Konneksie

  • 0

Vanoggend, onbeplan
verken ek lees-loop
Suid-Amerika se woude
deur die oë van ander.

Gemaklik en sonder gevaar
van insekbyte,
of wegraak,

my stapskoene verruil
vir kleurvolle kouse,
my waterbottel
‘n koffiebeker.

Oor middagete,
alleen in my kombuis,
leer ‘n Franse sjef
sy dieper verstaan

van geur, verkort,
verklein, vertaal,
‘n digitale klas
op my skerm ingepas.

Laatmiddag verken
ek die woorde en kuns
van ‘n meisie in China.
‘n Gedeelde gedagte,

gebêre vir later.
My woorde gelos
In ‘n boksie op haar blog.

Vir oulaas, laataand,
dwaal ek deur my news feed
vol gekrabbelde gebeure
wat lei na jou profiel.

‘n Stille inloer,
‘n nagemaakte ontmoeting,
‘n vinnige vertel
van die gebeure van jou dag.

Moeg en tevrede,
die dag verby.
My behoefte aan konneksie
gerieflik en eensydig,
digitaal vervul.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top