Koning Mohlomi, seun van Monyane deur SM Guma: ’n resensie

  • 0

Koning Mohlomi, seun van Monyane
SM Guma
Afrikaanse vertaling deur Chris Swanepoel (2026)

Chris Swanepoel beloon Afrikaanssprekende lesers met sy besondere vertaling van die klassieke Sotho-roman Koning Mohlomi, seun van Monyane – in 1960 geskryf deur die Sotho-skrywer SM Guma. Die boek bring die lewe van ’n merkwaardige en wyse koning, wat bykans 300 jaar gelede in die binneland van Suid-Afrika geleef en geheers het, opnuut onder ons aandag. Mohlomi was ’n leier wat sy tyd ver vooruit was – iemand wie se denke oor medemenslikheid (botho), verdraagsaamheid, vrede en staatmanskap steeds vandag uitdaag en inspireer.

Koning Mohlomi se verhaal is nie net interessant wat betref die uitbeelding van hoé inheemse volke van die binneland in Suid-Afrika voor die koms van die Voortrekkers en sendelinge geleef het nie, maar dit neem die leser na ’n wêreld waar hierdie uitsonderlike koning uit Afrika reeds eeue gelede geworstel het met die tydlose vrae oor tradisie, bygeloof (toordery), geregtigheid, diplomasie, vrede en menswaardigheid; van wie gesê word dat “hy sy volk soos ’n bondel hout bymekaar gebring het” (121). Volgens Max du Preez waarskynlik ook die begin van die eerste Pan-African-denke wat eenheid en broederskap in Afrika nastreef.

...
Dit is hierdie stories wat medeskeppend is tot ons identiteit, ons verhoudings beïnvloed en bepaal selfs hoe ons die wêreld verstaan en daarop reageer.
...

Die verhaal van koning Mohlomi laat ons sekerlik met nuwe oë kyk na die wordingsgeskiedenis van medelandgenote. Dit herinner ons daaraan dat die boustene vir hoedanighede soos medemenslikheid, geregtigheid en vrede reeds op die Afrika-vasteland deur konings soos Mohlomi gelê is.

Juis nou, in ’n tyd van vreemdelinghaat, polarisasie en toenemende stryd om skaars hulpbronne, het ons Mohlomi se verhaal van vrede en geregtigheid nodig. Ons leef in tye van geo-politieke onrus en selfs op eie bodem roep ’n leier van die March and March-beweging teen ongedokumenteerde immigrante: “Ubuntu is suspended until further notice.” Mens wonder wat koning Mohlomi se reaksie sou wees – hy wat so radikaal anders gereageer het teen die uitdagings van sy tyd. Sy styl was nie om deur wapengeweld of druk te regeer nie; hy het regeer deur sy volk die deug te leer om in vrede saam te bestaan. “Vrede, het hy gesê, is ons suster” en hy het versoek dat “alle soldate moet na hulle huise terugkeer, hulle moet ophou om hulle assegaaie aanhoudend teen mekaar skerp te maak, want dit is beter om sorghum te oes as om assegaaie skerp te maak” (121). Die woonplek van die Bakwena het ’n woonplek vir almal geword.

Die skrywer skets oortuigend die wêreld waarin Mohlomi grootword – die mense, hul gebruike en uitdagings wat hulle gevorm het. Dit is insiggewend om ook ’n blik te kry oor die uitdagings en migrasie van Mohlomi se oupa, koning Monaheng. Sy koninkryk was gesetel by Tebang, of soos dit tans bekend staan as Heidelberg (Gauteng), waar hy oor die Bakwena-stam geheers het. Hy kom te staan voor die grootste krisis in sy heerskappy toe daar vir hom ’n tweeling gebore word en volgens tradisie een van die twee gedood moet word. Hy roep ’n volksvergadering byeen en doen ’n oproep dat sy volk daaroor moet beslis en stem. Boeiende argumente volg waar die volk twee oënskynlik teenstrydige waarhede, naamlik tradisie en die kompleksiteit van menslikheid, tegelykertyd ernstig opneem sonder om te haastig vir een te kies. In plaas daarvan om in absolute kategorieë van “reg” of “verkeerd” te dink, skep die skrywer spanning tussen verskillende perspektiewe, naamlik dat tradisie tradisie is, maar dat die “Bakwena ook mense is, nie diere nie” (24). Dié gesprek lei die volk tot ’n nuwe, ryker verstaan, waar tradisie aan die lewe self gemeet word. Die tweeling se lewens word gespaar, maar nie sonder gevolge nie en die gebeure lei tot ’n volksvertakking waar koning Monaheng en ’n groep van sy volgelinge sy koninkryk agterlaat en hulle gaan vestig by ’n plek wat Fonthane genoem is – naby die huidige Fouriesburg in die Oos-Vrystaat. In daardie tyd het die grense anders daar uitgesien. “Daardie tyd was Lesotho en die Vrystaat twee helftes van een karos wat aanmekaar geweef is deur riviere en berge” (97).

Koning Monaheng was ’n goeie leier wat na homself as die “kop” en die Bakwena-volk as die “liggaam” verwys het. “’n Kop kan nie sonder ’n liggaam funksioneer nie, en ’n liggaam kan nie sonder ’n kop leef nie” (39), het hy gesê. Leierskap word dus nie as absolute mag verstaan nie, maar as wederkerige verantwoordelikheid. Die wysheid van die volk vorm deel van die wysheid van die koning.

Die jong Mohlomi word groot teen die agtergrond van hierdie geskiedenis in ’n land wat so beskryf word:

Dis ’n land van weivelde, landerye, mense en hul doenighede, van berge en heuwels. Dit word verfraai met onvergeetlike bergreekse, reekse wat die buitelander wat dit op ’n afstand waarneem, met verrukking vervul weens hul skoonheid. Hulle lok jou. Betower jou. (1)

Die leier en mens-mens wat Mohlomi sou word, word op treffende wyse geïllustreer in die jagverhaal waar koning Monaheng die mans uitdaag om ’n duikertjie te jag en lewend na hom te bring. ’n Pragtige bul, wat deur almal begeer is, word as beloning uitgeloof. Waar die ander jagters individueel te werk gaan en hulleself moeg hardloop, dink Mohlomi verrassend vernuwend. Hy stel voor dat hulle as ’n span in ’n bepaalde formasie moet jag. Die plan verloop suksesvol en Mohlomi slaag daarin om die bok lewend te vang. Die verhaal neem egter ’n dramatiese wending wanneer Mohlomi se pa aanbied om die bok op te pas, terwyl sy seun kans kry om by die fontein water te gaan drink, hom bedrieg en die bok, wat spartel om los te kom, doodmaak – tot matelose verdriet van die seun. Die koning reageer woedend teenoor Mohlomi se pa toe hy besef dat dit eintlik die seun is wat die bok gevang het. Mohlomi doen dan die ondenkbare: In plaas daarvan om sy pa te veroordeel, onderhandel hy met die koning dat die bul aan sy pa gegee word en vra sy pa om verskoning! Daarmee openbaar hy ’n buitengewone begrip van die wedersydse impak wat verhoudingsgenote op mekaar uitoefen en die krag van empatie – dat die herstel van ’n verhouding soms belangriker is as die afdwing van persoonlike reg.

Hierdie episode voorspel reeds die leierskap en lewensfilosofie waarvoor Mohlomi later beroemd sou word: ’n leierskap waarin samewerking bo individuele kompetisie, en verhoudingsherstel, medemenslike empatie en verdraagsaamheid bo vergelding gestel word.

Dit is betekenisvol dat die verhouding tussen Mohlomi en sy ouma so sterk uitgelig word. Sy speel ’n deurslaggewende rol in sy vorming en opvoeding deur die oordrag van kultuur, wysheid en waardes. Deur stories, liedere en raaisels wat sy met hom deel, versamel hy ’n magdom kennis en staan as kind reeds as ’n uitsonderlike storieverteller bekend.

Die reise wat Mohlomi onderneem en die verhoudings wat hy vestig met ander volke, selfs dié wat radikaal van hom verskil, herinner ons daaraan dat sommige van die mees tydlose insigte nie noodwendig uit moderne tegnologie of wetenskap kom nie, maar uit ’n diep begrip van menswees, effektiewe verhoudings en die kuns om saam te leef. Koning Mohlomi pak sy avontuurlike reise met ’n oop gemoed en soeke na wysheid aan. Hy verrig verbasende dinge as geneser deur mensgerig en empaties op mense se behoeftes te reageer. Koning Mohlomi verstewig diplomatieke bande om vrede te bevorder en oorlog te voorkom deur sy onvoorwaardelike aanvaarding van mense en deur hulle met respek en menswaardigheid te behandel. Hy het verhoudings tussen volke doelbewus verstewig deur strategiese huwelike aan te gaan. Hierdie verbintenisse was veel meer as persoonlike of familie-aangeleenthede; dit was ’n vorm van diplomasie waarmee vertroue gebou, alliansies gesmee en vrede tussen gemeenskappe bevorder is.

Toe hy sterf, is gesê: “Hy het gaan rus, die groot vegter vir reg en waarheid, hy het gaan rus, die gewer van lewe en insig wat bevryding bring; hy het gaan slaap...” (185). Konings sterf, maar groot stories oor hulle doen dit nie en elke leser wat die verhaal van koning Mohlomi ontdek, gee nuwe lewe aan sy stem en bevestig daarmee die waardes en wysheid wat aan die wêreld nagelaat is. SM Guma moet as outeur hiervoor bedank word.

Tans is een van die belangrikste uitdagings in die akademiese konteks die behoefte dat universiteite meer relevant en in voeling en gesprek met hul gemeenskappe moet wees. Daarmee saam die oproep vir integrasie van die epistomologieë van die Globale Suide met dié van die Globale Noorde. In 2015 het ek, as sielkundige werksaam by UP, tydens die #RhodesMustFall-beweging die voorreg gehad om te luister na hoe sommige van ons swart studente hul diep belewenisse verwoord het. Onder die soms aggressiewe taal van die dekolonialiseringsdebat van onder andere kurrikulumverandering, was daar ’n diep menslike behoefte: die behoefte om gesien en erken te word, en om te ontsnap aan die meerderwaardige gaze van die Europeër. Die kern van daardie oproep was nie bloot die verwerping van bestaande kennisstrukture nie, maar die erkenning dat verskillende kenstelsels bestaan en dat hulle ook ’n plek in ons gedeelde geskiedenis verdien.

Die verhaal van koning Mohlomi nooi mens om met groter bewustheid te let op die stories wat ons as individue, families, gemeenskappe en nasies oor onsself en oor mekaar vertel. Dit is hierdie stories wat medeskeppend is tot ons identiteit, ons verhoudings beïnvloed en bepaal selfs hoe ons die wêreld verstaan en daarop reageer. Daarom verdien Mohlomi se verhaal ’n plek in ons skool- en universiteitskurrikulums. Dit bied ’n waardevolle vertrekpunt vir gesprekke oor medebestaan, menswaardigheid, geregtigheid en vrede – temas wat vandag net so relevant is as in die agtiende eeu.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top