Kokertoekennings van die Afrikaanse Taalraad

  • 1

Drie Suid-Afrikaners ontvang vanjaar die Kokertoekennings van die Afrikaanse Taalraad. Hulle is Wannie Carstens van die Noordwes-Universiteit, Susan Smith van die Universiteit van Fort Hare en Marlene le Roux, direkteur van die Artscape/Kunstekaapsentrum in Kaapstad. ’n Verdere toekenning, die ATR se verdienstelikheidsmedalje gaan aan Christina Kedibone Mashobane  van Johannesburg.

Die Kokertoekennings word gemaak onder die ATR se drieërlei leuse: Bemagtig, Bevorder, Beskerm. Carstens is ’n bekende in taalkringe. Hy was tot vanjaar die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskapen Kuns. Hy is ’n stigterslid van die Afrikaanse Taalraad en is tans die ondervoorsitter van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT). Hy is Direkteur van die Skool vir Tale by die NWU.

Marlene le Roux is as direkteur van die Kunstekaap onder meer bekend vir haar aanbieding van Afrikaanse voorgeskrewe literatuur van graad 1 tot 12 waarmee sy oor die afgelope tyd meer as 50 000 leerders bereik het. Sy is Kommissaris van die Regte vir Kultuur- en Taalgemeenskappe. Vele eerbewyse het haar reeds te beurt geval in binne- en buiteland.

Susan Smith van die Universiteit van Fort Hare het 'n belangrike rol gespeel vir die behoud van 'n plek vir Afrikaans, onder meer as een van die amptelike tale by die Universiteit van Fort Hare en die opbou en ontwikkeling van die Departement Afrikaans. Sy is benewens akademikus ook digter en skrywer.

Mashobane wat die ATR se verdienstelikheidsmedalje ontvang, is ’n Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool John Orr in Johannesburg. Sy is ’n oudstudent van die Universiteit van Johannesburg.

Die toekenningsgeleentheid van die Afrikaanse Taalraad is op Vrydag 31 Oktober op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.  Chris van der Merwe van die Curro-skole sal die woord voer oor die toekoms van Afrikaans in die onderwys.

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Nicolette van der Walt

    Baie hartlik geluk aan die wenners, veral aan Susan Smith en Marlene le Roux vir wie ek persoonlik ken.  Dis merkwaardig tot watter hoogtes talent, passie en toewyding julle voer!!  Doen so voort.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top