Kobus beweer dat ek gorrel en geen bewyse het nie

  • 7

Verwys na Kobus se kommentaar gerig aan my in sy brief.

Beste Kobus,

Ek kan verstaan dat jy die Bybel probeer versoen met die wetenskap, en dat jy die wetenskap probeer gebruik om die inhoud van die Bybel te bewys, maar dit kan ongelukkig nie. Baie het dit al probeer, maar nie in hulle doel geslaag nie, bloot omdat die Christen nou enemale nie die Bybel reg wil lees, en aanvaar dat dit mitologie is nie. Jy kom nogal naby daaraan deur te praat van “die idioom van daardie tyd,” maar indoktrinasie het  jou denkwyse al soveel skade aangerig, dat jy dit self nie mooi verstaan nie, want dan beweer jy (sonder bewyse) dat  evolusie  nie die manlike en vroulike fenomene kan verklaar nie. Natuurlik is dit al deeglik bestudeer en verklaar deur wetenskaplike studies, maar jy knyp jou oë daarvoor toe, soos jy alle bewyse vir evolusie ignoreer.

Jy beskuldig my sommer dat ek gorrel as ek sê dat Adam en Eva van die Bybel volwasse deur God geskape is, en jy vra bewyse daarvoor. Hier kom die bewyse waarvoor jy vra, so reg uit die Bybel. In die Bybel staan geskrywe: “as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.”  ’n Mens sou kwalik ’n seuntjie en ’n dogtertjie “man en vrou” noem. Ek weet die God-karakter is taamlik onnosel, maar ek twyfel of selfs ’n onnosele vir ’n seuntjie en ’n dogtertjie sou sê:  “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug,” ens.

Sover my kennis strek, Kobus, is jy  die enigste wat beweer dat Adam en Eva kinders kon gewees het. Het die ou slang dan ’n dogtertjie verlei, en is dit kinders wat van die boom van goed en kwaad geëet het? En toe vir hierdie “sonde” so kwaai gestraf is dat ons arme sondaars slegs met ‘n bloederige lyk aan ‘n kruis verlos kon word?

Kobus, ek verwag nou nie dat jy moet kan bewys dat hulle kinders was nie, want jy het mos gesê jy het nie nodig om bewyse te lewer nie. (Soos ek verstaan is dit ’n goddelike gawe wat jy het.) Ek verwag ook nie dat jy Darwin se On the Origin of Species gelees het, en verstaan het nie, maar jy moes seer sekerlik al ’n tydgenoot van hom, Philip Henry Gosse, se Omphalos gelees het. Daarin verduidelik hy waarom God dan vir Adam so volwasse geskape het.

Jy beweer dat volgens die Woord “deel die mens en aap van die begin af al habitat en is daar ook dus baie ooreenkomste en die skeletale bou van mens en aap.” En dan verder vereis jy van my dat ek “met grondige bewyse weerlê wat die Woord omtrent die biologiese natuur openbaar.”

Ha! Soos jy, hoef ek ook geen bewyse te lewer nie, maar anders as in jou geval, het talle wetenskaplikes dit alreeds vir my gedoen. Die fossielrekord toon dat tien miljoen jaar gelede daar al aapwesens was wat begin regop loop het, maar nog die bou van viervoetige diere gehad het. Ongeveer twee miljoen jaar gelede was daar enigsins sprake van iets wat naastenby soos ’n mens gelyk het, nl Homo erectus. Die wetenskap (wat jy so graag wil gebruik as bewys) bewys dus dat jy en die Bybel verkeerd is: aap en mens het nie van die begin af habitat gedeel nie.

Feit van die saak is: die mens het evolusionêr tot stand gekom, en dit het miljoene jare geneem; so ook die aap. Die fossielrekord bewys dit. Dat die mens ewe skielik, volwasse uit ’n hopie grond en ’n ribbebeen geskep is, is ’n mite. As mite is dit natuurlik ook onnodig om bewyse daarvoor te gee.

Jy skuil dikwels agter die biljoene mense wat die bestaan van God verstaan en aanvaar; wat dan van die biljoene mense wat ook die bestaan van ander gode aanvaar en verstaan het? Waar is Anath, El, Nergal, Ninib Isis, Osiris, Huitzilopochtli, Zeus, Yau, Sharrab, AdduMolech, Ptah, Anubis, Sabek, om maar net ’n paar te noem. Hulle het ook biljoene aanbidders gehad. Die feit dat hulle verdwyn het, moet vir jou ’n aanduiding wees waarheen Yaweh op pad is, of daar nou biljoene is wat in hom glo of nie.

Jy is ook gou om vir my te sê ek verstaan nie. Het jy al vir een oomblik stilgestaan en gewonder of dit nie dalk jý is wat nie verstaan nie. Het jy nie dalk vasgehak by drieduisend jaar gelede nie? Want toe was die mite nog die primitiewe mens se wetenskap.

Groete,

Angus

  • 7

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Angus,

    Nou ja, jy is die eerste mens wat ons teëkom wat probeer insinueer dat kinders nie kan groot word en dan die dinge van grootmense doen, nie. Dit wil vir my voorkom jy meen Adam was so 'n mens. Tog is die 'bewyse' wat jy aanbied niks wat jou ondersteun nie. Jy is ook die enigste een wat ek van weet wat meen dat alles wat in die Woord oor Adam en Eva staan, sommer meteens plaasgevind het so asof Adam en Eva nie kon grootword en dan oor verloop van tyd die dinge gedoen het waaroor daar geskrywe is, nie.

    Die skape na God se beeld het betrekking op die mens se gevorderde natuurlike vermoë tot Spiritualiteit en heiligheid en verhewe insig en intelligensie.

    Maar dan, jy weet nie eens God leef nie. Watter insig kan ons dan van jou verwag oor Sy skepping? Niks - en ons sien dit so.

    Ek het ook nie gesê God het vir Adam volwasse of as kind geskape nie. Wat ek sê, is dat dit enigeen van die twee kon wees. Jy dring daarop aan dat dit as volwassene was. Dit maak geen verskil aan enigiets nie. Selfs eeue later is kinders al as konings gekroon, net om later die koningskap te volvoer. Feit is, God het Adam geskape en ook vir Eva en het hulle ook met 'n oordeel en 'n opdrag die wêreld ingestuur en die sien ons vervul.

    Die res van jou geskarrel behoef geen kommentaar nie en is al telkens in die verlede aangespreek. Lyk my jy verstaan weereens niks wat ek geskrywe het oor die rede vir die fisiek biologiese ooreenkomste tussen die soorte lewende vlees, nie.

    God was en is nog altyd God. Die feit dat sommige mense vir lang tye op verskillende maniere verdwaal geraak het en allerlei futiele maniere probeer het om by Hom uit te kom, bevestig eerder die punt dat hulle algar van Sy bestaan bewus was, maar weens afvalligheid nie geweet het hoe om tot Hom te nader nie en in die proses dinge vir hulself versin, het. God het egter Self ingegryp en die rede tot verwarring uit die weg geruim.

    Jy hoef vir my niks te bewys nie, Angus. Ek gooi bloot maar net jou bewys obsessie - waaraan jy self nie kan voldoen nie - na jou terug. Niks hang van jou pogings af nie. As jy kon bewys, sou jy, gesien jou obsessie daarmee.

    Ek weet wat jy nie weet nie - ek ken God en jy (wil) nie. Daarom is jou gespartel met bewyse  en snert jou eie frustrasie en jou eie moeite - dit gaan my as ware gelowige  glad nie  aan nie en ek is dit nie deelagtig nie - omdat ek reeds weet wat jy (nog) nie (wil) weet, nie.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Magtig, ek het selde iemand sy eie soort so direk en erg in die bek sien ruk... selfs homself - natuurlik die woord na ander gerig maar vergeet hy staan voor die spieël..

    Dit is so, CM, want julle weet nie hoe dinge Gods bewys word nie - hoegenaamd nie. Iets wat ek julle al jare lank aan die verstand probeer bring.

    Angus, Thomas, Chris en veral Claassen en kie, algar van julle - julle hoef nie weer vir bewyse oor God en sake Gods  te vra nie. Dit is mos vir ons nodeloos om daarop te reageer - CM het vir julle presies vertel wat julle probleem is.

    Glo hom en probeer iets aan die saak doen.

    Kobus de Klerk

  • En vir diegene wat die hipotese en teorieë komende van wetenskaplikes as bewyse aanvaar vir dit wat juis daardeur nog nooit bewys is nie, kan enigiets bewys word.

    Sterkte

    Dolf

     

  • CorneliusHenn

    Beste Angus, enige ware Christengelowige wat hul Bybel as Jesus Christus (die Woord) verafgod, sal mos vir jou kan seg dat Adam en Eva, ook nie eens naeltjies soos die res van ons evolusionêre ape gehad het nie... Namaste! Cornelius Henn

  • Beste Cornelius,

    O, aarde! ek het nooit daaraan gedink nie. Mage sonder naeltjies? Wil jy nou meer!  Waarvoor het hulle dan die vyeblare gebruik?
    Groete
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top