Koningin Lear by Aardklop 2019: ’n grootse ervaring met ʼn wanklank

  • 0

Koningin Lear

Met: Antoinette Kellerman, Anna-Mart van der Merwe, André Roothman, Rolanda Marais, Neels van Jaarsveld, Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en Matthew Stuurman
Regie en stelontwerp: Marthinus Basson
Teks: Tom Lanoye Vertaal deur: Antjie Krog
Kostuumontwerp: Elaine du Plessis
Klankontwerp: Rynhardt van Blerk
Oudiovisuele ontwerp: Dawid Joubert
Verhoogbestuurder en beligtingsontwerp: Nicolaas de Jong
Vervaardiger: KKNK
Ondersteun deur: NATi en die Vlaamse Fonds voor Letteren

Indien ons onsself by die West End in Londen sou bevind, het Koningin Lear waarskynlik ’n baie meer weerspannige resensie as haar Engelse neef ontvang. Dan sou die gebrek aan mikrofone (wat daartoe gelei het dat waardevolle dialoog verlore gegaan het), die besluit om ’n onoortuigende groentjie in die belangrike rol van Aziz (Stuurman) te plaas, en die onverklaarbare ouderdomsverskil tussen Hannes (Van Jaarsveld) en sy vrou (Van der Merwe), fel kritiek ontlok het.

Maar hierdie is nie die West End nie. Dis Aardklop – ’n fees wat uit integriteit en onverskrokkenheid gebore is en deur ’n paar brawe individue, ten spyte van groot uitdagings, in stand gehou word. Dis dan juis in hierdie unieke milieu dat Koningin Lear tot haar reg kom – waar die tydloosheid van Lanoye se teks die menslike aftakeling en stryd om oorlewing volkome saamvat – ongeag die tekortkominge.

Die verhaal is bekend: ’n ylende matriarg wil aftree en haar rykdom met haar kroos deel, maar haar jongste se weiering om haar lof te besing, skep ’n waansinnige maalkolk wat uitkring en uiteindelik die vorstehuis insluk. Krog se vertaling bied ʼn unieke blik op ʼn hedendaagse Shakespeare, en Basson kry dit reg om met ʼn paar panele en skerms die gehoor moeiteloos na New York weg te voer.

Kellerman gee ’n meesterlike vertolking as ’n onverbiddelike Elizabeth wat stelsmatig as gevolg van haar demensie (en hardkoppigheid) oor die afgrond tuimel, en onderstreep hiermee weereens haar status as doyen van die Afrikaanse teater.

Spesiale melding moet van Edwin van der Walt as die ontnugterde Corné gemaak word. Soos een feesganger na die tyd tereg opmerk: “Hy was dooier as dood aan die einde.” Maar dis veral sy vertolking van ʼn windverwaaide hawelose wat die gehoor intrek by die eerlikheid van Lanoye se blik op die mens, en dít verdien ʼn pluimpie.

Die bydrae van die hele ensemble moet egter nie misgekyk word nie. Met bloed en sweet beitel hul aan hul kuns, tot die vermaak van slegs ’n handjievol. In ’n tyd waar daar ʼn ongeregverdigbare aanslag teen die taal en sy sprekers is, is dit veral teater wat die lewensaar van Afrikaans vorm. Juis daarom dat die leë sitplekke hierdie skrywer ontrus, meer as ooit tevore, en weerkaats dit, nes Koningin Lear en haar spruite, die aftakeling van ʼn era.

 

  • Constant van Graan is skrywer en senior lektor verbonde aan die Noordwes-Universiteit

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top