Koffie, Oos-Kaap en André P Brink

  • 0

Vir my is daar ’n eksotiese verbintenis tussen koffie, ’n Oos-Kaapse afkomstigheid, nierassigheid in Afrikaans en André P Brink.

Beloer bogenoemde kombinasie van alle kante. Kyk hoe snoesig pas “Oos-Kaap”, “nierassigheid” en “Brink” soos sardientjies langs mekaar in. Dan kom die vraag onwillekeurig op: Wat maak oom Kallie daar? Of liewer: Wat maak “koffie” daar?

Om ’n geldige argument hiervan te maak kan ’n mens sekerlik Afrikaans as literêre taal se milieu – die tradisionele konteks van die plaas – hier betrek. Dink aan die plaas en die Oos-Kaap se landelike gebiede, dan dink jy aan koffie. Koffieliefhebbers se dag kan nie begin sonder hul daaglikse kafeïeninspuiting nie. Moenie eens praat van die “liefdesverhouding” tussen ’n koppie koffie in die oggend wat gepaard gaan met die lees van Die Burger nie. Dit is ’n onbeskryflike ervaring, sou menigte met ’n egte Afrikaanse hartklop jou grootoog vertel.

Hoe beland Brink nou skielik hier in die Oos-Kaap? Sou mens nie liewer die name van gerekende Oos-Kaapse skrywers soos Etienne van Heerden, Hennie Aucamp, Clinton V du Plessis, Eben Venter of Vincent Oliphant in herinnering wou roep nie? Sekerlik, maar Brink is net so Oos-Kaaps soos wyle Jakes Gerwel se Afrikaanssprekende skilpaaie met hul skalkse droë humor – soos hul nederige baas – wat nog vrylik en gelukkig in Kommadagga rondwei.

Brink is nou wel in Vrede in die Vrystaat gebore, maar sy ma was ’n nooi van Bedford. G’n wonder dat Brink as gerekende intellektueel, literêre kritikus en romanskrywer van Afrikaans ook as ’n tradisionele dissident van die Afrikaanse literêre leefwêreld beskou was nie.

Hoe Brink sy kunsvaardigheid as skrywer en deur middel van Afrikaans as literêre artefak suksesvol ingespan het om medemenslikheid en nierassigheid te bevorder is om van trots op te wees. ’n Mens voel eintlik jammer dat hy, soos alle ander mense, moes sterf. Adam Small het tereg opgemerk dat groot skrywers nie sterf nie. Brink se romans, dramas en vertalings sal as literêre kunswerke bly voortbestaan en toekomstige geslagte besiel.

Breyten Breytenbach is reg. Brink het meer gedoen vir Afrikaans, vir Afrikaanssprekendes en Afrikaanssprekendheid as enige “papbekpolitikus”.

Brink se dood en sy nierassige ingesteldheid het kruisbestuiwend tot ’n medemenslike warmte tussen wit en swart Afrikaanssprekendes en Suid-Afrikaanssprekendes bygedra. Ek wil my verstout om te sê dat die respek waarmee Brink sedert sy dood bejeën word, nie net aan respek vir die dooies toegedig kan word nie.

Brink was een van die heel grootste nierassige Suid-Afrikaanse romanskrywers met internasionale aansien. Hy verdien die respek opreg; as lewende, as gestorwene en selfs na die dood.

Brink kon destyds die apartheidsongeregtigheid van ’n afstand in sy toe nog wit bevoorregte vel dopgehou het en niks gedoen het nie. Hy het egter verkies om die verstarde filosofie van Afrikaans en die apartheidbestel direk te konfronteer ten gunste van die bevordering, uitbouing en vestiging van ’n groter menslikheidsdefinisie vir almal.

Brink gee Afrikaanssprekendes ’n trotse rede en gevoel om hul Afrikaanssprekendheid met ’n koppie koffie in die hand te vier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top