Koffie met Castro

  • 1

Ek het my eerste twee weke in Havana in goeie geselskap bestee: Ek eet soggens ontbyt langs John Lennon, smiddae drink ek koffie saam met Castro. John Lennon is nou wel nie die lewende Beatle nie – net sy bronsbeeld wat rustig op ’n bankie in die parkie naby my woonstel pronk. Jy voel tóg of daar lewe agter sy ronde brilletjie sit, want die uitdrukking op sy gesig is gelyktydig geamuseerd en belangstellend. Sy regterbeen is gemaklik oor die linkerbeen gevou en die brons van sy knie is deurgeskuur – vrouens tel gereeld hulle kinders op sy skoot asof hulle bloot by ’n goedgunstige oom kom besoek aflê. By die voete staan daar geskryf:  “Dirás que soy un soñador pero no soy el único.” (You may say I’m a dreamer, but I’m not the only one.)

Castro is ook nie Fidel nie, maar eerder Johnny Castro. Hy het my een oggend ongevraagd genader en hom as my amptelike gids aangestel. Hy doen baie meer as ’n gewone gids. Hy help my nie net om my pad deur die nou straatjies te vind of met die botala-taxi’s te onderhandel nie – hy gee ook gereelde mode-advies. “Jy moet die Hawaii-hempies uittrek,” het hy sommer uit die staanspoor gewaarsku. “Jy lyk soos ’n toeris.” Johnny was glo die dag daar toe sy naamgenoot, in sy amptelike kakiedrag, dié beeld onthul het. “Toe Fidel die kleed aftrek, het hy net gesê, ‘John Lennon was ’n goeie man’.”

In die oggende wanneer ek my toebroodjie op die bankie langs John Lennon eet, is daar ’n opsigter by om te kyk wat ek doen. Sy brilletjie is al twee keer gesteel en die regering moes noodgedwonge personeel aanstel om hom – soos lyfwagte – op te pas. Die Kubane is mal oor die Beatles. Hulle glo hulle kan hul eie musiek – die bossa nova-klanke wat in die sestigerjare oorgedryf het Engeland toe – in die popgroep se musiek hoor.

Musiek is immers die hartklop van die stad. In Vedado, die woonbuurt waar ek woon, speel daar altyd musiek – veral jazz. Vedado is gelyktydig brandarm én middelklas én ryk. Daar is paleise, omsoom met dik groen palmbome, ambassades, kantore, krotterige Sowjet-unie-era woonstelblokke en padstalletjies wat teen mekaar skuur asof hulle natuurlik saam hoort. My woonstel is volgens Kubaanse standaarde ook luuks. Daar is ’n sitkamertjie, ’n klein kombuis en ook ’n vertrek met twee reuse-watertenks en ’n sementbad om in wasgoed te was. My kamermaat is ’n dokter. Hy wil by my weet hoe mens Suid-Afrika toe kan kom. (Mediese sorg is gratis op die eiland, en ’n dokter verdien gewoonlik minder as R200 per maand.) Hy verhuur sy kamer en sy kar uit om die pot aan die kook te hou. Soos baie Kubane, kom ek agter, soek hy ’n uitkoms. Die buurt se meisies klop gereeld aan ons deur en vra of hulle die foon kan gebruik, vra of ek kan dans, of ek rook, of ek vry. Almal soek ’n pad na die dollar-ekonomie wat toeriste hier aanbring.

Maar so groot soos dit is, is daar tog ’n dorpsgevoel in Havana. Soggens kraai die hoenderhane jou wakker. Daar is min verbruikersgoedere op die mark en die meeste boorlinge hou groentetuine en pluimvee aan. Jy moet jou kruideniersware koop by ’n kombinasie van straatstalletjies, kafees en kettingwinkels, want die meeste plekkies hou net kos en waspoeier aan. Jy kan dae soek vir ’n boks pap. Jy kan vir ure, moeg en warm, in ’n tou voor die bakkery staan en wag vir brood. Toue is ook deel van die kultuur hier.

Ek eet by die kafeterias wat mense uit hul huise bedryf – kos word vir pesos verkoop, nie dollars nie, en dis heerlik. Jy kan jouself vir minder as R20 per dag verlustig aan pizzas, broodjies, roomys en Moros y Cristianos wit rys met swartbone, oftewel, More en Christene. Die koppies koffie wat ek saam met Johnny Castro drink, is soet en dik en ons sluk dit af terwyl ons deur die strate loop. Op warm dae verruil ons die koffie vir Coppelia, ’n parkie wat totaal en al aan roomys gewy is. Kubane is versot op roomys. Jy kan maklik vir ’n uur in die tou staan en wag vir ’n tafel. Die roomys is dun, en proe soos chemikalieë, maar dis ’n lafenis. Ons beweeg elke dag langs dieselfde roete met die Malecón af, ’n breë boulevard met ’n seemuur waaroor die branders skuim spuit. In die somer staan mense dag én nag daar om af te koel. Elke nou en dag klouter daar van die neumáticos oor dié einste muur. Hulle is vissermanne wat op ou bande strandaf dobber en seekos uittrek. Hulle loop by ons verby met die bande oor hulle skouers om dit by die vulstasie te pomp.

Ons vind ook geleidelik ons pad deur La Rampa, die klubgedeelte van die stad. La Rampa kon net sowel in New York gewees het – dis groot, lawaaierig en vol prostitute en smouse wat sigare en vervalste goud aan toeriste probeer verkoop. Obispo is kleiner, meer bedees, en vol kroegies en patiorestaurante, soos Café Sofia, wat al vroegmiddag begin jazz speel en eers in die vroeë oggendure ophou. Dis waar die Hotel Ambos Mundos, waar Ernest Hemingway glo saans mojito’s gedrink het, vandag nog staan.

Dit vat nie lank nie of Johnny nooi my Alamar toe – ’n slonserige woonbuurt omtrent 15 km buite die stad. “Dís waar mens die rumba moet sien,” het hy my eerbiedig vertel. Hy sou my die aand daar ontmoet. Hoe ek daar moes uitkom, was my eie saak. Volgens wet mag Kubane nie meer as een kar besit nie. Daar’s ook nie veel taxi’s op die pad nie – die botalas (of bote) mag nie toeriste oplaai nie, want dan vat hulle geld uit die regering se sak, en die “amptelike” taxi’s was maar min.

Ná ’n effens hopelose poging om te ryloop, het daar tog ’n stokou Russiese motorkar by my stilgehou. So ’n maer meisie, met ’n kortbroekie aan en ’n silwerring deur die neus geskiet. Dis ’n algemene ding, sou my kamermaat my later meedeel. Die meeste mense wat wel karre het, laai toeriste op om hulle inkomste aan te vul.

Ja, sy ken Alamar, sê sy. Sy ken vir Johnny ook. Sy sal my vat.

“Jy sal hou van die rumba, want jy is Suid-Afrikaans. Ons luister ook na die musiek van Afrika. Ons kitare is van Afrika, ons bata-tromme, en ons sing Ladysmith Black Mambazo se liedjies. Die musiek het altyd meer as een kant – ons sing oor ons land, want hier is baie kontraste.”

Ons hou by ’n klein barrio stil, langs ’n patriotiese advertensiebord wat lees, Nuestra Decision Patria o Muerte – ons land, of die dood. Johnny sien ons amper dadelik en sleep my agter hom tussen die huise deur aan. Kinders speel sokker met hul honde, vroue hang wasgoedjies op. En in die vuil plaza speel daar musiek. Al die straatmeubels is eenkant toe gestoot en die mense staan in ’n sirkel om die orkes. Die konga-speler kom in die pas met die ritme, en die rumba-danser begin sy heupe na die danseres toe swaai.

Dis die guaguancó – een van die drie danse van die rumba. “Hy wil die man-en-vrou-ding met haar doen,” fluister Johnny. Die hoofsanger begin die tema, die storie wat mense moet uitspeel. En die hele orkes sing die koorgedeelte, die estribillo.

Die twee dansers is soos ’n hoenderhaan en ’n hen. Hy pof sy bors uit, sy ignoreer hom. Hulle beweeg in ’n sirkel. Hy gee vir haar die sein met sy hand en sy voet, sy begin geleidelik reageer, asof haar weerstand meegee.

Dié dans het hulle in die slawebarakke gedans, verduidelik Johnny. “Dis hoekom dit so hoopvol is. Die tromme word harder – sy het ’n keuse. Gee in of loop weg. Maar sy moet kies en ons hoop sy gee in.”

Hy grynslag. “Musiek beteken mos altyd daar is nog hoop.”

Drie weke nadat hy vir my die rumba gewys het, is Johnny dood. Die stokou botala waarin hy gery het, het van die pad af gegly en ’n watertrok getref. My kamermaat die dokter het my kom sê. Hy was saam met my hartseer.

Daarna het dit vir my gevoel asof die fut uit Havana gegaan het. Selfs Vedado was stil en ek het my lus vir die plek verloor. Vir die eerste keer het ek agtergekom hoe vuil dit is, hoe weerloos. Planke en gemors het orals gelê. Daar was nooit genoeg water vir almal nie. Die honde was maer en die hitte was ondraaglik. Ek wou wegkom.

Ek het my laaste koppie Kubaanse koffie voor dagbreek langs John Lennon op die bankie sit en drink. Nóg ’n Johnny wat dood is, het ek gedink. Die opsigter het my nie eens kom pla nie. Toe ek stasie toe loop, het daar iewers ’n sagte jazz-liedjie deur ’n venster begin dryf.

Die stad se hart het aanhou klop.

 

  • 1

Kommentaar

  • Hallo,

    Ek is Hannes Steyn en het ook deelgeneem aan die kompetisie.

    Ek het nou net Estelle se storie hier bo geniet en kon sien (hoor? proe? voel? ruik?) waarom dit die wenner is. Wel gedaan, en om gepas aan te haal;

    Imagine no possessions
    I wonder if you can
    No need for greed or hunger
    A brotherhood of man
    Imagine all the people sharing all the world

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top