Kommadagga-opinie: Goeie chaos

  • 0

Stef Cupido was vanjaar ’n deelnemer aan LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool. Sy het hierdie opiniestuk tydens haar residensie in Somerset-Oos geskryf.

................

Dis Kerkstraat, dis nog vier weke voor Kersfees, maar almal is klaar excited. Ek loop tussen sweterige mense wat nie kyk waar hulle loop nie. Heeltyd stamp van hulle aan my en sê nie eers sorrie nie. Ek wil my vererg, ook toe ek omtrent nie die pad kan oor nie, maar ek kry die feeling.

Van kind wees, maybe, ja, dis dit.

Mense kyk met excited oë in die winkelvensters in en mens sien hoe hulle koppe somme maak vir Kerspresente. Mense soengroet, want hulle sien mekaar so min, sommige waai van ’n afstand omdat hulle te haastig is, motors soek-soek vir parkering en vreedsame verbygangers beduie na oop spasies. Winkelassistente hou hulle lywe soos vriende, vir wanneer kliënte onseker is of hulle reg kies en koop.

Dis ’n witwarm dag (dankie vir die woord, Breyten Breytenbach), my knoophemp was nie ’n goeie idee nie. Bekende gesigte flits verby. Hulle sien my wel nie. ’n Goeie vriend waai entoesiasties uit ’n winkelvenster, ek waai terug en beduie dat ek haastig is, verstaanbaar weens die gloeiende son.

Wellington is ’n klein dorpie. Almal ken mekaar min of meer en dinge bly maar soos dit is.

Alhoewel die toegooi van die fontein die dorp verander het, het Bainskloof dieselfde gebly. Die Hugo’s het weggetrek en weer teruggetrek, buitelanders het hierheen getrek en gebly. Kinders het getrou, oues het getrou, studente het geslaag en gedruip, daar was droogte en bergbrande, maar dis so gou verby en vergete, amper of dit nooit eers was nie.

Ons het dierbare burgers, soos Ampie Coetzee en dominee Boshoff, verloor, maar het ook al die titel Dorp van die Jaar gedra deur Kwêla, die show wat kykNET uitsaai. En Andrew Murray, ’n leraar en gestuurde van God aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, sit steeds op dieselfde plek waar hy uitkyk oor ons dorp. Die poskantoor, Victoriapark en al daardie akkerbome wat nog vassteek soos toe ek klein was, en dis of tyd nog nooit aanbeweeg het nie.

Soos ek op pad is na my bestemming, hou die hitte my vas en almal wat ek sien is doenig met ’n waaier, ’n Coke, of hulle skarrel vir skaduwee, enige skaduwee. Ek kan dit nie meer ignoreer nie, die hitte raak nou erg. Maar almal glimlag, kinders is opgewonde want dis die seisoen van cones, JC-bompies en Choc-O-Linas. Ek loop ’n hele paar winkels verby en almal smile vir my, selfs dié wat altyd bad luck is, doen moeite en ek kom agter dis simpatie vir die warmte, en my dik knoophemp.

Ek stap die viswinkel binne, en daar is te veel mense; snaaks, hier is niemand in mekaar se pad nie. Net ’n paar mense, insluitend ek, bestel chips om weg te neem. ’n Jongman stop sy ete toe ek in sy rigting kyk, skaamte oorweldig hom en ek groet toe om die situasie te diffuse. Hy skuif weg van sy kos en gesels met die man langs hom. Ek bestel ’n small chips en sien uit die hoek van my oog dat hy weer begin eet.

Almal koop roomys, en ek swig en koop ’n 500 Coke; dit was nie my plan nie, maar die winkel was drukkend warm. Ek kry my chips en is gou weer uit, ek sukkel weer om die pad oor te steek, maar dis reg met my, ek kan at least nog so ’n rukkie die vibe voel. Kerkstraat krioel van feestelikheid en vriendelikheid.

Dis ’n goeie chaos. Andrew Murray, die boodskapper van God, op sy spierwit stoel word al hoe witter. Ek wonder of hy dieselfde voel. Ek loop verby ’n Chinese winkel en Kersfeesliedjies borrel buite toe en almal dans. Só moet dit mos wees, en my lyf wil ook die beat vang.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top