Goeie nuus vir alle Kokkedoor-liefhebbers!
kykNET is trots om ’n handelsmerkuitbreiding van Kokkedoor aan te kondig. Koekedoor is ’n splinternuwe bakkompetisie en inskrywings open op Maandag 8 September.
kykNET en Koekedoor is op soek na die land se beste mees veelsydige amateurbakkers. Die nuwe program sal bestaan uit 10 deelnemers wat meeding en elkeen 3 uitdagings per episode moet voltooi. Net soos Kokkedoor val die fokus op tradisie en vernuwing, maar word daar nie in spanne meegeding nie. Kontantpryse asook weeklikse pryse is op die spel in die soektog vir die eerste Koekedoor.

Daar is iets baie spesiaal aan bakwerk. Die afmeet en weeg van uiteenlopende bestanddele tot ’n volmaakte produk wat met vernuf afgerond en voorgesit word. Bak is ’n groot deel van ons Afrikaanse geskiedenis - of ons lag of huil, troue- of begrafnis hou word daar deurlopend gebak. Daar bestaan ook so ’n ryk skatkis van wenke en tegnieke wat deur generasies heen mondelings gedeel word. Koekedoor wil bakwerk vier en die kosrewolusie van Kokkedoor voortsit met tradisionele en vernuwende denke.
Die term “bak” verwys na die voorbereiding en bak van produkte soos brood, koek, soetgoed, pasteie, terte, beskuit en koekies.
Is jy Suid-Afrika se volgende bobaasbakker? Inskrywingsvorm kan op kykNET se web afgelaai word.

