In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Kokstad in die Oos-Kaap is in 1862 deur Adam Kok gestig, nadat hy die Griekwas daarheen gelei het op hul historiese trek van Philippolis in die Vrystaat oor die Drakensberg.
Die dorpie het metterjare so ontwikkel dat die munisipaliteit in 1906 'n kontrak met 'n firma gesluit het vir die beligting van Kokstad se strate saans met gasligte. Die kontrak sou twintig jaar duur en het onder meer bepaal dat as die firma hom aan kontrakbreuk skuldig sou maak, die gasaanleg wat hulle opgerig het aan die munisipaliteit verbeurd verklaar kon word.
Die kontrak is in 1910 met die goedkeuring van die munisipaliteit deur 'n firma oorgeneem wat aan twee Duitsers – mnre Peters en Flamman – behoort het.
Na die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 is mnre Peters en Flamman deur die Minister van Finansies geïnterneer bloot omdat hul onderdane van die “vyand” (Duitsland) was. In 1916 is beperkinge op die aktiwiteite van hul firma geplaas, en die volgende jaar is 'n likwidateur aangestel om die aktiwiteite van die besigheid te beëindig. Op 25 Julie 1917 is Kokstad se straatligte uitgedoof.
Aangesien daar nog tien van die twintig jaar van die kontrak oor was, het die munisipaliteit 'n aksie om skadevergoeding ten bedrae van die twintig duisend pond teen Peters en Flamman ingestel. In hedendaagse geldwaardes is dit nie te ver van R3 miljoen af nie! Hulle het die hof ook gevra dat die gasaanleg aan die munisipaliteit verbeurd verklaar word.
Die hooggeregshof in Kaapstad het geweier om die skadevergoedingseis toe te staan, maar het wel beveel dat die gasfabriek ingevolge die bepalings van die kontrak aan die munisipaliteit verbeurd verklaar word.
Mnre Peters en Flamman het teen dié beslissing na die appèlhof in Bloemfontein geappelleer, en die munisipaliteit het op sy beurt weer geappelleer teen die hof se weiering om skadevergoeding toe te staan.
Op 8 Augustus 1919 – dis ook al 94 jaar gelede – het waarnemende hoofregter Solomon die hof se uitspraak gelewer.1 Dit bly na al die jare 'n vername uitspraak in ons reg oor “onmoontlikwording van prestasie”, soos dit in regstaal genoem word – met ander woorde, die feit dat 'n kontraksparty vanweë omstandighede buite sy beheer nie in staat is om sy verpligtinge ingevolge 'n kontrak na te kom nie.
Gewoonlik word 'n prestasie ná kontraksluiting onmoontlik as gevolg van oormag – vis maior, soos dit in Latyn bekendstaan. Daaronder word verstaan faktore wat 'n mens normaalweg nie kan voorsien nie en waarteen jy ook nie weerstand kan bied nie – soos die natuur, oorlog, staatsoptrede, siekte, dood en dies meer.
Klaarblyklik het mnre Peters en Flamman geen beheer gehad oor die regering se optrede ingevolge oorlogswetgewing nie, en het die appèlhof met die Kaapse hooggeregshof saamgestem dat hulle nie vir die twintig duisend pond aangespreek kon word nie.
Die appèlhof het verder gegaan en die bevel van die Kaapse hof dat die gasaanleg ten gunste van die munisipaliteit verbeurd verklaar word, ter syde gestel. Die hof het beslis dat die klousule in die kontrak wat vir verbeurdverklaring voorsiening gemaak het, tot die munisipaliteit se beskikking was slegs indien mnre. Peters en Flamman hul aan kontrakbreuk sou skuldig maak. Omdat daar geen kontrakbreuk aan hul kant was nie, was die munisipaliteit ook nie geregtig om te vra vir die verbeurdverklaring van die aanleg nie.
Nou wonder ek net: Wanneer het Kokstad toe weer straatligte gekry?
1 Vgl Peters, Flamman and Co v Kokstad Municipality 1919 AD 427
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

