
Geagte redakteur
As gereelde bydraer oor die oorlog in Oekraïne skryf ek om my ontevredenheid uit te spreek oor kommentaar wat verskyn het op ’n gesprek tussen my en Izak de Vries getiteld “Die oorlog, een jaar later” (Vrydag 24 Januarie).
In kommentaar deur Hans Richardt word die inhoud van die gesprek beskryf as “bol, onoortuigend en Westerse propaganda”. Hans Richardt, of Hans Richter, soos hy homself ook noem, lewer gereeld kommentaar op artikels wat oor die oorlog handel. Dié kommentaar bestaan gewoonlik uit pro-Russiese retoriek en die beskuldiging van “Westerse propaganda”. Daar is egter ’n aspek wat bestaan uit beledigings en ad hominem-verdagmakery, en ’n duidelike patroon vorm in sy kommentaar, wat in styl so sterk ooreenkom met dié van ene Gustav Claassen van vroeër dat mens nie kan verhelp om te raai Hans Richter/Richardt is ’n alias van daardie persoon nie. Gustav Claassen het die gevierde historikus wyle Leopold Scholtz se analise voor die begin van die oorlog afgemaak as “oningeligte twak”. Elders beskuldig Hans Richardt vir Zelenski van geldverduistering (28 Jan 2023), wat neerkom op niks minder as laster nie.
Ek is heeltemal bereid om in debat te tree oor kwessies rondom die oorlog, mits konkrete debatspunte geopper word, soos in die geval van die Gerrit Olivier-onderhoud. Hans Richter/Richardt se kommentaar val egter nie in hierdie kategorie nie. Dit kom eerder ooreen met die soort reaksie wat hoogty vier op platforms waar volwasse en intelligente debat nie voorrang geniet nie.
Ek merk ook dat hierdie persoon se “kommentaar” skerp kontrasteer met die algemene kommentaar wat op LitNet verskyn, wat beteken dat die aanvaarde norm van respekvolle deelname nie deel vorm van hierdie persoon se etiese waardes nie. Dit sou werklik jammer wees indien areas van ’n puik platform soos LitNet ontaard in ’n geleentheid vir die rondslinger van oningeligte retoriek en persoonlike beledigings.
Kyk mens na die kommentaar wat hierdie persoon lewer, word dit ook duidelik dat hy nie die betrokke artikels goed lees of na die onderhoude luister nie – die doelwit is bloot om propaganda so wyd as moontlik te strooi. Sy kommentaar verteenwoordig nie die keersy van argumente rondom die oorlog nie; dis bloot registrering van sy persoonlike emosies (hy's “keelvol” vir die ondersteuning vir Oekraïne), ’n onsamehangende sameflansing van flardes pro-Russiese retoriek, en belediging van die bydraers. Ek vind dit daarom des te meer pynlik ontstellend dat die genoemde onderhoud, waarin geen besondere argumente as sulks gemaak word nie, behalwe om ’n persoonlike en openhartige verslag te lewer oor die omstandighede hier, eweneens afgemaak word as “bol en onaanvaarbaar”, en verder, dat sulke “kommentaar” daaraan toegevoeg mág word.
Dankie vir die geleentheid om hierdie met u te deel, en vir die uitstekende LitNet- webtuiste.
Beste wense
Eben Viktor


Kommentaar
Nie gesien nie, maar dis belangrik dat die moderators streng is. Persoonlike aanvalle moet nie geduld word nie. Seker egter nie altyd maklik om te oordeel wat is aanvaarbaar en wat nie.
Eben's complaint is a common problem in the British press as well. Every reputable newspaper, eg the Guardian, the Telegraph, The Times for example, offer their readers an opportunity to comment on articles and opinion, as LitNet does. However it has become blatantly clear that Russia and China are sponsoring a range of commentators who are deployed to provide credibility to Putin's position. Various methods are being proposed by the editors to curb this malpractice. One idea is that letters will only be accepted from bona fide subscribers using their own subscriber names. Nom de plumes will no longer be accepted. Editors are also increasingly using their own judgement and simply deleting comment that "plays the man and not the ball" - in other words comment not dealing with substantive argument in a fair way, along the lines of a Socratic dialogue.
Wat de hel? Moet ons sonder meer al die propaganda van die Britte glo? Dis dieselfde Britte wat wit Afrikaners in die media voorgehou het as rassiste die afgelope dekade.