Kobus en die Ark

  • 0

Kobus

Jy het heeltemal gelyk in jou skrywe, dat ek jou misgelees het. Ek het vinnig verwys na jou laaste brief, waarin jy die stelling gemaak het van die hoeveelheid diere. Dus punte vir jou hier. Ek erken graag as ek verkeerd was. Ek moes seker weer al die vorige briewe deurgegaan het, sodat ek jou nie uit konteks moes aanhaal nie.

Ek hou egter by my standpunt dat die Noag-storie nonsens is, en dat by géén uitsondering, het enige iemand ooit so oud geword soos die mense uit die Ou Testamentiese Bybel nie. Jy skryf jy hoor elke Sondag hoe mense geluk gewens word met verjaarsdae honderd en ouer. Kobus, wanneer laas het jy ’n honderdjarige gesien? Op daardie ouderdom is mense in ’n ellendige, verswakte toestand, en is dit absoluut onmoontlik vir so ’n ou mens om ’n Arkbou-projek aan te pak, met of sonder hulp. Jy is weereens besig om iets te beweer wat teen die natuurwette indruis.

Dis tog vreemd, dat jy Ernst Mayr as verwysing gebruik. Hy het tog ook geglo in evolusie. Hy het net nie saamgestem, dat natuurlike seleksie vanuit ’n enkele geen voorkom nie, maar eerder dat ’n hele genotipe van ’n individu by natuurlike seleksie betrokke is.

Die vraag waarby ons kom is of daar enige uitsonderings in natuurwette is, maw wonderwerke? Die Markies de Laplace (1749-1827) het eerste die wetenskaplike bepaling gemaak dat: “given the state of the universe at one time, a complete set of laws fully determines both the future and the past.” Dit sluit natuurlik enige wonderwerke uit of selfs ’n aktiewe rol vir ’n god. Dit is die basis van moderne wetenskap, dit laat geen ruimte vir wonderwerke nie.

Sien Kobus, ek lees ook ... nie Google nie, maar boeke wat gaan oor hierdie spesifieke onderwerpe. Jy verwys smalend na “julle”. Ek is nie dubbel van postuur nie en praat net namens myself. Ek het nie ander mense nodig om my opinies te rugsteun nie.

Om jou vraag oor die oersop en die protosoë te beantwoord: Geen wetenskaplike het al ooit beweer dat die wetenskap alles weet nie. Daar word daagliks gesoek na antwoorde, maar met die werking van logiese natuurwette. Soos verskeie mense al vir jou geskryf het, wetenskaplike bevindings kan verander met insameling van nuwe kennis en word dan aan die hand van daardie kennis oor en oor getoets. Dit laat geen ruimte vir bo-natuurlikheid nie.

Daarmee gegroet en my debat met jou afgehandel.

Perdebytjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top