Kommadagga-kortverhaal: Jy het nie ’n graad nodig vir common sense nie

  • 4

Helena Troskie was vanjaar ’n deelnemer aan LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool. Sy het hierdie kortverhaal tydens haar residensie in Somerset-Oos geskryf.

................

Waar in die wêreld kry jy ’n Rolex op ’n menu?

By die Stanley Hotel in Kampala.

“One Rolex and an Africa tea, mwattu,” bestel ek.

Hier kry jy dié omelet met groente, toegedraai in ’n chapatti. Op die rooi-polish-stoep van die hotel is tafels waar gaste hul kos kan geniet, en groot dakwaaiers. Voor my skud en skommel Luggogo Road se verkeer verby. My maag maak ’n senuagtige draai as ek dink aan my terugrit huis toe.

Ek bestuur ’n trekker al vandat ek agt jaar oud is. Skrik, skrik ek nie sommer vir enige verkeer nie, maar in Uganda word alle normale verkeersrëels verbreek. Elke rit is ’n nagmerrie. Totale chaos met verdraagsaamheid en humor vermeng. Jy toet net as ligte waarskuwing. Nooit soos in “Toooeeet, voertsek, jou padvark!” nie. Motors, minibustaxi’s, boda bodas (motorfietstaxi’s), bokke en beeste ding mee vir ’n neus voor in die ry.

Vir die voertuie is daar drie verskillende verkeersafdelings. Die pienk-uniform-konstabels beheer net die boda bodas. Die kakie uniforms kyk na gewone motors en die swart uniforms fokus op minibustaxi’s. By elke sirkel is all of the above met hulle fluitjies teenwoordig. Mense skree uit taxi’s vir mekaar: “Siiba bulungi!” Have a nice day! Fluitjies blaas en bokke blêr. Helderkleurige vroue met groot plat mandjies vol piesangs op die kop vleg ligvoets soos dansers tussendeur.

“Enjoy your meal, Madame,” sê die waiter terwyl hy my kos neersit. Die Rolex en spicy marsala tea on the side is net wat ek nou nodig het.

Terug by Plot 6, Archer Road, Kololo kry Owore my in die garage om te help afdra aan die groceries. Met die teken van ons huurhuiskontrak het die eienaar, mevrou Kalinga, gesê: “Owore Adonga comes with the house. He started working for me at the age of 27, he’s been my houseboy for nineteen years.”

Ek en die nederige Ugandese man is baie saam in die kombuis. As ek vir ons sterk melkerige tee maak, ontvang hy dit met ’n skaars waarneembare vooroorbuig. Net so ’n agste van die buig wat mens voor die Queen sou uitvoer. Dit doen hy elke keer as hy enigiets by my aanvat. Hy verstaan en praat basiese Engels.

“Do you have a wife?” vra ek terwyl ons staan en tee drink.

“Yes, Madame, wife and children.”

“So where are they now?”

“In Tororo. She is farmer and mother.”

“But when do you see them? What is your wife’s name?”

“She is Afiya. I see them end of month when I go home. It takes a long time in the taxi to get to them.”

Terwyl my maat lang ure as hoof van ’n bankgroep werk, is ek aangewese op Owore se raad omtrent alles in Kampala. Hy is die een wat my wys waar die naaste convenience store vir brood en melk is. Ons huis sit op ’n koppie. Vanaf die stoep beduie hy my waar Idi Amin se vorige huis teen die afdraand sit. ’n Oordadige wit paleis. Hy leer my alles vsn hoe om ’n groentetuin in die trope aan die gang te hou.

Smiddae wanneer ons voorberei vir aandete, gesels ons op ons lekkerste.

“Tell me about your children?”

“I have four boys, one of them is late.”

“Ag, I’m so sorry!”

“It’s okay, Madame, it is long time ago. It was very difficult for Afiya. Me working here and she alone on the farm with younger boys.”

“So she has no grown-up to help her?”

“Only the two boys when they come from school. The oldest works in another town. My wife works in the field herself. She plants cassava.”

Soos wat die maande aanloop, kry die prentje van Owore se gesin gaandeweg kleur uit die stukkies geselskap wat ons tussen ons rondgooi. Sy vrou doen die meeste van die harde werk alleen met ’n skoffelpik en graaf. Daar word ook mielies op die plasie geplant. As die oes groter as gewoonlik is, kom help die bure. Die guns word terug bewys soos nodig. ’n Hele jaar se oes is nie altyd genoeg om Owore se familie te voed nie, daarom werk hy in Kampala. Sy kinders stap skool toe in die village, waar hulle in Engels leer. By die huis praat hulle Luganda met Afiya. Sy verstaan nie Engels nie. Kan ook nie lees of skryf nie.

Dieselfde soort bokke wat hier in die verkeer rondloop, hou Afiya ook op die plaas aan. Elke bok lyk anders. Unieke skakerings van wit, swart, tan en baksteen.

Op ’n dag, terwyl ons blaarslaai in die groentetuin pluk, kom Owore met dié vorendag: “Madame, me and you talk secondhand English.”

Ek lag en antwoord: “But second-hand is better than no hand, Owore?”

Ons giggel soos twee skoolkinders oor die grappie.

“No hand, haii!” herhaal hy laggend terwyl ons kombuis toe loop met die oes.

Hoe meer ek uitvind oor hom en sy gesin, hoe meer dink ek aan sy vrou op die plaas. Sal dit nie Owore se hart bly maak as sy kom kuier nie? Wat kan ek doen om haar te help? As ek haar help, help ek hom indirek – dié sagte man vir wie ek so baie respek gekry het.

Nog voor Owore die volgende oggend môre sê, vra ek hom of sy vrou sou kom kuier. Ek sal betaal vir die taxi heen en weer. “Please, Owore, you have been so kind to me. You don’t know what a big role you have played in helping me adjust to living in this country. Now is the time for me to do something for you.”

“Madame, I will ask her when I go home. I tell her about Kampala, she shakes her head. She has never been. But thank you.”

Toe hy weer ná ’n wegnaweek van Tororo terugkom, is ek bly om te hoor dat sy vrou tog wil kom, maar op geen manier kan ons die reisgeld by haar uitkry nie. Die internet in Kampala is vir drie dae af. Die banke op die platteland is reeds ’n week van lyn af. Tororo het nie ’n winkel waar jy kontant kan gaan afhaal nie. Eers die volgende maand vat Owore die Ugandese sjielings self vir haar.

Weke daarna, een laatmiddag terwyl ek koffie maak, staan Owore en sy vrou onverwags in die kombuisdeur. “Madame, this is my wife, Afiya.”

Einde ten laaste staan die seningrige boervrou voor my. “Nice to meet you. I’m so glad you are here at last,” groet ek en vat haar hand. Soos die tradisie hier is, hou ek haar hand langerig vas. Growwe hande wat self spit.

Donker oë kyk my vinnig aan, dan slaan dit af. Afiya is ’n kort vrou. Sy werk met haar hele lyf. Haar voorkoms vertel dit.

“She is very tired from taxi ride. May we please go to our quarters? Tomorrow morning we will speak more.”

Ek het begrip vir die eise van reis in Uganda. Daar is min teerpaaie in die land en dié word glad nie onderhou nie. Jy vra nooit hoe ver dit in kilometer is nie, jy vra hoe lánk iemand ry.

Die aand lê en wonder ek wat Afiya van die stad dink. Wat kan ek doen om haar kuier onvergeetlik te maak? Dalk moet ek vir haar geld gee om op haarself te splash. Sekerlik het sy nog nooit geld vir luukses gehad nie? Wat sou vir die bestaansboer van Tororo as luukse kwalifiseer? Ek het geen idee nie, maar droom sommer vir haar part oor krale en uitspattige helderkleurige rokke, parmantige headdresses, oor parfuum en hoëhakskoene. Rooies.

Die volgende oggend kom groet hulle my in die kombuis. Owore het die dag af.

“Oli Otya, Afiya, how are you this morning? I hope you rested well. Please enjoy the market today. Here is some money to spend on yourself. Spoil yourself.”

Owore antwoord namens haar: “Weebale njo. Thank you, she says she feels not easy. The strange noises make her want to run. I will go with her to the market.”

“Musiibe bulungi,” groet ek. Laat dit goed gaan.

Kort daarna gaan ek en my man Jinja toe vir die naweek om die oorsprong van die Nyl te sien. Ons kom die Sondagmiddag terug by die huis.

Owore wag ons alleen in: Afiya het net een nag gebly.

“Madame, my wife Afiya thank you for the money. She’s not going to buy dress at the market. She’s going home with the money. There she will buy a she-goat. The she-goat is going to bring in much more money than dress.”

Ek staan verstom en besef instinktief: ’n Boektitel is so pas aan my openbaar: World economics, deur Afiya Adonga.

 

  • 4

Kommentaar

  • Pragtige ekonomiese taalgebruik met beelde wat kleurvol aan leser gebied word
    Mal oor die eenvoudige treffende slot
    Welgedaan Helena

  • Avatar
    Kitta de Bruyn

    Ek ruik die grond waar Afiya werk en die vars groente wat jy en Owore pluk, en ai, die she-goat! Sooooo lekker gelees. Dankie Helena

  • Dit voel asof ek saam met jou daar in Uganda was. So 'n raak beskrywing van Afrika en die leefwyse daar. Ek kan ook vir Owore voor my sien. Ek het hierdie storie so geniet! Dankie Helena

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top