
Maklik met Marinda
Marinda Engelbrecht
Human & Rousseau
ISBN: 9780798184977
“Hierdie is my mooiste kookboek ooit,” sê Marinda Engelbrecht.
Sonneblomme, suurlemoene en ’n glimlaggende kok in ’n moderne brilraam pryk op die voorblad van Marinda Engelbrecht se hersiene weergawe van haar eerste kookboek met dieselfde titel – Maklik met Marinda.
Nou is Maklik met Marinda afgestof in samewerking met NB-Uitgewers en ’n nuwe hoofstuk is bygesit. “Al die ou resepte is nog daar,” sê Marinda. Hierdie nuwe weergawe is al sedert 23 Mei op die rakke. Die eerste resepteboek was in tydskrifvorm, en die hernude uitgawe is ’n prettige, pragtige sagtebandweergawe.
Die eerste boek is reeds jare uit druk, maar navrae het steeds ingestroom en die besluit is gemaak om ’n tweede glansresepteboek te druk. Die boek is op 5 Junie tydens ’n stampvol geleentheid by Exclusive Books in Tygervallei bekend gestel.
Bekendstelling
Aan huis met Hannes se Hannes van Wyk was in gesprek met Marinda oor hierdie nuwe weergawe van Maklik met Marinda, wat ook haar vierde kookboek vier. Met sy tipiese geselstrant het hy Marinda gevra oor die keuses van resepte, die produksieproses en die span betrokke om die boek uiteindelik op die rakke te kry.
Gaste is bederf met lekkernye uit Maklik met Marinda en ’n glasie wyn. Hannes het gaste vermaak met pittige opmerkings en gesê dat hy “nie gewone boekbekendstellings doen nie”.

Hy het ’n opmerking gemaak dat daar nie plek vir ’n muis in die boekwinkel is nie en geterg dat Marinda sekerlik die mense betaal het om die bekendstelling by te woon en het selfs sy stoel afgegee aan ’n gas wat nie ’n sitplek gehad het nie.
“Sy wou ’n entrance gemaak het,” het hy skertsend gesê.
Marinda het tyd gemaak om erkenning en lof te gee aan die mense agter die skerms: “Hannes Koegelenberg wat die stilering gedoen het, hy is ’n wizard, die fotograaf Donna Lewis, uitgewer Lindy Samery” en die res van die span sonder wie sy nie die eindproduk op die rakke sou kon bring nie. Sy het voortgegaan om te sê dat sy niemand anders as hierdie mense sal wil gebruik nie. Vir die ontslape Anne Myers het Marinda emosioneel ’n spesiale woord van dank en verlange gelewer.
Na afloop van die gesprek het Marinda geduldig geposeer vir foto’s en boeke onderteken terwyl sy geselsend met gaste verkeer het.
Die keur van resepte
Maklik met Marinda spog met ’n keur van al Marinda se toekatyd-resepte en die goue gunstelinge waarmee sy grootgeword het. Van beesstert en pasteie tot kerrie-afval en nostalgiese slaaie. Heerlike pastas en nageregte sorg vir liplekkerverrassings.
“Dit is kos wat jy in die huis maak, gewone kos,” het Marinda aan gaste gesê. “Dit is hoekom mense die boek koop, want dit is maklik en jy hoef nie die bestanddele deur Takealot te koop nie.”
Hannes wou van Marinda weet of jy werklik net die resepte kan volg, dan kom dit so uit, waarop sy geantwoord het dat “jy kan daai koek so opdollie dat jy haar nie sal herken nie. Ek doen nie lyntjies en snytjies nie.” Sy wil hê mense moet haar boek kan gebruik as maatstaaf of basis en so kan gebruik en hulle eie kleure en geure byvoeg.
Laggend het Hannes saamgestem dat hy selfs kans sien om die wortelkoekresep in die boek te volg.
Hannes het ook na ’n sjokoladekoek op bladsy 120 gewys en spottend gevra: “Lieg julle altyd so?” Marinda het gou geantwoord dat dit werklik so maklik is as wat die resep aandui en dat dit net 30 minute lank bak. “Presies soos die resep sê.”
Oor die prys van die boek sê Marinda dat jy maklik R400 sal spandeer aan blomme wanneer jy vir iemand gaan kuier, maar wanneer jy ’n kookboek koop, “koop jy iets wat nog vir jare sal hou”.
Die boek het ’n stewige 144 bladsye wat die voorwoord, inleiding en indeks insluit. Die foto’s is keurig en geurig en vertoon die disse aantreklik. Die resepte is eenvoudig met ewe eenvoudige bestanddele en die verskeidenheid van disse beloof om iets vir elke smaak te bied.
Selfs vir Hannes van Wyk met sy smaak in “goed gaar kos”. (Iets wat Marinda sê maak haar hart seer.)
Die proses en sonneblomme
“Waar begin jy met die skryf van ’n resepteboek, hoe besluit jy watter resepte moet in die boek wees en hoe word die voorblad gekies?” So wou Hannes van Marinda weet.
Marinda het verduidelik dat die resepte gekies word uit gewildheid van die disse en met die eerste Maklik met Marinda as maatstaaf is die besluite oor resepte geneem. “Lindy ken en verstaan my goed en weet ook wanneer om die toue in te trek.”
Elke resep is weer uitgetoets by Marinda se huis en sy was op stel saam met Luzaan van Heerden om seker te maak die resep kan maklik gevolg en interpreteer word, sodat “iemand wat nie die resepte ken nie, dit kan volg en die kos kan maak”.
Die resep word gemaak en dan word die foto’s geneem en Marinda sê ernstig dat “dit wat jy daar sien, is wat daar is. Ons sal miskien olyfolie oorsit of weer iets deurroer wanneer die dis dalk lank moes staan met die stileringproses en vir die foto’s.”
Sy het ook haar idees vir die voorblad gehad en het ’n skoon boek met baie spasies gesoek. Die sonneblomme is vir haar mooi en kom uit haar tuin uit. Die saadjies vir hierdie blomme kom uit Betlehem uit, vertel sy. “Ek het oor Kersfees sonneblomme uit Betlehem gehad.”
Marinda
Marinda is nie net bekend vir haar kookboeke, kook-blog en TV-programme nie, maar ook vir haar teaterwerk, fyn kleresmaak en die reeks flambojante brilrame waarmee sy spog.
Getooi in ’n paar heldergeel stewels, het Marinda gekies om te staan vir die gesprek met Hannes tydens die bekendstelling. Sy het openhartig gesels oor haar grootwordjare op ’n plaas buite Durbanville waar sy bekend geraak het met vars produkte uit hulle eie tuin.
Dit is juis hier, uit haar lewe op die plaas, waar haar liefde vir kosmaak vandaan kom.
Sy vertel nostalgies dat sy baie goed die dikboom-Hart-potte onthou waarin haar ma druiwekonfyt gekook het. “Ek onthou my ma se tuisgebakte brode, hoe hulle gestaan het soos Golden Arrow-busse met ’n brooddoek oor hulle.” Marinda sê dat dit soms soos spookasem in die kombuis geruik het, “van die gekaramelliseerde vrugte”.
Marinda vertel dat sy nooit gedink het kos sou so groot rol in haar lewe speel nie. “Alhoewel albei kreatief is, is dit teater, veral kinderteater, wat my na aan die hart lê.” Dit was die Kokkedoor-kompetisie wat haar lewe verander het.
Haar kinders is aan haar sy wanneer sy kosmaak en het haar aangemoedig en gemotiveer om resepteboeke te skryf. Marinda sê sy is dankbaar dat hulle na al die jare nog dink haar kos is lekker.
Ten spyte van haar bekende en gewilde persoonlikheid, is Marinda nederig wanneer dit by haar sukses kom. “Ek kan nie regtig verstaan waarom mense wil weet hoe ek kosmaak nie.”
Marinda is ’n gesinsmens, gee maklike erkenning aan die mense wat haar getrou ondersteun en dit is lekker om met haar te gesels. ’n Skoolvriendin van Marinda wat ook die bekendstelling bygewoon het, sê Marinda is nog steeds dieselfde mens as voor haar bekendheid.
Die tannie met die partytjiewoord
Die eerste weergawe van Maklik met Marinda het uitgekom kort voor Covid. “Toe sit ons meet 11 000 eksemplare wat verkoop moet word.” Marinda vertel dat met slim planne en die hulp van sosiale media, al 11 000 in drie maande verkoop is.
“Die boer maak ’n plan en die boervrou het ’n plan.”
“Wie toets die resepte?” Hannes het gemaak-ernstig gevra of Marinda se familie die proefkonyne is. Sy moes erken dat haar familie en vriende wel proe en haar wederhelfte van 45 jaar, Johann, soms maar net sy kop kan skud vir die planne wat snags in haar kop broei.

Marinda vertel van heel eerste kookprogram-episode met ’n celeb. “Ons het ’n gasstofie gebruik. Ons wou dit eg en outentiek maak, maar het gesukkel met die gas. Daar was ’n ontploffing, ek het so groot geskrik en die partytjiewoord gebruik.” Ann Myers was die aand aan die stuur en het net gesê: “Keep rolling”, met die belofte dat die woord verwyder sou word met die redigering. Tog het die woord wel in die produksie ingeglip. Min wetend dat die partytjiewoord op nasionale TV uitgesaai is, het Marinda later gehoor sy staan onder die jong mense bekend as die tannie wat die partytjiewoord op TV geuiter het.
Anne Myers
“Jy het ’n klompie jare gelede in my geglo en aan die program Maklik met Marinda lewe gegee. Ek mis jou elke dag van my lewe.”
So skryf Marinda aan Anne Myers in haar dankbetuigings.
Anne Myers het gesterf tydens die Covid-pandemie. Sy word beskryf as fenomenale regisseur, vervaardiger en vrou.
Ten slotte
Vir Marinda was dit belangrik om ’n kookboek te produseer sodat kokke kan kook met dit wat in hulle kaste is. Selfs mielieblom kry eer in Marinda se kookproses van souse maak, en sy voeg by: “Niks keer jou om iets soos knoffel of gemmer by jou vleis se sous te sit nie. Dit is daar vir jou om mee te eksperimenteer.”
Hy kan skaars roosterbrood maak, sê Hannes, “maar nou gaan ek begin kosmaak!”
Kosmaak gee jou kreatiewe vrye teuels, sê Marinda en benadruk dat sy wil hê “mense moet die boek kan gebruik as maatstaaf en daarby kan voeg. Die resepte is veilig, dit gaan niks aan broccoli se saak doen as jy spek bysit nie. Bak is soos wetenskap, daar moet jy die resep volg.”
Marinda sluit af met twee stukkies kombuisraad.
“Wanneer jy ’n varkpens koop, skat die grootte so met jou oog. Dit moet nie te vetterig wees nie, so ¼ vet en ¾ vleis, anders sit jy met ’n klomp vet. En onthou, jy hoef nie jou hande blase te druk nie, koop ’n vleistermometer!”
Op die vraag of daar nog ’n kookboek aan die broei is, sê Marinda: “Is daar nog iets vir my oor om te sê?” Haar uitgewer het tong in die kies vir Marinda daaraan herinner dat sy ’n suksesvolle kinderkookboek geskryf het en dit dalk tyd is vir ’n tweede een.
Of ons dit kan verwag in die nabye toekoms? Wie weet, maar hierdie bobaaskok het altyd ’n idee aan die broei.
Maklik met Marinda is beskikbaar by alle boekwinkels en aanlyn.

