In jou nuwejaarsuitnodiging om by die Christendom aan te sluit, beweer jy dat ander religieë en die agnostiese bewegings met rasse skrede agteruitgaan terwyl dieselfde Pew, wat jy as bron aanhaal – jy moes net verder gelees het – beweer dat ’n studie deur hulle, voorspel dat Islam wat tans die tweede grootste godsdiens en kort op die hakke van die Christendom is, in die volgende twee dekades met 35% sal groei. Dit is volgens Pew, dubbel die groeikoers van die nie-Moslem bevolking. En jy noem dit agteruitgang? Nouja, as 2 X 0 gelyk aan 2 is, soos jy beweer, dan kan dié bevinding seker ook dui op agteruitgang met rasseskrede.
Ek merk ook op jy verwys sommerso in die algemeen na agnostiese “bewegings” – nogal in die meervoud! Dié bestaan sekerlik net in jou spirituele verbeelding. Agnostici is bloot individue wat twyfel aan die bestaan van gode en daar bestaan sekerlik nie ’n behoefte om bewegings te stig nie. Ek daag jou uit om net een by name te noem!
En waarom is jy so behep daarmee om te bewys dat die Christendom die grootste godsdiens is? Is dit om te bewys dat die Christendom die “wenner” is waarna jy in jou uitnodiging verwys of is die “wenner” waarna jy verwys die god van Abraham wat deur die Christene, Moslems en Jode aanbid word?
Pew se statistiek, wat jy aanhaal, sluit vanselfsprekend die Katolieke, as grootste denominasie van die Christendom, ook in. Dit pas jou klaarblyklik om die Katolieke nou as Christene te erken. Maar in jou kommentaar van 2011/05/16 het jy ’n ander deuntjie gesing toe jy die groep daar as Christene misken en die Protestante as die “ware Christendom” bestempel het. Maar natuurlik het jy hulle getalle nou nodig om gewig te gee aan jou stelling dat daar met sekerheid aanvaar kan word dat véél meer as net ’n derde van die wêreldbevolking aktiewe, belydende Christene is. En dan sleep jy sommer nog ’n “waarskynlike” 335 miljoen Sjinese (25% van die bevolking tans) by. Nou maar goed: As jou syfers reg is – wat is die punt wat jy probeer bewys? Dat die meerderheid reg móét wees?
Verduidelik tog ook wat nou volgens jou presies die verskil tussen ’n Christen en ’n belydende Christen is?
Voorspoedige nuwe jaar vir jou.
Panda

