Kom ons dink “buite die boks”: Wat van ’n Afrikaanse Taalunie?

  • 12

Tydens my onlangse Europese verblyf as gasdosent in Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit van Leiden, Nederland was ek by geleentheid op besoek aan die Nederlandse Taalunie (NTU) in Den Haag. Terwyl ons koffie drink, het ek Hans Bennis, die hoofsekretaris van die NTU, gepols oor die moontlikheid dat die NTU nog nouer met Afrikaanse organisasies kan saamwerk. Die huidige samewerking is van ’n ad hoc-aard en wissel van projek tot projek, maar meer gestruktureerde samewerking sou nog beter wees.

Van die groter intrek van Afrikaans by die aktiwiteite van die NTU en die groter kring van die Neerlandistiek is daar tans nie juis sprake nie, gewoon omdat Afrikaans ’n taal is wat op sy eie bene staan. Maar weens Afrikaans se historiese verbintenis met Nederlands word Afrikaans wel as deel van die groot kring van die Nederlandistiek (dit is die breë bestudering van die Nederlandse taal- en letterkunde) beskou. Dit maak Afrikaans egter nie een van die Nederlandse Taalunie se fokuspunte nie.

Dit is ’n onderwerp waaroor ons ook al in die verlede menings gewissel het. Maar hierdie keer het hy iets gesê wat aan ons gesprek ’n nuwe dimensie verleen het: “Ek sal graag ’n samewerkingsooreenkoms met ’n Afrikaanse taalunie wil sluit en dan kan ons nouer samewerking tussen die twee taalunies hê.” En dit sou dan ruimte laat vir die sluit van ’n ooreenkoms met bepaalde uitkomste waarby beide tale sal kan baat, sê hy.

Dit laat ’n mens aan nuwe moontlikhede vir Afrikaans dink.

Voordat ek uiteensit wat ek dink so ’n Afrikaanse Taalunie kan behels, net kortliks agtergrond oor die samestelling en take van die NTU (http://taalunie.org).

Wat behels die werk van die NTU?

Vir die hele Nederlandse sprekersgemeenskap is Nederlands ’n taal van besondere waarde, ’n taal waarin die betrokke gemeenskappe op alle vlakke funksioneer daar waar Nederlands as taal erken word, daagliks gebruik om hulle lewe in te leef: praat, skryf, onderrig, oplei, werk, publiseer, preek, adverteer, uitsaai, gebruik as sosiale bindmiddel in die sprekersgemeenskap, ens. Vir hierdie gemeenskap is dit daarom van belang om die taal uit te bou, in stand te hou en ook sy invloed te vergroot – Nederlands het vir hulle “meerwaarde”, dus waarde bó die normale en alledaagse gebruik daarvan.

Op hierdie wyse word (en is) Nederlands ’n lewendige taal, ’n taal wat vir sy sprekersgemeenskap intrinsieke waarde het omdat dit hulle in staat stel om optimaal in hulle gemeenskap(pe) met mekaar om te gaan en hulle volle lewe in die taal te leef. Om dit in stand te hou en uit te bou is die NTU in 1980 as beleidsliggaam gestig. Die NTU is dus, breedweg beskou, ’n liggaam wat die belange van die Nederlandse taal wêreldwyd bevorder.

Die NTU as struktuur is opgerig (en word befonds) deur die regerings van Nederland en Vlaandere (die Nederlandssprekende deel van België). Dié liggaam het ten doel om die omstandighede te skep waarbinne die strewes van die twee regerings rakende Nederlands as taal uitgevoer kan word. Dit word aan die hand van ’n voorafbepaalde beleid gedoen.

Dit hou in dat daar ’n liggaam is (die Komitee van Ministers van die lande) wat die beleid formuleer op grond van die advies van ’n Raad van Kundiges, dat daar ’n struktuur (algemene sekretariaat) is wat die beleid help bepaal en uitvoer, en dat daar ’n Interparlemêntere Komitee (saamgestel uit parlementslede van die twee lande) is wat die uitvoering van die beleid monitor.

Met die hulp van kommissies, werksgroepe waarby deurgaans kundiges betrek word en ’n aantal samewerkingsooreenkomste word die beleid geïmplementeer.

Wat doen die Taalunie presies?

Die NTU moet beleid formuleer rakende die gebruik van taal in die Nederlandse samelewing deur ondersoeke en deur navorsing te doen oor die taal self (advies oor taalstruktuur en taalbevordering; spelling; grammatika; woordeskat en woordeboeke), oor die gebruik en gebruikers van die taal (waar, deur wie en hoe dit gebruik word; watter organisasies en instellings by die taal betrokke is), en hoe die taal uitgebou en bevorder kan word (deur die gehalte van onderwys op alle vlakke te monitor en te verbeter, deur die nasionale en internasionale bemarking van die taal). Dit moet dan op alle vlakke deurgevoer en praktyk gemaak word.

Die NTU dien derhalwe as ’n soort dinkskrum oor die Nederlandse taal aan die hand van die versamelde inligting, die uitwerk en saamstel van strukture en dan die implementeer daarvan. En dit werk reeds bykans 40 jaar heel goed, want Nederlands het heelwat om oor te spog: een van die mees gebruikte tale in Europa, die 40ste grootste taal in die wêreld. Dit het ’n taalinfrastruktuur wat deur ander tale beny word, dit het ’n lojale gebruikerskorps, ’n indrukwekkende rekord van vertaalde boeke, ’n groot uitgewersbedryf, en ook mense wat graag hulle eie taal gebruik. Daar is ook nog heelwat ander sake waaroor gespog kan word.

Dit word alles moontlik gemaak deur ’n klein personeelkorps van kwalik meer as 30 permanente personeellede, en talle vrywilligers wat op etlike liggame en strukture saamwerk om die beleid te bedink en uit te voer. ’n Mens kom duidelik ver met goedopgeleide, toegewyde en geesdriftige werknemers wat binne die raamwerk van ’n praktyksgerigte beleid werk! Ons kan in Suid-Afrika nogal heelwat hieruit leer, omdat ons so graag talle nuwe poste met groot salarisse skep, maar waar daar dan uiteindelik min van nut realiseer. (Kan ek PanSAT as voorbeeld in hierdie verband noem?)

Wat hou dit vir Afrikaans in?

Afrikaans vaar self nie te sleg met taalbevordering nie, en daar is ’n groot verskeidenheid liggame wat op verskeie terreine besonderse werk doen om Afrikaans in stand te hou en uit te bou.

Ek noem slegs enkeles: die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (akademie, bekroning, onderwys), die Afrikaanse Taalraad (koördineer die aktiwiteite van 41 Afrikaanse organisasies, bevorder versoening), die ATKV (kuns en kultuur), die FAK (kultuur, geskiedenis), die Rapportryerskorps (kultuur), die SBA (bemagtiging), AfriForum (geskiedenis, burgerregte), die Vereniging vir Regslui in Afrikaans (Afrikaans in die regswêreld), die Erfenisstigting en ook die Afrikaanse Taalmuseum (bewaar geskiedenis en erfenis), die Virtuele Instituut vir Afrikaans (tegnologie), NALN (bewaar Afrikaanse letterkunde), die Buro van die WAT (Afrikaanse se grootste woordeboek).

LitNet hou Afrikaans sigbaar op die internet en die Internasionale Vereniging van Afrikaans (IVA) bevorder Afrikaans buite die landsgrense. En so kan ek aangaan.

Afrikaans hét derhalwe die liggame, instansies en belangegroepe wat ook die basiese take van die NTU verrig, maar dit is juis hier waar die probleem lê: die liggame is so baie en elkeen sit op ’n eie hopie met ’n groepie lede, ondersteuners en befondsers. En elke liggaam fokus so dikwels net op sy eie belange, en in hierdie proses word die groter (Afrikaanse) prentjie uit die oog verloor.

Dit dra daartoe by dat die ware bevordering van die taal nie plaasvind nie, maar eintlik net die bevordering van die onderskeie liggame self. Die taal word dan die middel tot die doel: die totstandkoming en instandhouding van ’n vereniging, instansie. Hierdie benadering lei tot versplintering, duplisering, en ongelukkig ook gebiedsbeskerming. In hierdie proses gaan die uiters belangrike fokus en koördinering wat die NTU as instelling so suksesvol maak, verlore. Geleenthede vir Afrikaans as taal gaan dan ook verlore.

My vraag is nou: Is dit die beste manier om Afrikaans in stand te hou en uit te bou? Dat elke organisasie of instelling naamlik op sy eie aangaan? Moet ons nie ’n slag praat oor of ons nie verder met Afrikaans se bevordering en beskerming sal kom as ons ook ’n oorkoepelende Afrikaanse Taalunie het nie? Sal dit Afrikaans nie meer gesag gee nie? Sal dit Afrikaans nie meer doelgerigtheid en fokus gee nie? Sal dit nie beter benutting van Afrikaans se hulpbronne (mense en befondsing) en energie wees nie?

Omdat ek by soveel van die liggame betrokke is of was, weet ek dat ek nou die leeu se snorbaard trek – maar júis omdat ek by soveel van hierdie liggame betrokke is of was, sien ek die leemtes makliker raak, veral omdat ek ook deeglik weet wat die NTU doen. En dis die geïntegreerdheid en gekoördineerdheid van die NTU wat tot suksesse bydra. Kan ons dus nie ook soos die NTU begin dink en – veral! – doen nie?

Baie van die werk hiermee is al gedoen met die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad in 2008, maar moet ons nie dalk nou ’n stappie verder gaan nie? Moet ons nie gaan sit en praat oor die voor- en nadele van ’n Afrikaanse Taalunie nie? Sal ons nie met ’n geïntegreerde Afrikaanse Taalunie verder kom as tans nie?

’n Mens sou kon argumenteer dat die NTU die bevordering van die Nederlandse taal in ’n aantal lande ten doel het: Nederland, België, Suriname, Aruba, St Maarten en Curaçao. Hierteenoor word Afrikaans slegs in Suid-Afrika as amptelike taal gebruik, alhoewel dit ook in Namibië as taal van algemene omgang gebruik word en selfs voorheen daar ’n amptelike taal was. Afrikaans word ook in talle ander lande deur Afrikaanssprekendes gepraat, maar dan slegs as kommunikasietaal. Afrikaans word ook as vak aan universiteite in verskeie lande gedoseer. Maak dit dan sin om vir Afrikaans dieselfde oorkoepelende struktuur tot stand te bring as vir Nederlands?

Ek moet erken ek weet nie wat die antwoord hierop is nie. Maar ek dink tog dit is ’n kwessie om gedagtes oor te wissel en die voor- en nadele daarvan teen mekaar op te weeg. Moontlik lê daar vir Afrikaans meer winste daarin om so ’n struktuur te hê as om die huidige versplintering te laat voortduur.

Kô, laat ôs ’n slag “buite die boks” dink.

 

* Wannie Carstens, afgetrede professor aan die NWU, Potchefstroom; oudvoorsitter van die Afrikaanse Taalraad, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, en die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans.

  • 12

Kommentaar

  • Marko van der Colff

    Beste Wannie, dankie! Dit is beslis stof tot nadenke én as daad by die dinkwoorde gevoeg kan word, des te beter.
    Ek sien egter (ongelukkig!) 'n allamintige kuttel innnie drinkwater ... Hoe kom mens verby die (onvermydelike) vingerwysing van 'bevoorregting'?
    Groete
    Marko van der Coff

  • Matthys Strydom

    'n Afrikaanse Taalunie klink vir my nie net na 'n goeie moontlikheid nie, maar na 'n noodsaaklikheid.

    Ons Taal staan tans voor sy grootste krisis ooit, veel groter as die aanslag tydens en na Anglo-Boereoorlog, veral omdat soveel Afrikaanse akademici (om den brode) tans in die voorste linies veg om Engels in ons kele af te druk.

    Die positiewe geluide wat mens hoor oor die toekoms van Afrikaans kom van mense wat klink asof hulle tevrede sal wees as Afrikaans net voortbestaan.

    Dis egter noodsaaklik dat Afrikaans se ontwikkeling, waarvoor so hard gewerk is en merkwaardig ver gevorder is in 'n baie kort tyd, voortgesit moet word. En dit kan tog net gebeur as Afrikaans sy plek in laer en hoër onderwys behou. Daartoe behoort 'n Afrikaanse Taalunie 'n groot en samesnoerende bydrae te kan lewer.

  • Joris Cornelissen
    Joris Cornelissen

    Het Afrikaans kent vele uitdagingen, maar ook mogelijkheden. Een belangrijke mogelijkheid blijft echter onbenut: samenwerking tussen Afrikaans en Nederlands.
    Deze samenwerking is er wel, maar in heel beperkte mate en is bovendien versnipperd, vaak incidenteel. Een meer serieuze vorm van samenwerking kan echter zeer voordelig zijn voor zowel het Afrikaans als het Nederlands en de logische partij om mee samen te werken is de Nederlandse Taalunie (als officiële vertegenwoordiging van Nederlandstalige landen). Het is dan echter wel nodig dat het Afrikaans zich als één entiteit naar het Nederlandstalige taalgebied (De Nederlandse Taalunie) presenteert. Kortom, een Afrikaanse Taalunie is een logische, noodzakelijke professionaliseringsslag.

  • Johnnes Comestor

    Carstens wil hê dat die gehalte van onderwys moet verbeter. Hy noem dat daar talle instansies is wat Afrikaans bevorder. Hy begeer egter ware taalbevordering van Afrikaans. Vandaar die moontlikheid van 'n Afrikaanse Taalunie. Hy sê dat hy leemtes in die huidige opset kan raaksien. Wat hy nie raaksien nie, of nie noem nie, is die huidige grootste leemte in die mondering van al die bestaande instansies wat Afrikaans bevorder, naamlik die versuim om suiwer(der) Afrikaans te bevorder. Die stigting van nog 'n Afrikaansinstansie gaan nie die gehalte van Afrikaans verbeter nie tensy vooraf hard en duidelik gesê word dat die onrusbarende indringing van veral Engels in Afrikaans deur die ATU daadwerklik bekamp gaan word. As die Academie Francaise dit vir Frans kan doen, kan die ATU dit vir Afrikaans doen.

  • Susarah van Zyl

    Stem heelhartig saam met Johnnes Comestor. Bevorder suiwer Afrikaans en weg met die indringing van Engels in Afrikaans. Ek het niks teen Engels nie, maar is van jongsaf deur my pa geleer jy praat Afrikaans suiwer of Engels suiwer. Geen mengelmoes, en beslis nie "amazing" of "awesome" ens wanneer jy Afrikaans praat nie.

  • Amanda de Stadler

    Wannie, sal die NTU saamwerk met 'n organisasie wat nie vanuit owerheidsweë kom en gesteun word nie?

  • Gretha Aalbers

    Amanda se vraag is ter sake. Wannie noem juis in sy artikel dat die NTU deur die regerings van Nederland en België opgerig is en befonds word. Afrikaans is een van 11 amptelike tale. 'n Afrikaanse taalunie sal nie 'n regerings-organisasie kan wees nie. Is nóg 'n oorkoepelende organisasie nodig?

  • Ja! vanaf die hoër onderwyskorps. Na ek onlangs Gerhard van Huyssteen se Hutsmerk-artikel gelees het ("As die hutsmerk magtiger as die swaard is") het ek besef ons kan nie bekostig om so jammer te wees dat ander aanstoot gaan neem, dat ons nie ons ryk taal bevorder nie. Dit bly die verantwoordelikheid van die akademici van elke betrokke taal om sy/haar/x se taal te bevorder, om hulle taal se plek aan die proverbiale skoenveters op te trek en hul unieke stempel af te druk.
    Ons kan net praat vir Afrikaans. So kom ons doen dit. Ek is nie jammer om trots te wees op my taal nie en ook nie jammer om multi-dimensionaliteit daarvan en skoonheid en gebruikswaarde daarvan te bevorder nie. Ons ouens in die hoër onderwys kry dit waaragtig reg om leerders nog te inspireer om Taal te gaan swot, vir welke rede. Ek preek elke dag die wêreld in 'n neutedop in my klas. En ek wen hulle een vir een oor vir Breytenbach, Jonker, Opperman, Van Heerden en Hambidge, Nathaniel, selfs Toast Coetzer al die ander chokers en survivors daarbuite op die sypaadjies wat hulle hand tot papier waag en wen.
    Wat koester ons elke dag? Passie. Verdraagsaamheid. Vrye denke. Paradigmaverskuiwings. Kritiese denke. Uitbundigheid en lawwigheid. Liefde en hoop dat ons kinders se agterkleinkinders nog sal droom in hulle taal.
    En die beste van als is ons kweek nuwe stemme in ons taal. Wat gaan ons vir Oom CJ in die hemel eendag sê as ons nie iets gekoester het soos noue samewerking met die NTU nie? Sal ons vir Koos sê, skink nog 'n uur in my glas? Nee. Dan is dit te laat. Skep 'n Afrikaanse Taalunie en laat die draak met die klomp koppe die knie buig.

  • Wanne Carstens se voorstel van 'n geïntegreerde Afrikaanse Taalunie is 'n puik voorstel. Die samekoms van al die versplinterde pro Afrikaanse groeperings sal verskeie doelwitte kan bevredig. Standaarde, drukkerswese, toeganklikheid en bevordering van Afrikaans in alle gemeenskappe.
    Maar dit gaan 'n opdraande stryd wees. Om só 'n unie kredietwaardigheid te gee sal aan die volgende aspekte aandag verleen moet word.
    1.Die Unie moet apolities wees en mag nie geaffilieer wees met enige politieke party nie.
    2.Die Unie moet veelrassig wees in al sy strukture.
    3.Die Unie moet dit hul taak maak om vir reparasie en regstelling van Afrikaanssprekendes in agtergeblewe gemeenskappe te agiteer.
    4.Die Unie moet proaktief en by voorbaat verootmoediging toon deur alle Suid-Afrikaners om verskoning (vergifnis?) te vra vir wat in die verlede (en steeds) in die naam van Afrikaans gepleeg is.
    5.Die Unie moet nie in isolasie bestaan nie, maar saamwerk met ander taalgroeperinge.
    6.Die Unie moet uitreik na Afrikaanssprekende lede van gemarginaliseerde groepe soos byvoorbeeld die LGBT gemeenskap, nie-winsgewende, nie-regeringsgroepe en tradisionele groepe (Khoi-San, Griekwa ea)
    6.Die Unie moet affilieer met ander soortgelyke liggame elders in die wêreld.

  • Ek lewer nie kommentaar oor die uitvoerbaarheid van die gedagte nie. Weet ook nie wat die antwoord is nie. Eerder eie indrukke en eersterangse ervaring oor ongeveer 30 jaar met Afrikaans as bevorderaar sonder akademiese onderleg.
    Ek ervaar nie die bedreigings vir Afrikaans nie.
    Wat ek wel ervaar is 'n onwilligheid om kennis te neem van die rol en suksesse van ander selfs op uitnodiging.
    Cordis Trust, selfbefonds, beskik oor 'n verskeidenheid geregistreerde hulpmiddels soos die Afrikaanse Taalnetwerk (ATN); Aksie Afrikaans ;Taal sonder grense ; Afrikaans inklusief , Afrikaans plus en Afrikaanse digitale biblioteek wat moontlik gebruik kan word om van die doelwitte (wat op netwerk neerkom) aan te vul.
    Ek het destyds probeer om groter steun vir die Vlaamse inisiatief by RAU te kry.
    Moenie die kuberpad onderskat om die omvattendste Afrikaanse Taalunie denkbaar te skep nie. Dit is waarom die ATN in die eerste plek geskep is.

  • Ek sal OOK BITTER graag ’n samewerkingsooreenkoms met die Hollanders wil sien. Afrikaans kan net verryk en bevoordeel word daardeur; met eindelose nuwe moontlikhede vir daadwerklike groei en ontwikkeling van ons mooiste tongval, (in teenstelling met stagnasie onder 'n ANC-regering en nog belangriker;,die polities korrekte verwerping daarvan deur lafhartige akademici); dan kan ons BAIE nouer samewerking tussen die twee taalunies hê.
    Afrikaans is dan "Afrikaanse [Afrika] Nederlands" of hoe? Die vermaninge van Johannes moet egter met die nodige erns van kennis geneem word. Los my uit kakietaal !
    Hierdie is die begin van groot dinge! Die moontlikhede maak mens sommer baie opgewonde en onthou alstublieft: in Nederlands is slegs kos "lekker", en alles anders nie sommer baie lekker nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top