Kom hier dat ek jou soen deur Griet op de Beeck: ’n lesersindruk

  • 1

Kom hier dat ek jou soen
Griet op de Beeck
Protea
ISBN: 9781485309925

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Kom hier dat ek jou soen het reeds in 2014 in Nederlands verskyn as Kom hier dat ik u kus. Dit is een van daardie fênsie hogere letterkundige werke. Nie jou tipiese Deon Meyer-boek nie. Beslis nie die soort van ding wat ek tipies sou lees nie. Maar ek glo daaraan om so af en toe wyer as die eie smaak te lees. Ek hou boonop ook daarvan om boeke te lees wat gewild is, want so kan mens ’n bietjie begin verstaan wat aan die boek dit so geliefd maak onder so baie mense, al is dit nou nie noodwendig jou smaak nie. So leer jy dalk ook iets van hoe die mensdom rondom jou dink, en klim jy ook ’n bietjie uit jou eie kop uit vir ’n wyle, en so ook uit jou eie klein wêreldjie. Kom hier dat ek jou soen is in hierdie opsig ’n klassieke geval. Dis ’n boek waaraan ek maar langtand begin lees het. Dis een van daai boeke wat nie ’n sterk storielyn het nie. Dis vir my vreeslik om die woord te moet gebruik, maar die boek is skynbaar wat ons in letterkundeklas geleer is, ’n tipiese “postmoderne” boek. Dit is postmodern omdat dit so gemoeid met die alledaagse, die doodgewone. Daar is nie ’n held wat die wêreld red nie. Geen aksie en jaagtogte en geweld nie. Die held is maar Mona, en die stryd is om haar geluk in die lewe. En dis merendeels ook maar ’n stryd met die self.

Miskien moet ek liewer sê daar is wel geweld. Die geweld van gewoon wees. En hoewel die “verhaal” begin met die karakter Mona as kind, is dit ook asof dit in ’n sekere sin in medias res begin. Want dit begin as net nog ’n generasie wat voortsleep met die bagasie en trauma van die vorige een. Trouens, die boek word op die agterblad beskryf as ’n verhaal “oor stukkende mense en hoe hulle ook ander mense onbedoeld verwond”.

So gewild is hierdie boek dat daar ook ’n film daarvan gemaak is, wat in 2020 verskyn het. Die Afrikaanse vertaling is ook van besondere belang vir ons, omdat dit deur wyle Christine Barkhuizen-Le Roux vertaal is.

Die boek is in drie dele verdeel. Die eerste deel skets die kinderjare van Mona, met haar vader, ’n tandarts, wat in ’n nuwe verhouding beland na die afsterwe van haar moeder. Die verhaal word deurgaans vertel vanuit Mona se perspektief. Sy is die verteller, en sy skets die aanpassing van die gesin by die veranderende lewensomstandighede. In deel twee is Mona volwasse. Sy werk nou in die vermaaklikheidsbedryf en knoop verhoudinge aan. Tot hier was dit maar moeilike leesstof, maar in deel drie begin die verhaal wel werklik skop kry. ’n Belangrike aspek van hierdie verhaal, en ook een van die redes waarom dit miskien so gewild is, is dat dit die onderwerp van genadedood aanroer. Die mensdom het nog lank nie klaar gedink oor genadedood nie, en dit maak gevolglik goeie stof vir fiksie. Dan is daar ook die ontwikkeling van die karakter Mona. Sy bly nie dieselfde nie. Sy verander met tyd, en die roman eindig dan ook waar Mona beheer neem van haar eie lot.

Alles in ag genome kan ek nou verstaan hoekom die boek so gewild is. Mens sal die boek maklik kan neersit as jy soos ek is. Ek is nie die soort leser wat gedurig fiksie lees nie, en nog minder die hogere literatuur wat professore en doktore en lektore lees. Ek is meer ’n misdaadfiksie soort mannetjie, maar om so nou en dan een van die professore se boeke te lees, doen gewis geen skade nie. As mens vasbyt met Kom hier dat ek jou soen, dan lê daar dalk vir jou ook ’n beloning en wag, soos wat daar vir my was. Vir my was die boek uiteindelik ’n aangename verrassing.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top