Komedie-aand met Gemengde Vrugte en Melt Sieberhagen by die Taalmonument Tuinteater

  • 0

Die Afrikaanse “stand-up”-komediegroep Gemengde Vrugte tree op Vrydag 16 Maart om 19:30 vir 20:00 by die Afrikaanse Taalmonument se Tuinteater in die Paarl op.

Die komediante wat deelneem, is oud-Paarliet en skrywer Jurie Prins, wat as gasheer vir die aand optree; “jong-maar-los-tong” Schalk Bezuidenhout; “die Koning van Kraaifontein” Piet Potgieter (ook te sien op Kyknet se “Skerp”); strokiesprentkunstenaar en “Idees Vol  Vrees”-skrywer Kobus Galloway; en die hoofkunstenaar vir die aand - niemand anders nie as die briljante, snaakse Melt Sieberhagen van “Proesstraat”!

Volgens Prins beloof hulle “om gehore uitbundig, luidkeels en spontaan te laat skater” met hul oorspronklike en onortodokse benadering tot komedie.

“Gemengde Vrugte bevorder Afrikaanse komedie en die Afrikaanse taal.  Die komediante se uiteenlopende style maak hierdie ’n produksie wat jy nie wil misloop nie.  Hulle sukses oor die afgelope ses maande spreek vanself met hulle uitverkoopte opvoerings maand na maand by teaters regoor die Boland en Noordelike voorstede.  As jy ’n liefhebber is van Afrikaans en komedie, kom ondersteun hul gerus, “ aldus Prins.

Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjie saam te bring of ’n mandjie by Volksmond Koffiewinkel te bestel teen R170 vir twee persone. Ligte verversings en bier en wyn sal te koop wees. Geen eie drank word by piekniekkonserte toegelaat nie. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Geen honde of vure word toegelaat nie. Indien die weer sleg is, word die konsert afgestel.

Kaartjies, teen R85, is by die hek beskikbaar, en vooraf by die Taalmuseum in Pastorielaan (Ma. tot Vr. 09:00 tot 16:00) of by die Taalmonument (Ma. tot So. 08:30 tot 19:30). Bespreek by Amira Clayton by kommunikasie@taalmuseum.co.za  of 021 863 0543.

Hierdie vertoning is slegs vir volwasse gehore.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top