, elke kors, van my lyf af in ’n groot reinigingsritueel.

My en Willie se verhouding versuur. Snags raak ons geïrriteerd verstrengel. Alarms gaan af. Hy raak ’n las en is altoos aan my verkeerde kant. Ek groet hom nie toe ek ontslaan word nie.

Eerste goeie koffie in ’n week terug by die huis.

Ek is tuis en voel goed. Al wat ek weet, is dat die duurste kliniek in Switserland my nie beter sou kon versorg het nie. Dat ons verpleegpersoneel wonderlike warm en hardwerkende mense is. Dat ek die grootste respek vir elkeen van hulle het.

Verbasend hoe alles in ’n week kan verander. Dat daardie still point tydens die koors my nuwe stilte is. Én my sonkant se kaatsings.

  • Foto’s: verskaf 
  • Hierdie vertelling het oorspronklik as ’n korter Facebook-plasing verskyn.
  • 18

Kommentaar

  • Nanette van Rooyen

    Jy het ‘n leeftyd se storie in een week ingeskryf. Baie besonders dat jy jou weerloosheid so eerlik oorvertel. En dat jy uiteindelik die blink toelaat om meer intens te kaats.

  • Goeiste, Gerard!
    Dit lees soos 'n riller - jy kon wraggies nie anders as om jou lewe in oënskou te neem nie, nè!
    So bly jy was toe 'kroonvry'!

  • Debby de Vries

    Bly om te sien jy's veilig waar jy hoort.
    Volle gesondheid gou-gou.
    Seenings vir die Paasgety aan julle twee.
    Liefde
    Debby

  • So mooi geskryf - net soos Gerard dit kan doen. Alle voorspoed vir hom ook besef pas jouself op en wees voorbereid vir winter. Ek sien alles so mooi voor my soos hy dit vertel. Baie dankie!

  • Kathleen Klass

    what a beautiful piece of writing. Really. So glad you have recovered. Anuta you must be so happy to have your beloved back in one piece!

  • Susan en Andre Wagener

    Gerhard
    Ons is so bly jy is terug by die huis. Sterkte met die gesond en sterk word.
    Ons stuur mooi vibes daai rigting.
    Groete

  • Lieve Gerard! We zijn blij, het is voorbij, jouw sonkant is zeker op-gepolicht. Prachtige lectuur. Dikke zoen uit St.Denijs-Westrem, M, J, J.

  • Ek is diep geraak op twee vlakke: die ervaring is angswekkend maar om dit so poëties te kan vaspen, opheffend!

  • Marina dubPlessis

    So dankbaar jy is tuis na jou angswekkende ervaring en tog vir ons ’n kykie gee in wat gebeur! Sterkte vir jou en Anuta ons gee om!

  • Estelle Neethling

    Ek is sprakeloos oor Gerard se vertelling - eintlik 'n uitstorting - maar eindeloos dankbaar dat ek sy donkerste dae, wat in sy stll point verander het, kon lees.

  • Antoinette Schoeman

    So pragtig geskryf en so 'n seen dat jy nog tyd het om jou skrywe met ander mense te deel.

  • Jan du Plessis

    Gerard, ons het toe die beoogde onderhoud op RSG misgeloop. Het dit wel gebeur? Ek het hierdie bydrae terdeë geniet. Was in die versoeking om my masker op te sit voordat ek verder wou lees. Ons waardeer jou aangrypende nabetragting en terugblik op ’n sielsontblotende noue ontkoming. Was dit nie vir dubbel porsies genade van B0 nie, sou die deurdagte weergawe van jou as deurwinterde woordkunstenaar dalk net die annale van die hiernamaals gehaal het. Jou draai op die drumpel van die ewigheid, laat my andermaal besef hoe ons ingeperkte ondermaanse bestaan skarnier aan die grenslose, allesoortreffende heerlikheid waarvoor God ons bestem. Ons is saam met jou dankbaar dat ons jou belewenis kon meemaak.

  • Maree Grobler

    Dear Gérard, a masterpiece! Your pain, angst and final release so brilliantly put into perspective. You are an author of note. And the final release of silence, sun and eventual light. You took us on a journey of what, I think, everybody goes through with this COVID pest. Thank you for your vulnerability. Love to both you and Anuta

  • Jan du Plessis

    Was dit nie vir dubbel porsies genade van B0 nie, sou die deurdagte weergawe van jou as deurwinterde woordkunstenaar dalk net die annale van die hiernamaals gehaal het. Jou draai op die drumpel van die ewigheid, laat my andermaal besef hoe ons ingeperkte ondermaanse bestaan skarnier aan die grenslose, allesoortreffende heerlikheid waarvoor God ons bestem. Ons is saam met jou dankbaar dat ons jou belewenis kon meemaak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top